Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 55
17 Februarie Lukas 4:23-30
ОглавлениеJESUS PRAAT DIE WAARHEID
“Ek sê vir julle die waarheid …” (Luk 4:25).
In die sinagoge in Nasaret getuig Jesus dat ook die heidene vir God se guns bestem is. Die Jode, onwrikbaar van mening dat hulle alleen uitverkies is, ontplof in woede. Sy moeder, wat saam met die ander vroue buite sig sit maar die roesemoes hoor, sou haar vingernaels in haar handpalms druk: Begin dit nou, die swaard wat deur haar siel moet gaan? Sy broers sou dalk, in verleentheid, probeer huis toe sluip.
Jesus kan Hom nie op sentiment beroep nie, net op die waarheid. Meermale sou Hy dit doen: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6). En, in die aangesig van die dood, aan Pilatus: “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is ek gebore …” (Joh 18:37). Hy is nie vir eer of glorie gebore nie. Daar sou geen argeologiese bewyse van Hom wees, geen paleis of tempel of verowerde stad wat opgegrawe kon word soos ’n Jerigo nie. Navorsers se vernaamste taak sou die rekonstruksie wees van die omgewing waar Hy gewoon, gewerk en gesterf het. Buite-Bybels word daar, sover bekend, net een keer na hom verwys, deur die Romeinse historikus Cornelius Tacitus. Hy skryf oor Nero se vervolging van die Christene, met die terloopse byvoeging: “ ’n Naam afgelei van ene Christus, wat tydens die regering van Tiberius deur die prokurator Pontius Pilatus tereggestel is.”
Jesus sou Hom deur die waarheid net meer agterdog en vervolging op die hals kon haal. Maar Hy sou in elk geval sterwe, en Hy het dit geweet. Dit was van die begin af so bepaal … nie omdat die Vader wou nie, maar omdat Hy vooruit geweet het dat die mense so sou kies. Dit is die omstandighede waarin Jesus van Nasaret hom bevind toe hy met ongekende moed en dapperheid in sy tuisdorp opstaan en uitdruklik verklaar: “Ek sê vir julle die waarheid.”
GEBED: U is die weg en die waarheid en die lewe, Here Jesus. Help my as ek daagliks in ’n oerwoud van keuses, kleiner of groter, die pad van waarheid moet uitken en bewandel.