Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 43
5 Februarie Matteus 2:16-18
ОглавлениеHERODES DIE AGTERDOGTIGE
Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword (Matt 2:16).
Herodes die Grote se pa het Jodedom deur besnydenis verwerf, en Romeinse burgerskap deur konneksies. Herodes erf laasgenoemde, en sy vriendskap met Markus Antonius (Anthony and Cleopatra) help verder dat hy koning van Palestina word. Ons lees van hom slegs in Matteus 2. ’n Groot heerser en bouer, soos sy winterpaleis op Massadaberg getuig, maar wreed en agterdogtig. Onder sy vele moorde tel van sy eie vroue en seuns. Hy is oud, siek en sielsiek toe vreemde manne uit die ooste kom verneem na ’n pasgebore Joodse koning. Die tragiese gevolg is die kindermoord. Dit word in geen buite-Bybelse bron vermeld nie, dalk omdat die suigelinge in Betlehem nie meer as twintig, dertig was nie. Vir geskiedskrywers was daar groter nuus, soos Herodes se bevel dat etlike vername Jode op sy sterfdag vermoor word. So sou daar darem ’n gehuil opklink.
Hy bemaak sy ryk aan sy drie oorlewende seuns. Argelaos, wreder as sy pa, kry vir Judea. Galilea gaan na Herodes Antipas, wat Johannes die Doper onthoof (Matt 14:1-12) en vir Jesus ’n spotkleed omhang (Luk 23:11). Filippus heers noordoos; dis sy vrou, Herodias, wat deur sy halfbroer Antipas afgevat word (Matt 14:3). Herodias, dogter van een van die vermoorde seuns, was dus met twee van haar ooms getroud. Haar broer Herodes Agrippa 1 dood later vir Jakobus, gooi Petrus in die tronk, en word deur wurms verteer (Hand 12). Hy het drie kinders: sy seun Herodes Agrippa 2 luister na die toespraak van Paulus saam met sy suster-minnares Bernice (Hand 25:13). Haar suter Drusilla is die vrou van die Romeinse Felix (Hand 24:24).
Dit kan help om hierdie verwantskappe in jou Bybel aan te teken … want die Huis van Herodes was verwikkeld. ’n Huis wat wind gesaai en stormwind gemaai het. Hulle fatale keuses het smartlike lyding veroorsaak. Ook ons Heiland se lewe word vroeg hierdeur beïnvloed.
GEBED: Hoe kan u beeld in die mens verwring word, Here, en een geslag steek die volgende aan. Help my om nie deur my eie toedoen ’n erfenis van stormwind na te laat nie.