Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 22
17 Januarie Eksodus 16:1-13
ОглавлениеDIE GAWE VAN KWARTELS VIR DIE VLEISPOTTE
Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom … (Eks 16:13).
Vir altyd kan die volk nie by Elim se fonteine en palms vertoef nie. Maar die wasgoed is skoon, die mense ook, en al die bokvelhouers vol water. Agter Elim begin die woestyn Sin aan die kus van die Rooisee; nie ’n sandwoestyn soos die Sahara nie, eerder klipvlaktes. Die volk het nog nie ver getrek nie, maar swaar genoeg om te verlang na die “vleespotte”. God stuur twee welkome toevoegings tot hulle skamele dieet.
Oor die kwartels, soos oor die manna, word baie geredeneer. Mens kan egter vandag nog met ’n boorling daar gesels om te verstaan dat God natuurlike verskynsels gebruik het om in sy volk se behoeftes te voorsien. Daar is gelowiges wat nie ’n natuurlike verklaring wil aanvaar nie. Weer eens: God kán deur die bonatuurlike werk, soos Jesus se spysiging van die menigtes getuig (Mark 6:35-44; 8:1-9). Maar Hy het besondere natuurwette ingestel, en Hy gebruik hulle by voorkeur (dagstukkie 29 Apr). Hier gebruik Hy die voorjaartrek van die kwartels, soos die najaartrek later (Num 11:31). Die kwartels wat uit Afrika na Europa vlieg, steek die Rooisee oor. Uitgeput stryk hulle op die kusvlakte neer om te rus voordat hulle die vlug oor die berge na die Middellandse See onderneem. Vandag nog vang Bedoeïene hulle met die hand. ’n Oudsoldaat het vertel hoe hulle in Noord-Afrika met stukke kamoefleernet oor die woestynbossies kwartels gevang en gaargemaak het oor ’n blik met sand en petrol.
Die verskynsel van migrerende voëls is wonderbaarlik. Onlangs is met senders bevind dat die Europese skaapwagtervoëltjie, wat slegs 25 g weeg, twee seisoenale vlugte per jaar – altesame 14 500 km – binne slegs 55 tot 90 dae aflê oor Siberië en die Arabiese woestyn, deur oorloggeteisterde gebiede en tussen natuurlike vyande deur. Inderdaad was God se gawe van kwartels ’n groot wonderwerk.
GEBED: U natuurwette is dikwels wonderwerk genoeg, Here, om ons laag aan u voete te hou. Dankie vir elke klein en groot wonderwerk in ons lewe.