Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 31
26 Januarie Numeri 21:10-18
ОглавлениеDIE LIED VAN DIE PUT
Israel het toe hierdie lied gesing … (Num 21:17).
Hierdie wonderskone lied, weggesteek tussen verhale van nood en oorlog, was ’n stokou lied wat deur putgrawers gesing is, ook deur die meisies wat vergader om water vir die huis en die vee op te trek. Hierdie put moet vlak gewees het, dalk net ’n fontein wat oopgegrawe is, want leiers het dit met kierie en septer oopgemaak. Of dalk het hulle die werk net geopen, soos wat eregaste op Boomplantdag ’n graafvol grond uitspit.
In droë gebiede is ’n put ’n bestaanswyse, ’n atmosfeer, ’n subkultuur, ’n romantiese plek met sy wiegende palmbome in die aandrooi. Die kneg wat vir Isak ’n vrou gaan soek, vind vir Rebekka by die put (Gen 24 OAV), en so ook Jakob, baie jare later, vir Ragel (Gen 29). Op vlug in Midian ontmoet Moses vir Sippora by ’n put (Eks 2:15-22). Meisies by die put beduie aan die mooi jong Saul die pad na die siener (1 Sam 9:11 OAV). Drie helde breek deur Saul se linie om vir Dawid water te gaan haal by die put van Betlehem (2 Sam 23:15-17); en toe weier Dawid om dit te drink, berouvol omdat hy sy manne in gevaar gestel het.
Maar die put was dikwels ook ’n twisappel. Abraham se skaapwagters stry met dié van Lot (Gen 13:7) en van Abimelek (Gen 21:25). Isak voer ’n putstryd, eers oor die oopgegraafde putte van sy vader Abraham, en toe oor sy nuwe putte (Gen 26:18-33). Want ’n put was skynbaar ook ’n soort titelakte, en deur Abraham se putte toe te gooi verklaar die Filistyne vir Isak onwelkom (Gen 26:14-15).
’n Heerser wat ’n standhoudende put grawe, het hoë agting geniet. Hy het vir water gesorg. Maar daar was Iemand groter, wat self die water was. Die gesprek van Christus met die Samaritaanse vrou, die allergrootste putlied, word by 4 April se dagstukkie behandel.
GEBED: Here, U is die onuitputlike bron, die water van die lewe. Wees U die bron wat ons lewensdors les.