Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 40
2 Februarie Matteus 1:12-17
ОглавлениеDIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS (VERVOLG)
Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af … veertien van Dawid af … en veertien … tot by Christus (Matt 1:17).
Die geslagsregister word noukeurig gerangskik in drie groepe van veertien elk. Verklaarders lê Matteus se metode uit as ’n “mnemonie” of geheuerym, of ons vindingryke woord “eselsbruggie”, om iets te help onthou. Daar moet onthou word dat die Evangelies eeue voor die boekdrukkuns saamgestel en neergeskryf is. Min mense sou ’n eksemplaar kon besit, terwyl Ou-Testamentiese rolle slegs met moeite en koste bekom kon word (dagstukkie 28 April). Jy sou ’n Evangelie net in jou kop kon besit, deur dit te memoriseer.
Matteus probeer dit vergemaklik. In tradisionele Hebreeus het die letters van die alfabet ook as syfers gedien. Die konsonante van die naam Dawid sou ’n getal van veertien gee. Matteus se genealogie dien eintlik om onomstootlik te bewys dat Jesus die Seun (nasaat) van Dawid was. Natuurlik sal die meeste van sy gegewens klop met die werklike stamboom, maar noukeuriger ondersoek sal ook gapings, omruilings of foutiewe optekening toon. Ek het ’n genealogiese boek help skryf en weet hoe maklik dit gebeur, in my geval met ’n moderne familiegeskiedenis van slegs 190 jaar, en met behulp van al die elektroniese hulpmiddele.
Die drie seksies weerspieël drie groot tydperke in die Joodse geskiedenis. Die eerste deel strek tot by Dawid, wat Israel tot ’n wêreldmag gesmee het. Die tweede tot by die ballingskap, die nasie se grootste tragedie. Die derde tot by Jesus Christus, die Vrymaker wat ramp en slawerny omkeer in triomf. Of Matteus dit bedoel het of nie, hy skets ook die fases in die mens se geskiedenis. Hy is gebore vir grootheid, “as beeld van God” (Gen 1:27). Hy verloor sy aansien toe hy sy vrye wil aanwend om teen God te kies. Hy herwin sy grootheid toe God sy dwase keuse ongedaan maak en in triomf verander; sy Seun het ons kom wys hoe om die Vader te ken en te dien.
GEBED: Grootheid, verlies, herstel … die fases in die menselewe, ook in myne. Soms speel al drie fases hulle binne een dag af, selfs een uur. Dankie, Here, vir u regstellende genade.