Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 29
24 Januarie Numeri 14:34-44
ОглавлениеIN DIE WILDERNIS
“Julle sal veertig jaar … die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra” (Num 14:34).
Die woord Numeri, wat op sensusgetalle dui, is aan Grieks ontleen. ’n Pasliker titel is die Hebreeuse “Bemidmar”, “in die wildernis”. Veertig jaar swerf Israel tussen Sinai en Kanaän. Behalwe statistiek en wettiese opdragte, is hierdie swerftog die hoofintrige van Numeri. Hulle kamp ruweg 43 keer (Num 33). Hoe kon ’n uittog oor ’n beperkte afstand so lank duur? Die beste en kortste roete, die karavaanhandelsroete, die grootpad van Egipte deur Palestina na Asië, was by die grensforte goed bewaak. Volgens Eksodus 13:17 het die kortste pad na die land van die Filistyne gelei; Israel sou liefs oopgetrapte kameelpaadjies gebruik wat na water lei. Vervolgens was hulle dikwels self vir hulle oponthoud verantwoordelik.
My pa se voormense was Boesmanlandse trekboere. My broer onthou hoe oorle’ oupa Van Rooyen se wakis in ’n patroontjie geriffel was soos die bondel sinkplate op trek daarteen geklop-klop het. Van dié soort Afrikaner skryf Deneys Reitz in sy oorlogsboek Commando dat hulle van put tot put met hulle vee getrek het, soos ou Bybelse volkere.
Die wêreldletterkunde wemel van simboliese swerftogte. Die woord “odyssee”, vir swerftog, is ontleen aan Odysseus, Homerus se verhaal van ’n mitiese swerwende held. Dan is daar Dante se Divina Comedia; en wie weet nie van Bunyan se Pilgrim’s Progress nie? Pearl Buck se The good Earth, die lewensloop van ’n Sjinese kleinboer, waarvan my suster sê: “Die boek het my hart gebreek.” Nader tuis is daar DJ Opperman se Joernaal van Jorik, waar Jorik in ’n duikboot (baarmoeder) aan die Kaapse kus opduik. Nie net die Afrikaner se geskiedenis nie, maar ook dié van die mens tussen Genesis en Openbaring speel hom in Jorik se swerftog af … totdat hy weer gehaal word.
Tussen wieg en graf het elke mens sy waterlose wildernisse van teenspoed, misverstand en dood, maar ook die oases van sukses en geluk en liefde.
GEBED: Ja, Here, ook ek ken die wildernis, dikwels as gevolg van keuses van my of ander rondom my. Dankie vir u genade wat altyd weer na ’n oase op my lewenspad lei.