Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 42
4 Februarie Matteus 2:13-15
ОглавлениеOP VLUG MET BABA JESUS
Josef het toe … die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek … (Matt 2:14).
Ewe terloops staan die reis aangeteken: ’n reis wat vir Israel destyds veertig jaar geduur het. Toe ’n engel vir Josef in ’n droom waarsku, talm hy geen oomblik nie. In ons gesin droom ek en twee van ons kinders soms dinge vooruit; gelukkig onbenullighede, nooit siekte, ramp en dood nie. Dikwels vertel ander mense dat hulle dieselfde ondervind. Die mens van vroeër tye het sintuiglik intenser as ons gelewe, nader aan God en die natuur, en die nagboodskap aan Josef hoef geen oomblik betwyfel te word nie. Vir hom was dit ook nie die eerste keer nie.
Waarskynlik het Josef deurnag per donkie gereis en daarna aangesluit by ’n kameelkaravaan. Dat hy na Egipte vlug, was logies. In die troebel tye voor Jesus se koms het Jode dikwels na Egipte gevlug om aan oorlog of tirannie te ontkom. Elke stad in Egipte het gevolglik ’n Joodse samelewing gehad. Slegs in die stad Aleksandrië was daar meer as miljoen Jode, en hulle het sommige stadsdistrikte bestuur. Josef en Maria sou nie net veiligheid vind nie, maar ook volksgenote wat hulle met begrip ontvang en bystaan. Die geskenke van die wyse manne kon hulle ’n lang tyd dra.
In later jare sou Jesus se vyande sy wonderwerke probeer afmaak as toorkuns, aangeleer in Egipte. Die Talmoed (Joodse boek van onderrig) sê: “Tien mate toorkuns het op die aarde neergedaal, en Egipte het nege gekry.” Ons onthou hoe bedrywig die farao se towenaars was (Eks 7:11-12).
In 3 nC versprei die heidenfilosoof Celsus ook hierdie teorie, maar die kerkvader Origenes het dit sonder moeite weerlê. Dit spreek vanself dat sulke smeerpraatjies vals was. Jesus is as klein kind reeds uit Egipte weg. Die ervare fariseër Nikodemus erken tydens sy nagbesoek aan Jesus: “Rabbi … niemand kan hierdie wondertekens doen … as God nie by hom is nie” (Joh 3:2).
GEBED: Op watter vreemde paaie moes U gaan, Here Jesus, om u bestemming as Verlosser te bereik en te volvoer. Ek huldig U as die een wat ook my bestemming bestuur.