Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 41

3 Februarie Matteus 2:1-12

Оглавление

DIE STERREKYKERS UIT DIE OOSTE

Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste … aangekom … (Matt 2:1).

Die legendariese magiërs was Persiese priesters wat ook sterrekunde bestudeer het. Die ster wat hulle tot hierdie reis aangespoor het, kon een van drie verskynsels wees: ’n nova (nuwe ster), ’n komeet, of ’n konjunksie. Eersgenoemde twee is nie opgeteken in daardie omgewing rondom die tyd van Jesus se geboorte nie, maar …

In die nag van 17 Desember 1603 in Praag neem die keiserlike astronoom Johannes Kepler deur sy beskeie teleskoop waar hoe Jupiter en Saturnus mekaar in die Vis-sterrebeeld nader. Opgewonde onthou hy ’n berig van ene rabbi Aberbanel, wat lank voorheen iets dergeliks beskryf het. Kepler se versmaaide bevinding kry in 1925 nuwe aandag toe die Duitse geleerde P Schnabel ’n inskrif van die Babiloniese astrologieskool in Babilonië ontsyfer. Hy vind ’n verwysing na die stand van Jupiter en Saturnus in die Vis-beeld in 7 v.Cc, met drie verskynings in een jaar.

Maar hoekom sou die sterrekykers op reis gaan as die verskyning ook in Babilonië sigbaar was? Saam met hulle in die astrologieskool sou daar ook Joodse ballinge studeer. Iemand soos Daniël, koninklike hoofraadgewer, sou weet van profesieë soos dié van Miga oor ’n heerser wat in Betlehem gebore sal word (Miga 5:1). Hy sou getref wees deur ’n konjunksie van Saturnus met Jupiter, die koningster. Om dit in die vaderland te sien sou genoeg rede vir die reis wees. Die wyse manne kon dus Jode of Babiloniërs wees, of albei. Hulle sou ná die ergste hitte vertrek, sodat hulle kameelkaravaan einde November (ons kalender) in Jerusalem aankom, met die vraag wat verwarring stig: “Waar is Hy wat as koning gebore is? Ons het sy ster sien opkom.” Matteus sê nie dat dit drié manne was, of dat hulle die Kind in die stal gevind het nie. Ná soveel maande sou daar plek in die herberg gewees het. Dis hier waar hulle, knielend, hulle skatte oopmaak.

GEBED: Here, dankie dat ons opnuut kan sing: Betlehemster, o wonderlig, heerlik’, lieflike gesig … Ons loof U vir die koms van ons Verlosser.

God se pad van vryheid

Подняться наверх