Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 30
25 Januarie Numeri 20:1-13
ОглавлениеWATER UIT DIE ROTS
Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots … Daar het baie water uitgekom … (Num 20:11; kyk ook Eks 17).
Totdat Israel die Amalekiete verslaan en toegang tot die kosbare waterbron in die omgewing van Refidim kry (Eks 17:8-13), was hulle by daardie staanplek sonder water, en die volk is op die punt om Moses te stenig (Eks 17:2 ev). Dis maklik om te sê: “Hemel, maar die klomp kon kla.” Dis ’n glad ander saak om massas kinders en vee erbarmlik van dors te hoor kerm. Daar is ’n verskil tussen min water en geen water. Moses soek die aangesig van God, wat deur sy Gees Moses se instink en geheue laat ontwaak, sodat hy die waterhoudende rots by Horeb eien. Moses ken hierdie wêreld; tydens sy veertig jaar lange ballingskap by die Midianiete sou hy geleer het hoe om water op dié ongewone manier te vind.
Twyfelaars skud die kop, maar die Bybel gee hier ’n volkome natuurlike verskynsel weer. In die dertigerjare het ’n paar man van die Britse Sinai-kameelkorps in ’n droë vallei halt geroep en in die growwe sand gegrawe om die water wat uit ’n kalksteenrots sypel, te probeer bereik. Hulle was te stadig na die sersant se sin, en hy gryp self ’n graaf en begin met groot vertoon grawe. Onbedoeld kap sy graaf teen die verweerde kalksteen. ’n Stuk van die gladde, harde oppervlak breek af en ontbloot die poreuse binneste, waaruit ’n sterk stroom begin vloei. Hierop roep die Soedanese onderoffisier effens spottend uit: “Kyk, die profeet Moses!” Die episode is geboekstaaf deur maj CS Jarvis.
God doen bonatuurlike sowel as natuurlike wonderwerke (dagstukkies 17 Jan en 29 Apr). Jarvis se geskrif word nie aangehaal om die wonderwerk op die trekpad van Israel gering te ag nie, maar om die gelowige aan te spoor. Die wonderwerk is daar, God het dit in sy skepping ingebou. Hy het ook die mens bemagtig om dit deur keuse en teonome wederwerking tot uiting te laat kom.
GEBED: U het in ons lewe soveel keer vir ons water uit die rots geslaan, liewe Here. Leer ons om U daarvoor te vertrou en te dank.