Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 28

23 Januarie Numeri 10:28:36

Оглавление

VAN OUE OUERS EN GROTE KINDERS

“Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan …” (Num 10:31).

Die “plekke in die woestyn” is allereers die oases, ou putte, en die dele waar ’n gorra syferwater kan oplewer. Oënskynlik gaan dit oor Moses se swaer Gobab. Volgens Rigters 4:11 was dit egter sy skoonpa. Indien wel, het Moses nóg ’n vrou gehad behalwe Sippora; dalk die donkervellige een teen wie Mirjam en Aäron so gekant was? (Num 12:1).

In ’n aftreeoord is daar baie begrafnisse. Die kinders is soms self middeljarig, dalk van oorsee, skuldig omdat hulle die laaste jare so ver was. Die nader kinders moes instaan, byna meer as wat hulle kan. Daar is die afhanklike ouer wat nie verstaan daar is dalk ’n oponthoud by die werk of ’n verkeersknoop of ander krisis nie. Hulle sit gedurig en wag, met liefde gesê, soos die karakters in Samuel Beckett se drama Wagtende op Godot.

Aan alles en iedereen behoort ’n kind, behalwe aan sy ouers; dis ’n wrede wet, maar dis ’n wet, skryf Louis Couperus. As ’n ouer hierdie “wet” aanvaar, word dit makliker om die aandag, liefde en toewyding van jou kind te erken as ’n bonus, ’n voorreg, nie “omdat ek hulle grootgemaak het” nie. Maria Oomkens sluit hierby aan in Het huis dat lachte (Van Holkema & Warendorf): “Ouers is geliefde wesens op die agtergrond. Alles wat jy van jou getroude kinders ontvang aan liefde en geselskap, is wins. Veel meer durf jy nie verwag nie.”

Hiermee bedoel sy dat kindgrootmaak geen saak van verdienste is nie. Eintlik is dit blote genade. Ons kan nie altyd bý hulle wees nie, maar wel ín hulle. Die seun wat ingedagte eenkant toe dwaal in die aftreetuintjie, kan hom self op ’n dor plek in sy lewe bevind. Moontlik onthou hy, bemoedig, dat die gestorwe ouer deur al die woestynplekke gekom het, en dat die vermoë daartoe in hom nagelaat is.

GEBED: U weet my beste pogings as kind en as ouer word dikwels nog deur skuldgevoel oorheers. Help my, Here, nie om te probeer nie, maar om vanself te wees wat ek moet wees.

God se pad van vryheid

Подняться наверх