Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 34

29 Januarie Deuteronomium 6:1-9

Оглавление

LIEDERE WAT MY MOEDER MY GELEER HET

“Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat …” (Deut 6:7).

Die Boheemse komponis Dvořák se bogenoemde lied uit 1880 is steeds gewild onder wêreldsangers. Die trane het aan sy moeder se wimpers gehang wanneer sy hom die liedere uit die skat van herinnering leer, lui die woorde. As seuntjie by sy pa se herberg het hy musiek soos hierdie geleer en nooit vergeet nie. Die opdrag in Deuteronomium 6:7 (ook Deut 11:19) om oor te vertel, dra groot gewig. Die mondelinge verteltradisie moet meer krediet kry wanneer dit by Bybelse waarhede kom. Die skone Moseslied (Deut 32) gee opdrag: “Vra jou pa dat hy jou vertel, jou oumense dat hulle jou dit sê” (Deut 32:7).

Op ’n Israel-toer het ons Joodse gids vertel hoe sy pa hom kleintyd wydsbeen oor sy skouer teen Massada uitgedra het terwyl hy heelpad vertel van die versetshelde wat op die berg selfmoord gepleeg het eerder as om voor die Romeine te buig. Die vraag: “Waar het die antieke mens skryfgoed gekry?” word hierdeur deels opgehef. Oorlewering is ’n kragtige dokument, soos blyk uit Lukas 1:2: “Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat … ooggetuies … was.”

Oor my ouers is daar niks opgeskryf nie, maar deur hulle vertellinge het hulle grootwordlewe ons as kinders helder voor die gees gestaan. Dalk sal ons jeug weer begin soek na stories. Ware herinneringe, sonder bitterheid. Ook oor gebedsverhoring en wonderwerke in ons lewe. Dalk sal hulle die kuberkuiery te efemeer begin vind, te triviaal, vervlietend. Dalk sal hulle weer “hougoed” soek. Pragtig dig Marnix Gijsen: “Zie, zoo lange tijd is aan elk mens gegeven dat zijn woord rijpe tot lied voor Gods aangezicht.” Dalk is dit tyd dat nie net tieners stilletjies dagboek hou nie, maar ook ouers en grootouers. Ons kry dit reeds op Facebook en Twitter; maar skryf dit liewer op papier neer, bind en bewaar dit.

GEBED: Here, ek wil vertel van my lewe en u wonderdade. Suiwer my woorde van bitterheid en skewe persepsie en laat dit voor u aangesig ryp word tot lied.

God se pad van vryheid

Подняться наверх