Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 25
20 Januarie Levitikus 1:1-17
ОглавлениеDIE GOUE DRAAD … TEN SPYTE VAN
Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê … (Lev 1:1).
Levitikus is gerig op die Leviete se tabernakeldiens, en wemel derhalwe van wette, veral offerwette. Tog sê God by monde van Jeremia: “Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam” (Jer 7:22-23). Die oormaat offers word deels verklaar deur 2 Konings 12:16: Offergelde was die priesters se gasie. Maar in hierdie geval beland die vingers ook in die tempelherstelfonds. Reeds Hofni en Pinehas het getoon hoe sekere priesters die offers kon misbruik (1 Sam 2:13-17).
Het Moses al hierdie wette self neergeskrywe? Groot gedeeltes, ja (Eks 17:14; Num 33; Deut 31:19). Maar hy kon onmoontlik die vyf “Mosesboeke” alleen skryf, die oorlaaide leier, veertig jaar lank, van ’n oplopende volk deur die woestyn. Iemand anders het in elk geval byvoorbeeld sy dood beskryf (Deut 34). En hoe verder van Egipte, hoe skaarser die papirus; nou bly net leer, klei en potskerwe oor, duisende fragmente. Die teorie dat Bybelboeke in die ballingskap nog saamgestel is, dikwels deur groepies priesters, is nie Godsonterend nie. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer …” (2 Tim 3:16); toe Paulus dit sê, het die Skrif slegs bestaan uit dele van die Ou Testament. God gee die inspirasie, maar werk deur die mens; dit is sy metode. Toe die Qumran-rolle in die laat veertigerjare ontdek en gerestoureer is, was daar merkwaardig min verskil tussen dié antieke en latere weergawes. Opgrawings en navorsing bevestig die Ou Testament genoegsaam sodat die goue draad van Godsbeskikking deurgaans gesien kan word.
Levitikus was ’n diensboek vir priesters; gewone volkslede het nie toegang hiertoe gehad nie (dagstukkie 18 Okt). Die boek verdien dus sy plek, offeroordaad of nie. Jesus self haal aan uit Levitikus 19:18: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:39).
GEBED: Here, dis goed om te weet dat U die Skrif ingegee het, en dat U feilbare mense daarvoor gebruik het. Wil U my ook gebruik in elke woord, daad en gesindheid.