Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 36
31 Januarie Deuteronomium 34:1-12
ОглавлениеMOSES, DIE MAN VAN GOD, STERWE
Hy het die Here persoonlik geken (Deut 34:10).
Moses kom te sterwe. Maar hy sou voortleef, beide in die Judaïsme en die Christendom. Hy was die man van God, uitgesoek en voorberei om die volk uit slawerny uit te lei.
Nie dat die pad van vryheid altyd glad verloop het nie. ’n Kommandant in die Anglo-Boereoorlog het gekla: “Daar kom dae wat jy met almal moet baklei.” Moses word die sondebok vir alles wat skeefloop, van kos en water tot oorlogsugtige vyande. Sy eie broer en suster kom dikwels teen hom in opstand. Die uittog word veertig lang jare. Maar sonder Moses is die aanvang van Israel se geskiedenis ondenkbaar. Die Fenisiërs en Grieke sou beter vaar op die gebied van kuns, bou- en beeldhouwerk. Maar Israel sou die volk van die openbaring van die Woord word.
Geheimsinnig soos sy lewe, is Moses se sterwe. Soos ’n ou olifant soek hy die eensaamheid op toe sy tyd daar is. Volgens die geskiedskrywer lyk dit of God hom die prag van die land wys, en dan die deur voor hom toeklap. Dis anders as in Jesus se gelykenis van die verlore seun, wat ten spyte van sy foute deur die vader binnegenooi word. Sou God werklik vir Moses straf omdat hy sy humeur verloor het? (Eks 32:19-20; Num 20:9-12). God laat hom dalk eerder toe om te sterf: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg … Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt 25:23). Dalk was dit ’n begeerte van Moses dat die laaste oorloë en die vestiging hom tog gespaar bly. God sou verstaan. Hy het God persoonlik geken, Hom altyd geraadpleeg, in sy diepste binneste geluister na die antwoord, gekyk na die tekens wat God gee. As dit blyk hy het verkeerd gehoor, het hy wéér geluister. Hy was bo alles middelaar tussen God en volk, ’n prototipe van die Christus wat sou kom.
GEBED: O Here, dat dit tog van my gesê sal kan word dat ek U persoonlik geken het; nie eendag nie, maar nóú reeds, in ons Here Jesus Christus en deur die leiding van u Gees.