Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 24
19 Januarie Eksodus 32:1-8
ОглавлениеAÄRON SE GOUE KALF
Hy het … daarvan ’n beeld in die vorm van ’n bulkalf gemaak (Eks 32:4).
Mens wil dink: Ja, Israel is uit Egipte, maar Egipte nie uit Israel nie. Dié goue kalf is tog seker in navolging van die heilige bul Apis. Dit dui egter skynbaar op die Semitiese kalwerdiens, en nog ’n bron reken dat goue voetstukke in die vorm van kalwers algemeen was, en dat Aäron dit kon bedoel het vir die onsigbare God. Konings Jerobeam en Jehu verval later ook in kalwerdiens, met katastrofiese gevolge (1 Kon 12-13; 2 Kon 10:29). Aäron gee nogal ’n komiese verduideliking aan sy ontstoke broer: Hy het die goud in die vuur gegooi, en toe kom die kalf uit. Dis nadat hy eers die “sleg” volk wou blameer, hulle wat nou rondom die kalf jol. In haar Afrikaanse Kloekgoed teken Hetta Hager dit uit die pen van ’n skoolkind aan: “Hulle pruis daai goei kalf.”
Daar is eksegete wat vir Aäron daarvoor krediet gee op grond van Eksodus 32:5: “Môre is daar fees …” dat hy uitstel wou beding in die hoop dat Moses opdaag. Al was Aäron welsprekender as sy broer (Eks 4:14), kon Moses die skare beter beheer. Hy is immers vier dekades geslyp aan die koninklike hof, waar hy ook baie van regspraak geleer het. Tog slaan Moses in sy latere historiese relaas ook die blaamkitaar: “Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het …” (Deut 1:37).
Hy het skeef getrap en in ’n reddingsboot geval, verduidelik die kaptein van die rampboot Costa Concordia sy afwesigheid aan boord (13 Jan 2012). Lank ná Aäron sou Salomo opdrag gee: “Moenie by ’n swak saak staan nie” (Pred 8:3). “Ja, maar …” is die doodsteek van meer as een verhouding. Moenie “daai goei kalf pruis” as hy nie goud werd is nie. En, in plaas van die skuld soek, stel liewer vas wat die fout is en help dit in ’n goeie gees regstel.
GEBED: Ons lag vir Aäron se belaglike argumente, Here, terwyl ons eie dikwels op wankele bene staan. Help ons uitkyk na goue kalwers wat ons onder die skyn van vroomheid toelaat.