Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 35

30 Januarie Deuteronomium 32:10-18

Оглавление

MOSES ONTHOU DIE ARENDE VAN MIDIAN

“Soos ’n arend … so het die Here … sy volk gelei …” (Deut 32:11-12).

Hoewel vertalings rondval tussen die groot roofvoëls, is almal dit eens dat die arend hier ter sprake is. Hierdie Moses-lied, skuins voor Moses se sterfte (Deut 31:2) getuig weer van die gehalte van die man wat deur God geroep is om sy volk te lei. In sy eerste veertig jaar ontvang hy Egiptiese geleerdheid in skrif, wet en leierskap. Terselfdertyd kry hy Godsgeloof met moedersmelk in, ook wanneer hy wegglip na die popelende kleihutte van sy erfvolk. Die volgende veertig jaar leer hy as vlugteling en veewagter in Midian die ruwe natuurmagte ken.

In hierdie tyd moet hy die lammertjies beskerm teen die neerswiepende arend, volgens hom ’n onrein voël (Lev 11:13), maar aangrypend in sy adelaarsweë. By ’n Horeb-krans sien hy hoe die ouers die kuikens leer vlieg. Hy ys as die kleintjies tot 30 m val; en soms kry hy nog die angsdrome van hoe hý in ’n afgrond afstort voordat hy wakker ruk. Hy voel verlig as die arendouer onder die kuiken inseil. (Daar is wetenskaplikes wat die rugdraery weerlê, maar ’n meisie was in 1918 ooggetuie hiervan toe sy en haar pa heuning uithaal in die berge van Kalifornië.) Moses onthou hoe sy volk kreun langs die Nyl. As hy soos ’n arend was, sou God hom dalk kon gebruik om … maar wat dink hy tog? Hy is nie meer gemaklik tussen baie mense nie, net maar sy gesin en skoonfamilie. Sy eie volk sal dalk bly vra: “Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” (Eks 2:14).

Toe hoor hy die dag by die brandende doringbos: “Moses! Moses!” (Eks 3:4). Meermale daarna sou hy voel hoe hy en sy mense val, mekaar die dieptes insleur … dan kom daar ’n tyd dat hy half verwonderd besef: Maar ons val mos nie meer nie, ons sweef nou …

GEBED: Here, hoe dikwels voel ek ook dat ek net val en val … dan stabiliseer en verbeter alles, en ek weet dis U wat my weer eens oor die afgrond gedra het.

God se pad van vryheid

Подняться наверх