Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 32
27 Januarie Numeri 22:22-35
ОглавлениеBILEAM SE DONKIE SIEN BETER AS HY
Die donkie het die Engel van die Here gesien en het onder Bileam gaan lê (Num 22:27).
Beslis het die donkie nie grasieus neergesyg nie, maar oopgeplof. ’n Donkie is slap genoeg daarvoor. Sy sintuie is ook fyn genoeg om die engel te sien en die geruis van die kleed te hoor. My pa wou eenkeer sy wegryende swaertjie op die donkiekar terugroep. Hy gee sy deurdringende fluit; dit was te ver vir die menslike oor, maar die donkies het botstil gaan staan. Mens kan geneig wees om die gedeelte oor Bileam oor te slaan omdat die pratende donkie jou ongemaklik stem. Maar ja, ’n donkie kan ook tale praat met sy sieltogende gebalk en sy lyftaal. Ons het immers grootgeword met donkiestories.
Lees gerus die meesleurende gebeure in Numeri 22-24. Balak van Moab is nie net ’n lafaard en bang vir Israel, wat die Amoriete verslaan het nie (Num 21:25), maar ook ’n konkelaar. Hy laat die waarsêer Bileam haal om Israel weg te vloek. Dit kos hom ’n spul bulle en ramme aan offerandes voordat hy vir Bileam in die pad steek en self “sy koers kry” (Num 24:25). God het telkens die vervloeking op Bileam se lippe in ’n seën verander. Die nie-Hebreër uiter selfs ’n Messias-profesie (Num 24:17).
Bileam se hart bly egter heidens. Petrus (2 Pet 15-16) reken dat hy tog agter loon aan was. Volgens Numeri 31:17 (Op 2:14) gee hy aan Balak ’n makliker plan om Israel te verslaan: die vroue van Moab. Hulle verlei Israel se manne tot afgodsdiens en ontug (Num 25). Die afgryslikhede wat hieruit voortkom, kos ook Bileam se lewe (Num 31:8; Jos 13:22). Vandaar die vete tussen Israel en Moab, totdat Rut welkome versoening bring (dagstukkie 14 Mrt). Bileam sal altyd ’n mistieke figuur bly, en nog meer mistiek is die wyse waarop God hom, soos die heidense Pilatus, in sy raadsplan gebruik. Mens wil amper sug: Het Bileam maar die insig van sy donkie gehad.
GEBED: Die goue draad van u heilsbeskikking loop selfs deur die lewe van ongelowiges, Here. My gebed is dat U harte sal verander en in u diens gebruik.