Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 23

18 Januarie Eksodus 16:14-21

Оглавление

DIE GAWE VAN MANNA VIR DIE BROODSAK

… en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp (Eks 16:14).

Heuningdou op Pa se katoen was nooit ’n goeie ding nie. As die blink klewerigheid op die blare verskyn, het hy geweet die plantluise sit onder die blaar, en hy moet spuit. Vir my is die idee van manna as ’n eetbare luisuitskeiding dus volkome aanvaarbaar. Daar is, soos met die kwartels, gelowiges wat in opstand kom teen die verklaring van manna as ’n natuurverskynsel. Waarom is dit moeilik om te glo dat God sy wonderwerkende almag ook en veral deur die alledaagse openbaar? Ewe groot as die wonderwerk van manna, is die menslike vingertop met die gevoelige senu-eindpunte wat die korreltjies kan raakvat.

Tamariske vol manna gedy steeds in Sinai en in die woestyn tot by die Dooie See. Navorsing deur ekspedisies stem ooreen met die Bybelse gegewens. Hiervolgens lyk die korreltjies op die takke wel soos koljandersaad. Dis wit totdat dit afval, waarna dit geelbruin word, en smaak soos heuningsuiker. Die versamelaars is Bedoeïene en monnike wat die “Sinai-manna” as voedsel en handelsproduk gebruik. Hulle staan vroeg op, want as die grondtemperatuur bo 21 °C styg (teen omstreeks 08:30), sak die miere toe op die “Man es-sama” (manna van die hemel) en laat dit “wegsmelt”. In gunstige tye kan een persoon soggens 1,5 kg versamel, genoeg vir ’n volwassene. Die Bedoeïene knie dit tot ’n vitamienryke pap. Die manna word in ’n digte pot gebêre om die miere weg te hou. Dit kan dus wel bewaar word (Eks 16:33). Dat daar op die sabbat geen manna was nie, kan beteken dat die volk ietwat later bly lê het, omdat hulle volgens die Wet in elk geval nie op die sabbat mog werk nie. Hoe ook al, die manna was ’n natuurlike verskynsel. God het dit wel met wonderwerkende almag skielik laat verskyn … deur die weer en klimaat te verander of te bespoedig.

GEBED: Getrou gee U ons die hemelse manna van die dag, Here, hetsy die brood op ons tafel of die brood van die lewe. Ons dank U daarvoor.

God se pad van vryheid

Подняться наверх