Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 27
22 Januarie Levitikus 26:35-46
ОглавлениеMOSES PROFETEER OOR DIE BALLINGSKAP
“En tog, al sou hulle ballinge word … sal Ek hulle nie so verwerp … dat hulle heeltemal sal verdwyn … nie” (Lev 26:44).
Moses het foute gemaak, sodanig dat hy aanvaar dat God hom die beloofde land slegs vanaf die berg Nebo laat binnekyk (Deut 34:1-4). Maar Moses was ’n voortreflike leier en God-geïnspireerd genoeg om eeue tevore te profeteer oor die hongersnood (Lev 26:26) en ballingskap wat sou kom. Selfs toe Levitikus later neergeskryf is, sou oorlewering en bewaarde fragmente sorg dat Moses se woorde korrek genoeg oorgedra word.
Daar is reeds gewys op die geringe verskil tussen vroeë en latere geskrifte met die ontdekking van die Dooie See-rolle (dagstukkie 20 Jan). Moses kon net deur die Gees van God so ver vooruit die hede in die toekoms plaas. Hier is hulle nog moeisaam op pad Kanaän toe; hoe kon Moses weet dat Israel daarvandaan weggevoer sou word? Hierdeur skaar hy hom by die latere profete wat gedurig gemaan het teen die volk se afvalligheid. Onthou, waar Israel ook al die voet neergesit het, het hulle letterlik getrap in heidense lande vol tempels, afgode en rites wat hard om aandag roep. Is dit nie vandag nog so nie? Die aard en vorm van afgode het bloot verander, sodat daar selfs van elektroniese afgode gepraat kan word, onder meer kuberpornografie en sekere ongure kletskamers.
Die waarskuwing aan Israel skets ’n lewende nagmerrie van angs en paranoia: Diegene wat nie weggevoer word nie, sal so bang wees “dat die geritsel van ’n droë blaar hulle op die loop sal jaag. … Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie” (Lev 26:36-37). Tog loop die goue draad van God se troos en ontferming regdeur. Daar sal opregte berou wees (Lev 26:39-43). En dan, soete saligheid, sal God hulle in sy arms toevou en hulle verwildering sal bedaar. “Ek is die Here” (Lev 26:45).
GEBED: Ek skrik, Here, vir die benoudhede en angs van die ou-ou tyd. Maar my skrik bedaar as ek lees van u ontferming en troos. Al wat U vra, is trou. Help ons daartoe deur u Gees.