Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 21

16 Januarie Eksodus 15:22-27

Оглавление

EINDELIK WEG UIT EGIPTE

Moses het die Israeliete laat wegtrek … (Eks 15:22).

In sy opera Moses in Egipte beeld Rossini in aangrypende musiek, veral koorwerk, die kragmeting tussen Moses en die farao uit. Die mistieke atmosfeer is ’n mengsel van woestyn en swoel oewer, rare bouwerk, waterbuffels wat oor dorsvloere stommel.

Eindelik word die farao se magte afgeskud, en Israel is op pad. Hulle jubellied (Eks 15:1-21), begelei deur Mirjam se tamboeryn, verflou egter voor die werklikheid: waternood, ontbering. Behalwe afhanklikes is daar ses honderd duisend man (Eks 12:37), onder wie vreemdelinge wat saam wou wegkom. Met kinders en vee vorder hulle stadig tussen drinkplekke. Is die son erg, trek hulle in die maanlig. Anders, ’n nagstaning onder gespande velle of die sterre. Is hulle nie te moeg nie, is daar musiek, sang en dans. Hulle is geen somber volk nie. God het hulle ook gekies oor hulle onvermurfbare lewensblyheid. Wasgoed oor woestynbossies, opkrullende rook. Diep in hulle slaap klink die sweepklanke en geskreeu van die Egiptiese slawedrywers soms op. Tog is daar ook die vae verdriet van afskeid van die bekende. Soggens ontkrul die kamp soos ’n reuseduisendpoot. Nie ’n kamp met sigbare hoeke nie, maar ’n uitgestrekte nedersetting wat net met ramshoring of boodskappers oral bereik kan word. Onder Moses trek hulle in skofte, staan soms ’n jaar of langer oor, saai en oes by oases (volgens Num 24:2 sien Bileam die stamme langs mekaar “woon”).

Almal dink dit sal gou oor wees. Maar dit sou nie. Waarom nie? Josef en Maria met die Jesuskind het die pad tussen Kanaän en Egipte veel later immers sonder teëspoed afgelê (dagstukkie 4 Feb). Die rede waarom hierdie uittog veertig jaar geduur het, sou deur die hele Ou en Nuwe Testament weerklink (dagstukkie 24 Jan). Eindelik sou nie een van die weerbare manne wat Egipte verlaat het, Kanaän binnegaan nie, bloot omdat hulle nie aan God getrou kon bly nie. Dis ’n bitter waarheid, maar met ewigheidsbetekenis vir elke mens.

GEBED: Die geskiedenis van die volk op trek deur die woestyn is ook ons geskiedenis, Here. Soms is daar oases op die pad, soms bitter water. Help ons om te volhard en getrou te bly.

God se pad van vryheid

Подняться наверх