Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 9

4 Januarie Genesis 3:12-23

Оглавление

TWEE MENSE, EEN BOTSING

Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet (Gen 3:12).

Eendag het daar iets merkwaardigs plaasgevind op Lambaréné, die wêreldbekende sendingstasie op die riviereiland in huidige Gaboen, gestig deur die gevierde dr Albert Schweitzer. Daar was ’n motorbotsing. Nie groot nuus nie? Ons is immers gewoond, veral in Suid-Afrika, aan die mees grusame botsings wat jaarliks duisende menselewens eis.

Ja, maar … daar was net twee motors.

Dít herinner ons aan die paradysverhaal. God skep twee mense, net twee, en heel gou vind daar ’n botsing plaas. Hierop volg beskuldigings, wantroue, blaam: “Dis nie ek nie.” Sedertdien is die mens se dilemma om met mekaar klaar te kom. Bowendien raak die daaglikse twispunte net al hoe meer. Kyk maar na die polemieke, ook en veral oor godsdiens, in dagblaaie. Die vol hofrolle. Die persentasie mislukte huwelike. Om nie te praat van webkletsery in al sy vorme nie, dikwels ’n geval van “spoeg en spog”. Dit geld ook die doodgewone teksboodskap of SMS. ’n Meisie wil een aan haar broer stuur oor hoe onbillik haar baas is … maar stuur dit per ongeluk aan die baas, wie se naam naby haar broer s’n op haar adreslys verskyn. Sy het probeer bely en versoen, maar was haar werk kwyt. Hoe kom mens oor so iets? Soms voel dit inderdaad of mens stukkend geslaan word op die rotse van saambestaan.

Genadiglik is daar die keersy. “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander,” verklaar Salomo (Spr 27:17 OAV). Albert Schweitzer skryf in sy jeugherinneringe: “Gewoonlik is alle goeie gedagtes soos brandstof in mense aanwesig, maar dikwels begin dit eers werklik brand as ’n vlammetjie van iemand anders dit in hom aansteek. Soms dreig ons lig om dood te gaan maar dan word dit deur ’n ervaring met iemand anders opnuut aangeskakel.” En “… verdra mekaar in liefde”, maan Paulus die Efesiërs (4:2).

GEBED: U alleen weet, Here, hoe voos ek soms is van probeer vrede hou of herstel. Ek bid dat ek nie aanleiding tot misverstand sal gee en self nie te liggeraak sal wees nie.

God se pad van vryheid

Подняться наверх