Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 20
15 Januarie Eksodus 14:15-31
ОглавлениеDIE TREKVOLK SE VOETE DEUR ANGS VERLAM
“Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek” (Eks 14:15).
Menslik gesproke moes Jakob nooit agter Josef en koring aan getrek het nie. Dit sou weer in Kanaän reën, en daar sou weer koring wees. Dán het die slawerny nie gebeur, en ook nie die veertig jaar lange trek en vele oorloë langs die pad nie. Maar Jakob het gekies in die lig wat hy gehad het. Nou het die son aangeskuif en die lig val anders. God lei hulle 430 jaar later uit (Eks 12:41). Jakob se besluit word deur God ondervang en omgeswaai.
Israel dink hulle is die ergste deur toe hulle eers met kind en klou op pad is. Hulle maak die algemeen menslike fout om te dink as dit goed gaan, sal dit nooit weer sleg gaan nie, en omgekeerd. Gou kom die teenspoed, want die farao sit hulle agterna. Hy besef dat hy vet om die oë gesmeer is: Moses wou nie net drie dagreise ver gaan offer nie (Eks 5:3), waartoe die farao toegestem het (Eks 12:31). Selfs in sy slaap sal ’n slaaf nog skrik vir die stem van sy aandrywer, en so skrik die lank verknegde volk toe hulle die Egiptiese mag op hulle hakke gewaar. “Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep” (Eks 14:10). God spreek by monde van Moses: “Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek.” Deur ’n natuurlike wonderwerk laat God die volk droogvoets deur die Rooisee trek (Hand 7:36; Heb 11:29; Rietsee in Jos 2:10), terwyl die Egiptenare verswelg word.
Dit sou egter nie kon gebeur as die volk nie ’n volgende tree gegee het nie. Die lewe se ander naam is Aangaan … voortgaan, hoe wankelrig ook. Weet jy nie watter kant toe nie? Trek verder: Sit een voet neer, en jy sal sien waar om die ander voet neer te sit.
GEBED: Dankie vir hierdie les vandag, Here. U wat ons ken, weet hoedat ons dikwels nie weet watter kant toe nie. Leer ons om vasbeslote voort te gaan.