Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 13
8 Januarie Genesis 22:1-19
ОглавлениеABRAHAM OFFER BYNA VIR ISAK
Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, roep die Engel van die Here … (Gen 22:10).
Slepend en snuiwend, met opgeskroefde oë in die spleet van die klam sweetdoek. Dis Abraham, op pad om sy krulkop-babbelbekkie te offer, want God sê so. Is dit moontlik dat Abraham verkeerd kon hoor? Dat hy sy eie binnestem kon verwar met ’n influistering van God? Soos my vriendin se gevoelige tienerseun, wat haar een nag met ’n spirituslap probeer versmoor het? Huil-huil: “Mamma, die Here het gesê ek moet.” Dis nadat The passion of the Christ op die kerkkamp van hulle spesiale skool gewys is. Hy moes besluit het dat hy, om hierdie lyding te vergoed, sy dierbaarste sal moet offer.
Met wat hy “hoor”, vee Abraham God se verbond (Gen 12:1-3, met implisiete Messias-belofte) uit die pad. Sou God, die groot Sielkundige, toelaat dat ’n kind deur sy pa vasgemaak word, in die besete gesig opkyk, die opgehewe mes sien? Sou Isak ooit weer toelaat dat sy pa die nagkaros oor hom optrek, of sou hy wegkoes vir die vlermuisagtige skaduwee teen die muur van die kameelhaartent? Sou Isak ooit héél wees? Maar God ken vir Abraham: sy krag, waardeur hy die beste putte aan Lot kon afstaan; dapper veg in die nag van die konings (Gen 14); vir Sodom en Gomorra pleit. Maar ook sy swakhede: dat hy Sara aan ’n farao se harem kon uitlewer om sy eie vel te red (Gen 12); dat hy haar haar sin gee deur vir Hagar en Ismael woestyn-in te verdryf; sy latere buie van swartgalligheid.
God laat Abraham volgens sy vryheidsbeginsel begaan, maar bestem solank ’n ram vir ’n sekere tyd en plek. So bewaar Hy vir Abraham van ’n afgryslike flater, geskoei op die kinderoffers van omringende heidenvolke (dagstukkie 17 Mei), wat God verfoei. Abraham word deur God se regstellende optrede die aartsvader van Israel en ook van alle gelowiges, die nuwe Israel (Gal 3:7).
GEBED: Here, leer my reg luister, en as ek mistas, onderskep dit asseblief en swaai dit om.