Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 18

13 Januarie Eksodus 2:11-24

Оглавление

MOSES OPENBAAR DIE MOED OM TE WAG

“… want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in ’n vreemde land” (Eks 2:22).

Ons lees dat Moses “later” met die dogter van Reüel getroud is (Jetro was skynbaar sy ampsnaam). Hoeveel later? Want Moses was veertig jaar in Midian nadat hy uit Egipte gevlug het. Die Bybel sê nie. Maar of dit nou vroeër of later was, Moses voel hom steeds ’n vreemdeling in Midian. Sy hart het agtergebly in Egipte, in die streek Gosen tussen die kleihutte van sy geliefde maar lydende volk. Toe Moses daardie dag die Egiptiese slawedrywer doodslaan (Eks 2:12), moes die begeerte in hom gewoed het om nóú ’n einde aan alles te maak, sy volk uit hierdie land weg te vat … maar hoe? Hy self is ’n kind des doods, en moet vlug. Die jare gaan verby, en dit bly aan hom knaag: sy volk ly. Iets sal gebeur. Iets móét gebeur … maar nog nie. Wanneer dan? Waarom hierdie lang tussentydse bestaan, die onderbreking wat nie einde skyn te kry nie?

Die Britse teoloog Arthur S Peake (1865-1929) het gesê: “Die moed om blymoedig af te sien van ’n taak waarop jy jou hart gesit het, is van die skaarsste en hoogste soort moed, en kan net geskied deur die suiwerste geestelike insig.” Moses moes die gewoon menslike les leer dat die tyd vir iets ryp moet word. En dat wag ’n vorm van volharding kan wees: “Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien” (Heb 11:27). Tot op ’n dag toe hy, reeds ’n grysaard, deur die onsienlike God opgeroep word. Die wag, die besinning in die groot woestynstiltes by ’n trop skaap, was Moses se skool van voorbereiding. Die opvlammende jong pseudo-prins sou ’n groot gemors van ’n ontydige eksodus gemaak het.

Veertig jaar klink lank: ’n halwe leeftyd. Maar ons vergeet weer eens dat “tyd” ’n mensemaaksel is. God is ewigheid, en ewigheid is God.

GEBED: Ons tye is in u Hand, Here. Gee ons die geduld om te wag dat vertragings verbygaan.

God se pad van vryheid

Подняться наверх