Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 16
11 Januarie Genesis 39:1-21
ОглавлениеJOSEF IN DIE HUIS VAN POTIFAR
“Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” (Gen 39:9).
In die lig van ’n wanordelike vaderhuis is dit ’n wonder dat Josef so beginselvas optree. Skynbaar het Jakob, foute en al, tog baie dinge reg gedoen. Daarbenewens het elke mens ’n ingebore balans. Met broers soos syne kon Josef boos en bitter geword het, maar hy het nie. Terwyl Maria Oomkens (skuilnaam) en haar man ’n ou huis op die platteland koop en restoureer, was sy bekommerd oor haar dogter se egskeiding. Eendag leun sy teen die regop stutbalk, en verbeel haar dat die ou huis praat: “Kijk, ik ben als het leven. Ik ben eens een keer half verbrand en ik ben eens verbouwd. Ze hebben mijn dak van mijn hoofd gelicht en mijn ingewanden vernieuwdt. Maar voel je de balk waar je nu tegen rust? Ja? Voel je hem? Die staat er noch net zoals toen ze mij bijna honderd jaar geleden bouwden. Er staat, ergens in elk leven, een eigen balk.”
Op sy eie, in ’n vreemde land, staan Josef vas. Soos ’n spreekwoord lui: “Die hart is ’n boklam, hy kan vasgemaak word.” Instinktief beoefen Josef dit. Mens wonder hoekom Potifar hom in die tronk gegooi in plaas van doodgemaak het. (Haman is onmiddellik vir die dood geblinddoek toe hy langs koningin Ester op die sofa betrap word – Est 7:8.) Het Potifar sy vrou se storietjies geken? Waarskynlik het hy gedink: “Ek glo g’n oomblik hy is skuldig nie, maar nou ja …” Daar word bespiegel dat Potifar ’n eunug was. Dit sou veel verklaar. Daar was inderdaad getroude eunugs, of die ingreep kon ná sy troue geskied het, as gevolg van bevordering in die koning se huishouding. Maar wat Josef betref, kan ons aanvaar sy stutbalk was ’n kombinasie van opvoeding, gene, selfinsig, karakter en geloof. Stefanus (Hand 7:10) som dit op as wysheid van God.
GEBED: Dis ’n groot troos, Here, om te weet ons kan terugval op U as stutbalk in ons lewe, soos in dié van ons kinders en geliefdes.