Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 17

12 Januarie Eksodus 2:1-10

Оглавление

MOSES SE MOEDER SE PLAN

Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ’n biesiemandjie gekry … (Eks 2:3).

Ná Josef se dood verloop baie jare. Meteens staan ons midde-in Eksodus, voor die roekelose plan van ’n vasberade vrou. Om ’n pasgeborene in ’n riet-en-kleihut weg te steek en ander mondjies gesnoer te hou, is geen grap nie, veral tydens ’n klopjag. Dis ironiese dinkwerk van Jogebed om self haar kind in die Nyl te gaan sit. In die pakkamer tussen kleipotte, uie en dadels, terwyl die olielampie sy flikkerskadu teen die ruwe muur gooi, werk sy naby haar baba om die mandjie dig te maak. Begin hy kriewel, prop sy ’n melkvol tepel in die bekkie.

Intussen vleg God ook sý plan. Teonome resiprositeit, noem die teoloog Rudolf Bohren die samewerking, of liewer wederwerking, tussen God en mens. Saam sou God en Jogebed hierdie kind grootmaak wat later die volk uit slawerny sou lei. Daar kan bespiegel word oor die prinses, wat op gesette tye in koninklike prosessie by haar badplek opdaag. Dalk getroud of ’n weduwee, en kinderloos. Sy snap meteens die hele situasie toe die Hebreeuse dogtertjie kom aanbied om ’n soogma te vind. Onafwendbaar kom die speentyd. Aan die hof word Moses (sy Egiptiese naam) ’n prinslike figuur. Buitelanders is skynbaar dikwels onderrig en in staatsdiensposte aangestel, maar Moses het die voordeel van ’n beskermvrou. Gereeld glip hy egter weg na sy mense in Gosen, want bloed is dikker as water. Daar kom wel opstootjies tussen hom, Aäron en Mirjam. Hulle dink hy stel hom tog bietjie aan.

Maar terwyl sy toegewyd aan die arkie werk, dink Jogebed allermins so ver. Dalk dink sy dat sy alleen staan, want Amram vrees vergelding en distansieer hom van haar wanhopige besluit. Maar ’n besluit uit wanhoop gebore is nie noodwendig verkeerd nie. Die rede vir haar moed word onomwonde gegee in Hebreërs 11:23: omdat sy geglo het.

GEBED: Here, in egte geloof skort daar selde iets aan ons besluite, klein of groot. Help ons om selfs in moeilike omstandighede nie onbesonne te raak nie.

God se pad van vryheid

Подняться наверх