Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 11

6 Januarie Genesis 12:1-9

Оглавление

DIE ROEPING VAN ABRAM, WAT ABRAHAM WORD

Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit … na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (Gen 12:1).

Die aantal Joodse en Oosterse legendes oor Abraham verraai dat hierdie merkwaardige man ’n bekende historiese figuur moet gewees het. Een legende lui dat hy as kind die son oor die woestyn sien opkom het. Hy sê toe: “Dit moet die Skeppergod wees. Ek sal kniel en hom aanbid.” Maar die son gaan weg, en die maan verskyn. Hy sê: “Dit moet die Skeppergod wees, vir wie ek sal aanbid.” Maar toe verdwyn die maan en die son kom weer op, en Abraham sê: “Sekerlik gehoorsaam hulle net skeppingswette. Ek sal Hom aanbid wat die wette gemaak het.”

Inderdaad roep God vir Abram uit die veelgodedom van sy vader. Tera, nasaat van Sem, het in Ur van die Galdeërs (Babilonië) gewoon. Eendag vat hy sy getroude seun Abram en sy wees-kleinseun Lot, en vertrek Kanaän toe. Met ’n ompad (dalk om die Siriese woestyn te vermy?) kom hy 1 000 km verder aan in Paddan-Aram, waar hy hom in Haran vestig. Het Tera dalk reeds God se roepstem gehoor, maar te vas gewees aan sy gode? Josua 24:2-4 gee ’n aanduiding hiervan. Dalk begin die bejaarde Tera hier ’n nuwe gesin, want Abram trek weg van sy familie af (Gen 12:1) toe God hom Kanaän toe roep.

Volgens sekere Skrifverwysings gebeur dit omstreeks 2090 vC. Die kaart teenoor Genesis 1 (NAV) wys hoe Abram in ’n omgekeerde “U” opbeweeg het van Ur oor Haran na Kanaän, waar God hom belowe: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.” Abram het toe nog geglo hy sal kinderloos sterwe (Gen 15:2-3). Min kon hy raai dat sy nageslag (by name kleinseun Jakob) eers sou wegtrek Egipte toe, om eeue later ná slawerny en ontbering terug te keer en Kanaän in besit te neem – hier waar Abram, herdoop tot Abraham, nou as vreemdeling vertoef (Gen 17:8). God se plan werk ver vooruit, en bereken die ompaaie van mensekeuse.

GEBED: Ek dank U vir die wete, Here, dat U ook ons lewensplan in u hand hou, watter uitweë en ompaaie ons ook al bedink.

God se pad van vryheid

Подняться наверх