Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 14
9 Januarie Genesis 23:1-16
ОглавлениеBYBELSE HUMOR REEDS IN GENESIS
Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg … (Gen 23:16).
Wie redeneer dat die Bybel droog is, het geen aanvoeling vir die humor, satire en ironie wat tussen die blaaie skuil nie. Reeds in Genesis vind ons vroulike logika op sy beste as die kinderlose Sara haar man na die slavin stuur en opdra dat hy ’n kind moet verwek wat soos haar eie sal wees. Hagar raak swanger en minag haar meesteres, waarop Abraham hoor: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur” (Gen 16:5).
Toe Sara sterf, wil Abraham die Makpelagrot as graf koop (Gen 23). Eg Oosters kibbel die Hetiet geskok: Wat? So ’n belangrike man laat betaal? Hy géé die grond. Toe Abraham aandring, sug die Hetiet: “Moenie dat ons stry oor ’n stukkie grond wat vier en ’n half kilogram silwer werd is nie.” Ons lees: “Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg …” ’n Astronomiese bedrag vir ’n lappie grond in ’n gebied wat in elk geval deur God aan Abraham toegesê is.
Veel, veel later beland Abraham se agterkleinseun Juda in ’n onsmaaklike voorval. Hy beloon ’n prostituut met sy seëlring en kierie as pand, tot hy vir haar ’n boklam kan stuur. Hy weet nie die “prostituut” is sy vermomde, gegriefde skoondogter nie. Toe hy dit uitvind, besluit hy: “Laat sy die goed hou. Netnou maak ek nog ’n gek van my” (Gen 38:23). Dis merkwaardig dat die Bybel nie dié soort skande (soos Dawid s ’n later) toesmeer nie.
Jakob sterwe in Egipte en Josef gaan hom volgens belofte (Gen 47:30) in Kanaän begrawe – ’n skouspelagtige uittog (Gen 50) onder Egiptiese geleide. Daar gekom, weeklaag hulle sewe dae. Die verstomde Kanaäniete besluit foutiewelik: “Egipte is swaar in rou.” Watter dramatiese ironie. Hulle weet nie eens mooi wie die dooie is nie, terwyl sy nageslag hulle eendag hier sal kom verdryf en die land in herbesit neem.
GEBED: Here, u bestemming en hoedat U swak menslike besluite omswaai, blyk selfs uit die minder ernstige voorvalle hierbo. Alles en almal is oop voor u aangesig.