Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 10
5 Januarie Genesis 6:9-22
ОглавлениеNOAG EN DIE SONDVLOED
Ek gaan ’n oorstroming oor die aarde laat kom … (Gen 6:17).
’n Grootrivier-kind vind die arkgebeure nie vreemd nie. Hoe dikwels het gesinne tydens hoogwater per skuit van oorstroomde eilande af gevlug. Maar dit daar gelaat …
Ander Mesopotamiese volke het ook hulle vloedverhale, soos in die Gilgamesj-epos. Daar was dus ’n vloed. Die Bybelse weergawe getuig egter van ’n lewende God teenoor ’n mitiese halfgod. Daar is vele berigte oor reste van die ark op Ararat, en ewe veel sinici. Gewoonlik hoon hulle die gedagte dat die diere so mak sou aanstap. Vereers was diere nog nie so wild vir die mens, latere uitroeier van die eersgeskapenes nie. Die mens het allengs vleiseter geword; hy was eers vegetariër (Gen 1:29). Daarbenewens is daar volop bewyse dat diere voor ’n natuurramp na hoë plekke vlug. In die Krugerwildtuin het dit in Januarie 2012 op land gewemel van waterskilpaaie. ’n Vorige waarneming van die verskynsel was tydens die tsoenami van 2004 in Indonesië. Met die aardbewing op 20 Februarie 1835 aan die Chileense kus het groot swerms seevoëls om 10:00 land-in begin vlieg, en die honde het na die heuwels gevlug (daar word gesê ’n goeie soldaat beweeg ook na hoë grond wanneer hy twyfel). Dié aardbewing het teen 11:40 begin, gevolg deur drie tsoenamis. Voor die aardbewing in San Francisco op 18 April 1906, was die stalperde uitermate onrustig.
Noag sou op ’n hoogte bou, en hierheen sou die diere swerm, al die soorte van die omgewing so ver as wat die vloed sou tref. Maat by maat (indien paarseisoen), op soek na veiligheid en na kos, wat hulle van anderkant die plankbrug ruik. In Sleigh se Afstande (Tafelberg, 2010) wil ’n Griekse bokwagter saam met Xenophon se leër trek om Ararat te sien, en dalk die ark. Die generaal antwoord: “Ons wyk nie van die pad af nie. Jy sal in jou hart moet bly glo tot jy eendag hierheen kan terugkom.”
GEBED: Here, soos die bokwagter wil ek in my hart bly glo totdat U eendag alles aan ons openbaar. Die getuienis van u almag is immers oorweldigend groot in en om ons.