Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 8
3 Januarie Genesis 2:1-7
ОглавлениеSEWE DAE, SEWE TYDPERKE?
Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk … (Gen 2:2).
Hierdie oënskynlik tweede skeppingsverhaal is slegs ’n oorsigtelike opsomming. Die sewe dae word herbeklemtoon. Peter Stoner in sy Science speaks (1969) vertolk die “dae” as sewe geologiese tydperke, wat volgens hom die Bybelse gegewens ten volle ondersteun.
Die fisika het deur die splitsing van die atoom bewys dat nuwe materie wel geskep kan word (voorheen deur die chemie ontken). Die donkerte op die diep waters dui op ’n verspreide donker newel, waaruit newelagtige materie versamel, wat hitte vrystel. Indien die aarde hierdeur ’n liggewende ster geword het, sou die lig reeds van die son gekom het, maar verskans deur ’n “gewelf” of lugspasie tussen water en wolke. Soos die planeet afkoel, kondenseer vog op die aardoppervlak en die wolklaag verdun. Dat die aarde met water bedek was, klop met geologiese gegewens. Die magte van inkrimping laat nou droë grond uitstoot. Plantegroei volg, anders sou die suurstof met die rotse en metaal verbind en die atmosfeer uitput (plante as basiese dierevoedsel sou voor dierelewe kom). “God het die twee groot ligte gemaak.” Hiervolgens klink dit of die son ná die plantegroei gekom het, terwyl plante tog van die son afhanklik is. Volgens sekere vertalings het God egter in dié stadium die son in werking gestel (“made to function”), deur die wolkelaag oop te skuif. Die aarde beskik nog oor heelwat interne hitte, wat die vog in die lug hou vir ’n kweekhuistoestand. Nou kom die visse, deur navorsing geplaas in die Ordovekiaanse tydperk. Dan die voëls, vanuit die Jurassiese of daaropvolgende tydperk. Die diere kom, volgens argeologiese gegewens, ná die voëls. Die mens ontstaan in die laaste of Kwartêre tydperk.
“Dit dan is die geskiedenis van die hemel en aarde toe hulle geskep is” (Gen 2:4). En dit is hoeveel ons hoef te weet. Aquinas het gesê: “Die finale menslike wete van God is om te weet dat ons nie weet nie.”
GEBED: Indien ons alles van U verstaan het, Here, was U nie groot genoeg om God te wees nie. Ek wil liewer vrae met U hê as antwoorde sonder U.