Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 12
7 Januarie Genesis 18:16-33
ОглавлениеDIE VERWOESTING VAN SODOM
Sal U die plek werklik vernietig? (Gen 18:24).
Abraham pleit vir God af tot by tien regverdiges. God skyn minder as tien te vind, en lei hulle eerder betyds na veiligheid. Die ondergang van Sodom weerklink deur die hele Skrif, sodat Jesus ook vir Kapernaum berispe: “As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het” (Matt 11:23). In die Middeleeue is ook Kapernaum verwoes. Hierdie garnisoendorp langs die meer was Jesus se tweede tuiste (Matt 4:13). By die tolhuis van Kapernaum roep Hy vir Levi (Matteus), en ook vir Petrus en Andreas. Hy genees die slaaf van die Romeinse offisier, Petrus se skoonma, die vrou met bloedvloeiing, die verlamde man wat deur die dak laat sak is, die man met die verdorde hand, ’n besetene, die seun van die amptenaar, twee blindes, ’n doofstomme. Hy wek Jaïrus se dogtertjie uit die dood op. Die mense verdring Hom (Mark 1:21-45). Dis dan dat Jesus die vergelyking met Sodom tref.
Oor Sodom laat God profeteer as “Jerusalem se kleiner suster”, wat selftevrede in hoogmoed en oorvloed geleef en vir dié in nood niks oorgehad het nie (Eseg 16:49); hulle het afskuwelike dinge gedoen (2 Pet 2:8), “Daarom het Ek hulle laat verdwyn …” (Eseg 16:50). Hierdie gebeure word ook in buite-Bybelse bronne vermeld. God het moontlik ’n uitbarsting bestem wat die laagte oorstroom en die ontsnapte gasse aan die brand laat slaan het. Ontsteld kyk Abraham van ver af (Gen 19:28). Die plek word daarna “ ’n veld vol dorings en soutpanne” (Sef 2:9), en vorm allengs die Dooie See. As gevolg van besproeiing vloei daar deesdae minder water van die See van Galilea in die Dooie See. Die drukking vanweë die water wat sak, laat een van die berge groei (6 mm in 70 jaar). Wie weet, dalk word die oorblyfsels van Sodom eendag blootgelê wanneer die Dooie See verdwyn.
GEBED: Ek staan weer verstom by die besef, Here, dat U geen ydele woord spreek nie. Help ons om nie in die sondige keuses van die mense van Sodom en Kapernaum te verval nie.