Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 15
10 Januarie Genesis 37:1-4, 12-14, 17-35
ОглавлениеJAKOB SE VERSKRIKLIKE GESIN
Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob (Gen 37:1-2).
In Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort (Tafelberg, 1975) dink Klaas Kamer nie veel van sy nuwe skoonmense nie: “Hemel, watter verskriklike mense.” Nie dat hy juis kan praat nie … hy is een van Koos Nek se seuns, elkeen ’n verteenwoordiger van ’n aartssonde. In Genesis 37 ontmoet ons nog so ’n stormgeteisterde nes. Ewe onskuldig staan daar: “Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.” Dan volg ’n sage van jaloesie, agterdog, bedrog en geweld wat jou hare laat rys. Praat van verkeerde keuses, om nie te sê blinde foute nie.
Dis nie te verwonder nie. Jakob self was daartoe in staat om sy tweelingbroer te onderkruip, heel maklik deur die geur van sy sop toe sy broer wolfhonger van die jagveld af kom. Sy bejaarde vader, pêreloog-blind, bedrieg hy met ’n bokvelletjie oor sy hande. Jakob was geen jongeling meer nie, hy moes van beter kon weet. Volgens die Bybelse Ensiklopedie (uit Nederlands, 1955) was Isak in daardie stadium 137 en sy tweelingseuns 77. ’n Jong 77, as ons na Jakob se verdere liefdesgeskiedenis kyk. In sy vlug uit die vaderhuis kom Jakob by die Jabbok tot bekering … maar tree tog nog verkeerd op. Ook die skoonfamilie word deur sy toedoen uiteengeskeur. Van kinderopvoeding weet Jakob maar min, en in Genesis 34-38 lees ons van sy seuns se verskriklikhede. Die byna-moord en ontvoering van Josef span die kroon.
Maar God laat nie sy kinders uit sy hand glip nie. Soos die laste opbou en die diepste nate getoets word sodat dit lyk of alles uitmekaar wil skeur, trek God “die verskriklike mense” deur. Nie altyd meteens nie maar dikwels stapsgewys, deur die werking van sy Gees in die binneste van die geslaenes. Soms dra Hy ons, of sleepdra, of abba, maar nooit laat Hy ons net lê nie. Só word Jakob se verskriklike klomp die stamvaders van ’n merkwaardige volk.
GEBED: Here, as dit voel of my huis uiteengeruk word, help my om stap vir stap en deur u genade na herstel te werk. Dankie dat U stukkende mense gebruik en heelmaak.