Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 19
14 Januarie Eksodus 4:18-31
ОглавлениеGOD WIL VIR MOSES DOODMAAK?
Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak (Eks 4:24).
’n Klassieke slaggat vir ’n skrywer is vertellersperspektief: om sy mening by monde van ’n karakter af te dwing. Dis ’n slaggat wat Paulus vermy waar hy in 1 Korintiërs 7:12 eerlik verklaar: “Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie …”
Dit lyk of Moses in die nag uiters siek geword het. Die optekenaar stel dit dat God hom wou doodmaak … om geen skynbare rede nie. Moses het juis, gehoorsaam aan God se opdrag, met sy vrou en kinders op ’n donkie en met die kenmerkende kierie in sy hand, die barre woestyn deurgetob. Dalk het hy sonsteek gehad. God word voorgestel asof Hy, met respek gesê, sy almag gebruik om af te knou. Ná al sy bemoeienis met Moses, die redding uit die water, die roeping, opdragte en beloftes? Dis immers nie God se werkwyse nie. Die skrywer sou dalk ’n les by Paulus kon leer.
Sippora, raadop, besluit om haar seun te besny, doop haar man se voete met die bloed, en … God laat vir Moses “met rus”. Ons kan glo die siekte het gedraai, soos dikwels teen voordag gebeur. My grootoupa Marais het op die trekpad reddeloos siek geword. Windvoël, ’n medisyneman, het hom met kruie kom dokter en vir grootouma gesê: “As die haan die eerste keer kraai, sal jou man lewe of sterwe.” Hy het gelewe, daar in die wakap in die voordagveld, en daarom kan ek as nasaat dit hier oordra. Ek loof die Here dat grootoupa se siekte gedraai het. En ook dié van geniale Moses, die middelaar van die Ou Verbond.
Ek dank Hom ook dat Hy swak menslike middele: ’n bloedige besnyklip, veldkruie, nie minag nie maar in teonome samewerking aanwend. Behalwe Alfa Skepper is Hy immers, soos Hy menslik waarneembaar in sy Seun getoon het, ook Alfa Gentleman. Hy verwerp nie bloot ’n mensegawe nie.
GEBED: Here, soos Moses loop elke kind van U dikwels ook die sonsteekpad … krank en verlate en met nikswerd planne. Dankie dat U ons klein plan aan u Groot Plan vasknoop.