Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 33
28 Januarie Deuteronomium 1:19-46
ОглавлениеDIE WEEN EN SEËN BY KADES OP DIE TREKPAD
“So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het” (Deut 1:46).
Toe Moses sy einde voel nader, kyk hy terug op die eksodus, nie sonder verwyt nie: “Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het …” (Deut 1:37)). Om die kampplekke (Num 33) te vergelyk met die Bybel-kaart (teenoor Genesis, p 1 NAV) is om te wonder: Waarom die wye ompad Kades-Barnea toe? Dan die kortom swenk by Horberg, waar Aäron sterf (Num 20:22), om terug te wyk op hulle spoor, suid. En weer noord. Drie keer lê hulle spore langs mekaar. Heel duidelik is alle gebeure nie naastenby opgeteken nie.
Moses herinner die volk dat die verkenners hulle by Kades kom bangpraat het (Num 13:28; Deut 1:22). Maar hulle bring vars vrugte saam … so naby, en tog so ver. Toe die volk moed bymekaarskraap en die Bergwêreld aandurf, word hulle uiteengejaag soos deur ’n swerm bye (Deut 1:44). Geen land duld nomade aan sy grens nie: “Hierdie horde gaan alles rondom ons opvreet …” (Num 22:4). Deurgang word hulle ontsê, ook deur Esau se nasate Edom (Num 20:14). ’n Kanaänitiese verdedigingslinie word gevorm, die sogenaamde “Lines Palestiensis”.
Die kortpad het dus nie gewerk nie. Die volk het nie militêre ondervinding nie. Hulle primitiewe wapens weeg nie op teen versterkte stede en strydwaens nie. Hulle word verder teruggehou. Die proeftyd word verleng. By Kades se fonteine bly hulle “baie dae” (Deut 1:46 OAV), wat Oosters eufemisties kan beteken “baie jare”. Hier waar Abram se toegewaaide spore lê (Gen 20:1), word Mirjam se tamboeryn vir altyd stil. Die res lewe voort, pas vee op, staan tou by Moses se tent, sug en soog, klaag en jubel, blaas die ramshoring met nuwemaan sodat dit tot in Kanaän gehoor word.
Kades, die belangrikste laerplek op die trekpad, word die plek van wonde lek, maar ook van ’n nuwe begin … op ’n langer pad, maar wat hulle in die beloofde land sal uitbring.
GEBED: Here, elke lewe het sy Kades waar ’n vermoeide mens oorstaan, wonde lek, nuwe planne smee, weerbaar word. U ken my Kades. Wil U dit vir my tot seën maak.