Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 44
6 Februarie Matteus 2:19-23
ОглавлениеTERUGKEER NA NASARET
Daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret (Matt 2:23).
Tyding bereik Egipte dat Herodes dood is, maar dat sy seun Argelaos nog wreder heers. Josef vermy Betlehem dus en keer terug na Nasaret in Galilea, waar die gematigde Herodes Antipas regeer. Hoewel die bande met sy tuisdorp verslap het, rig Josef die verlate grotwoning weer in; bo-oor bou hy die gebruiklike kleihuis wat in slegte weer met die vee gedeel word. Hy hervat sy ambag en die klein Jesus kan reeds, met toegewyde erns, ’n plankie help vashou terwyl Josef saag.
Nasaret, geleë in ’n laagte tussen steiltes, is geen idilliese dorpie nie. Dis die kruispunt van vele nasies en tale. Die latere vraag van Natanael, of daar uit Nasaret iets goeds kan kom (Joh 1:46), toon die godsdienstige Jode se weersin in hierdie roesemoes. In Nasaret sou Jesus begin preek, maar verag en byna gedood word (Luk 4:16-30). Sy moederhuis was vir Hom nie meer ’n hawe nie, ook weens sy broers se groeiende argwaan (Mark 3:21). Hy gaan dus in Kapernaum woon (Matt 4:13).
Maar eers word Hy in Nasaret groot. Veral ná die voorval in die tempel (Luk 2:49) klim Hy graag vroemôre of skemeraand die steiltes uit. Aan sy voete lê ’n ganse wêreld. Ver wes die blou Middellandse See met wemelende skepe. Oor die vlakte streep die fakkels van kameelkaravane op die grootpad na Egipte. Romeinse legioene klingel op pad grensposte toe. Hy prewel ’n gebed van jammerte. Tuis vra Hy die seën en breek met geëelte seunshande die aandbrood, terwyl sy moeder Hom stilweg dophou in die flikkerlig van die olyfolielampie. In sy byna dertig onbekende jare verlaat Hy Nasaret slegs vir Pase in Jerusalem. Origens vervul Hy sy plig as oudste seun.
DJ Opperman dig: “Hy is volwasse eers en groot as kunstenaar/ wat ook sy take as gewone mens aanvaar.” Hoeveel te meer geld dit hierdie seun wat ook Seun van God was.
GEBED: Here, ek besef dis die klein dinge in die lewe wat ’n bestemming maak of breek. Maak my, na u voorbeeld, geduldig met die daaglikse kleindoen.