Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 46
8 Februarie Matteus 16:13-20
ОглавлениеWAAROM VRA JESUS SY DISSIPELS HIEROOR UIT?
“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” (Matt 16:15).
Jesus neem sy dissipels weg uit die Joodse gebied, en vra hulle uit oor wat die mense, en hulle, van Hom sê. Waarom? Hy is immers nie ’n applousjagter nie, en steur Hom ook nie aan die openbare mening nie. Maar dit maak sin. Jesus weet sy dood is naby. Hy soek afsondering met sy dissipels, maar dit word Hom nie gegun nie (Matt 14:13; 15:29). Nou neem hy hulle na Sesarea-Filippi, die gebied van die Romeinsgesinde Herodes Filippus. Die nie-Jode hier behoort hulle nie lastig te val nie. Jesus móét uitvind of sy boodskap hoegenaamd verstaan is en voortgesit sal word. Hier is hulle omring deur die tempels van antieke Siriese, Romeinse en Griekse gode. ’n Wit marmertempel huldig die keiser.
In ’n grot ontspring die Jordaanrivier, op sy beurt ’n herinnering aan antieke Judaïsme. ’n Galilese timmerman, omring van twaalf gewone manne, kom hier te staan teen uiterste pole van godsdienstige sentiment. Hy vra eers indirek wat die mense sê, en Hy hoor: Johannes die Doper, Elia (Mal 4:5), Jeremia. Al drie is beskou as voorlopers van die Messias. Die dissipels beskou hulle antwoord as ’n groot kompliment. Dan vra Jesus direk: “En julle?” ’n Oomblik is daar stilte. Toe antwoord Petrus hartstogtelik: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Hiermee beantwoord Petrus die ewe hartstogtelike Messsias-soekende vraag in Spreuke 30:4: “Wat is sy naam en wat is sy seun se naam, as jy dit weet?”
Dat Petrus Hom binnekort uit menslike vrees sou verloën, doen nie afbreuk aan sy belydenis nie. Inderdaad weet Jesus op hierdie oomblik verseker dat sy werk veilig is en voortgesit sal word. Deur die eeue tot vandag sou mense tot die insig van ’n Petrus kom. Napoleon het gesê: “Ek ken mense, en Jesus Christus is meer as ’n mens.”
GEBED: Ek wil Petrus se belydenis ook myne maak: dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.