Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 49
11 Februarie Markus 4:35-41
ОглавлениеJESUS MAAK DIE STORM STIL
Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom (Mark 4:39).
’n Storm op ’n meer klink na ’n kleinigheid teenoor ’n diepseestorm. Maar die werklikheid lyk anders. Die See van Galilea (of die Meer van Gennesaret – Matt 14:34; of die See van Tiberias – Joh 6:1), was ’n vrugbare vlakte vol vye-, neut- en palmbome, omring deur nege stede met minstens vyftien duisend inwoners elk. ’n Groot aantal seilskepe en vissersbote het oor die gladde water gevaar. Die idille kon egter soos handomkeer verander. Vanweë die gesonke ligging word die water goed warm. Stroom koeler lug van Hermon en Libanon in die noorde dan in, word die meer van 18 km x 9 km ’n vreesaanjaende kookpot.
Jesus, vermoeid, rus op die ereplekkie: ’n bankie op die agterstewe, met ’n kussing (Mark 4:38 OAV) en ’n stukkie vloermat. Hier word Hy wakker gemaak deur sy benoude dissipels wie se stemme bo die gebulder van die storm gehoor word: “Here, red ons, ons vergaan!” (Matt 8:25 OAV). Jesus bestraf die storm, en dit bedaar. Net die spiere tril nog in ná-reaksie.
Ook woed die storms van die lewe gedurig. Ek onthou hoe ek, ná ’n verreikende motorongeluk van ons kinders, ’n winkel binnegestap en half verbaas gesien het hoe mense gewoonweg pos uithaal en piesangs koop, terwyl ons net een refrein ken: “Here, red, ons vergaan.” Daardie namiddag hoor ek iets teen die begroeide buiteruit van my skryfkamer krap; dit was ’n bloukopkoggelman, soos ons hulle kleintyd genoem het, regop met sy voorpote teen die ruit, asof hy direk na my kyk. Eintlik het hy net sy weerkaatsing gekonfronteer, maar dit was ’n klein wonderwerk van troos.
Dit is die eintlike wonderwerk: dat God soms die vrede gee nog voor die storm gaan lê, eintlik binne-in die hart van die storm. Dat die storm ondergeskik kan raak aan die poeletjies rus en berusting, “die vrede wat alle verstand te bowe gaan” (Fil 4:7).
GEBED: Ken ek nie die storm nie, Here, wanneer my skippie so klein en die woeste waters so groot is. Dankie vir u vredewerkende teenwoordigheid.