Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 62

24 Februarie Lukas 17:11-19

Оглавление

JESUS GENEES TIEN MELAATSES

En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys (Luk 17:15).

Op die grens tussen Galilea en Samaria gewaar tien melaatses vir Jesus. Hoewel die Jode die Samaritane soos die bonthond vermy, is daar nogtans een in die groep. Ramp en lyding is ’n groot gelykmaker. Diere wat voor ’n vloed uit na hoër grond vlug (dagstukkie 5 Jan), sal langs ’n aartsvyand staan (Jes 11:6-7 se lam en leeu). Die melaatses staan ver, soos die Wet beveel (Lev 13:45-46); indien windop, tot 46 m. Op hulle rou geroep sê Jesus bloot: “Gaan wys julle vir die priesters” (Luk 17:14). Op pad gebeur die wonder. Die Samaritaan draai kortom en jubel sy dank uit. Sy pad skei nou moontlik van die res. Hy sou oor die grens na sy eie dorp en priester gaan (as rasgenote het die Samaritane hulle eie weergawe van die Wet gehad).

Was die ander werklik ondankbaar? Jesus gebruik nie die woord nie. Hy soek nie applous nie, net die “eer van God” (Luk 17:18). Die gewone lewe sou hierdie langverlorenes verskrik: die priester, rituele reiniging, vervreemde familie, bang omstanders. Die opwelling van dank sal verflou. Jesus weet dit, en sy verwyt is eerder ’n geestelike waarskuwing vir die Jode (Luk 17:18).

Die nalaat van dankbetoon wek ’n skuldgevoel. Tog moet mense deernis met mekaar hê. Bejaarde ouers moet onthou dat volwasse kinders oorlaai is. Daar is gesê die middeljare is soos die middelskof van die drieskofkameel: dit dra die swaarste las en kry die meeste skoppe. Paulus stel ’n voorbeeld wanneer hy vanuit die tronk skryf: “Ek was baie bly in die Here dat julle na so ’n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink, Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie” (Fil 4:10).

Tog moet ons maar, soos die psalmis, nie een van God se weldade vergeet nie (Ps 103:2).

GEBED: Sien tog my dankbaarheid raak vir al u weldade, klein tot groot, liewe Here. Vergewe my vir die kere dat my dank uitgestel is en vergete geraak het.

God se pad van vryheid

Подняться наверх