Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 61

23 Februarie Lukas 15:11-32

Оглавление

DIE VERLORE SEUN

“Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan …” (Luk 15:18).

Jesus vertel eers twee kort gelykenisse oor besittings wat verlore raak: die skaap, deur eie domheid; die muntstuk, deur nalatigheid. Dit was moontlik deel van die vrou se troupand, ’n kopband met muntstukke, vol sentimentele waarde. Dan gryp Jesus die verbeelding van sy hoorders aan toe Hy vertel van ’n seun wat doelbewus verlore raak. Hierdie gelykenis word genoem die volmaakte kortverhaal, met die klassieke tema: verloor, soek, vind.

Geerten Gossaert het self ’n geloofskrisis beleef, en hy dig roerend oor die verlore seun wie se ma aan die diensmeisies opdra: “… laat immermeer/ de zetels staan en/ de lampen aan en/ de poort geopend, de/ slotbrug neer”. Ná sy terugkeer bedank die seun sy vader (uit die digterspen “God”), wat met sy “kouterzwaard” (’n ploegdeel) “… de steenrots van mijn hart ten akker woudt bereiden/ Voor ’t langzaam kiemend zaad van Uwe liefde, o God.”

Die verlore seun wat weg is met die eis “gee my”, keer terug met die pleitrede “maak my”. Hy kom egter nie hierby uit nie, want sy vader snel hom tegemoet en druk hom aan die hart. Hoe pateties moes die vader van agter af gelyk het: swaaiende arms, flappende kleed, kopdoek wat losraak, knieë wat onder sy ken kom draai.

’n Fees word berei vir hom wat na peule gehonger het. Dalk praat Jesus van die eetbare peul van die johannesbroodboom. Die seun moes in die boom klim om die takke te skud … en wanneer hy eindelik weer onder kom, het die varke alles opgevreet. Vergete is daardie peule nou terwyl die geur van vet kalfsvleis uit die potte opstowe. Hoe die oudste seun eintlik die verlore seun geword het, is nie hier ter sake nie. Waarop dit aankom, is die vreugde in die vaderhuis as ’n verlore kind terugkeer. Deur die “kouterswaard” van verlies is ’n klipharde hart tot saai-akker voorberei.

GEBED: Dis ’n ou bekende verhaal, Here, maar vandag ruk dit my weer, en ek wonder: In watter mate het ek vir u Koninkryk verlore begin raak sonder om dit agter kom? Dankie dat U nie vrae vra as ek terugkeer nie, maar net U arms oopmaak.

God se pad van vryheid

Подняться наверх