Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 48
10 Februarie Matteus 27:45-56
ОглавлениеDIE AARDBEWING TOE JESUS STERWE
Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars (Matt 27:51).
Matteus, Markus (15:33) en Lukas (23:44-45) noem die aardbewing en duisternis, maar nie Johannes nie. Moontlik was hy so wesenloos van verdriet, met sy Meester aan die kruis en die moeder wenend teen sy bors, dat hy later sou kon vra: “Watter aardbewing?” En dit terwyl hy dalk skuins geval en sy wang teen ’n klip beseer het.
Aardbewings in Palestina is nie ongewoon nie. Elia beleef een terwyl hy op God wag (1 Kon 19:11). Die psalmis (Ps 60:4) noem die gevolge, en daar was ’n grote in die tyd van koning Ussia (Am 1:1). Nog grotes is in 31 nC en 1927 geboekstaaf. Jesus se woorde: “… daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees” (Matt 24:7), laat mense deesdae glo die einde is naby. Die waarheid is egter dat ons makliker daarvan hoor noudat die wêreld ’n “global mall” is, en dat meer mense omkom weens bevolkingsdigtheid en boustrukture.
Die Olyfberg is ’n gewilde begraafplek; daar word geglo die Messias sal van daar af die stad binnekom. Die aardbewing (met gepaardgaande stofdynsigheid) tydens Jesus se sterfte sou rotsgrafte hier kon oopruk. Dalk wou God juis op daardie aardskuddende oomblik ook ’n letterlike skudding stuur, ’n voorloper van die kataklisme wat Sagaria voorspel (14:4).
Die aardkorskraak wat van Turkye tot in Afrika loop, word tans in Kenia nagevors deur geofisici en seismoloë. Dié breuk word al hoe wyer, en bes moontlik sal Oos-Afrika eindelik van die kontinent afbreek. Die Olyfberg lê op hierdie lyn. Sagaria profeteer: “Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal ’n groot kloof van oos na wes ontstaan” (14:4). Onder Jerusalem is vermoedelik ’n onderaardse meer. As die Olyfberg volgens Sagaria se profesie sou oopbreek, sal ’n “… vars stroom water uit Jerusalem vloei …” (Sag 14:8). Die mens met al sy slimheid het min gesien, en weet nog minder. Laat ons swyg en gereed wees.
GEBED: Here, ek wil vashou aan u woorde: “Laat julle harte nie ontsteld word nie. Glo in God, glo ook in My.” U is die rots wat nooit wankel nie.