Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 57
19 Februarie Lukas 10:25-37
ОглавлениеDIE BARMHARTIGE SAMARITAAN
“Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom …” (Luk 10:33).
Jesus skets ’n lewensgetroue agtergrond. Van Jerusalem (697 m bo seespieël) tot by die Dooie See naby Jerigo (394 m onder seespieël), is daar ’n val van 1 091 m binne 32 km. Die rotsagtige pad met sy engtes en skerp draaie was ’n rowerparadys, bekend as die “Rooi Pad”. Daar was ook ’n herberg, wat sedertdien in puin verval het.
Jesus kies ’n verteenwoordigende groepie karakters. Die reisiger was dwaas genoeg om die pad alleen te loop, veral met iets waardevols by hom. Maar so is dit, en daar lê hy nou. Dan kom ’n priester, wat haastig verbysteek; raak hy dalk ’n lyk aan, is hy sewe dae onrein (Num 19:11), en sy ampsdiens ly daaronder. Dieselfde met die Leviet, wat bowendien vrees dat die toneel ’n strik kan wees; veiligheid eerste. Laastens kom die Samaritaan. Die naam het nie net ’n volksgroep nie, maar enige ongewenste persoon beskryf. So word Jesus ook vir ’n “Samaritaan” uitgeskel (Joh 8:48).
Hierdie Samaritaan is egter aan die herbergier bekend om sy eerlikheid, en sy barmhartigheid spreek uit die manier waarop hy sonder om twee keer te dink homself ontrief: sy reisplan verander, sy beursie skud. Jesus vra vir die wetgeleerde wat die strikvraag gestel het: “Wat staan in die Wet? Wat lees jy daar?” Dele van die Wet is deur ortodokse Jode in ’n leerhouertje om die pols gedra. Levitikus 19:18 sou ook daar wees: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar “naaste” is vertolk as volksgenote. Jesus gooi dit omver wanneer Hy te kenne gee dat jy elke mens moet help wat oor jou pad kom. Hierdie gelykenis is al so opgesom: Die rower het gesê: “Wat joune is, is myne.” Die priester en Leviet het gesê: “Wat myne is, is myne.” Die Samaritaan het gesê: “Wat myne is, is joune.”
GEBED: Ek vra, Here, dat U my oë deur u Gees sal oopmaak vir die nood van my naaste. Toon U vir my kanale en terreine aan wat ek dalk nog nie self raakgesien het nie.