Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 64

26 Februarie Lukas 19:11-27

Оглавление

DIE “WARE” GELYKENIS VAN DIE TALENTE

“Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee …” (Luk 19:13).

Die tien slawe word in Matteus 25:15 weergegee as drie slawe, en in die Ou Vertaling is die muntstukke “talente”. Wat merkwaardig is van hierdie gelykenis, is dat dit die enigste is wat op ’n historiese gebeurtenis gegrond is. Die ongewilde edelman wat op reis gaan om sy koningskap te laat bevestig en agternagesit word deur sy haters, herinner sterk aan Argelaos, seun van Herodes die Grote (dagstukkie 5 Feb). Hy erf Judea van sy pa, maar Rome moet die aanstelling bekragtig. Argelaos vertrek dadelik na Rome om by keiser Augustus uit te kom. Die Jode stuur ’n gesantskap van vyftig man agterna om Augustus in kennis te stel dat hulle Argelaos nie as koning wil hê nie. Augustus stel hom wel aan, nie as koning nie, maar as etnarg.

Hier eindig die ooreenkoms, want nadat Jesus verseker het sy gehoor gee aandag, gaan Hy soos gebruiklik oor na ’n dieper, geestelike dimensie. Ons hoor van ’n koning wat nie oor sy slawe se skouer loer nie, maar hulle vertrou. Dis wat God doen … lees maar weer die motto voorin. Iemand het gesê: “Die wonderlikste van God is dat Hy ons soveel op ons eie laat doen.” Opmerklik is dit dat die koning se beloning vir goeie werk nog meer werk is. Jy kan byvoorbeeld worstel om Latyn baas te raak, en die beloning is dat jy jou verdiep in die groot Latynse literatuur. Die beloning van God aan die troue arbeider is voorgesette arbeid. Die slotgedeelte wat vir ons onbillik kan klink: “… van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word”, beteken slegs: Wat jy nie gebruik nie, verloor jy. “Use it or lose it.” Dit geld jou liggaam, jou brein, maar veral jou geloof.

GEBED: Dankie vir u vertroue in my, Here. Help my om U nie teleur te stel nie.

God se pad van vryheid

Подняться наверх