Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 39
1 Februarie Matteus 1:1-11
ОглавлениеDIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS
Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid … (Matt 1:1).
Dit lyk na ’n oninteressante manier vir Matteus om sy boek te begin, maar vir die Jood was afkoms van groot belang. Hier moet ons dalk eers vlugtig kyk na die plasing van die Bybelboeke. Daar is elf boeke tussen Konings en Jesaja, terwyl Jesaja in die tyd van die konings optree (2 Kon 20). Esra, Nehemia en Ester lewe lank ná Jesaja, maar word vroeër geplaas. Die rede is groepering, wat byvoorbeeld die profete saamgooi (dagstukkie 25 Nov).
In Genesis 11:10-26 is moontlik ’n aantal geslagte uitgelaat, soos ook in Matteus 1:1. “Seun van” kan ook beteken “nasaat van”. Vele van ons Familiebybels sit ook maar met gapings wat deur genealoë uit argiewe aangevul moes word. Hoeveel te meer antieke geskrifte wat oor duisende jare strek? Plek-plek was daar volledig opgetekende dele, dan weer leemtes, soos Israel se vier honderd jaar in Egipte (Gen 15:13; Hand 7:6).
Matteus, reeds ’n ou man, sou besondere moeite gedoen het met die geslagsregister van Christus, wat hom uit die tolhuis geroep het (Matt 9:9). So kry elke lewe wat maar ’n wiekslag in die ewigheid is, ’n onweerlegbare plek. Die register toon dat, deur die koms van Christus, voorheen rigiede skeidslyne verval. Dit was ongehoord dat vroue in ’n stamlyn genoem word, maar die skeidslyn tussen man en vrou verval nou (dis wat volgens Gen 2:24 en Mal 2:15 van die begin af die bedoeling was). Ragab die prostituut en Rut die Moabitiese breek die skeiding tussen Jood en heiden af. Met Batseba, “die vrou van Uria”, minnares van Dawid, verdwyn die skeidslyn tussen heilige en sondaar, die vryspraak wat Jesus sou kom uitleef (Matt 9:13). Die geslagsregister van Jesus, hoe vervelig dit ook al lyk, is van die belangrikste passasies in die goue draad van die heilsgeskiedenis.
GEBED: Ek dank U vir die ruising van die ou-ou Bybelgeskiedenis, Here, en vir u Naam wat swart op wit daar staan om my te herinner aan u verlossingswerk.