Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 89

20 Maart 1 Samuel 4:12-22

Оглавление

DIE TOL VAN ELI SE GEBREK AAN BESLUITE

Toe hy praat van die ark van God, het Eli daar by die poort van sy stoel af agteroor geval (1 Sam 4:18).

Eli was inherent goed, maar geen instinktiewe mensekenner, strateeg of opvoeder nie. Sy priesterskap was deur afstamming. Die amp is aan Aäron se seuns Itamar en Eleasar toegesê (1 Sam 2:28; 1 Kron 24:3). Eli erf dus die amp en sy seuns sou ook, as hulle nie so ontspoor het nie. Dat Eli sy seuns nie streng bestraf het nie (1 Sam 3:13), was moontlik nie vanweë jammerhartigheid nie, maar eerder emosionele afwesigheid. Dit was nie nodig om sy seuns met skreeue en houe te bestraf nie, hy moes net vir hulle dáár gewees het (dagstukkie 23 Jul). Maar om hulle te laat begaan, was vir hom makliker. Die amp het al sy aandag gevra. Hy moes die wet bestudeer, offerandes reël, kyk dat die ark en tabernakel in orde is. Voor die groot ramp is Eli al deur ’n “man van God” gewaarsku (1 Sam 2:27-36), maar dit was te laat.

Eli was ’n Ou-Testamentiese gesagsfiguur, maar sy beeld na buite het vir hom swaarder geweeg as sy vaderbeeld. Daarby was hy meer begaan oor die simbole van die godsdiens as oor die God van die diens. Die verbondsark was ’n relikwie wat hom herinner aan God se beskerming, terwyl hy die Beskermer buite rekening laat. Dis uiteindelik nie die nuus oor sy seuns wat hom agteroor laat val en sy nek breek nie, maar die tyding dat die ark gebuit is.

Hierdie gebeure is die begin van die voorspelde einde van die geërfde priesterskap, wat nou sou teruggaan na die nageslag van Itamar se broer Eleasar (1 Kon 2:27, 35). Dis ’n tragiese geskiedenis. Weer eens, Eli was nie ’n slegte mens nie en ’n goeie priester … behalwe in sy eie huis, wat sy primêre bedieningsgebied moes wees. Elke ouer se taak en roeping begin tuis. Dis nie onderhandelbaar nie.

GEBED: Daagliks herhaal die verhaal van Eli in koerantberigte en ons bely, Here, ook in ons eie lewe. Die huisgesin is die taaiste toets, maar ook die lonendste. Wees U ons hulp.

God se pad van vryheid

Подняться наверх