Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 10

5

Оглавление

’n Almanak beteken net iets solank jy dit gebruik.

Vergeet dit ’n paar dae in die wakis, en jy is soos ’n verslaapte. Wat Frans Viljoen laat wonder of datums ooit belangrik is hier waar die tydlose ritme van seisoene alles bepaal.

Hy bring nietemin daaglikse houtskoolmerkies aan op die Rustenburgse winkelalmanak wat reeds vergeel het en eselsore maak.

Dis Desember, die maand waarin die rooibokke hul kalwers laat suip. Tuis op Grootverlangen is dit die tradisionele maand van die Groot Dae, van fees en samesyn.

Die dae vergaan in die wasige blou van rook en ruimtes. Die aande is sterbesaai, met hom en Modjaa twee stiltes in vel om die vuur. Die nag prik van insekte. Ver brul ’n leeu.

Hulle verlang. Hulle is albei losgeskeur van bekendhede, en dit geskied nie sonder prys nie. Tot Modjaa sê: “Treur is ’n nageaapte dood.”

“Ja, daarvoor groei niks op die veld nie, of hoe?”

Die trek verloop tussen uiterstes van ledigheid en werksaamheid. Kootjie se wa kort gedurig herstel. Boute en moere raak los. Die vrot houtas breek, Frans prakseer ’n nuwe een uit ’n sterk, harde, regop boom.

Hulle ruil ’n bietjie sout by ’n kraal, Modjaa se honde baklei met die hoofman s’n. ’n Bokkie moet as soenoffer geskiet word. Modjaa gooi ’n tarentaal met sy knopkierie dood en stowe dit met wildsvet, maar die ding is so taai dat dit hop in die pot. Modjaa hang dit ’n dag en ’n nag lank op en kook dit daarna verder.

Die onvergeetlike dag toe hulle oor die Limpopo trek. Dae, eintlik. ’n Gesukkel met donkies wat in die vals sandbanke en diep modder bly staan en die voorwiel wat in ’n gat vasval, terwyl die sleepmerke van krokodille teen die steil oewers ’n stil waarskuwing uitstuur.

Dis mooi genoeg om vir altyd hier te bly; die olyfgroen poele, spoelklippe tussen skitterwit sand, ape wat sketter en die digte takke van bome laat roer, die gesnork van buffels en die geplas van seekoeie.

“Seekoeispek vir die droë wildsvleis,” hunker Modjaa. “En die pens maak goeie medisyne.”

Frans skud net sy kop. Hy skiet al hoe traer noudat hulle in olifantgebied kom. Eers móés hy skiet vir die pot en vir kwansel. In ruil vir vet, vleis, horings en velle kon hy ’n ketel aanskaf, ’n lantern en emmer. Ook seep, ’n bokseil, ’n tang, saag, draad, koevoet, pik, byl, hamer. En messe vir slag. ’n Paar stukke goedkoop klere. Kosgewys ’n sakkie meel, ’n bietjie koffie en suiker, sout, ’n sak pitvoer vir Sultan.

Om volkome besitloos te wees nadat jy alles gehad het, is nie maklik nie. Hy het armoede voorheen waargeneem met meewarige erbarming. Nou voel hy aan sy lyf wat dit is om ’n rytuig te hê wat breek, trekdiere wat bly staan, ’n kospot wat leeg is.

Maar eerdat hy vryelik skiet, leer hy liewer saam met Modjaa gebraaide skerpioen en mopaniewurms eet. Skiet vra ammunisie en trek meelopers. Dit vat ook tyd om met velle en biltong te werk, en die somerweer laat dit vinnig bederf.

Vir Modjaa is dit swaar om ’n vel rou te verkoop aan ’n looier of kraalbewoner eerder as om dit self tot op die sening te bewerk. Word ’n bokkie wel uit nood geskiet, is Modjaa in sy element. Braai die vars lewer oor die kole. Dan die ander sagte dele, hy sout die res en maak dit winddroog.

“Hoekom kyk jy net die tandmanne?” vra Modjaa as Frans die olifante deur sy halfslyt verkyker bespied.

“Ek is nog nie reg vir skiet nie.” Hy staar meegevoer na die grys bosreuse, hulle grootheid en krag. Die verkyker bring hulle tasbaar naby, maar tog lei hulle totaal aparte lewens. Verdwyn soos ’n miswolkie, asof hulle geruisloos oor die aarde gly. “Ek gaan nie sommer troppe uitmekaarskiet nie. Ek wag vir alleenlopers en kwaaddoeners.” Hy gaan dalk die res van sy lewe hier wees. Hy wil so min as moontlik die heelheid versteur.

“Die een wat vir die maan wag, wag vir die duister. Jy kan hier naby die Limpopo genoeg tande kry vir teruggaan.”

Teruggaan? Meteens besef Frans hoedat Modjaa besig is om aan die Limpopo te klou, hy wat sy lewe lank al brand om in die land van sy vadere te kom. Baie van die dinge waarmee Modjaa hom bederf, is dus eintlik as oponthoude bedoel.

Die omslagtige aanlê van ’n aandkamp. Spasie skoonkap onder die oorhangende boomtakke. Grashalms terugdruk om ’n beskutte nessie te vorm. Houtmaak, waterhaal, vuurmaak. Terwyl hulle eintlik vir ’n nagskof moes inspan.

Frans volg sy kop. Tussen Kersfees en Nuwejaar sleep hulle stadig maar seker teen die Tuli op. Teen sononder ry hy soos gewoonlik op Sultan vooruit om kampplek naby water te soek.

Is dit dan nie vandag die troue van Betta en Ingenaas nie? Hy sou strooijonker wees en die vierperdewa drywe. Op Grootverlangen brand die bruilofsvure hoog. Met aandrooi sal die boeremusiek onnutsiger word maar ook klaender. Diep in die voornag sal ta’ Lammie swig en op haar konsertina lostrek. Die jongkêrels sal “Balke toe!” skreeu en die nôiens van hul voete af swaai.

Hoe goed weet hy van alles. Hy het die volheid van ’n gevestigde bestaan en familieskap agtergelaat. Dinge waaraan jy selde dink tot jy dit verloor. Hy is nou een eensame wese met een eensame ideaal onder die uitspansel.

Die herinneringe is soos opgejaagde mossies. ’n Vuur op die herd, pruttende potte. Skoon klere, ’n gemakstoel, katel op pote. Die meisies wat met geruis van rokke rondbeweeg en raakvat, om saans met ’n stukkie handwerk in die lamplig tot ruste te kom. Die getjier van die putkatrol. Die geur van vars geploegde sooie waarin die voëls op wurms feesvier.

Hy was gedrenk in die veld, maar getemde veld, afgepen en verken deur ’n voorvader te perd. Hy is reeds twee geslagte verwyder van die treklewe.

Lande is voor sy tyd ontbos en ommuur, damme en vore en krale gemaak, boorde geplant. Hy kon tot sewentig myl ry voor hy die grens van die plaas bereik, agter vee aan of net vir die genoeglikheid van die bekende.

Maar dis een ding om hard te werk op ’n boereplaas, ’n ander ding om te oorlewe in ’n ongetemde land wat nie maklik oopmaak voor ’n kruiende donkiewa nie. Snags moet hy die roofdiere van die donkies weghou met doringtakke, met brandende houtstompe die wolwe verjaag wat agter die rieme en die teerputs aan snuffel.

Die gang van die donkies, Kootjie se vier, aangevul tot agt, dwing hom tot geduld. Die ironie is dat donkies skynbaar die beste in Afrika vaar. Taai tobbers en gebore padvinders, kan jy soms die leisels los; hulle vind self die toegegroeide pad of maak hulle eie. Een nag het die voordonkies selfs op die rand van ’n vanggat gestop.

Die reis het ’n kwaliteit van tydloosheid, byna droomagtigheid. Jy dink net van een watergat tot by ’n volgende. Jy laat jou verlei om te glo dat Afrika, omdat hy langsaam is, ook mak is.

Modjaa bring die teendeel onder die aandag: “Ons moet van nou af net in die nag trek.”

“Ons dóén dit, as daar maan is.”

“Ons moet dit doen ook as die maan afgaan.”

“Dis moeilik sonder pad.”

“Die nagdiere los mens uit solank jy aan die roer bly.”

“En wat nog?” Hy soek na die rede vir Modjaa se opbouende onrus.

“Dit kan wees Lobengula se spioene los ons dan ook uit.”

Dan is dit dít. “Die land is so wyd, Ubaba. Dit sluk maklik almal in. Wat is een ekstra jagter?” Slegs af en toe herinner ’n veraf geweerskoot jou aan ander sterwelinge.

“Hulle weet van ons. Die tromme gee boodskap aan.”

Is dit waar? Word hulle dopgehou? Bedags maak die land geruisloos voor hulle oop, met swerwende wildtroppe en opgeefsels wat oor die horison bewe.

Maar vanaf middernag gee die tromme boodskap aan vanaf die Laeveld tot stellig by die Zambezi. Die tromme, soos die sang en dans en musiek, vertel hoe oud, hoe onberekenbaar oud hierdie kontinent is, en hoe onoorwonne. Wie sal sy koors oorwin, sy tsetsevlieg, muskiete, droogtes en vloede?

“Ons kom jag, nie oorlog maak nie.”

“As jy guns wil vind by die groot koning met die lang vingernaels, die Ruiter van die Wind, moet jy vir hom presente vat.”

“Moet ek Lobengula omkoop?”

“Dis nie omkoop nie, dis verstand.”

Hy vermeerder tog die nagtrekke, selfs met donkermaan. Dit gaan stadig.

Rooidag is die ergste, as die moegheid en vaak jou terneer rem. Wat op die plaas die tyd vir opstaan en vuurmaak is, kan hier in die wildernis troosteloos wees. Wanneer die gesteun van uile, die langgerekte note van nagape, die skor gebrul van tiers, die gegiggel van hiënas en die gerommel van leeus verstil. Wanneer hulle versadig hul slaapplekke opsoek voor die geluide van die dagdiere begin en die prooi van die nag die jagter van die dag word.

Rooidag is die tyd dat hy na Memorie hunker, hom oor Gerrie bekommer. Die weerlose uur, die doodmaker.

Die nag is koeler, maar dis veel gevra om die lang dae om te slaap en te treusel.

“Wat is dit wat jou hart laat afkoel het vir die land van jou vadere? Vertel my, ek moet weet.”

Maar Modjaa skud net sy kop, terwyl hy sy snuif op ’n plat klip fynstamp. Versigtig vul hy sy snuifkalbassie. “Solank ek hierdie by my dra …” mompel hy.

Die snuifkalbassie … ’n beskutting? Modjaa gesels af en toe met velddwalers wat, arms oor kierie agter die rug gehaak, die wa behoedsaam nader. Hoewel hy beweer dat hy nie Sindebele praat nie, is hulle almal Nguni, met Tsjaka as vader. ’n Keer of twee verdwyn hy selfs na ’n kraal om geselskap en bier te soek.

Keer vroeg terug, sit by die vuur, glurend. Elke keer voor hulle die gebied van ’n nuwe hoofman binnetrek, rek hy die ritueel van die roetswart bolletjie mieliepap langer uit, sprekend van verdiepende onrus. Tot die mieliemeel opraak. Hy tob daaroor, sy knieë tot teen sy ore opgetrek.

“Gebruik ’n stukkie wildsvet,” raai Frans aan.

’n Priemende blik gee te kenne dat die witmanwysheid oppervlakkig is teen die stamkunde van eeue.

“Laat ek dan probeer mieliemeel ruil by ’n stat. Ons het nog ’n paar velle.” Die kanse is skraal. Die misha lê ver uit mekaar, skuif boonop agter wild, water en weiding aan. Soms nader jy hoopvol ’n skynbaar bewoonde oopte, net om verlate hutte, ’n vervalle graankuil en die as van óú vuurmaakplekke aan te tref.

Die plaaslike bevolking is nie ongeneë nie, maar sy armoedtrek belowe nie presente en ruilware nie. Hy word onpeilbaar aangestaar deur vroue met kleipotte vol water op die kop, hul lywe gesmeer met galsterige vet, gestreep met wit en rooi poeiers van gemaalde klip.

Die mans is hier in die suidwestelike dele groot gebou en kom gedug voor met knopkierie en assegaai. Party dra net ’n koker van vel. Om die besnydenismerk te bedek, sê Modjaa. Kinders wat soos swart balletjies in die stof rondkruip, staar wydoog, terwyl oues uit halfblinde oogskrewe tuur.

Wanneer hy wel ’n porsie wildsvleis aanbied vir meel, tamaties, op ’n keer ’n pampoen, ’n bietjie melk waarin ’n vlieg en misstof drywe, ’n paar deurgelegde eiers, kom daar effense lewe agter die paaltjiesheinings.

Hy ruil ook flentertjies nuus oor olifante. Hy begin leer dat “naby” nie naby is nie, maar “hier” is naby. “Ver” word in dagreise gemeet. “Reguit” bestaan nie; hoe kan dit, as die hutte rond is en die bome verwronge, die landskap óf dig óf deinend?

“Ek kry nie mieliemeel in die hande nie,” moet Frans ná dae erken. “Ons sal beter met die ruil regkom as jy jou bekend maak. Vertel dat jou vader ’n impie van Mzilikazi was.”

Toe praat Modjaa, met teistering wat vir hom te magtig word: “Ek is ’n ware njanga. Dit weet jy, Furana. Isimbi weet dit ook. Maar die tromme vertel ek is tagati, ’n towenaar, van die duiwel besete. Ek sal vir elke ramp die skuld kry. As die reën wegbly. As die mielies nie kopmaak nie. As ’n mens of ’n dier siek word of doodgaan. As die weerlig iemand doodslaan. As ek my hand oplig, het ek vinger gewys.”

Noudat Modjaa begin, kan hy nie ophou nie. Sy stem word ’n trae gemompel in die loom middaguur. “Hulle sal medisyne wil hê wat hulle dig maak teen die witman se koeëls. En medisyne vir jag.”

Frans luister. Het Modjaa dit dan nie vooraf vermoed nie? Kan hunkering mens so verblind?

“Weet jy wat die straf vir juju in hierdie land is? Hulle druk jou van onder af in ’n skerp paal. Of hulle begrawe jou tot by jou nek en pak jou kop met kole toe.”

“Ubaba, ek moet eerlik wees. Ek het nie gedink ’n man met ’n swart vel kan in Afrika bang wees nie.”

“My binnegoed is ook saf, ’n spies kan dit deurboor.” Soos klein blasies sit die sweet op Modjaa se kaal bolyf.

“Ek kan jou net beskerm sover my koeëls kan gaan.”

“Dis nie ver genoeg nie.”

“Jy is dan my loopkierie,” sê Frans bedruk. Hy het ’n denkbeeld geskep wat op Grootverlangen gepas het, van ’n veldgees of natuurmag of waarsêer of gelukbringer.

Nou vind hy ’n mens, en beangs. Hy begryp sonder om te verstaan. Daarvoor is die gelowe en tradisies wat hom omring te ontsagwekkend oud.

Hulle sit met hul rûe teen een boom, weg van mekaar gedraai, starend oor die grasveld vol miershope, die verspreide koppies en doringboomruigtes.

Meteens leef Modjaa op. “Kyk daar.” Hy beduie na ’n volstruis naby ’n koppie in ’n ruigte van koorsboom en mopanie. “Hy is die wagter, sy maat sit op die nes.” Hy begin ’n tak afskeur om hom te vermom. “Vanaand eet ons groot eier. Ek maak ’n gaatjie in die dop en roer met ’n stokkie, dan bak ek hom in ’n holte in die kole.”

“Vind eers die eier voor jy dit bak,” lag Frans.

Hy bied nie hulp aan nie. Die uitdaging kan Modjaa uit sy put van somberheid optrek.

Maar dringende fluite en gebare laat hom tog nader haas. Op die rand van die ruigte ontmoet Modjaa hom en voer hom met ’n kruipgangetjie onder doringtakke deur tot waar die massiewe geraamte van ’n olifant half toegewaai lê.

Of die dier weens siekte, ongeluk of ouderdom dood is, maak nie saak nie. Wel dat hy nog sy twee tande aan hom het. Vreugde stoei teen verydeling. Hy wou sy eerste tande anders verkry, met sweet en spoorsny, krag teen krag en vernuf teen eervolle vernuf.

Maar hy gaan die meevaller nie versmaai nie. Die ivoor wat bestendig deur die aanpaksels van jare glim, is harde kapitaal wat die nood kan verlig en die reis bespoedig. Draf-draf gaan Modjaa die handbyltjie en saag haal en twee donkies om te dra.

“Versigtig nou. Eén skraap kan die tand bederf.” Dis massiewe goed. Frans voel ’n stadige koors in hom ontwaak.

’n Tweede meevaller kom net na sononder, terwyl Frans die roete vir die nagskof verken.

Meerkatte, ’n steenbokkie of twee, korhane wat opvlieg. Die laaste son verf die lug met pers en pienk strepe wat allengs rooi word. Hy voel opgekikker. As hy die tande net goed verkoop kan kry. Hy het geen idee van hoe of waar nie.

Verbeel hy hom, of hoor hy sweepklappe? Hy ry tussen miershope deur op ’n darem-pad tot hy die wit seil van ’n watrek sien. Hy pluk Sultan op ’n vinnige drafstap, dink skaars aan hoe hy lyk. Moeg, verbrand van die son, stofvaal in verbleikte ferweel, arms vol rofies en skrape, hare wat ongetem onder die rand van sy sweetdonker velhoed uitpeul, ’n week oue baard wat hom mal maak vanweë die gejeuk.

Nooit voorheen sou hy so voor vreemdes verskyn nie. Is hy besig om sy maatstawwe kwyt te raak, of kom sy gees vir die eerste keer los?

Die nuwe kennis wat hy maak, is ook maar goed verwaarloos, soos ’n riem gelooi deur die son en winde van die diepland, sy broek se sitvlak vuil van saalsit en vuursit. Sy ken en wange het stoppelbaard.

Hy het die wit hare wat nie verklap of dit asblond of vroeë grys is nie. Hy staan swikbeen terwyl hy gesels, maak af en toe sy oë heeltemal toe asof hy binne sy ooglede moet soek na wat om verder te sê. Hy is Goodman, ’n handelaar van Panda-ma-Tenga naby die Victoria-waterval. Vergesel van sy swart vrou Rutha in ’n nuwe bont laprok en ’n klompie kleibruin kinders wat soos meerkatte om die waens baljaar, is hy op pad terug vanaf die Diamantvelde.

Selfs sy troppie slagvee en ’n melkkoei vergesel hom. Sy waens is swaar belaai en vir elk het hy ’n touleier, ’n drywer en ’n briekman. Sy osse is gesout, so skaars soos hoendertande en so duur soos ivoor, getuig hy met vertroue.

Ja, hy koop en verkoop ivoor. Woon gereeld die veilings by. As die prys swak is, stuur hy af na Khartoem en Zanzibar. Hy sal graag na die twee tande kyk, veral as dit sonder merke en krake is. Hy betaal met Engelse geld. Vat nou hierdie wenk: net Engelse geld. Of goue ponde. Maar Mr Viljoen kan ook ammunisie en ander ruilware gee, hy self is vol voorraad van kos en klere en gereedskap.

Goodman is op sy beurt bly om die reeds gevonde watergat te deel, dit spaar hom moeite. Die twee mans ry vooruit, terwyl die Masjona-mans opdrag kry om die trek te bring. Hy werk eerder met Masjona, vertel Goodman. Nie so oorlogsugtig soos die Matabele, deur wie hulle verslaaf is en wat hulle as honde beskou nie. Masjonaland was altyd nog die Matabele se bloedige speelgrond.

Die Sjona sal liewer boer en handel dryf, yster smelt.

Terwyl hulle rustig deur die aandrooi ry, twee leertaai, hoedbestipte manne wat mekaar tussen onmeetlike einders ontmoet het, besluit Frans om die nagtrek op te offer in ruil vir hierdie man se kennis en ondervinding.

Ja, Goodman het deur Marico gekom, die halfwegtuiste tussen jagveld en handelswêreld. En natuurlik was hy by die poskantoor aan, hy het heelwat poste restante-briewe in sy besit, maar niks vir Viljoen nie. Is dit te vroeg vir ’n brief van Gerrie? Of beteken dit hy kan gerus raak? Die kommer wat hom in onverhoedse oomblikke pak. Gerrie was te oorgretig. Hy is ’n boer, hy ken die eerste hitte van ’n jong vers. Nie dat hy die skuld op haar wil pak nie. Hy het ook kop verloor. Maar watter man sou nie?

Goodman het ’n slag om te vertel, voor die gees te roep. Sy eensame handelspos waar horings en velle in die son voor ruwe klei- en paalhutverandas lê. Die legendariese waterval Mosi-oa-tunya, wat rook en donder en op ’n stil nag met volmaan ’n reënboog maak.

Vir hom het die Land van Monomotapa sy hartland geword. Die mitiese land van Prester John, wat eeue lank die Portugese gelok het. Land van gewaande goud en silwer, ou myne, ruïnes – die land van Ofir.

Frans lag en vertel van oom Jan Meisenheimer, wat hulle wou wysmaak dat hy Priester Jan geken het, en later sommer Priester Jan geword het.

Goodman skater. Hy ken Meisenheimer. “Old Popinjay,” roep hy vuur toe waar Rutha sit en roosterkoek bak, en volg dit op met ’n paar woorde Sindebele om te verduidelik.

Sy gee die kreunlaggie van ’n ingewyde en draai die roosterkoek om. Die skroeireuk vul die lug en herinner pynlik sterk aan Antjie Bos, daardie laaste aand op Grootverlangen.

Hierheen, vertel Goodman, het Mzilikazi in ’37 gevlug na die slag van eGabeni teen Potgieter en Piet Uys. Dit was die tyd van die vloedreëns toe hy die Limpopo oorsteek. Hulle was honger. Die wild was volop, maar Mzilikazi se impies was net geoefen in die jag van mense.

Die koning het twee gebuite Boerewaens by hom gehad, ook twee ontvoerde Boeredogtertjies wat saam met die vroue en kinders voortstrompel. Onder die kermende kinders is Lobengula, die seun van ’n mindere vrou. Sy ma dra ’n jonger kind, Ningi, op haar rug. Die swakkeres, onder wie een van die wit meisietjies, bly lê. So ook Fulata, Lobengula se moeder. Die Boeredogtertjie Sara vat Ningi op haar rug en Lobengula aan die hand.

In die doolhof van die Matoppo’s, vol klip en kremetarte met hul gemartelde voorkoms, verdwaal Mzilikazi so geheel en al dat hy ’n toordokter aankeer om hulle uit te lei.

Goodman, meegevoer deur sy eie relaas, vertel met soms geslote oë van die baie bloed wat daarna gevloei het, en hoe die wild geworde Sara weer eens met Lobengula in haar arms gevlug het.

Langs die kampvuur kwyn die vertelling. Die wydheid van die aand wil nie baie woorde hê, of spoke uit die verlede, die geeste van gevalle impies en vermoorde heersers nie.

Goodman reken daar moet reën op pad wees. Die roep van die waterfiskaal het vandag deur die stowwerige bosse weerklink en die blouwildebees het wes gekyk. Dit was ’n droë jaar. Watergate sit ver uit mekaar. Soos hy gereis het, was daar die dieregeraamtes wat wit gebleik onder die son lê.

Frans verval in bepeinsing. Om te dink dis dieselfde droogte wat begin vanjaar die Kaapse reis moontlik gemaak het. Die groen, safte Kaap, met bergstroompies wat in persdonker klowe afstort. Die malende Witrivier.

Dis of ’n lem in hom draai. Net vinnig, ’n fyn krakie wat dadelik weer deur eie sug verseël word. Hy sou Memorie darem bitter graag wou hê, graagter as enigiets anders in die lewe. In sy arms, in sy bed, aan sy tafel, langs sy vuur.

Afgetrokke volg hy Goodman se voorbeeld om bokseile oor te trek waar moontlik en nodig.

Die handelaar, veral dankbaar toe dit blyk dat Frans sy gewere sal regmaak en instel – hy het op die Diamantvelde wel nuwes aangeskaf, maar die oues pas so lekker in jou hand – weet van olifantjag ook meer as genoeg. Hy skiet nie self nie, te veel moeite, hoekom sal hy ook, as die ivoor na hom aangeloop kom?

Maar hy praat jare al met jagters. So weet hy dat jy deur die spoor te bestudeer, die grootte van die tande kan bepaal. Dit verhoed dat jy tyd en kragte mors deur waardelose tande agterna te sit. Maar ook versigtig wees, die pote verskil van streek tot streek en van olifant tot olifant. As Mr Viljoen nuus oor ’n olifant koop, dring aan op ’n stokkie wat die deursnee van die voorpoot sonder die tone wys.

Hy het die teorie dat jy groei stimuleer as jy ’n trop opbreek. Dit gee aan jong bulle die kans om van die ou bul se heerskappy weg te breek en eie troppe te vestig. En matige uitskiet sal nie die olifante uit ’n distrik verdryf nie. Dis gedurige kwes en rondjaag wat dit doen.

Goodman weet van die land en sy mense. Onderhandel eerder met onafhanklike hoofmanne, raai hy aan. Lobengula is verward en agterdogtig. Konsessiesoekers van alle nasies kamp knaend by sy koninklike kraal te Umvutcha. Party wil jag, party soek goud. Die koning in sy lendekleed van blouaapvel, verag die vreemde kruipers hoewel hy hulle oorvloedige geskenke aanvaar.

“Ken jy Lobengula persoonlik, Mr Goodman?”

“Goed genoeg,” reken Goodman, wat in sy omgang met Boerejagters leer Hollands praat het.

Lobengula is aan niemand se kant nie, behalwe sy eie. By die Engelse praat hy teen die Boere, en andersom. Die Boeretrekke wat uit die Suide kom, troos hulle daaraan dat Lobengula die Boer se taal verstaan. Dis waar. Die wit dogter Sara het hom opgepas, twee keer sy lewe gered. Maar dis ook waar dat hy sy eie getroue suster – kleurryke Ningi, vol krag en krale – ’n heksedood laat sterf het.

Frans voel hoe sy hare van die wortels af opstaan. Hy weet dat Modjaa ook luister, en hy ys vir wat kan kom.

Vermy die hartland van die Matabele, raai Goodman aan. Trek verby Go-Bulawayo, Die Plek van Slagting, daar waar aasvoëls gedurig draai. En verby die Matoppo’s, sodat jy net die rand van die groot plato vang. En moet niks vreemds doen nie. Mense is al gedood omdat hulle as towenaars aangesien is. Soos een wat sy tande met pienk tandepasta by die rivier geborsel het. Net een woord van die koning, en sy Amatjaha val die vasina mabwi aan en roei hulle uit.

“Wie is die masina mabwi?”

“Die manne sonder knieë. Wat langbroek dra. Soos ek en jy.” Die sonbeplooide oë gaan sekondes lank toe. “Maar jy is net ’n jagter. So just push your way, Viljoen.”

Hulle sit op veldstoeltjies, elk met ’n koppie swart, bitter koffie. Die vuur gooi hulle skynsels teen die waseil. Goodman gaan haal suiker uit. Hy kruis sy bene en sit sy hoed op sy knieë neer. Hy word weeïg. Sy wettige vrou kon dit nie lank uithou voor sy terug Engeland toe is nie. Met klein Gwen, nou reeds groot.

Gwen kom so een keer per jaar vir hom kuier. Sy hou van Afrika. Sy het donker hare en swart, flitsende oë. Maar ’n moeilike humeur. Het eendag een van sy helpers met die rysweep geslaan.

Goodman onthul verder: as Gwen kom kuier, moet hy Rutha en die kinders betyds wegstuur na haar mense in Masjonaland.

Hy kyk oorwegend na Frans. As Gwen ’n man hier kon kry, anders kom sy nog by haar pa intrek. Maar dit moet ’n sterk man wees, anders loop sy bo-oor hom.

Frans lag effens. “Vergeet van my, Mr Goodman. Ek vat nou Afrika as my vrou.”

Goodman skud sy kop. ’n Wispelturige Mistress, Afrika. Vir hom duld sy wel al twintig jaar, maar hy trap in sy spoor. Hy probeer nie die orde van dinge versteur nie.

Goodman gaan vir hulle ’n plat botteltjie haal, spoel sommer die koffiebekers uit.

Bo hulle koppe bou die storm op.

Wolktoppe tuimel, weerlig trek soos spiese deur die lug, gevolg deur die rollende donderslae. Eindelik, die digte reënsluiers wat die manne uiteenjaag.

Die slaap is ver toe Frans in die wakap lê. Die wind draai en dryf die nattigheid by die halwe seilkap na binne, wat hom dwing om onder die wa skuiling te soek.

Modjaa draai sy rug. “Hoekom kruip jy nie onder Goeiman se wa in nie?”

“Hy het my baie geleer. Ek weet nou watter koers.”

“Gaan ek saam?”

“Môre vroeg as jou Ngongomela blink, vat ons die pad.”

“Watter pad?” Modjaa is soos ’n vuur waarvan die as koud geword het, maar hy weier darem nie heeltemal nie.

Frans glimlag verlig in die nat donkerte. “Ons maak mos die pad soos ons loop, Ubaba.”

Sy planne staan nou vas. Jagtende tot naby die Zambesi, so ver as ’n wa kan loop. Dan ’n soort tuisbasis vestig, hoe primitief ook. Daarvandaan te perd met draers uitgaan, weke tot maande op ’n slag. Maar daar moet ’n plek wees waarheen hy altyd weer terugkeer, ’n holte vir sy voet.

Vir die eerste keer begin die land soos ’n tuiste voel, juis deurdat meer van sy gevare bekend gestel is. Tot dusver was dit te stil, te verdraagsaam. Hy begryp nou meer van Modjaa se angste, en hy sien beter kans.

Hulle kamp langs ’n riviertjie waarteen ’n groot kraal hoër op geleë is. Die grond is oordek met die rooi van afgevalle msasa-bloeisels.

Die kaptein kom nie besoek aflê met die gebruiklike geskenk nie. ’n Seningtaai hoendertjie, bier, kafferkoring. Iets in die lug voel nie pluis nie. Byna elke dorpie lewe in elk geval in vyandskap met die bure. Dit gaan om water, beeste en vroue, en die sterkste oorleef. Nie ongepas nie, in die lig van die swaar kruise wat die land nog altyd moes dra. Slawerny, koors, wilde diere, hongersnood.

Frans saal vroeg op om ’n bokkie te gaan skiet waarmee hy die kaptein kan nader. Hy wil net voet in die stiebeuel sit toe hy ’n verre gerug hoor, wat mettertyd oorloop in ’n luide gehuil.

Modjaa keer ’n veewagtertjie voor. Die kind is kaal soos ’n sprinkaan, met boepensie en naelbreuk. Sy oë rol wit van vrees, maar ’n klont geelsuiker maak sy tong los.

“’n Jong meisie, die dogter van ’n indoena, is deur ’n seekoei tussen die riet langs die rivier doodgemaak,” berig Modjaa.

“Vra wanneer die begrafnis is.” Dalk moet hy twéé bokkies vat.

“Hy sê hy weet nie, sy is nog nie dood nie.”

“Dan moet ons gaan kyk, ons kan dalk help,” beplan Frans bo-oor die onbegryplike.

“Wil jy moeilikheid koop, Furana? As sy sterwe nadat jy aan haar geraak het, is jy die oorsaak.”

“Ek kan nie anders nie. Al moet ek alleen gaan.”

Hy gooi ’n bietjie sout in die ketel kookwater. As verband vind hy die slopie waarin Antjie die roosterkoeke saamgegee het. Hy hou dit teen die vuur en rol dit styf op.

Ná ’n pynlike stilte begin Modjaa ook maar sy velsakkies vol medisyne bymekaarmaak.

“Bly as jy moet bly, Ubaba.” Dis vreemd, maar hy is op hierdie stadium skynbaar veiliger as Modjaa.

“Ek moet gaan. As ’n sterk vreemdeling weier om hulp te gee, is hy nalatig en onwillig.”

“So, ons is alkante toe vas. Ons is skuldig net oor ons naby is,” som Frans ietwat grimmig op.

Modjaa maak seker dat sy honde vas is. “Netnou baklei hulle weer met die kaptein se honde. Maar as ’n kolhaas voor die wa opspring, is hulle te sleg om hom te vang.”

Hulle albei weet daar het lank laas ’n kolhaas voor die wa opgespring. Maar die honde kan net sowel die skuld vir die benarde situasie kry.

Hulle nader die newel misvuurrook wat saam met die geweeklaag in die môrelug drywe. Die hoofman, in ’n voorkaros van tiervel, met stywe kraalbande om nek en boarms, wag hulle in. Ná die nodige omslagtige groetery en bekendstelling, oorheers deur die gejammer wat alle sinne te bowe gaan, vra Frans of hulle die beseerde meisie mag sien.

Daar is argwaan, ’n onsigbare muur veel digter as die paaltjiesheining. Maar die feit dat daar padgemaak word, getuig aan die ander kant van hoop en verwagting.

Hulle vind die slagoffer, ondersteun deur ’n aantal klaende kaalbors- kleibesmeerde vroue, in die middel van ’n paalafskorting. Die vel waarop sy lê en die grond rondom haar is donker deurweek van bloed. Sy is bewusteloos, vol koue sweet, haar gesig asgrys. Sy haal vlak en sugtend asem.

Frans hurk op die een knie. Hy weet hoe belangrik selfvertroue is, dat dit moet lyk of hy weet wat hy doen. Maar hy weet ook die saak is verlore. Die sterk jong tepels, gekoek met droë bloed, sal nooit soog nie, hoewel die gladde magie sag uitgeswel is. Hy wonder wie die vader van die ongebore kind is. Wie van die omstanders, met onpeilbare donker oë, die gesigte maskers van ebbehout?

Vlieë pak op die beseerde linkerarm wat met modder bepleister is, daarna verbind met ’n ruwe spalk van riet sonder verbande of stopsel.

“Vra of ek die spalk kan losmaak, Modjaa.”

Tekens van instemming. Hy sny die grastoue versigtig met sy knipmes los, staal hom teen die afgryse. Die seekoei het dwarsdeur gebyt en toe sy tande uitgeskeur. Die been is gebreek en die arm afgeruk sodat dit slegs met twee repe vleis aan die skouer vas is. Die bloeding het reeds vanself gestop, met jellieagtige klonte in die massiewe wonde.

Sy het potte vol bloed verloor. En selfs al oorleef sy dit, sal sy weens skok of bloedvergiftiging heengaan. Ten minste dan die wonde probeer ontsmet en beter verbind. Die bietjie gerief kan haar laaste lyding verlig.

Hy werk so sag en deeglik moontlik met die afgekoelde kookwater, laat Modjaa van sy gestampte kruie opsit, prakseer ’n nuwe spalk met die slopie as stopsel.

Die gevoel van mislukking gaan saam terug kamp toe. Hy voel nie om te vertrek voor die meisie se lot bekend is nie. Hy sal later vanmiddag weer gaan kyk. Dan die bokkie skiet en saamvat.

Maar ’n oplewende geweeklaag stuit hom.

“Die meisie is dood,” sug Modjaa. “Laat ons inspan.”

“Dit sal lyk of ons vlug.”

“Ons trek maar net verder. Dis koel in die nag.”

En later, toe hulle deur die eerste sifsels van skemer op pad is, behalwe dat daar skaars ’n pad is: “Almal weet niemand kan vlug nie. Daar is baie tyd om agterna te kom.”

Dis nie asof Modjaa van jaartyd praat nie, eerder van geslagte.

Eers maak Modjaa asof hy die jong man wat op die grond met sy rug teen die stam van ’n msasa sit, nie gewaar nie. Beslis nie sommer net ’n vleissoeker nie. Die sterk, spits kop bly afsydig van hulle weggedraai.

Hy is skynbaar iemand wat nie skroom om tradisie uit te tart nie, want hy dra lapklere, iets wat alom met onbehae bejeën word aangesien dit herinner aan die tyd toe die gehate Arabiese karavaanmeesters kom slawe maak het. Aan die ander kant handhaaf hy die rites van beleefdheid.

Lyk hy bekend? Was hy by die seekoeistat?

“Hy het sy spies neergesit om te wys hy kom in vrede,” kreunpraat Modjaa, nie sonder bewustheid van sy belang as tussenganger nie. “Hy sal so bly sit tot iemand hom uitvra.”

“Nou vra hom dan. Dalk bring hy nuus oor olifante.”

“Ek hou nie van sy ronde oortjies nie. Hy lyk soos mpeesa – wildehond.”

“As ek hom vra, gaan ek mos bo-oor jou kop.” Wat hy brand om te doen. Geduld, die grootste wet van Afrika, val hom steeds die swaarste. Eindelik loop Modjaa nader, stywerug. Die vreemdeling bly manierlik sit toe hy aangespreek word.

Dit word ’n lang, gedempte gesprek, met stawende handgebare en ’n spies wat rigting aantoon. Die woord Galongwa klink meer as een keer op.

“Hy sê sy naam is Sebeku,” kom Modjaa eindelik suinig berig. “Daar is ’n ou olifantbul wat kwaaddoen by die kraal van sy pa.”

“Is dit wat Galongwa beteken? Die ou bul?”

“Nee, Galongwa is die jong olifantbul. Dis jy, Furana.” In porsies wat twee keer langer as die moedergesprek duur, onthul Modjaa die res van die boodskap.

Die yslike alleenloperbul het vroeg laas nag die kraal waar Sebeku se pa hoofman is, op horings geneem, die grasdak van die graankuil afgegooi en hom versadig gevreet aan die kosbare mieliekoppe.

Dwarsdeur die oestyd moes hulle hom snags met geskree, met vure en tromslae uit die lande hou. Hy is ’n ou kalant wat hom nie in ’n vanggat laat vang nie, en ’n vuurkring sal te gevaarlik wees vir die inwoners self. Binne een nag het hy nou die oes vernietig. Die enigste oes sal hongerte wees. Sebeku is gestuur om te vra of Galongwa die olifant sal skiet.

Hy sal Frans op die olifantspoor bring voor dit koud word. Daarna wil hy aanbly. Hy kan spoorsny en tande uitslag.

Dalk is dit die antwoord, besluit Frans. “Kry vir jou ’n man wat die land goed ken. Een wat gids en spoorsnyer en tolk en kamphoof in een kan wees,” het Goodman gesê.

“Was hy by die stat van die seekoei?” vra Frans reguit. “Het jy hom daar gesien, Ubaba? Is hy agter my aan gestuur?”

“Jy weet ek was besig met die meisie,” ontwyk Modjaa.

“Hoekom wil hy vir my werk?”

“Hy sê eendag as jy teruggaan, wil hy saamgaan na die Plek van Goud.”

“Johannesburg.”

Die woord laat die jongman sy gesig voluit na hulle draai. Die kil, trots oë, rituele kerfmerke op sy vel. “Yes, Sir. Johannesburg.”

Frans voel ’n gek. “So you speak English?”

“I worked for Mr Selous. I can also speak the baas’s taal.”

Die “baas” is beslis neerhalend bedoel. Hierdie man is ’n raaisel. “Viljoen is my naam. Dis hoe jy my kan noem.”

“Freejohn?”

“Ja, dis goed so. Freejohn.” Dis soos ’n skuilnaam wat bietjie beskutting kan gee in ’n vreemde land waar jou naam niks werd is nie, losgemaak van die verlede en van enigiets wat jy ooit beteken of bereik het.

Sebeku trek ’n driehoek op die grond. Hier is sy pa se kraal. Hier is die plek waar hulle nou onder die boom sit. Hier is die koers waarin die olifant verdwyn het.

“As ek skiet, sal ons daar moet slag en slaap. Ek het nie draers of pakdiere nie.” Die donkies is te min werd.

“Dis goed so, Freejohn.”

“Ons gaan te voet.” Dit was en is steeds sy voorneme: sy eerste olifant jag hy te voet.

“Is my voete en oë dan vasgemaak?” wil Modjaa ontevrede weet. Hy deel Frans se vuur, nie dié van Sebeku nie.

“Jy is ’n njanga.” Modjaa begryp nie dat sy tydsaam opgegaarde veldkennis en spoorsnyvernuf in hierdie vreemde land en met grootwild nie veel werd is nie. En daar sal al hoe meer helpers nodig wees. Hele spanne, uiteindelik.

Hoe bring hy Modjaa dit aan die verstand? ’n Man wat altyd met sy twee honde in bekende veld gaan jag maak het op springhase en korhane?

“Ek is die stem uit die ou krale van jou verlede.”

“Ek weet. Ek wil nie daardie stem stilmaak nie. Jy het my ma se graf help grawe. Jy ken vir Isimbi van lank voor ek hom geken het. Jy weet hoekom my ouma se naam ‘Omdraai’ is.”

Modjaa peins lank. “Dan bly ek môre in die kamp agter,” loop hy die versoek vooruit.

“Ek sal jou soek as ek terugkom. Ek sal jou altyd soek.”

“As jy terugkom, maar nie as jy uitgaan nie,” sê Modjaa met ’n noot van droefheid.

Sonder baie praat soek hulle die kooi op. Hy durf nie hieroor wakker lê nie, besluit Frans. Hy moet goed slaap en vroeg opstaan. Sy lewe as grootwildjagter begin môre sodra dit lig word.

Dis toe nie so maklik om te slaap nie. Tot hy orent kom, die kers aansteek, die geweer in sy hande vat. Sal die aksie nog eksieperfeksie wees? Hy breek die nek en sien die groot dop koperig loer.

Die koeël wat met ’n raakskoot moet tref.

Die dik gras het hom vroemôre deurweek met dou, op die middag hou dit die hitte vas. Dit piets sy gesig, steek in sy oë, verberg die pad, pootjie hom, plant stekelrige saadjies in sy klere, brand in sy seerplekke. Dan is dit weer digte bos, met die bome – msasa, mopanie, kremetart – wat bo hulle koppe toemaak. Hulle vorder teen ’n gemaklike pas in die wildspaadjie, maar vind min bewyse dat die groot dier hierlangs beweeg het.

Die kos, gewere, patrone, drinkwater en handbyltjie word swaarder soos die myle agtertoe meer word. Dis son, insekte en dors. Met ooglede waaraan die sweet hang, hou Frans net die spoorsnyer voor hom in die oog. Solank hy dié kan ruik, weet hy ook dat die wind nog reg stoot. Sebeku het vandag stamdrag aan, swart spiere riffel soos slange onder die vel. Dié half nakende toestand blyk die gerieflikste te wees.

Vroemôre toe daar nog asem vir gesels was, het Sebeku vertel dat sommige wit jagters poedelkaal jag. Selous verkies glo net ’n hoed, hemp en skoene.

Nou is die spoeg te taai vir praat, behalwe die nodigste, en gedemp. Hoe het hy ooit kon dink dat hy moeg is, op die oesland, in die kraal, besig om jongosse in te breek, dam te skrop? Waterblase breek klam binne sy skoene.

Waar die spoor ophou, sal die olifant wees. Wanneer hou die spoor op? Groot kringe op die grond afgedruk. Is ’n olifant werklik so groot of is hierdie een ’n knewel? Vars groen bolle mis gee nuwe moed en ’n tweede asem. Dis of die moegheid wegval. Soos hy nou voel, kan hy nog ure aanhou.

Sebeku drafstap vinniger. Daar is nie meer tyd om die verlore sweet met ’n paar mondevol van die orige lou water in die veldfles te vervang nie. Die jagter behoort aan die olifant, nie andersom nie. Maar iewers moet die dier tog talm. Sebeku gaan staan en toets die windrigting deur te tik op die tabaksakkie vol as wat hy saamdra.

Hy lyk tevrede, hulle draf voort.

Dan steek Sebeku in sy spore vas, assegaai omhoog in sy regterhand. Frans stop kort op sy hakke. Hy onderdruk sy skor asemhaling met mening en hoor ’n ander geluid: die geritsel van ’n tak in die ruigtes voor hulle, asook ’n ander, onplaasbare geluid.

Sebeku laat hom verbykom, stuur hom met ’n hand op die skouer, beduie vol met die assegaai effens na links voor. “Nanku!” fluister hy byna onhoorbaar.

Hulle sluip om ’n bos. Meteens is die olifant daar op skaars elf tree, ’n groot donkervaal kolos.

Hy staan met sy sykant na hulle, slurp rustend op een van die massiewe tande. Die vreemde geluid is die geskuur van ’n oor teen sy skouer.

Frans het die hol kol op sy maag nie voorsien nie. Hy het nog nooit ’n olifant van so naby gesien nie, laat staan nog skiet. Pa Barend se Martini-Henry-karabyn weeg swaar in sy hande. Hy troos hom vlugtig aan die storie dat daar meer olifante met die MH doodgeskiet is as met enige ander roer.

Maar twyfel tog. Hoe groot is die dier! Sebeku wag. Sy deel van die taak is afgehandel.

Noukeurig aanlê, presies halfpad op teen die turferige lyf vir ’n bladskoot, wat hopelik diep genoeg sal indring om die hart of longe te tref. Begin dan uiters stadig die loop lig, kom verlig agter dat sy greep nie deur die bewing beïnvloed word nie. Die korrel suig vas.

Hy trek die sneller, voel die skop teen sy skouer, hoor die gedonder, die klap van die koeël. Die lug is warm en droog en die rook klaar byna onmiddellik op.

Die gekraak van ’n bos wat meegee – en dan die lang, diep kreun, byna ’n brul. Dit voel of dit uit sy eie longe kom. Hulle wag, maar daar kom geen verdere geluid nie. Soos ’n jong berg lê die kreatuur daar op sy sy.

Met koppe wat skaars uitsteek, beweeg hulle rondom die karkas wat ten minste vier ton moet weeg. Teen die masssiewe kop lyk die geweer niksbeduidend. Die bonkige pote, die skouers en heupe, die voorkop wat yslike bome kon omstoot. Van naby is die oog- en gesighare dik en stekelrig.

Frans vind dat sy bene nou behoorlik bewe. Hy kyk indringend na Sebeku en sien dat die rysige gestalte ook ligweg sidder. Hulle grinnik effens, asof hulle saamsweer om hierdie swakkigheid geheim te hou.

Wat ook al vorentoe gebeur, hierdie grootse oomblik behoort net aan hulle twee. As Sebeku van die seekoeistat is, as hy wraak wil neem, kon hy dit vandag duisend keer gedoen het. Die bos sou vir ewig swyg. Die geraamte sou met die tyd doloswit bleik sonder dat iemand ooit uitvind wat van hom geword het.

Maar dat dit nie gebeur het nie, is geen waarborg vir die toekoms nie. Modjaa het hom mooi vertel. Enigiets wat die harmonie tussen jou en die natuur of voorvadergeeste versteur, moet uit die weg geruim word. Die ewewig moet herstel word, en jy as wraaknemer het geen keuse daarin nie.

As Sebeku hom wil en moet doodmaak, sal dit nie vanweë ’n persoonlike aksie wees nie. Hulle het vandag vir mekaar respek gekry. Maar respek sluit nie doodmaak uit nie. Daarvan getuig die karkas van die voortreflike dier wat vandag deur hom neergevel is.

Met ontsag betas hy die tande, sierlik geboog, fyn van grein, die punte gevlek van jare se plantsappe, besmeer met bloed en stof ná die korte doodsworsteling. Langer as hy, swaar van kosbaarheid, elk ten minste tagtig pond gewig.

Die tande, dit waarom alles eintlik gaan, hierdie eerste tande wat sy inwyding is, sal hy self met die handbyltjie loskap uit hul lewenslange vestings van wit gebeente. Met tyd en sorg die bloederige senuweemassa uit die holtes verwyder, die wit been versorg tot dit glinster.

Hy druk sy voorkop teen die slap vel, grof gevoor. Hy voel aangedaan; nie net oor die olifant nie, maar oor die onwrikbare lewenswet dat alle volmaakte dinge tot niet moet gaan.

Sebeku loop na agter en sny die stertkwassie af. Vir armbande, lê hy uit. Dit sal keer dat die gees van die dooie olifant hul ooit vorentoe in gevaar lei.

“Glo jy dit?”

“Ek doen dit,” is al antwoord. “Dis ’n gelukkige olifant. Hy’t goed geval, in die rigting van my pa se kraal.”

“Wat nou van die klomp vleis? Dit sal bederf.”

“Die eters sal kom.”

Dis ook nie lank nie, of die bos begin lewe. Die olifantgerug het ver en wyd geloop en die geweerskoot was die teken. Die gestaltes wat skigtig te voorskyn kom, groei aan tot ’n kolonie. Hulle sak toe op die karkas waar vlieë en brommers reeds in die wye neusgate en verstarde oë rondkruip.

Die monster wat die oes verwoes het, is nou net ’n berg vleiskos in die laatson. Dit word ’n tamaai fees, met ’n kring vure wat lang vlamme opskiet. ’n Laag rook bedek die bos. Naakte lywe, met bloed besmeer, kruip tussen die boomstamdik olifantbene deur om stukke vleis af te kerwe. ’n Grysaard sleep die slurp aan ’n klimoptou oor sy skouer. ’n Kind kruip uit die karkas met ’n nier wat byna so groot soos sy kop is. Die vleis word feitlik net deur die vuur getrek voordat dit verorber word.

By sy eie vuur sit Frans tussen die twee tande. Sy klere is gehawend en besmeer. Sweet, bloed en vullis brand in sy wonde en skrape wat deur vlieë toegepak word. Hier is nie waswater nie, hy sal tot môre moet uithou.

Hy kyk die eters deur, merk met die oog dié wat hy as draers sal wil huur. Sebeku moet die praatwerk doen. Sebeku moet die span saamstel. Sebeku sal van nou af sy regterhand wees, en hy sal Sebeku moet vertrou.

Hy is nou ’n olifantjagter en sal in elk geval altyd net een tree van die dood af wees. Hy kan nie nog oor sy skouer loer nie.

Iets wat Goodman gesê het, kom terug in sy kop: “As die son oor Afrika sak, kan die dapperste vegter die prooi word van die sluipers van die nag.”

Verdwaas loop Frans deur die kamp waar verlatenheid hang. Modjaa het die diere versorg voordat hy weg is. Hy het sy honde en verder die bietjie goedjies wat aan hom behoort, saamgeneem. Die pappot sal nodig wees vir die swartvryf van die bolletjie pap elke keer as hy verder trek. Volgens die voorrade het hy ook ’n bietjie kos in sy bondel gebind.

Met kleinjag sal hy wel verder aan die lewe kan bly tot hy sy bestemming bereik. Grootverlangen, of Pretoria, of die Laeveld.

Dit was onvermydelik. Met die afskeid gistermôre vroeg wou Modjaa se stilte hom iets vertel. Hy wou nie talm om te hoor nie. Hy was haastig om die spoor op te tel.

Dit sal nie moeilik wees om Modjaa te agterhaal nie, veral met die hulp van Sebeku as spoorsnyer. Maar Modjaa het nie raad gevra oor wat hy moet kies nie. Jy kan aan sy keuse so min doen as aan die rigting van die wind.

Hy het, met die beste bedoeling maar ook in eie belang, Modjaa se droom vernietig deur dit waar te maak. Dit was ’n fout om hom na die land van sy vadere te bring. Sy klein vastighede is hom ontneem. Die holkrans, die kleinjag met sy honde, die medisyne-maak, die af en toe sien van Isimbi.

Hy kan nie nou nog Modjaa se voorwendsel ook van hom wegvat nie. Laat hom glo dat Furana glo dat hy weg is oor Sebeku, die jong wildehond.

Die stemme wat die nag vul, is nuwe stemme, gehuurde draers, mense wat niks van die ou krale weet nie.

Frans versorg die kamp, maak seker dat die doringtakke van die donkiekampie dig teen roofdiere is. Tam en vuil gaan hy reguit na sy wa, aangenaam verras om ’n emmer lekker warm waswater by die trappie te vind. Sebeku het vuurgemaak sonder dat hy aangesê is. Hy vra niks oor Modjaa uit nie, en Frans sê ook niks.

Hy weet net dat geen water nog ooit so goddelik nat en skoon en warm op sy liggaam was nie.

As daar nog enige twyfel oor die finaliteit van Modjaa se weggaan was, verdwyn dit toe Frans die snuifkalbassie op sy kooigoed vind. Die een wat die snuifkalbas dra, is onsterflik. Modjaa het homself sterflik gemaak om Furana te beskerm.

Self sal hy veilig genoeg wees, sy skraps lyf beter verskuil as saam met ’n lomp watrek. Hy kan in ’n erdvarkgat of agter ’n miershoop skuil, tussen riet verdwyn, deur die ruigtes kruip. So het hy sy honde ook geleer.

Mag die ware njanga veilig trek.

Vir homself is dit te laat om om te draai.

Die koel, ivoor vlam brand reeds onblusbaar in hom.

’n Arendsvlug oor die Hoëveld van Transvaal sal vir Pretoria aantoon, ’n lappie groen met spikkels wit, verskuil tussen die noordelike heuwels. Vlak suid lê die Witwatersrand, ’n uitgestrekte, lae heuwelreeks. Hoog, want dis 6 000 voet bo seespieël om naby die goudrif te wees; en droog, want dis moontlik die enigste wêreldstad wat nie naby ’n rivier geleë is nie en dis bowendien moeilik om water so hoog uit te lei.

Witwatersrand. ’n Mooi naam vir ’n mooi streek op die skoon, wye Afrika-veld. Eens op ’n tyd was hier net dolende troppe blesbokke, purper in die aandson; springbokke wat met sierlike spronge die lug in pronk; oribi en duiker wat skigtig deur die bosse glip; witpenskorhane wat uit die lang gras opstyg.

In die donker vallei wat tussen die rante strek, het die enigste beligting saans gekom van die flou flikkerende olielampe in die opstal van die Bezuidenhoudts se ou boereplaas Doornfontein.

Toe word daar goud ontdek op die driehoekige stuk uitvalgrond tussen Doornfontein, Braamfontein en Turffontein. Die suiwer wit water van die talle stroompies, spruite en riviertjies wat jagter en trekboer verkwik het, word spoedig bevuil en verswelg. Binne drie jaar groei daar vanuit vleie, mielielande, weivelde en okkerneutboorde ’n vooruitstrewende plek genaamd Goudstad, gebou deur die Uitlanders vir wie Kruger so ’n diepe veragting koester.

Soos die skakels van ’n gebreekte ketting lê die molgrys mynhope wat daagliks groter uit die aarde opstoot. In die middel van die vyftig myl lange mynhooplinie lê die stad met strate wat noukeurig reghoekig kruis en dwars loop en verhinder dat dit, soos Kimberley, ’n doolhof word.

Anders as die Calvinistiese boeredorpies wat op kerkplase ontstaan het, is die stad uitgelê rondom ’n sentrale handelsplein, die woelige getuie van die geweldige ontploffing van kapitalistiese kragte.

Stofwolkies trek op vanaf die smal, songebakte paaie wat uit honderd rigtings kruis. Klein dotjies toon die karkasse aan van perde, muile en osse wat beswyk het voor onredelike groot of gevaarlik kosbare vragte. Daar word tans 380 000 onse goud per jaar gemyn, vyf keer meer as twee jaar gelede. Rowery kom vry algemeen voor. Die goud moet per pad vervoer word, afgesien van die sakke geld vir die banke en die tonne pos wat soms werklike kosbaarhede insluit.

Op ’n maanlignag word ’n swaar belaaide poskoets tussen Kimberley en Johannesburg voorgekeer. Die gewapende rowers ry ten spyte van waagmoedige weerstand eindelik weg met die possak en staafgoud. ’n Perd word in die proses doodgeskiet, stuiptrekkend in die afgeleë stofpad. Net nog ’n spikkel. Wanneer bou ou Kroojer eendag ’n spoorweg om die lot van die stomme worstelaars, mens en dier, te verlig?

Sedert onlangs word die stadsilhoeët oorheers deur die toringspits van die Palace Building, ’n duiselingwekkend hoë landmerk met ’n vlagstok heel bo. Die siel van die stad is egter geleë in die Beursgebou met sy kettingafskortings en Korintiese pilasters, daar waar die grootste denkbare chaos en wanhoop tans heers.

Dis laasgenoemde feit wat Memorie Macdonald se gedagtes oorheers terwyl sy tussen perdetrams, bourommel, voetgangers en sierlike verandas deur huis toe haas. Nie dat sy juis aan die huisie op die hoek van die breë, stowwerige Jeppe- en Rissikstraat as haar tuiste dink nie. Sy sien dit net as ’n halte op pad na die kasteel van haar drome.

Sy is verward; sy wens net sy het meer verstaan van aandele, daardie gewigtige affêre wat vir party Goudvelders reeds belangriker geword het as die delf van goud self. Sy weet net van Between the Chains, die afgeskorte deel van Simmondsstraat waar swaar kettings aan dik ysterpale hang, waar die gedrang en die uitskreeu van pryse tot middernag kan duur en waar fortuine gewen en verloor word.

Dis die week tussen Kersfees en Nuwejaar. Sy het haar hoop gestel op ’n behoorlike Nuwejaarsbal, maar Eddie het plek op ’n koets bespreek sodat hulle sy mense in Natal kan besoek. Wil hy haar so van die sosiale jaareindtoneel verwyder? Hou hy nie daarvan dat sy skitter, die koppe laat draai, mans laat wedywer om met haar te dans nie?

’n Koetsreis in hierdie hitte … vreemde skoonmense aan wie sy niks het nie. Dit lê soos ’n berg voor haar. Die bande waarmee Eddie haar bind, is so goedig maar so vas.

Veel eerder sou sy saam met Zaverius die bruilof op die plaas bygewoon het. Sy brand om te hoor hoe dit afgeloop het. Dit was ’n persoonlike affront dat sy nie genooi is nie. Sit Mother daaragter? Of Frans? Om te dink dat sy hom weer te siene sou kon kry! In haar mees geheime gemoedslewe is daar nog die hardnekkige geloof dat sy hom, saam met alles anders, sal kan kry. Daar ís ’n manier, sy moet dit vind.

As sy net ontslae kan raak van die gevoel dat sy baie vinnig in ’n skeur tussen twee wêrelde beland het. Aan die een kant ’n stad met stylvolle koloniale tradisies, aan die ander kant ’n laer middelklas, oorbevolkte hool.

As sy nie geglo het dat dit alles tydelik is nie, sou sy dit nooit oorleef het nie. Die tekorte, swak sanitasie, die waterskaarste, die vuil. Die ewige stofstorms wat alles verander in ’n maalkolk verpoeierde grond. Die Randiete wat voorheen nooit oor dié winde gekla het nie omdat dit kastig goudstof uitwaai, vind dit nou ’n ondraaglike kruis wat vererger word deur die droogte in die natuur.

Toe die goud ophou vloei, het die lewe self tot stilstand gekom. Net die kroeë en biersale floreer steeds, asof die wanhoop saam met die stof weggespoel kan word. As Eddie hom ook maar soontoe wou wend en haar meer dikwels met rus laat. Maar hy is ’n vervelige huistoekommer en broeis getroud.

Vyf jaar, dis wat sy in haar kop gehad het toe sy met Eddie trou. Vyf jaar … dan wat? Hoe dwaas was sy. Nou sit sy met hom, en met niks meer nie.

Die afgelope weke moes sy noodwendig begin kennis neem van die inhoud van die mans se vertroebelde gesprekke. Van die tegniek van gouddelwery verstaan sy nie veel nie, en sy wíl ook nie. Sy verkies om die gewin te smaak sonder die werklikheid van gemors, die lawaai en vullis en gevaar van vallende rotse.

Sy hoor van ’n krisis wat die ganse toekoms van die goudmyne bedreig. Iets te doen met die goud wat in die rots vassit. “Die Midas-vloek,” het Bert Starrenberg gesê op sy eerste werklike besoek by haar en Eddie aan huis. “Mens kon geweet het alles is te goed om waar te wees.”

Toe sy vra: “Wel, hoekom kap hulle dit nie los nie, soos voorheen?” het Bert vierkantig gegrinnik.

“Dit kan wees,” het hy vir Eddie gesê, “dat dit Rhodes is wat die mark beer.”

Pleks en hou hierdie keer haar mond, vra sy opgewonde: “Sê jy so omdat hy net soos ’n beer lyk?”

Hierdie keer het Bert geskater.

“Ed, sê vir jou vrou ek hou van haar … e … kostelike siening van sake.” Hy het ’n sigaar aangesteek, byna suggestief stadig, en die luciferdosie sag toegestoot asof hy daarbinne ’n goggatjie vir sy vermaak gevange hou.

Eddie was verleë met die situasie. Of met haar? Stel sy dom vrae? Toe vra sy ronduit: “Hoekom, Bert? Hoekom sê jy nie self vir my wat jy wil sê nie?”

“Omdat jy my dalk nie sal glo nie,” het Bert gesê, en na haar gekyk. Sy onthou nog die vinnige veeg van die ietwat kleurlose oë, omraam deur kort, strak ooghare. Sy had die idee dat sy een oog effens laer en kleiner as die ander een is. Linker of regter? Geen kans om dit te bevestig nie, hy is nie die starende soort nie.

Sy grinnik het ’n halwe oomblik verdwyn, sy kon die vol, effens pienk lippe sien, asof dit saam met die sigaar smeul onder die brons moestas. Sy was beangs en opgewonde.

“Hy is reg, Poppet.” Moes Eddie dié troetelnaam juis voor Bert gebruik? Om ’n sterker band te kenne te gee as wat werklik bestaan? “Die laaste vrou wat hom geglo het, wonder nou nog waar sy die fout gemaak het.” Eddie was sy gemoedelike self. Waarom wou sy haar dan verbeel dat daar onheil in die klein voorhuis is?

Haar hande het gebewe toe sy wil koffie maak, sodat sy bly was toe Bert ’n drankie verkies en Eddie die takie oorneem. Sy was oortuig dat Bert ietwat meewarig kyk na die regop kombuiskassie wat ook as drankkabinet dien.

Dit was sowat ’n maand gelede.

Bert het nie weer kom kuier nie, sy het nie mannepraatjies kon aanhoor nie. Wat haar dwaasweg laat hoop het dat die goudkrisis soos mis voor die son verdwyn het.

Vandag besef sy die erns van die saak. Die ineenstorting van die aandelemark sê vir haar niks, maar die toestand van Markplein het haar oë oopgemaak. Normaalweg ’n vuil dog opwindende filter van mense en rytuie, smouse en kopers, was dit op hierdie hittige, stowwerige Desemberdag eerder ’n rommelhoop van tweedehandse ware: klaviere, meubels, tente, gereedskap.

Een koerant beweer nou hy het altyd geweet dat die Goudstad binne enkele jare ook maar net ’n spookstad sal word, soos … Hy het name van plekke genoem, maar sy onthou dit nie. Party is van hierdie land, ander in die buiteland. Sy weet wie die joernalis is, ene Cockburn wat gereeld by sosiale geleenthede opduik. ’n Snaakse, uitgesproke vent wat hom daarop beroem dat sy oupa ook ’n joernalis was destyds in die Kaap, maar wat kru verklaar dat sy pa ’n mislukking was wat homself op veertig doodgedrink het. Sy weet nie of sy so ’n joernalis moet vertrou nie.

Toe sy hom kort ná haar en Eddie se verlowing op die Wanderers ontmoet, was sy egter in haar skik toe hy die boekie uit sy bosak trek. Sy was vriendelik, het besef hy kan handig wees. Eddie gaan immers opgang maak. Sy gaan onthale gee. Mense sal wil hoor van Mrs M se spyskaart, haar klere, haar gaste. Haar Parktownse adres.

Inderdaad was daar ’n sin of wat in die koerant oor die verlowing, sy het dit oor en oor gelees en uitgesny om te bêre. Nou lyk dit nie eers of sy Cockburn ooit nodig sal kry nie. Die samedromming tussen die afskortings voor die Beursgebou bly haar kwellend by. Almal wag op nuus, goed of sleg. Die vrolike balle vir liefdadigheid het gekwyn. Die warm debatte oor die diepte en omvang van die goudneerslae, oor Kruger se dowe oor vir hervorming en sy vrese vir die Uitlanders met hul verderflike sedes, het stil geword.

Sy het ’n idee dat Eddie werk soek, doodgewoon werk om siel en liggaam aanmekaar te hou. Waar bevind hy hom bedags? As hy so ’n danige aandeelhouer by Stardust is, hoekom was hy nie vandag tussen die kettings nie?

Daar word gepraat van The Crash, waar dit altyd The Rush en The Boom was. Daar is paniek in die lug. ’n Derde van die inwoners het reeds padgegee. Drie banke het in duie gestort.

Eddie het haar bedrieg! Met hul troue het hy voorgegee dat alles wel is met die danige maatskappy van hom en Bert. Sy het haar netjies laat vang. Is dit hoekom hy Bert so lank van haar afgekeer het?

“Ons moet liewer nou verkoop vir wat ons kan kry, voor ons dalk daarmee opgeskeep sit,” het Bert dié aand gesê.

“Al die vorige krisisse is oorwin. Pos, water, arbeid, masjinerie, die dieper word van die myne. Jy is ’n pessimis.” Eddie het bleekpienk gestraal.

“Ons praat nie hier van ’n mensgemaakte probleem nie. Dis Moeder Aarde wat brom. Wat my betref, ek gaan verkoop.”

En indien Eddie sóú verkoop … waarheen dan? En sal sy hom moet vergesel? Dalk op die rand van haar skoonmense se lewe in Natal gaan kluister? Is dit hoekom hy vir Nuwejaar soontoe wil gaan? Sy voel verraai sedert sy uitgevind het dat sy ouma ’n Trekkermeisie was. Vandaar sy liefde vir die Taal. Sy het daardie óú gevoel van uitgeslotenheid, van klankloos te roep sonder dat iemand hoor of ag slaan. Daar bestaan geen woorde waarmee sy dit aan ander kan uitlê nie. Sy vrees hierdie gevoel haar lewe lank nog meer as enigiets anders. Soms duur dit dae, selfs weke voor dit oorgaan.

Die lewe wat sy slegs maande gelede so aanloklik gevind het, swierig en opwindend, lê in die as. Hoe kan Eddie so ongeërg bly? “Solank ons mekaar het, Poppet.”

Daarmee sit hy aand na aand tuis. In die rukkie voor hul troue kon hy haar nooit genoeg onthaal nie, al het hulle net op ’n Saterdagaand gaan winkelvensters kyk. Met soveel duisende wandelaars, is Pritchardstraat tussen Loveday en Von Brandis dan vir rytuie gesluit om ’n verligte towerland te word. Die mengelmoes tale, die musiek en sang en straatkafees, die impromptu konserte en boksgevegte.

Ander kere het hulle, behoorlik aangetrek en romanties opgewonde, gaan sirkus of opera kyk, ’n uitvoering of sportbyeenkoms of wedren op die Wanderers bygewoon. Soos winde verby. Kyk waar sit sy, kyk hoe leef sy. In die begin is niemand volgens woonplek beoordeel nie. Sink was vir miljoenêrs goed. Maar gou is daar huise van steen en kopje-klip gebou, al hoe sierliker.

Hierdie huis in ’n buitewyk is een van die verandahuisies vir armer mense. Dit terwyl sy in ’n Parktownse herehuis hoort, besig om die spyskaart vir ’n swierige tuisonthaal vir die Randlords met die kok te bespreek. Haar rok, deur ’n gerekende dressmaker spesiaal vir die okkasie gemaak, sou gereed hang teen ’n klerekas van gekerfde rooshout. Sy sou in sodawater bad.

Toe sy dit kort na die troue wel waag om oor die Parktownse huis uit te vis, het Eddie haar verveel met ’n relaas van die aandelemark. Vaag verwys na die huidige probleem, volgens hom tydelik van aard. Die goud kán nie opraak nie. Hy stel dit voor as ’n diep goudkom, die bedding van ’n oerrivier en onuitputlik.

Hoe en of dit hulle en Parktown raak, sê hy nie. Hy kom nooit by die einde van sy goedaardige relase voordat hy haar eers weer ’n druk en ’n soen wil gee nie.

Gelukkig het sy die meeste van die klein bruidskat wat Mother haar darem gestuur het, vir haarself gehou. Sy kan hier en daar iets koop. Sy het vanmôre die portrette wat sy van haar laat neem het, gaan afhaal by die reisende fotograaf op Markplein. Fotogravures, heet dit. Dit het pragtig gekom. Sy brand om dit tydsaam te bestudeer. Sy wil een na Mother stuur, al het dié haar nie na die bruilof genooi nie.

Eintlik wil sy maar net hê dat Frans die portret moet sien, moet besef wat hy verloor het. As hy harder geveg het, het hy haar waarskynlik gekry. Hy moet tog geweet het dat sy op die mespunt van oorgawe verkeer.

Frans moet sien hoe mooi sy steeds is, en selfs ryper as getroude vrou. Sy verbeel haar dat sy beter sal voel as sy hom kan laat slegter voel.

Hoe kry sy hierdie feestyd verby? Voorheen was daar altyd die vooruitsig op ’n ligte flirtasie, nou sit sy vasgevang in die rol van deugsaam getroude vrou. “Matron.” Daardie dof geklede spesie wat by ’n dans teen die mure sit.

Eddie kan haar nie verkwalik as sy nog die lewe wil geniet nie, veral aangesien hy haar so mislei het. Sy het behalwe voorkoms ook styl en Bolandse afronding om aan te bied, maar Eddie kan dit nie aanwend of rugsteun nie.

As sy net kon uitvaar. Maar hy is so gaaf. Hy dink hulle het ’n volmaakte huwelik. Hy is steeds mal daaroor om haar middellyf met sy hande te omspan. Af en toe word sy matig meegevoer deur sy toenadering, maar selfs dan kan sy nooit gou genoeg apart kom om met koeksoda te douche nie, ’n raat wat haar ore in die Seminarium-koshuis opgevang het.

Stof knars onder haar skoene toe sy die stoepie opklim. Die huis het ’n bedompige reuk. Van die stof in elke kraak, die roet in die dooie swart stoof, verbroude etes. Sy haat dit om skoon te maak, en die fyn mynstof wat deur die dor winde straataf gejaag word, dra nie by tot sukses nie.

As sy net ’n bediende kon kry. Sy kan nie glo dat daar onder die derduisende wat in die lokasies koek en rumoer, nie een is wat haar kan help nie. Of dat daar nie geld voor is, soos Eddie beweer nie.

Sy trek die hoedespeld uit, haal haar hoed af, sak moeg maar gretig langs die ovaal tafel neer en bring die portrette te voorskyn. Dis asof sy haar toekoms self in haar hande hou. Verglans, onaantasbaar. Sy kelk haar hande om die mooiste een, kyk asof sy deur iemand spesiaals se oë kyk. Die kroon van donker hare, die vlerkies van wenkbroue, die oë wat so droomverlore en tog uitdagend kyk, die smal neus, die vol mond met diep hoekies, die spits ken. Kan sy so mooi wees en nie kry wat sy begeer nie? Die gedagte bied wonderlike troos.

Hier is die een wat sy vir Mother sal stuur, klaar geraam. Mother spog graag, al is die moederliefde min. Sy sal dit in die binnehuis sit.

Daar sal Frans dit gereeld sien. Eers net vlugtig in die verbygaan, totdat dit op hom begin groei en hy lang tye voor die kas of rakkie deurbring. Sy wens sy kon presies weet hoe die huis lyk. Sy wil haar voorstel hoe hy sal staan, hoe die lig op hom sal val, watter kant toe sy skouers sal oorbuig. Of hoe hy soms wegdraai en voluit terugdraai, sy óú manier.

’n Skuurgeluid buite laat haar opspring. Dis soos wiele, maar tog ook nie – ligter en fyner. Sy lag ongelowig toe Zaverius van ’n rywiel afklim. “Is dit tog nie joune nie?” Sy is opreg verheug. Behalwe dat sy van die troue wil hoor, het sy hom voor Kersfees laas gesien.

“The horse that never says ‘neigh’, Sister,” lag hy ook.

“Hierdie soort het ek nog nooit gesien nie.”

“Dis Bert s’n, hy leen dit vir my. Spesiaal ingevoer. Die nuutste. Safety model.” Hy skop teen die agterwiel. “Lugbande. ’n Mr Dunlop se uitvindsel. Nie meer die boneshakers van eers nie. Wil jy probeer?”

“Oe, nooit!” Sy vat aan haar vol romp.

“Ja, die rok. Maar daar is spesiale modelle vir vroue. Met visnet oor die agterwiel. Of jy dra ’n cycling skirt.” Hy is die groot ingewyde. Dit staan hom goed, hy lyk opgewek.

Dan was die uitstappie plaas toe seker die moeite werd. Sal hy vertel, of moet sy vra? Hy kan so maklik weer toeklap. Hy maak die fiets versigtig teen die verandapaal staan. Toe hy sy pet afhaal, blink sy kuif gitswart. Hy is aangenaam om na te kyk; veral in so ’n goeie bui, wat maar skaars is.

“Ek kan nie verstaan hoe mens regop bly nie,” bieg sy.

“’n Kwessie van oefening. Jy sukkel in die begin ’n bietjie, maar jy leer gou jou balans hou.”

“Waarvoor leen Bert dit vir jou?” waag sy.

“Om jou iets te kom vra, Sister.”

“Hoekom kom hy nie self vra nie?” Sy hou haar ongeërg, maar brand om meer te weet. As Zaverius net nie toeklap voordat sy genoeg uitgevind het nie, ook oor die bruilof.

“Hy is gewoond om van ’n agent gebruik te maak, onthou?”

“En wat kry die agent daaruit?” Wat kán Zaverius daaruit kry om by Bert te voetval, as Stardust Company op die rand van ondergang staan?

“Mens weet nooit,” antwoord Zaverius duister. Dan blaker hy uit: “As jy regtig wil weet, sy gesig lyk sleg. Hy is goed opgehel by daardie bruilof.”

Wonderbaarlik is hulle meteens by die brandende onderwerp. “Deur wie?” Sy wil Frans se naam hoor, wil weet dat dit háár op een of ander manier raak, dat Frans dit om háár gedoen het.

“Die Berserker.”

“O, hy.” Haar gesig word stram onder die aanslag van herinnering. Die twee dae daar in Pretoria in Oktober, die eienaardige atmosfeer van leed en liefde, die reuk van rose.

En Frans, vol en vry daar op die agterstoep, voordat hy sy rug op haar draai en die huis in stap, van agter ewe begeerlik as van voor.

“Nou wat wil Bert hê?” Versigtig. Later terugkeer na die bruilof. As sy nou een woord oor Frans uitvra, sal hy raai.

“Hy wil hê jy moet vir hom gasvrou wees by sy Nuwejaarsbal. Aangesien Eddie tog Natal toe gaan.”

Die stramheid word verplaas deur ’n blos van verleentheid. “Hy onthou darem seker ek is ’n getroude vrou.”

“Hy wil jou net as gasvrou hê. Wat het jy gedink?”

Sy sou hom graag terug wou afjak, maar bedwing haar. Hy is reeds besig om toe te klap. Sy moet ’n laaste skrefie oophou om iets oor Frans uit te vind. Of hy gedans het, en met wie, wat hy aangehad het, of hy oor haar uitgevra het, al is dit met die geringste woord.

“Net om jou te help besluit: daar sal ’n fontein wees wat wyn spuit, ’n dansgroep uit Bagdad, kaviaar uit Rusland.”

“Waar wil Bert nogal so ’n onthaal gee?” Sover sy weet, loseer hy. Maar die gedagte aan soveel onverbloemde weelde gryp haar soos ’n sterk wind die bome in die Sachsenwald.

“In sy nuwe huis, natuurlik,” onthul Zaverius met behae. “Plek met die naam Highwinds. Met meubels en al. Winskoop. Die eienaar het padgegee. Sy myn gesluit. Of verkoop, ek weet nie. Dit was nogal in die hoofrif.”

Sou Bert die myn ook gekoop het? Agteraf? Maar dis nie van belang nie. Wat tel, is die huis. Highwinds, op almal se lippe met sy Middeleeuse torinkies, Romaanse boë, gloeiende loodglasvensters. Een van die huise wat in aanbou was toe Eddie haar daardie dag Parktown Ridge gaan wys het. Die huis wat hare moes gewees het.

“Wie koop nóú in Parktown?” Selfs Lady Florence Phillips wat die voortou na Parktown sou neem, word skynbaar teëgehou deur die Crash. “En waarmee koop Bert? Ek dog Stardust Company stort in duie.”

“Hy sê hy het ’n diamantfortuin wat hy nié in Stardust belê het nie. Hy koop die huis daarmee, en dan wil hy met grond spekuleer. Hy sê Stardust is niks werd nie.”

Grond. Wie koop grond in ’n spookdorp? Sy’t nie geweet van sy diamantfortuin nie. Eddie was sekerlik dwaas genoeg om elke pennie in Stardust te stoot. Al wat hy van Kimberley kan wys, is die diamantring. Die ring aan haar vinger, wat ’n boei geword het. Sy sal dit moet verpand om ’n rok te kry vir Bert se onthaal. Die gedagte sluip haar kop binne en skop vas soos ’n klousaadjie.

’n Nuwe rok. Romanties, wasig ligkleurig. Dit raak ’n uitweg uit elke soort verknorsing en doodloopstraat.

“Dink jy Bert praat die waarheid?”

“My eerlike mening is dat hy iets weet wat ons nie weet nie.” Zaverius haal ’n seroet uit. Hy val nie soos Bert in die sigaarklas nie. Eddie hou by sigarette. “Ons moet probeer uitvind wat dit is.”

“Ons?” Sy kan sien in watter rigting hy du.

“Ek en jy, ja. Ons het al twee belang daarby.”

“Ek kan nie sy gasvrou wees nie. Ek gaan saam met Ed Natal toe.” Sy trag om ferm te klink. Sy behoort nie eers verder na haar broer te luister nie. Sy kan nie op sy oordeel steun nie. Hy skroom nie om haar vir sy doel te misbruik nie.

“Laat Eddie alleen gaan. Jy kry op die tippie ’n boodskap dat Mother siek is en jy moet haar gaan oppas.”

“Eddie sal mos uitvind as hy terugkom.” Haar stem is toe nie ferm nie, maar flou.

“Mother was gou weer gesond. Jy het teruggekom, maar jy het nie kans gesien om Oujaarsaand alleen deur te bring in die huis wat jou so aan jou man herinner nie. Bert het hom oor jou ontferm.”

“Dink jy Bert sal so dom wees om my iets te vertel wat groot kokkedore nie eers weet nie?”

“As jy jou bes doen,” sê hy met duister bedoeling. “Dink aan wat Delila reggekry het, Sister.”

“O, jy is haatlik!” Hy ís ook, en sy oorweeg om hom weg te jaag. Maar dan is sy weer alleen. Hy is eintlik al wat sy het … en hy moet haar nog van Frans Viljoen vertel.

Zaverius kyk haar deur ’n rooksluier aan. “Sister, jy wil só graag gaan, Bert kan jou met die wind ontbied.”

“Is dit ’n sonde om na ’n lekker aandjie te verlang?” probeer sy die vrede herstel. “Jy hou self van plesier.”

“Presies. Dis hoekom ek ook daar sal wees.”

“Maar dit verander die hele saak.” Sy is onmenslik verlig. Haar broer as chaperon …

“Tensy daar iets anders opduik.”

“Moet my nie in die steek laat nie! Die een hand was die ander. Ek sal regtig kyk wat ek by Bert kan uitvind.”

Hy tart haar met ’n skouerophaling. Dan buig hy oor die tafel. “En hiérdie?”

Die portrette steek uit waar sy dit netnou vinnig onder die gehekelde tafelsenter ingestoot het. “Sommer wat ek laat maak het. Ek wil vir Mother een stuur.”

“Aag toe, kom! Vir Móther? Dat Frans dit moet sien?” Dis so raak dat sy hom net oorbluf kan aanstaar. Sy het dan geglo dat haar diepste geheim aartsveilig is.

Zaverius se stem kom op ’n bol rook. “Ek lees jou soos ’n boek, want ons is eenders. Jy vrek oor Viljoen … Nie dat ek jou verkwalik nie. Die een keer wat ek hom gesien het, daardie dag op Wellington, het hy vir my na stoffasie gelyk.”

“Eén keer?” Sy kyk skerp na hom. “Het jy Frans dan nie op die bruilof ook gesien nie?”

“Nee. Hy is weg, Afrika in. Vir goed.”

Weg? Dit kan tog nie wees nie. Hy was met die plaas getroud.

“Dink jy dis oor my? Dink jy ek het sy hart gebreek?”

“Wild hearts can’t be broken.”

Sekerlik by iemand anders gehoor. Hy self het nie sulke oorspronklike gedagtes nie.

“Vra vir my.” Hy rook hewig. “Ek het die hele aand vergeefs gesukkel om Stiefsus se hart te breek.”

“Wat sien jy in haar?” Die swaar teleurstelling maak haar onverbloemd nydig. “Sy is nie eers danig mooi nie.”

“Maar sy het klas. Sy is ’n lady.”

“En ek?”

“Jy moet maar jou gesiggie vir jou laat werk.”

Sy kan nie eers kwaad word nie. Frans is weg.

“Jy kan vir Bert sê dis in orde, ek sal sy gasvrou wees.” Sy voel nie opgewonde nie. Dalk later, maar nie nou nie.

’n Lig is in haar gedoof, ’n vuur geblus.

“Ek dink jy is verstandig. Al paadjie wat oorbly, is die een na Bert Starrenberg toe. Vol dorings, maar hopelik goue dorings. Dink aan my as jy op die troon sit. Toe, ruk jou reg, jou mooi gesiggietjie lyk soos ’n ashoop. Bied jy my nie iets aan nie?”

“Waarvoor is jy lus?” Haar hande is lam en onlustig.

“Is hier whisky?”

“Ek glo nie.” Eddie sal sien as die bottel gesak het. Hy moet liewers nie weet Zaverius was hier nie. Veral moet hy nie weet dat dit met Bert se fiets was nie. Sy sal die spore met die hark verwyder. “Ek kan lemmetjiesap aanmaak.”

“Watter soort?” Vieserig.

Sy kyk op die fles. “Montserrat. Van Scoths Stores.” Die letters is dof voor haar oë. “Maar ek dink die water in die emmer is lou. Ek het nie tyd gehad om ys te koop nie.”

Die waarheid is dat sy nie omgegee het nie. Sy het nog nooit vir enigiets in hierdie huishouding omgegee nie.

“Ek haat in elk geval daardie soet ysblokkies wat die Hokey-Pokey-vent verkoop. So, gee maar. In hierdie hool is enigiets beter as niks.”

Praat hy van haar huis, of van die Rand? En wat maak dit saak? Sy raak besig met glase en vadoek.

Sy fyn wenkbroue is ontevrede saamgetrek. “Ek voel om terug Diamantvelde toe te gaan. Ek moes in die eerste plek daar agtergebly het. Ek kon al ’n tweede Rhodes gewees het. As die sieklike seun van ’n predikant dit kon regkry …”

“Dan kan die seun van ’n wamaker ook?”

Die glasigheid wyk uit sy oë, woede dreig. Sy besef dat sy te ver gegaan het. “Dis ’n goeie plan. Vat my saam,” vlei en bedel sy tegelyk.

Sy bedoel dit. Wegkom. Net heeltemal weg, soos Frans. Die goud droog op, Eddie maak haar gek, en sy is bang vir Bert Starrenberg. Sy het eintlik so min ervaring.

Haar broer sluk die louerige sap met een asem weg. “Jammer, ek het iemand anders in gedagte.”

“Gerrie Viljoen? Jy sê dan sy stel nie belang nie.”

“Het jy al gehoor van aanhouer wen?” Hy tik-tik-tik met die leë glas op die tafel. Sy verstaan hoekom hy die naam Shakes gekry het.

Te laat dink sy daaraan dat sy die laaste lemmetjiesap moes gehou het, sy kon dit saam met gliserien vir haar hare gebruik het vir Bert se Nuwejaarsbal.

“Ek moet weg wees, Bert moet sy fiets kry.” Hy maak liggies keelskoon. “En jou boodskap. Hoekom is jy so wit? Voel jy siek?”

“Nee, ek kry net warm. Ek het vinnig geloop.”

“Jy is nie dalk …?” Sy blik dwaal na haar middeltjie.

“Natúúrlik nie, ek makeer niks.” Sy slaan dood neer as dit so moet wees. Maar nie voordat sy Eddie Macdonald met haar kaal hande verwurg het nie. Die kere wat hy haar nie dadelik wou laat gaan nie, wat hy nog klewerig wou talm.

Zaverius vat sy pet, staan hand in die sy daarmee terwyl hy die portrette op die tafel met ’n pinkienael rondstoot. “Ek sal dié een vat.”

Sy keer nie, moedig ook nie aan nie. Dis die een wat sy vir Mother wou stuur. Dis nie meer nodig nie. En dit roer haar tog dat haar broer ’n portret van haar wil hê.

Sy is so verwese, sy groet hom skaars. Met ’n arm om die stoeppilaartjie geslaan kyk sy hom agterna. Sy skouers is geboggel oor die ingevoerde fiets van Bert Starrenberg. Smal, mooi skouers, wat net aan hom behoort. ’n Vrou sal nie met haar kweskant daarteen kan skuil nie.

Sy voel veiliger toe hy weg is, maar ook eindeloos alleen en verlate. Sy onthou meteens die woorde waaroor sy twee maande gelede meewarig geglimlag het, woorde van ou Kruger: dat die goud nog sal opweeg teen riviere van trane.

’n Bygelowige vrees dat hy oor háár spesifieke lot gepraat het, pak haar beet. So erg sal dit tog nie word nie. Vir andere miskien, maar nie vir haar nie.

Dis net … Gestel nou maar net dis waar dat sy … O, wat het Zaverius besiel om sulke nonsens te praat?

Maar selfs al sou dit so wees – as Bert haar graag genoeg wil hê, moet hy haar vat soos sy is.

Sy skrik vir die verregaande, byna skandelike gedagte. Die vuil glas staan op die tafel. Sy het slordig geskink of Zaverius het slordig gedrink, dit maak ’n nat kring wat sy sommer met haar mou afvee.

Sy besluit verbete: as daar nog goud daarbuite iewers te vinde is, sal sy dit kry en vir haar toe-eien.

Vuur op die horison

Подняться наверх