Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 9

4

Оглавление

Dis nuwerwetse tye.

Die barbaredom en die groot trekke en botsings is verby. Dis nou die tyd van diamante en goud, van mag en politiek en intrige.

Spoorweë kruip oor ’n land wat voorheen geen vinniger beweging as ’n perd op galop geken het en geen geluid harder as die brul van ’n leeu nie.

Die tempo het verander. Dit word ten beste weerspieël in die nuus van die Transvaalse koerante in die jaar van onse Heer 1889.

’n Verdedigingsverdrag word gesluit met die Oranje-Vrystaat, susterrepubliek van die ZAR. Die omstrede Hongaar Nellmapius koop nege plase buite Pretoria en noem dit Irene, na sy dogter. Krugersdorp beleef ’n bankroof. Talle kantiene in Klerksdorp staar ondergang in die gesig toe die goudvonds teleurstel.

Johannesburg tel onder sy groeipyne twee groot brande. Ook droogte en vervoerprobleme, met tientalle koetse en honderde waens wat weekliks aankom. By die poskantoor lê tienduisend onopgeëiste posstukke, party uit afgeleë wêrelddele met onleesbare adres en “Try Johannesburg” daarop.

Ten spyte van ’n omineuse gerug van ’n tegniese probleem met goudontginning wat van Johannesburg ’n spookstad kan maak, rus Goudvelders nog saans met hul elmboë op die toonbanke van hul geliefkoosde “watering-holes”.

Maar nooit kom groter Afrika tot rus nie. Breek daar wel ’n tydjie van stilte aan, vind daar spoedig iets plaas om dit te versteur.

In noordelike Transvaal duur die spanning tussen die Boere en die Venda onder Magato voort en kommandant-generaal Piet Joubert stel ’n Naturellekommissaris aan. Dit kan wees dat Magato die dood van Juwawa Albasini, hoof van die Magwamba Sjangane, uitbuit om in opstand te kom.

Modjadji, die Reënkoningin, hoog geag deur al die stamme tot selfs die Zoeloe, is onrustig. Die Lobedu was nog altyd sensitief vir indringing, en nou vestig daar heelwat wit boere hulle in hierdie woudagtige voetheuwels noordoos van die Wolkberg. Modjadji se toordokters, die minderes wat sy wyslik aanstel om die blaam te dra as sy in gebreke bly om reën te maak, skryf die wurgende droogte aan die indringers toe. Ook nie net wittes nie. Uiters onwelkom is ’n groep vlugtelinge van die Knopneus-stam uit Mosambiek. Modjadji gluur uit haar bergvesting na die betreding van haar weivelde en peins oor die regte tyd om haar krygers uit te stuur. Indien sy haar stam faal, is sy verplig om volgens tradisie die gifbeker te drink, berei uit onder meer die harsings en rugmurg van ’n krokodil. So sal sy ’n volgende Reënkoningin aan bewind stel, wat soos ’n man regeer en ’n paar vroue ten huwelik neem.

Mbandeni van die Swazi kwyn en sterwe jonk, vermoeid van al die konsessiesoekers. Toegedraai in die vel van ’n swart bul word sy lyk verouder en bewaak deur wagters met proppe in hul neusgate. Gereeld word ’n nuwe swart bul geslag en die vel om die vorige gedraai, sodat dit later een groot velbal is en die neusproppe onnodig word. In die diepte van die nag word die oorskot onder die dreunsang van ’n begrafnislied teen die hoogtes van die Mdimba uitgedra en te ruste gelê.

Brittanje en Transvaal trek tou oor Swaziland, beide gereed om eie reg te gebruik en te gryp.

Anderkant die Limpopo konkel ’n dokter genaamd Jameson met Lobengula om Rhodes se Chartered Company in sy domein te laat prospekteer. Kruger word oud, Rhodes benut dit om meer druk te plaas op Lobengula, wat bang is.

Die Engelse Majuba-wond skryn nog en roep om vergelding. Daar is iets in die lug. Die Uitlanders raak al hoe meer adamant in hul eise.

Tot in die verste krale slyp jong impies hul assegaaie en oefen dreunvoet die oorlogsdans omdat hulle ’n groot stryd voel aankom.

Hoewel dit nie die Transvaalse koerante haal nie, trou Maude Hobhouse in Engeland en laat daarmee haar suster Emily in die pastorie in St. Ive in Cornwall om hul verswakte vader alleen te versorg.

Vir tussen Kersfees en Nuwejaar word daar nog ’n huwelik beplan wat nie die koerante haal nie, maar vir die bruidegom ’n aardskuddende gebeurtenis is.

Betta Viljoen van Grootverlangen trou met Ignatius Prinsloo van Kareekloof, so twee uur te perd ver. Vanweë sy donkerrooi blos is die bruidegom beter bekend as Ingenaas Warmwange of sommer net Naas Wang.

Die bruilofsverwagting swel saam met die somervrugte uit. Hoenders en kalkoene staan in vetmaakhokke, speserye word fyngestamp, negosie word by die winkel of smouskar vir produkte geruil en in die spens en solder opgegaar.

Die Retiefs het oorgekom sodat Lammie se aandeel in die kosmakery bespreek kan word. Hermana het tuisgebly om haar oupa en die siekerige kleintjies op te pas, en vir Ouboet te versorg wat op die koms van ’n veekoper wag.

Snaaks dat sy nie maar ’n plan gemaak het nie, aangesien sy ’n bruidsmeisie is. Frans sou een van die strooijonkers wees. Hy sou ook die vierperdewa drywe. Frans sou dit en dat. Nou is hy net weg, en die rede vir sy weggaan bly alomvaag.

Toe dit blyk dat Hermana nie gekom het nie, glip Gerrie buitentoe. Dit laat Lammie en Betta opgeskeep met Judit – in die sitkamer van alle plekke. ’n Bra stywe aanloop vir ’n bruilof wat jolig behoort te wees, want Soois het toegestem tot ’n bokjol wat sommer vir Nuwejaar ook moet instaan.

Die mans sit onder die akkerboom en rook. Terwyl die een na die ander skinkbord koffie vir hulle aangedra word, gesels hulle oor die droogte, oor vee, perde en ploeg.

Wat perde betref, gaan dit veral om ’n stewige Boerperd wat Dik-Tys se gewig kan dra, ’n dier wat nie sal oopswik as hy hom saggies in die saal laat sak nie. Hierdie kwessie sal helaas ook meebring dat Dik-Tys, indien daar oorlog uitbreek, nie in die vuurlinie sal kan veg nie maar tot die wa-laer beperk sal wees.

Wat jammer is, want hy is ’n bobaasskut wat op driehonderd tree die son op ’n bok se horing kan sien blink of sy oor sien roer, en hom met een skoot plattrek. Soos elke Boerseun het hy van kleins af geleer om afstand te skat deur af te tree.

Soois handhaaf sy swye, wat Dik-Tys ook laat verstil en driftiger aan sy pyp laat suig. Mens weet ook nooit wat jy aan Soois Viljoen het nie. Want wat is die storie van Franna? Soois sit daaragter, dis nie altemit nie. Eersteklas jongetjie, moes hom eintlik as skoonseun kon gekry het, Lammie sê sy dink …

Ai, ai.

“Ta’ Lammie kan gerus saamkom dat ek net in die potte gaan loer,” maak Betta plan.

“Dan gaan ek maar kamer toe, ek is besig met ’n vername brief.” Judit se oë is helder van dwaasheid en selfbewondering, ook veragting vir die eenvoudige kuiervrou.

“Gerus, Móvver,” sê Betta ingenome. Sy en Lammie wissel ’n prettige blik. Buite hoorafstand in die kombuis sal hulle behoorlik kan skinder.

“Seker ’n brief vir haar roksbandjie, sy het gevra of sy hom ook troue toe kan nooi,” deel Betta mee.

“Oééé, ek hoop nie hy kom op die ou end jou pa uitroei nie.” Wat Soois se verdiende loon sal wees, dink Lammie, want kyk hoe het hy alles ingepalm wat eintlik vir Frans toekom. “Dit lyk vir my sy trek die seun voor die meisiekind. Maar dié is ook maar onaardig, verstaan ek; is dit waar dat sy by Ol Osvet-hulle die bos rose in die slopemmer gegooi het?”

“So het Naomi vertel, ja.”

“Toe het daar ook niks gekom van haar en Frans nie.”

“Dit lyk nie so nie, ta’ Lammie,” skram Betta weg. Sy wil nie weer ’n keer uitlê dat haar pa en Frans gestruwel het en dat Frans daarom weg is nie. Niemand wat vir Frans ken, sluk dit juis nie. Sy self ook nie. Maar sy is getrou aan haar pa, wat veral in moederlose tye ’n goeie vader vir haar en Gerrie was.

Sy loop vuurherd toe en lig die deksel van die plat ysterpot. “Kom kyk vir my of die vleis darem genoeg lyk.”

“Jy maak weer ’n yslike klomp kos,” verdoem Lammie prysend.

“Ek moes seker ’n voorgevoel gehad het dat kuiermense op pad is. Ek wou eers net een bladjie vat, toe lyk hy vir my aan die klein kant, toe hang ek maar al twee oor.”

“Ja, die mans met hulle vleislus. Mens sal sweer hulle is op leeumelk grootgemaak.” Lammie takseer. “Nee, hulle kom mooi aan. Lekker bruin, en net genoeg vetjies. Ek sê mos altyd, ’n blad kan lekkerder as ’n boud wees, maar dan moet jy die regte pot hê en jy moet vroeg oorhang. En kon jy darem die skenkelbeen afkry sonder om die vleis te kerf, my lam? Dit wys mos of ’n meisie bekwaam is om te trou.”

“Lankal, ta’ Lammie.” Betta voel in die gesig gevat. Sy is meer as bekwaam om met Ingenaas te trou.

“Nou, my lam, jy moet vir my sê, behalwe die pasteie en melkterte en soetkoekies.”

Lammie se blik bou vuur op soos ’n bakoond, haar hande maak bewegings van meng en klits. Kos is die vrou se beswering teen alles wat nie uitloop soos sy dit verwag het nie.

“As ek my rok by tante Anna-Maria gaan aanpas, sal ek by julle aankom en alles mooi bepraat.”

“Alte seker, my lam. Ek sal maar solank opgaar, eiers vet smeer en in sout pak en so.”

“Ek en Ingenáás waardeer dit baie, ta’ Lammie.” Betta spreek sy naam op ’n eie manier uit. By die “n” druk sy haar tong agter die poortjie tussen haar voortande vas.

Ingenaas hou van die poortjie. As hulle opsit, gee hy haar eers sulke versigtige druksoene sodat die punte van sy moestas haar mondhoeke kielie. Maar soos hy vuriger word, werk sy lippe hare oop en sy tong se punt vroetel teen die poortjie. Dan is dit ’n kwessie van kophou. Dis hoekom sy weet hy hou van die poortjie, en dis hoekom sy geleer het om sy naam presies só te sê.

Die klein familiekerkhof is aan die voet van die rantjie, so sewehonderd tree van die huis af. By die graf van haar stiefma kniel Gerrie, haar sterk vingers om die kopklip geklem asof sy die geliefde vrou só in die lewe kan terugklou. Ma Lulu was veel langer haar ma as haar eie ma. “Ma,” prewel sy, “Ma het eendag vir my en Betta ’n bietjie vertel van grootmeisie word en so. Al was Ma so skaam, is ek bly Ma het dit gedoen. Nou verstaan ek darem iets. Dink Ma ek misgis my dalk? Kan daar ’n ander rede wees as die een wat Ma gesê het? Vir as mens oor jou maandelikse tyd gaan, nadat jy by ’n man gewees het?”

Hoe belaglik om met die dode te wil praat. Maar die dode luister so stil en mooi. Dis reeds weke oor die tyd wat haar lappe soos spierwit vinke op die versteekte doringbos moes hang. Altyd ’n gesukkel om dit ongesiens droog te kry. Hierdie keer was dit nie nodig nie. Daar was niks.

Die gesteente swyg, en sy het nie anders verwag nie. Daar is net die veraf gebulk van die kalwers in die kraal, die gesketter van watervoëls by die dam, die roesemoes uit die statte, die perde se geproes in die kleinkampie, die seuns se speelkrete uit die fonteinkloof.

Gerrie verslap haar greep toe die growwe klip haar vingertoppe seermaak. Frans het ’n stuk sout-en-pepergraniet uit Natal laat kom; hy het die naam en datums, wonderlik vloeiend, met ’n beitel daarop uitgekap:

Louisa M. Viljoen née Pretorius

Geb 27-2-1852 Overl 30-4-1888

Rust in vrede.

Daardie tyd was sy werkplek onder die akkerboom die algemene vergaderplek. Daar was ’n onweerstaanbare boeikrag in die eenvoudige handeling van verewiging.

Gerrie lig haar kop, sluit haar oë, voel die son op haar ooglede, die wind teen haar beswete vel. “Skyn op my, waai deur my,” hunker sy. Sy hou van God, sy sing graag tot Hom in haar mooi stem. Hoe goed hulle klaarkom en hoe dikwels hulle saam is, blyk daaruit dat sy nooit vir Hom “Môre” of “Nag” sê soos selfs vir haar eie pa nie. Sy sien Hom soos Hy ná die val van Adam en Eva daar sit op die kaal, verlate aarde, en toe besluit Hy om ’n nuwe huis vir Hom te soek, en Hy begin by die mens inwoon.

Wat haar die meeste van sy inwoning geval, is dat Hy haar toelaat om enigiets op haar eie te doen. Amper, met respek gesê, asof Hy nie bestaan nie. Sy vra selde iets van Hom. Sy het nie eers gevra dat ma Lulu herstel nie. Al het sy geglo dat Hy dit kan doen, glo sy eerder dat Hy werk deur die wette van die natuur wat Hy geskep het. Anders, hoekom het Hy soveel moeite gedoen?

Ook vanmôre vra sy niks. As dit so is met haar, moet dit so wees. Sy sal daardeur, al moet sy teen die konvensies in. Sy is bang, ja. Jonk en dom. Maar sy is nie te lafhartig, soos Frans, om te dra wat sy oor haarself gebring het nie.

Sy kan net aan een rede dink waarom hy weg is, en dis dat hy nie gevang wou wees nie. Sy weet tog hy wil eintlik vir Memorie hê. Sy self het ook geglo en gedroom daar sal nog iemand spesiaals vir haar kom, maar nou weet sy nie.

“Nig Gerrie? Ek is jammer ek pla vir nig Gerrie by ta’ Lulu se graf, ek het eers ’n rukkie agter ’n bos weggekruip, maar toe dog ek, ek kom maar uit.”

Dis Fienie Bos, haar oë soos twee oorgroeide sproete tussen die res wat haar gesig oordek. Dun beentjies en swart stokkieshare.

“Ja, wat is dit tog, Fienie?” Van behoeftes aanmekaargesit, die Bosse. Geen respek vir privaatheid nie.

“Ek wil maar net hoor of ons vandag les sal hê.”

“Maar jy sien dan ons het kuiermense.”

“En vanaand?”

“Van wanneer af is jy so lief vir les?” Gerrie skik die plat klippe op die versakte grondhoop reg, trek ’n bloudissel uit. Dat die bywoner se kind haar in haar ontreddering moes sien. Eintlik wou die klein snip net uitvind waar die seuns is, die ogies loer mos altyd in Wynand se koers, al spot hy haar so genadeloos.

“Ek het maar net gedink, ek hou so van Aardrukskunde.”

“Aardrýkskunde,” help Gerrie werktuiglik reg. “Jy kan mos die boek by my kom kry en self lees.”

“Staan daar van Marokkie in?”

“Marokko? Nee, maar dalk in die atlas. Dis ’n land doer in Afrika, teen die Sahara.”

“Kan ’n mens van hier af tot daar kom?”

“As jy ’n kameel het.”

“Kan ’n brief daar uitkom?”

“Ek reken so. Maar dit sal eeue vat.”

“O. Nou dan loop ek maar eers weer, nig Gerrie.”

Die kaal, skurwe voetjies maak nie aanstaltes nie, maal in die kerkhofstof. “Het daar al tyding van neef Frans gekom?”

“Nie ’n woord nie. Maar julle moet mos weet waar hy is. Jou pa het dan sy wa en donkies vir hom geleen.” Om sulke gemors van rygoed te gebruik! Frans is aan die beste gewoond.

“Hy’t maar net gesê hy gaan ’n bietjie jag.”

Gerrie kom regop en stof die grond van haar rok af. Die duiwel haal hom. Wat van haar? Wat van die oes op die lande? Frans is die een wat altyd gaan oesters haal by die statte van Ramakoka. Hulle sal nou maar naby hande moet byhuur, met Willie Brown onderhandel.

Brown kom al hoe meer hier, hoewel haar pa hom steeds kundig afkeer. ’n Engelsman is nie so bekrompe nie. Hy sal dalk … Hemel, nee, mag sy tog nooit so verleë wees dat sy by ’n ordentlike man gaan aas nie. Dan staan sy liewers alleen.

Karools se mond is so dik dat jy blousool daaruit kan sny. Niemand wonder mos of hy liewer saam met ou Wyn en die tweeling sou wou gaan speel as om vee op te pas nie.

Ou Wyn smyt hom weg noudat die witkoppe hier is. Ander kere is hy goed genoeg. Alles wat Wyn en Klint kan doen, kan hy net so goed doen. Hy is taai soos leer en rats soos ’n springbok.

Dassies met draadhake uit hul skuilplekke dwing, hoog klim om gom of voëleiers te vind, kleilat gooi, klei-osse maak en dryf, muise vang om te braai. Hy kan met ’n slinger gooi dat die klip reg tussen die vinkswerms in die lande val. En strikke stel. Hy het laas in die veld ’n ystervark gevang en die penne uitgetrek. Die vleis het hy vir Mmeme gevat, sy het dit saf gestowe.

Wyn-goed laat hom ook skiet as hulle alleen in die veld is, en hy skiet al amper so goed soos hulle. Selfs al maak Wyn hom skrik, skiet hy nog raak. Hy wens hy kan sy eie geweer kry, maar die wet van Transvaal sê mos mense van kleur mag nie ’n roer dra nie.

By die wapenskouings pas hy die perde op. Hy wil nie altyd oppas nie. ’n Stamseun pas net vee op tot hy in bogwera was, maar hy weet nie of Mmeme hom ooit sal laat gaan nie. Anders sal hy moet wegloop soontoe. ’n Seun word nie ’n man voor hy by die winterskool was nie. Waar hy ’n bok sal kry, weet hy ook nog nie.

Daarná sal hy groot genoeg wees om met die melkery te help. As hy iemand met die melkemmers sien kraal toe stap, was hy sy hande by die fonteindam in die hoop hy word aangekeer en touwys gemaak. Sy hande is al sterk genoeg.

Die ergste is dat Bettakie hom vandag nie eers raakgesien het toe hy op pad vee toe by die agterdeur verbydrentel nie. Sy is die een wat hom altyd aanroep vir iets lekkers. Dik snye brood met varkvet, ’n handvol kaiings, ’n beker karringmelk. Partykeer gebrande soetkoekies.

Vandag is dit net kuiermense, en praat nie eers van haar kêrel nie. Hoeveel aande moes hy Naas Wang se vryperd koudlei en versorg. En dan sê Naas Wang nie eers dankie nie.

“Nou’t Franna weg is, hou daai man sy lyf baas,” het Karools by Mmeme gekla. Sy het gesê: “Krols, bly stil. As hy vir Bettakie goed is, is my hart tevrede.”

Mmeme het hom ook haar hand gewys, wit binnekant en swart buitekant. “Dis dat wit en swart mekaar moet help.”

“En hulle hande dan, my ma?”

“Hulle is die hand wat kosgee. Kyk vir Bettakie.”

Bettakie is die rede hoekom Mmeme hier bly en nie agter ounooi Gertruida aan dorp toe trek, noudat die vrou met die baber-oë haar uit die huis gejaag het nie.

Vir Gerrie het almal ontsag, vir Bettakie is hulle lief. Sy is die een met die sorghand. Sy is die een wat by die statte kom dokter as iemand siek is. Op koue dae het sy hom altyd voor die vuur in die kombuis laat sit. So voor die vuurherd het hy en Wyn van hulle lekkerste stories gesels.

Al voel hy bra vaal oor Bettakie, sien Karools tog ’n aalwyn raak wat hy vir haar wil vat. Gelukkig nie te groot nie. ’n Aalwyn is ’n swaar ding, kan maklik soveel soos ’n skaap weeg. Maar hy kla nie, hy dra. Die rotstuin langs die sitkamerdeur is al vol plante wat hy gebring het. As dit dorings het, dra hy dit in ’n sak oor sy skouer.

Karools is bly toe hy met die aandryf van die osse vir Klint ’n ent voor hom gewaar. Al piets Klint so kwaai met sy voorslagswepie die grassade af, weet hy sommer dat Klint op hom wag. Hy word ook deur die ander drie hond gemaak.

Op die middag, as die bome hul skadu’s soos brandvoete intrek en die vee op die koelste plekke bondel, sal hy darem nie alleen wees nie. Klint is die beste een om by te wees as jy dikbek is, Wyn is die lekkerste een vir speel.

En vir lospraat. As die beeste in die mielies gekom het, sal hy net sê: “Pa, ons het agter die bos geskoffel, ons kon nie die lande sien nie.” Dan het hulle nie eers geskoffel nie, maar groenertjies gegaps. Wyn se pa sit mos gedurig pyp-in-die-mond alles van die stoep af en dophou.

Net by Mmeme kan Wyn hom nie uithelp nie. As hulle haar kwaad maak en weghol, roep sy agterna: “Onthou, ’n voëltjie vlieg bo in die lug, maar hy moet grond toe kom om te vreet.”

Dit het sy elke keer gesê as hulle weghol om by ntatá Modjaa se lêplek rond te kyk as hy in die veld is. Dan sê Mmeme: “Ek wil g’n niks moeilikheid met die ouman hê nie. Hy het my klaar een slag getoor, ek wil nie nog ’n slag getoor wees nie.”

Karools sou wat wou gee om te weet van die eerste toor.

So gou die perde versorg is en hulle van die grootmense kan wegkom, verkas Wynand en die tweeling kloof toe. Jare lank terwyl Modjaa daar gewoon het, was hierdie speelparadys vir hulle grootliks verbode. Hulle word nou ’n bietjie te groot vir dolosse en klei-osse. Hulle is kopspelende vullens, heeltemal apart en tevrede daarmee.

Vir hulle is daar swem, kettie skiet, bobbejane skrikmaak. Met die begrafnis van ma Lulu verlede jaar, toe die Retiefs oorslaap, het hulle die aand stilletjies met stokke en lanterns gaan springhase jag onder in die oulande. Toe trap Willem op ’n mieliestronk en dog ’n slang het hom gebyt. Daardie aand het Wynand hom regtig natgemaak van lag, en Tysman vra aaneen: “Nou wat is die grap nou?”

Speel kan alles regmaak wat deur die grootmense verkeerd gemaak word. Grootmense is die vyandige party. Met hulle is jy gedurig haaks.

Ore bak gedruk onder die slap hoedjies, klim die tweeling ’n kortkop agter Wynand. Hulle is dalk sterker as hy, maar sy bene is langer.

“Ons rook tog al,” sê Willem om die aandag daarvan af te trek dat hy effens uitsak. Hy probeer sy asem gelyk hou, maar het suurslym in die keel.

“Wat? Donkiemis?” vra Wynand.

“Nee, my oupa se uitgerookte pype,” kry Tysman in.

Wynand is voorlopig stil. ’n Uitgerookte pyp is die ergste soort, dit skop jou soos ’n wilde-esel. Hy weet, hy het een aand Naas Wang s’n probeer. “Ons is nou naby,” herwin hy heerskappy.

“Aag, dis g’n grot nie,” sê Willem snedig toe hulle by die holkrans aankom. “Dis dan net ’n ou gat.”

“Nou ja, wie kan sonder sy ou gat klaarkom?” kap Wynand terug.

Willem proes, al wou hy nie. Dis eenmaal té snaaks.

“Nou wat is die grap nou?” frons Tysman.

“Modjaa is ’n groot toornaar. Hy het eenkeer van vyftig lyke van die vyand moeti gemaak. Toe hy nog in die Laeveld was.”

“Dis ’n lieg, en ek sê so.” Willem staan voor die vlak grot. Die grond is snuif getrap. Maar daar is niks toorgoed, g’n stokkie of beentjie nie. “Hier gaan niks aan nie,” beklemtoon Willem. “Kom ons skiet liewers kettie.”

Hulle begin mekaar met die skietery oortroef. As jy ’n boerseun is, moet jy kan bewys jy is die beste. Met toutrek, armdruk, stoei, skyfskiet, knipmes slyp, perdry. Met bekruip, wegkruip, afstand skat.

Daar is net ’n ongeskrewe seunswet dat hulle mekaar nie onbehoorlik seermaak nie.

“Het julle geweet die Hugenote het hulle ketties soos ’n sakhorlosie gedra?” vra Wynand. Die leertong van sy kettie wat Franna nog vir hom gemaak het, is al saf van al die klippies wat dit moes afskiet op voëls en koggelmanders. “Ek stam mos van die Hugenote af.”

Die Retiefs is nie seker van hul herkoms nie. Hulle ma is te besig met kinders grootmaak om hulle te vertel.

“Ek het besluit om vir Naas Wang op sy troudag kwaad te maak,” volg Wynand die sege op.

“Jy kan nie,” bars Tysman uit sy spraaktraagheid. “Naas Wang word nooit kwaad nie.”

“Ek sal hom so kwaad maak dat hy my wil vrekskiet. Julle gaat so lag, julle gaat julle holle skeur. Wil julle wed?” Hy steek sy hand uit.

“Met wat?” Geld is nie iets wat maklik van naby gesien word nie.

“Ons skiet skyf. Die een wat verloor, moet die skyf vashou net waar die wenner sê. Bo sy kop of onder sy arm of tussen sy knieë.”

“As jy dit regkry, sal ek die skyf voor my gulp hou,” onderneem Willem.

“Moet dan net nie agterna by jou ma gaat huil as ek jou sleg verongeluk nie.”

Die twee klap hulle hande in mekaar vas.

“Kap deur, Vlieg,” beveel Wynand. “Hárder!” Want Tysman se hand val soos ’n lendelam valbyltjie uit die lug. Tysman kap nou met ’n geweldige hou, en die twee gebreide seunshande breek uiteen.

“Hoe gaat jy hom kwaad kry?”

“Ek het al klaar genoeg gesê. ’n Groot bees tjôrts nie al sy mis op een slag uit nie.”

Dit tref Wynand nou eers dat Klint nie by hulle is nie. Waar het hy van hulle afgeraak? Hy het nog perde help koudlei.

Hy kyk uit die vlak kloof af op die plaas om te sien waar sy broer is. Daar lê die huis onder die akkerboom, met die rokie uit die skoorsteen. Daar wei die perde in die kleinkampie. Daar is die stalle, waenhuis en krale. Daar is die werksvolk op die lande, besig om te skoffel. Daar lê die fonteindam, dof blinkend, dis lank laas skoongemaak noudat Franna weg is. Daar is die granaatheining en turksvybos en kweperlaning, die wilgerbome en rietbos.

Hy sien tot vir Fienie loop. Vuil Fienie Bos. Sjoe, sy steek hom darem lekker onder die klippe as hy haar so noem. Maar g’n stuk Klint nie. Met ’n steek van jaloesie wonder hy of Klint en Karools dalk saam veld toe is.

Al is ou Splint so hardegat en kleinserig, is hulle tog eie broers. Hy mis hom in die stoepkamer. Toe Franna weg is, het Klint die buitekamertjie betrek. Wynand durf nie sy gesig daar wys nie, of hy word uitgeboender.

“Ons sal roosterkoek op Naas Wang se wange kan bak,” voorspel Wynand sodat die tweeling nie dalk sy onverwagte aandoening agterkom nie.

Oordrewe eenstemmig skater hulle dit uit.

Vet, grysbruin dassies kyk staroog voordat hulle geruisloos in hulle klipskeure wegglip.

Sedert Ignatius Prinsloo met skriftelike konsente van sy ouers en oom Soois gebooie gaan opgee het, lyk sy wangbaarde pal soos veldbos wat van weerlig deurskyn is.

Die troue met Betta Viljoen beroer sy beskeie bestaan in elke opsig. Klaas Kalbas, so genoem omdat sy waterkalbas in die Sekoekoenie-oorlog voor sy mond weggeskiet is, is ontevrede omdat sy seun sy kerk los om na Betta s’n oor te gaan. Klaas is Enkel Gereformeerd, ’n stoere Dopper soos die President self, en trots op die naam.

“’n Gaatjieponner,” is al wat Klaas Kalbas oor en oor kan mompel teenoor sy vrou in die kombuis.

“Ek wil tog net nie tweedrag hê nie,” waag sy. “Het ons ou volkie nie al op mekaar geskiet oor kérk nie?” En, net vir geval Klaas die huwelik van sy seun verdoem in die lig van genoemde burgeroorlog, mompel sy iets van “hemelsche kroon want hier beneden is het niet”.

“Die susterskerk glo tog ook maar soos ons, Pa,” verdedig Naas in sy bromstem. Hy kan sy mond mos toehou as hulle Gesange begin sing. Maar oom Soois het nogal sterk op die kerkpunt gestaan.

“As daar ’n dansery op die bruilof gaan wees, moet jy my en jou ma nie verkwalik as ons maar vroeg ry nie.”

Naas is in die knyp. As hy reg verstaan, sal dit ’n plesierige boerebokjol wees. Betta leer hom kliphard die trouseties dans terwyl Gerrie op die musiekie speel.

Ook maar beter hy het van al die probleme en drukte nie geweet nie, dan het hy dalk nooit die groot stap geneem nie. Sy maats is almal reeds getroud, maar hy het vir Betta gewag. Sy was nog sommer ’n dogtertjie toe hy haar by Olav Ostfedt se smidswinkel raaksien. Sy had reeds ’n vroutjielyf, oë met buitehoekies wat effens optrek en ’n oulike poortjie tussen haar voortande.

Naas het sy kans afgewag. Hy het sy reunperd opgevoer en die week ná Betta se aanneme begin blink vryf, dae lank met die wolkant van ’n skaapvel. Saal en saalsak, toom en halter nagesien. Dit was nou ’n jaar gelede.

Sy ma se hande het met eerbiedige knokkeling die wit broek se plooie ingestryk. Die vraag was nou: Moet hy die wit broek opvou en saamvat om naby die huis aan te trek, of moet hy sy drabroek eers bo-oor aantrek?

“Liewer bo-oor. Netnou gryp ’n bosvark die wit broek net as jy met die ferweelbroek om jou knieë staan.” Sy broers, veral Stoffel, spot hom lekker oor sy verliefdheid, maar met bedugtheid vir sy waagmoed. Die Viljoens is gerekende mense.

Grootverlangen is ’n eersteklas plaas met sy fonteine. Die Viljoens moet goed daarin sit. Naas sal egter in ’n lekkende pondokkie bly en drie maal op ’n dag pap eet, as hy net by sy Betta kan wees. Sy kinders kan op ’n kermisbed slaap. Want hy wil ’n groot kroos hê. As hulle rondom hom staan, wil hy sy hande so op hulle koppe kan sit.

Die Saterdagaand met kleinson kom Ingenaas oor die Viljoens se werf aangesif. Wat ’n verligting toe daar geen ander vryersperde te siene is nie. Hy was mal van kommer oor die mak Engelsman, Wilie Brown van Mimosa, ’n geskeide kêrel, oorspronklik uit Natal, wat om een of ander rede ’n Boeremeisie wil aankeer.

Die eerste ding wat Naas gesien het en nooit sal vergeet nie, is die takke vol spierwit amandelbloeisels wat swaar oor die klipmuur leun. Net daarna sien hy hoe Betta, stemmig in rouklere, want ta’ Lulu was maar ’n paar maande dood, skrams oor die onderdeur loer en toe fatsoenlik verdwyn.

Gerrie vat hom na die vrykamer om hande te was. “Jy moet maar sê as ek moet help,” sê sy so ewe sedig, en voeg daarby: “… boetie Naas.”

Toe skud Naas se gebakte hande dat hulle skaars die koel putwater kan hou. Hy was bang sy wange sis as die water dit raak.

Die ete het hy oorleef, met Betta wat langs hom sit en stilweg na sy behoeftes omsien. Met Boekevat het hulle selfs ’n Psalm gesing, deur Betta opgegee. Die ergste was om vir oom Soois te vra of hy met Betta mag opsit. Oom Soois, met rouband om die baaadjiemou, was onpeilbaar stil. Naas kon dus van sy stoel af val toe oom Soois op sy bromversoek ja sê.

Toe hy merk dat Betta ’n lang nuwe kers in die blaker steek, het hy geweet die wind waai reg. Hy het nogal sy eie opsitkers gebring, dis glo goeie maniere. Betta was in die gesig gevat: “Net so of ons nie kerse het nie, Ingenaas.”

Dit was sy eerste kennismaking met die Viljoens se effense verhewenheid, maar hulle het hom verder ordentlik behandel. Die onhebbelike Wynand het wel later met hempspante tussen die bene vasgeknyp oor die voorhuisvloer kom hop met luide boggems, maar Frans het hom netjies kom weghaal.

Toe is hulle in vrede gelos totdat Betta die lamp doodgedraai en die kers aangesteek het.

Ingenaas het daardie aand respek gekry vir Frans Viljoen. In die wyk staan hy bekend as die beste ruiter en skut, ’n goeie boer daarby en een wat gemaklik is met homself en ander mense. As die swart mense goed van ’n man praat, dan ís hy goed.

Die afgelope twee maande sedert Frans weg is, kon Naas met die blote oog sien hoe oom Soois agteruitboer.

Meermale moes hy maar die wit broek uittrek en inspring. Die landmuur het op ’n plek ingeval sodat die bees in die koringland gekom het. Die kalwerhok se hek raak lendelam. Die osse breek jukskeie, die koeie skop die melkemmers om, die stal wemel van vlieë. Toe nog ’n veldbrand, Frans se voorbrande het toegegroei. Gelukkig val daar ’n reëntjie wat die brand blus. Maar ’n klompie vee kry ’n paar weke later geilsiek van die nuwe gras wat deur die brande groei.

Oom Soois vra toe of hy ná die troue om ’n deel hier sal boer. ’n Oplossing vir Naas, want Kareekloof dra swaar, die grond is skraal en die familie groot. Klein-Klaas het ’n skaapwagtershut vir hom en sy vrou gerepareer. Hoe begeer Naas daardie skaapwagtershut. Want dis nou een ding, in Grootverlangen se opstal sal daar min privaatheid vir jonggetroudes wees.

Ter wille van Betta onderwerp Naas hom aan ondenkbare teisteringe, soos om op sy troudag ’n swart klouhamerbaadjie en wit handskoene te moet dra.

’n Paar dae voor die troue staan hy en Betta in Pretoria voor die kommissaris, kry ’n sertifikaat wat alles wetlik vir die kerktroue verklaar.

Gerrie en Hermana, die bruidsmeisies, kom ook die laaste nag in die dorp slaap. Stoffel en Ouboet Retief, wat vir Frans instaan, sal vroemôre inkom. Die meeste gaste sal net by die bruilof wees, nie by die seremonie in die kerk nie.

Al wat Naas werklik onthou, is hoedat hy en Betta voor die kansel “Ja” sê, hoe hy tydens die reis plaas toe poog om die stof uit haar gesig en van haar swart trourok weg te hou, en hoe ’n klomp belhamels by hulle aansluit en te perd saamgalop.

Geweerskote uit die rante waarsku die gaste dat hulle naby is. Met ’n gevoel van onwerklikheid beleef Naas die swierige es van die bruidswa, die werf vol rytuie, die gekniehalterde perde, die belaaide tafels met wit tafeldoeke onder die akkerboom waar swart kleingoed met wilgerlote die vlieë waai, die ereboog van linte en lower, die konfetti asof ’n haelgeweer die reënboog getref het, die bruilofslied, die troukoek. Die sopie soetwyn waarmee die egpaar se gesondheid ingestel word, dra nie veel by om sy wange af te koel nie.

Daar word deurentyd gepeusel, maar met ’n uur son begin die eintlike feesmaal. Nou kom die vleise en pasteie, die gebraaide geregte, die melkterte, jamterte en poedings. Natuurlik ook die jonggroentes, waaronder Grootverlangen se befaamde groenkos.

Naas kry niks van die heerlike bruilofskos in nie, drink net dorstig van die gemmer- en koringbier en die lemoenstroop in vaatjies met nat sak om. Hy voel soos die speenvarkie met die appel in die bek, goed in die bakoond gaar gerooster.

Die groot oomblik van die aand, die opening van die baan, kom nader. Ook maar goed sy pa-hulle het liewer gery.

Die diep stoep wat twee kante van die huis omsoom, is leeggemaak, behalwe ’n aantal stoele teen die muur, en sitplek vir die musikante waar die stoep sy hoek maak; hier sal die nagwind hulle kan afkoel, want dis seker dat daar deurnag gedans gaan word.

Slaapplek is daar glad nie vir almal nie. Oues en kinders sal maar ’n lêplekkie soek in een van die kamers of uitgespande rytuie. Party sal met ligdag die terugreis aanvaar. Die gasvrou, in hierdie geval Gerrie, sal vroeg op die been moet wees om afskeid te neem.

Die eerste wanklanke van die viool wat met die kitaar en konsertina ingestem word, klink op. Ingenaas knik vir die musikante, soos Betta hom voorgesê het. Hulle val ywerig weg, en Naas doen saam met Betta en veertien ander die trouseties na die beste van sy vermoë.

Die omstanders vind dit so prettig dat hulle jil en hande klap. Daarna volg ’n wals, en almal wat nie te kranklik is nie, is op die baan. Hulle bly sommer staan en wag vir die volgende dans.

’n Polka, vastrap, masurka, kotiljons, seties, almal bo Naas se jakkals. Hy sit uit, en uit. Weet nie hoe om hom aan die jolyt oor te gee nie, selfs terwyl sy broers en suster Saar dit lekker uitkap. Tot die kinders dans op die kweekwerf naby die huishoek.

Dik-Tys Retief stuur sy vrou soos ’n kruiwa voor hom uit. Gertruida Omdraai word deur Jeroen Wewenaar uit haar stoel opgetrek, en almal klap hande. Sy vee dapper die hartseer trek van haar gesig af. Frans se afwesigheid roep vanaand uit, en almal weet tog hy is haar lieflingskleinseun.

Jeroen se dogter Sankie, die oudste van vier wat elk ’n ander moeder het, is ’n gewisse voorbok. Sy is een wat maklik haar skoentjies deurdans, en die drie kleintjies toon belofte om in haar voetspore te volg.

Olav wals amper eerbiedig met sy vrou Anna-Maria in haar oesterkleur rok, daarna vat hy vir Judit. Naas weet nie hoe om sy nuwe stiefskoonma voortaan te noem nie. Hy weet net hy hou nie van die manier waarop sy half binneboud dans nie.

Die musiek, die trippelende skuiwende voete, die uitroepe en klinkende skaterlag. Naas sit op een van die muurstoele om ten minste sigbaar te wees, maar kort-kort moet hy sy knieë dwars draai in die beperkte ruimte.

Dan glip hy maar liewer uit werf toe, dis koeler daar. Hy sien hoe elke Janrap met sy bruid dans, Brown twee keer. Verdomde Rooinek. ’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie. G’n wonder dat Naas se pa sy steeksste os “Ingeland” gedoop het nie.

In haar swart trourok met wit kant, blommekrans in die hare, gesig melkwit uitgebleik, behoort Betta skynbaar aan almal behalwe haar wettige man. Waar begin egbreuk? En hy het haar nogal die goue ringetjie gegee met die twee handjies wat in ’n handdruk sluit.

Toe dit skemer word, vat die bruidsmeisies vir Betta kamer toe en help haar verklee. Sy kom te voorskyn in ’n bleekblou moeselienrok en onderrok wat liggies wys as sy die draaie vat. Want nou sak die voordansers éérs op haar toe.

Banjo, pensklavier, viool, bekfluit, kitaar. Dis ’n getokkel, gekras, gekerm, geween. Die slepende note torring Naas se siel uit. Betta se geheimnisvolle aantrek laat hom onthou waarom alles wérklik gaan. Hy onthou die bruidskamer wat oopstaan vir almal se besigtiging. Die breë bruidsbed hoog opgeskud met ’n gestyfde val rondom. En op die deken lê die sak met die lintstrik waarin Betta se bruidsnagrok is. Alles spierwit, die Viljoen-vroue is vir wit, ta’ Gertruida se wit kwiltwerk is wyd en syd bekend.

Hoe sal hy dit ooit oorleef om te midde van die gespot sy bruid teen middernag kamer toe vat? Gerrie en Hermana sal vir Betta haar nagrok help aantrek. Dan sal Ouboet en Stoffel hom tot by die kamerdeur vat. Die bruidsmeisies sal die kers doodblaas en uitkom sodat hy kan ingaan. Dan sal die spotters op die sleutelgat en venster toesak.

Dit waarna hy so gesmag het, word ’n oordeel. Sal Betta hom nie maar die eerste aand kwytskeld nie? Hoe kon hy ooit dink, in die hitte van hul omhelsings in die skadu’s van die ouboord, dat dit maklik sal wees om enduit te gaan?

Hoe beny hy vir Klein-Pieda Mooibaard, wat so lekker intiem met sy vrou Dirktinia dans. Met die een hand houvas hy die bekfluit wat hy vrolik bespeel, met die ander hand stuur hy haar en laat haar draai. Dis asof sy, net soos sy dik krulbaard, op hom toegeskape is en altyd deel van hom was. Og, as hy tog al so gewoond aan sy Betta kon wees.

Oom Ou-Pieda Mooibaard is wel nie te benye nie. Ta’ Liesbet is maar ’n suurknol. Sy dans g’n steek nie, en haar man vra ook nie iemand anders nie, sit en rook maar net, of slaan die kitaar as iemand vra hy moet instaan.

Naas se beker is nog nie vol nie. Laat in die aand daag daar ’n swierige rytuig op met flou perde en twee passasiers wat duidelik vir Kaatjie Langnek as reismaat gehad het. Dis Judit se seun Zaverius en ’n vriend, deftig in kispakke hoewel redelik vol stof en gekreukel. Hulle het glo verdwaal dat dit bars. Hulle aankoms wek groot belangstelling onder die plaasjapies, maar hulle wil eers die innerlike mens versterk. Aldus gaan die dansery spoedig weer fluks aan. Naas sien hoe hulle die meisies deurkyk waar hulle onder die akkerboom staan en kou. Sal natuurlik ook heel eerste met die bruid wil dans. Skuim van die Goudvelde, hy verstaan die President se weersin in die gespuis sommer beter.

Meteens druk ’n yslike hand op sy skouer. “Hoe is jy dan so bedruk, ou Nasie? Wat jy nodig het, is ’n bekwame dop.”

Die simpatieke stem pluk aan Naas se oorspanne hartsnare. “Nog ’n glasie soetwyn sal darem seker nie kwaad doen nie, oom Ol,” brom hy.

Olav lag, eerder grimmig as plesierig. “Ek het iets sterkers in gedagte gehad,” sê hy.

Die twee Goudvelders moes redelik ver stilhou, want op die kweekwerf blink ’n plaat kapkarre en verewaentjies.

Judit laat Zaverius geen oomblik met rus nie. “Loop groet hom nou,” dring sy aan. Want netnou was Soois nie te siene toe sy hulle aan mekaar bekend wou stel nie.

“Wie?” vra hy moedswillig.

“Jou stiéfpa, Sonnyboy! En draai jou kop weg as jy met hom praat, hy is fyn van reuk en hy is nie ’n drinker nie.”

“Moet my nié so noem voor my vriend nie,” sis hy terug. In Johannesburg is hy “Shakes”, en dis erg genoeg.

Hy probeer ontslae raak van haar hand wat om sy arm klem. Sy het nooit graag aan hom en Memorie gevat nie. Vandat hy kan onthou, het gehuurde hande hulle versorg, die Wet Nurse ingeslote. Sy pa het hom soms aangetrek, dit onthou hy vaag. Kom, beentjie insteek …

“Jy moet baie met hom gesels. Praat diép, hy is nie grappig nie. Noem hom Pa.”

“Soos in ‘toad-eating’,” sê hy snedig. Hy het die woord op die Rand geleer.

Sy het geskryf dat Frans nou weg is, en hom uitgelê van ’n skoolplaas. Op pad het hy die saak met Bert Starrenberg bespreek, en dié reken die plaas is meer as ’n skoolplaas werd. Met ’n sterk fontein kan mens dit ’n jagplaas maak. Voëls, bokke, jakkalse. Johannesburg se mense is sat van stof en lawaai. Vele sal ’n fortuin betaal om in die Country te ontspan, al is dit nou Kruger Country.

Die bestaande geboue kan deug vir stalle en bediendes. Vir jou ryk gaste rig jy ’n kasteel op. Hunter’s Castle. ’n Eie, eksklusiewe klub. Eie koetse om die gaste heen en weer te vervoer.

Miskien maak hy van Bert Starrenberg ’n vennoot, in ruil vir ’n vennootskap by Stardust Company. Eddie Macdonald is nie die een wat dit teenstaan nie. Dis Starrenberg, met sy breë grinnik en al. Op die oomblik werk hy vir ’n loon by hulle, en sake word vir hom diggehou.

Bert handel kamtig uit konsiderasie. Wil nie ’n nuweling onder vals indrukke bring nie. Die Goudvelde gaan ’n krisis tegemoet. Myners begin blou rots tref, piriet-erts waaruit die goud nie met die kwiksilwermetode onttrek kan word nie.

Maar sou Wernher-Beit & Co ’n nuwe mynhuis gestig het as daar sprake van ’n ineenstorting was? En Bert self, waarom verkoop hy nie sy aandele vir wat hy kan kry nie?

Hy het Bert na hierdie bruilof saamgenooi om verhoudinge te verstewig. Dit kan net vrugte afwerp. As Mother dit net nie verongeluk nie. Dis uit die staanspoor vir hom duidelik dat sy nie veel invloed hier het nie.

Gerrie is die gasvrou.

Vandat Gerrie hulle aan ’n paar mense voorgestel het, sorg Zaverius dat hy haar nie ’n oomblik uit die oog verloor nie. Hy wil haar nie meteens stormloop nie. Hy is van plan om die res van die nag met haar te dans.

Hy is oorbewus van die wye mosgroen rok wat tussen die dansers deur flits. Hy het Gerrie Viljoen nooit regtig vergeet sedert die Sondagoggend op Peerboomkloof nie.

Die robuuste energie, vel blink van gesondheid, dik hare donkerblond onder, bolangs deur die son gebleik tot koring. Die sterk skouers, digte wenkbroue. Maar veral die ongeërgde houding, so anders as die gebruiklike geflirt.

Lanterns is oral opgehang, dit skyn op die ryk belaaide tafels vol geurige disse onder die akkerboom. Hy ruik metaal en verhitte olie, kouevleis en soetigheid, blomme en biere en dansende lywe.

“Lekker boertige spul,” grinnik Bert. Dit lyk of sy een oog laer as die ander sit, al manier hoe mens agterkom as hy gespanne of gedrink is. Hy is ’n man wat sy drank kan vat. Sy kort, brons hare krul styf teen sy kopvel, sy nek span teen die boordjie.

Zaverius beny Starrenberg al sy voorspronge. Die Goudvelde het klaar weer ’n eie stel reëls en norme opgebou wat ’n nuweling uitsluit. Jy moet ’n miljoenêr wees. Lid van die Exchange en Rand Club. ’n Wenperd op die Wanderers hê. In ’n Swagger Suburb woon.

Bert, neerbuigend geboei deur die vaart en onstuimige bekoring van die boerebruilof, staan langs hom ’n hoenderbeentjie en afsuig terwyl hy met die ander hand ’n skyf skaapboud in sigaarvorm oprol. “Hier is skaars tien jong meisies, van wie vyf die moeite werd is,” kla hy.

“Wel, wat is verkeerd met tien jong maagde?”

“Dis nie wat ek gesê het nie.” Vroue kan hulle deur Bert se vierkantige wit grinnik laat mislei, dog vyande op die Stock Exchange het dit as gevaarteken leer uitken.

“Die kuns,” vervolg hy, “is om die vyf dwases eenkant te kry. Die landzonen kan maar die wyses hou.”

Het Bert vir Gerrie in die oog? Hy prop ’n handtertjie in sy mond. “Om te dink die arme goed word binnekort deur die Uitlanders uit hul eie land gejaag.” Hy beduie na die fris, natgeswete kêrels wat met oorgawe vanuit die skouers en heupe skoffel.

“Dit lyk nie of hulle iets van die politiek weet nie.” Zaverius voel hom meegesleur deur die aartskloppende ritme. Sal dié musiek mens ooit weer loslaat, of altyd bespook? Die gekerm van viool, die blikkerige slag van snare, melankolies slepend oor die grillig verligte werf.

“Ek dog die bekvelders is baie bekrompe. Maar dit lyk my hulle geniet die lewe.” Niemand weet waar Bert se voorkeure werklik lê nie. ’n Soort Hollands-verbasterde Britse Setlaar. Dat hy hom sterk by die Uitlanders met hul griewe skaar, kan eerder van eiebelang as samehorigheid spreek.

“Kyk nou byvoorbeeld daardie stiefsuster van jou.” Bert beduie na Gerrie. “Sy het minder inhibisies as jou suster met haar aangeleerde drawingroom-maniertjies.”

“Wat het my suster met die saak te doen?” Zaverius het die idee dat Bert en Memorie vrek bewus is van mekaar. Moet hy Bert help om haar in die hande te kry? Ou Eddie verdien dit nie, maar die lewe op die Goudvelde is “fair field and no favour”. Nie net kan Memorie help dat hy aandele in Stardust kry nie, maar sy kan vir Bert van Gerrie af weghou.

As hy Gerrie kry, kan die fondamente van die jagkasteel solank gegooi word. Wat sal Mother tog van sy planne sê!

“Niks, sy’s ’n mooi ou dingetjie. Gelukkige ou Ed, nè?” Bert slaan ’n glas koringbier weg, dit bruis sodat die spatsels op sy brons moestas glinster. “By gebrek aan iets sterkers. Nou kom, waarvoor wag ons? Die baan wag, en ons is die goue seuns.”

“Sal ek jou die tango leer?” Zaverius het eindelik die mosgroen rok in sy arms. Van nou af gee hy haar aan niemand af nie. Maar hy het haar ratsheid onderskat. Daarby het hy hom ongemaklik ooreet en alles met die sterkste van gemmerbier afgespoel. Sy kop en maag skommel deureen.

Wat hulle vooraf op die kar geniet het om die verdwaalpad korter te maak, speel ook ’n rol.

“Wat laat jou dink ek ken dit nie, Míster Meyer? Of moet ek jou Bróvver noem? Dit rym mos met Móvver.”

Dis soos hy gevrees en sedert sy aankoms aangevoel het: Mother word geringgeskat. Hy het Stiefpa toe ontmoet, en hulle had niks vir mekaar te sê nie. Hulle het hulle eie hoogmoed, hierdie klomp, verdomp! Hy probeer weer op gelyke voet kom. “Noem my Zaverius. En hoekom ek dink jy ken nie die tango nie? Omdat dit ’n skandelike naam het, dáárom.”

“Wat laat jou dink ek is bang vir skande?”

Opgehitste bloed giet deur hom. Hy weet nie meer wie vir wie op die oorlaaide stoep rondstuur nie. “Omdat jy nie van die skuim van die Goudvelde is nie.”

“Watter Goudvelde?” Wye, onskuldige oë onder die digte vlerkies van die wenkbroue.

Nou weet hy sy terg net. Hy is verlig en verslae. En weet nog steeds nie of sy die tango kan dans nie.

“Ek weet nie of hulle ’n tango sal kan speel nie.” Sy beduie na die orkes, twee bebaarde ooms en twee beswete jongkêrels. “Maar wag, ek het ’n plan.” Sy wend haar tot die dik vrou met die vrolike raapgesig. “Ta’ Lammie, sal Tante nie assebliéf vir ons iets speel nie? Zaverius en Mr Starrenberg sal die pas aangee, dis ’n nuwe soort dans.”

“Maar dis dan nog so vroeg, my lam.” Die vrou het duidelik veel trek vir Gerrie, maar heelwat minder vir die stedelinge.

“Nooit, ta’ Lammie, dis sommer nou-nou middernag.”

Sou sy ooit iets anders kan doen as varkies grootmaak? wonder Zaverius, en is aldus oorbluf toe almal luidkeels begin soebat. Totdat sy traagweg instem en ’n gretige seuntjie stuur om die konsertina uit die karkis te haal.

Sy wikkel haar hande deur die leerbande soos die voete van ’n ervare ruiter wat na die stiebeuels soek. Toe hy en Bert die ritme begin uitpols met vingerklappe en sisdeuntjies, voel haar vingertoppe vlug oor die knoppies. Zaverius vermoed dat hy hom liederlik misgis het.

Nie lank nie, of sy tel die ritme op en maak haar eie wysie. Die aand kry ’n tweede asem, wat soos ’n primitiewe toorkrag werk.

Onder die lang, dromerige wimpers, knip Corrus Retief se oë kwalik. Hy weet reeds dat die basnote eenkant en die hoë note anderkant sit. Eie deuntjies draai deur sy kop en hy neurie dit gedurig tot dit vasskop. Dit maak dat hy vroeg en laat toegesnou word: “Bly tog stil!”

Dit bly maar moeilik om die middelste van sewe seuns te wees. Maar hy is bly dat sy ma hom haar musiek begin leer het. Hy sal nie eers so erg omgee as hy later beter kan speel as skiet nie. Skiet is in jou bloed, die konsertina nie. “Jy moet elke noot máák, daar’s nie klaar note nie,” het sy ma gewaarsku toe sy hom begin leer. “Hy’s baie soos die lewe, my lam.”

Of Gerrie wel die tango ken en of sy net baie flink die nodige bewegings namaak, weet Zaverius nie. Gee ook nie om nie. Die voedsel en drank in sy maag het ’n wapenstilstand gesluit, en hy is heer en meester van die meisie en die baan. Hulle word luidkeels toegejuig en aangemoedig.

Hy weet later niks meer nie, as net dat sy slap en buigsaam in sy arms is. Toe sy ’n paar sekondes swaar word in sy greep, moet hy vasstaan om haar nie te laat val nie. Veins sy ’n floute? Het sy dan ook maar maniertjies? Dit kan tog nie regtig wees nie. So ’n gesonde jong boerin, gebrei deur perdry, huiswerk en plaaswerk. Gou, egter, gee sy haar weer volkome oor aan die wiegende ritme van sy lyf. Die applous vermeerder. Almal dog seker dis ’n deel van die dans.

In die breukdeel van ’n sekonde het hy net die kommertrek gesien op die gesig van Mrs Viljoen, sy stiefouma.

Ná die tango wil Gerrie nie meer dans nie. Ook nie, tot Zaverius se leedvermaak, toe Bert haar kom vra nie. Daar is ’n wit kring om haar mond, asof sy diep en hewig uit ’n onsigbare glas gedrink het.

“Gaan jy my die dam wys?” Hy is kortasem toe hy haar op die werf uitvat om af te koel. Dis die ene spelende kinders en uitgespande rytuie. Die skadu’s is reeds beset deur paartjies wat skelm vry en manne wat dopsteek.

Sy begin sonder ’n woord voor hom uitstap. ’n Wit voetpad skemer voor hulle op. Haar rok ritsel. Is sy nie bang dit raak vol stof nie? Veral as hulle aanstons op die donker damwal in die gras lê?

Maar sy vernietig die vooruitsig toe sy haar arm uitstrek en wys: “Daar voor lê die dam. Kyk maar, hoor.”

“Maar jy verstaan nie, ek het bedoel ons moet saam …”

“Wat laat jou dink ek verstaan nie … Bróvver? Al is ek nie van Johannesburg nie?”

Tussen die tango en die dam het iets skeefgeloop.

Sy los hom waarlik en loop terug. Net haar romp veeg liggies teen sy been. Hy ervaar die ligte aanraking deur sy broekspyp as intense prikkeling. Hy verbeel hom dat die gestamp van die half oeraardse musiek tot hier onder sy voete tril.

Hy het nog nooit by ’n vrou geslaap nie, hoewel hy dit nooit sal laat blyk teenoor iemand soos Bert Starrenberg nie. Hy weet dis ’n diens wat in Johannesburg te koop is, maar dit sal hom walg om met ’n trap op te gaan terwyl ’n ander man afkom, nog besig om vas te knoop. Dit sal wees soos om van iemand anders se vuil bord af te eet. Hy is veral baie gesteld op sindelikheid, en is dit ’n sonde?

Hy sou dit met geen ander vrou graagter wou hê as met Gerrie nie, hy sou op hierdie oomblik die hele bokkerse Stardust en Hunter’s Castle daarvoor gee as hy dit besit het.

Maar hy weet ook daar is geen manier om haar kop en haar lyf terug na hom te swaai nie. Nie vanaand nie.

Maar hy gaan aanhou, al vat dit hom hóé lank.

Een van die tweemanbondels in die werfskadu’s bestaan uit Olav Ostfedt en die beswaarde bruidegom Ingenaas Prinsloo.

“Ek wil nou nie snaaks wees nie, Oom, maar hierdie goed is verduiwels sterk,” brom Naas. Sy kop sweef los bo sy lyf.

Olav tap weer uit die vaatjie wat op die buikplank staan, en druk die blikbeker in Naas se willose hande. “Uit die Laeveld uit,” lig hy in. “Gestook van stamvrug, moepel en maroela. Hulle noem dit mampoer. Mampoeroe het altyd vir hom so ’n stooksel gemaak van rosyntjiebos. Jy weet mos van Mampoeroe? Wat sy halfbroer Sekoekoenie in sy slaap vermoor het?”

“Ek weet,” wurg Ingenaas. Die vlam van die moord op Sekoekoenie het rooi opgeslaan deur die venster van elke plaashuis in Transvaal. Naas was net-net te jonk vir kommando. “Jissem, Oom, die ou nasie darem.” Hy maak hom sterk en sluk. Weer eens brand die wilde stooksel kortpad na sy binnegoed. Sy wange wil ontplof. Hy gryp sy snor met sy onderlip vas soos ’n hond wat stert tussen die bene knyp.

“Dit help teen die verdrietigheid,” beweer Olav.

En verdrietig is Naas inderdaad. Hy wonder mos nou: was Mampoeroe nie ook maar net ’n mens nie? Hy was ook ’n kindjie, teer in sy ma se abbavel. Dit skeel min, of hy bars in trane uit. Skielik bieg hy met hol stem in die beker: “Oom Ol, ek sal nie vannag weet hoe om met my vrou te maak nie.”

“Jy sal weet,” sê Olav genadeloos. “Adam het niemand gehad om hom voor te sê nie, en hy het geweet.”

“Maar hy was sonder sonde geskape. Ek is so vol sonde.”

“Jy’s vol mampoer,” bevind die biegvader. Nou is dit of hy skoon van Naas vergeet het. Dis net hy, die vaatjie, die beker wat in die dowwe lig flits, en sy elmboog wat soos ’n ysterskarnier werk.

Op bene wat sleg slinger, probeer Naas agterom die huis by die sitkamerdeur uitkom. Dis die kortste pad na die vrykamer, en die stilste. Al is die blomtuin geskoffel en natgelei en die deur spesiaal vir die troue oopgesluit, maak byna niemand daarvan gebruik nie, en die spelende kinders weet ook van die verskuilde dorings van die rotstuin vol vetplante.

Maar in die proses moet hy by die kombuis verby. Daar wemel dit van kinders wat gestuur is om hande af te vee of water te drink of ’n slaapplekkie in die binnehuis te gaan soek.

Dis ook die plek waar Mmeme en haar helpsters, die nimmereindigende vrag skottelgoed in die balies warm seepwater staan en was. Rondom hulle drom weer die kleingoed van die stat wat hulle eie fees aanstig met die oorskiet: handtertjies vol halfmaanhappe, repies boudvleis, warm geworde gemmerbier wat uit vuil gevatte glase in hul eie blikbekers leeggemaak en weggeslaan word.

Mmeme se oogbanke sak toe die mampoerwalm haar tref. Sy kyk rond waar Krols is, asof hy onder Naas se voete sou kon inloop. Sy is kundig om te weet wanneer sy Krols aan die witmense kan oorlaat en wanneer sy hom van hulle af moet weghou. Hy is die kind van haar droë pram, sy kyk agter hom.

Sy voel onseker verlig toe sy hom in die verste ligkring sien baljaar met Bongi, die Zoeloe-piekanien van die Engelsman se plaas. Hy het saamgekom vir die perde. Sy keer altyd as Krols op Mimosa wil gaan kuier. Die Zoeloes is te lief vir baie vrouens en vir bloed.

Maar op hierdie oomblik kommer sy haar meer oor Bettakie.

Dié Naas Wang. Solank die ander mensevoete sleep en wange roer, loop staat en suip hy. ’n Manmens bly leeu, al trap hy nóg so saf. Solank hy net nie met Bettakie mors nie. Sy het daai meisiekind grootgemaak in die plek van haar dogters wat sy moes agterlos.

As sy net plan kan maak om by Soois se vrou verby te kom en weer in die huis te kom. Bettakie sal haar nodig hê, want as ’n man eers sy broek oor die katelstyl hang, begin die bobbejaantjies te kom.

Gloeiend dog veilig bereik Naas die kamer. Hoe stil is dit hier. Maanlig val deur die vierkantvenster. Hy verset hom kordaat teen die amperse gewydheid. As Betta hom wil hê, kan sy hom hier kom soek. Die wit sak met die lintstrik waarin die bruidsnagrok gereed lê, gooi hy op die vloer voor hy met skoene en al op die spierwit bruidsbed neerplof.

Die musiek en gedoef-doef van voete vervaag genadiglik.

Klint sit vrywillig verstoot op die ploeg agter die waenhuis. Dieselfde God wat hom nie na wense laat groei nie, hoewel Hy darem ’n komkommerplant oor Jona se kop kon laat opskiet, het weer eens sy sterkste bede verontagsaam: dat dit op die troudag heeldag moet reën, gepaard met blitse soos vurige drietandvurke en ’n donderstorm wat klots en skuim. Maar dit was tot dusver die mooiste somerdag denkbaar, en dis die koelste en oopste aand wat jy kan begeer, met net genoeg maanlig dat almal nie lampe en kerse hoef rond te dra nie.

Hy weet nie hoekom hy dit regtig wens nie. Hy het tog gehelp brandhout aandra vir die bakoond wat dae aaneen gerook het en wat nou so moeg voldaan staan en rus met sy swartgerookte bek. Dis net, niemand dink aan hóm as hulle so vrolik verkeer nie.

Die ploegskare is aangepak met kluiterige grond. Hy en die ploeg is net goed as hulle ’n werk moet doen waarvoor niemand anders kans sien nie. En vandat Franna weg is, is daar baie sulke take. Dis Klint hier en Klint daar en Klint moet orals.

Naby hom is die swierige kapkar van die Goudvelders. Hy is die een wat die menere se perde gevat en gaan versorg het, sonder ’n dankie. Anders sou die goed in die tuig moes staan.

Vanaand mis hy vir Franna meer as tevore. Die verraad van sy weggaan sonder groet. Noord om te jag, sê die spul Bosse.

Hy sou vir Franna vergesel het, wildernis of maan toe, al het hy in die middel van die nag aan die vensterraam kom klop.

Klint hoop opnuut dat die dans ’n klaaglike mislukking weens sy afwesigheid sal word, dat almal ’n vae gevoel van verlies sal ondervind, dat die musikante vals sal speel en sommer vroeg al ophou. Bo hom sidder die lug van sterre. Hy wens hy was liewers dood, maar dit sal vanaand nie eers daarbo lekker wees nie. ’n Skigtige beweging trek sy aandag. Dis Fienie Bos, besig om die dansery te bespied. Sy skrik toe sy hom gewaar.

“Wat maak jy hier?” vra hy sommer vies.

“Ek kyk maar net so ’n bietjie, Klint. En ek luister hoe ta’ Lammie speel. Hoor jy?”

“Ek is nie doof nie.” Ta’ Lammie speel die konsertina beter as almal wat vanaand hul hand daaraan gewaag het. Sy is trouens besig om Klint dood te moor. Sy hart heel laaste, sodat dit nog tot op die end kan klop soos ’n katswink toktokkie.

“Dis vir my so mooi as die rokkietjies so swaai,” sê Fienie verlangend. Haar eie rok is sonder kleur of vorm. “Het jy gesien of Wynand ook gedans het?”

“Haa, wat weet hy van dans? Hy’s nége.”

“Is ook waar. Nou ja, dan loop ek maar eers weer.”

“Ek keer jou mos nie.” Hy troos hom dat Gerrie en Ouma ’n mandjie kos vir die Bosse oorgestuur het. En dat Fienie met haar speekbeentjies nog nie langer as hy is nie.

Naby hom in die skadu’s gewaar hy vir Ouboet Retief, wat stilletjies kom rook het. Hy is veertien, vier jaar ouer as Klint, maar rook nog nie voor oom Dik-Tys nie.

“Jou suster soek moeilikheid,” knor Ouboet toe hy Klint eien. “Met Goudvelders dans en rondloop.” Die groot geboude, blas Ouboet is altyd nors.

“Hoekom dans jy dan nie met haar nie?” waag Klint.

“Dans? Ek hou nie van die geklouery nie. Ek gril behoorlik.”

“Ek wens ék was oud genoeg om te dans,” lap Klint uit voor hy kan keer. En gróót genoeg, dis die vernaamste. Selfs oom Jeroen se Dassies met hul dik lyfies is langer as hy.

“Dié Zaverius is ’n regte laventelhaan, ek kyk hom heelaand al so,” sê Ouboet. “Mooi getooi en fyn gewyn.” Sy oë gloei besete in die dowwe lig.

“Is jy dalk jaloers op hom?” vra Klint. Maar versigtig. Hy is te bly dat Ouboet met hom gesels, al is dit blaf-blaf. Hy voel lankal die trekkrag van die donker persoonlikheid.

“Jaloers, hmf,” sê Ouboet Retief. Hy beweeg nader, ’n stuwing van tabak en lyfhitte en veronregting. Sodat Klint liewers ’n bietjie verder weg staan. Dan lig Ouboet sy kop: “Hoor daar, ’n bakleiery. Daardie twee Goudvelders soek heelaand al skoor.”

“Ek moes hulle kar uitspan,” skinder Klint gewillig.

“Hulle twis met die mak Engelsman. Goed so, wat neuk hy ook altyd hier tussen ons Boere in?” Ouboet bêre sy uitgeklopte pyp versigtig diep in sy broeksak en staan met uitgerekte nek nader.

Hulle luister onder hulle asems. Die stemme bou op. Dit gaan oor Engeland en “old Kroojer” wat die Goudvelde ’n spoorweg weier. Starrenberg voer die woord. “D’you know what the old fool said when he was asked to build a decent road between Johannesburg and Pretoria? He said: ‘It is a waste of money. A road is good when the sun shines and bad when it rains’.”

“That’s what he said,” vryf Zaverius in. Die makassarkuif wat aan die een kant met ’n reguit paadjie hoog opgeborsel was, blink soos ploegsooi, hang nou oor sy voorkop. Die haelwit gestyfde boordjie en mansjette is slap en gekreukel.

“How can you be so ignorant of the fate of your fellow Uitlanders, Mr Brown?” hamer Starrenberg.

“I am no Uitlander, never on your life!” Brown se stem rys hoër.

“Didn’t somebody tell me tonight that you fought with Darcy’s Horse in ’81?”

“I did, that’s true. We were slaughtered. And afterwards? We had been told that as long as the rivers run and the sun shone the Transvaal would remain British. We had risked to stand by England. Would England stand by us?”

“Would she?” koggel Starrenberg in ’n ewe hoë stem.

“No! We awaited what action the Boers would take against us. But it was not what we had feared, and indeed deserved. The Boers treated us with generosity. Do I need say more?”

“Please don’t, or I’ll be swimming in tears. Fine masters they are, refusing the Uitlanders all civil rights.”

“D’you know what the Uitlanders really want? They want dual nationality, reaping advantage from two nations and evading the responsibility of either.”

Skielik is oom Ol daar, reus met baard. “Brown, jy is tussen Boere, praat die Taal! Hierdie twee blikslaers is net so min Engels soos ek. Maar die Boere se kos en meisies is darem goed genoeg.”

Brown stem oënskynlik saam en begin ietwat stotterend sy Taal te voorskyn haal, maar dis nie meer nodig nie. Starrenberg draai met groot demonstrasie na Olav: “This will be the Berserker, I suppose. Wasn’t his mother a witch then?” Dis duidelik dat hy sy ore goed uitgeleen het om beter te kan moeilikheid maak.

Olav steier eers agteroor, dan vooroor. Hy storm met ’n kreet, gryp Starrenberg aan die kraag en gordel en slinger hom dat hy bo-oor die bakoond trek.

Zaverius is volgende aan die beurt, maar rats gee hy pad … ongelukkig langs dieselfde roete wat Stoffel Prinsloo gekies het om ’n gaar skaapboud as wapen rond te swaai. Zaverius val naby Starrenberg, maar darem nie op die bondel hout nie.

Olav, deeglik deurtrek van die stooksel van die laatste oes van die wildste Laeveldse vrugte, struikel grotesk en val met sy yslike gewig ’n gat in die bakoond. Daar is die opstuwende reuk van roet, van gebakte en gebraaide koeke en kosse wat van toeka tot nou vir lief en leed gaargemaak is.

Daar bly hy magteloos lê, met dowwe brulgeluide. Sy suipbuie kom nie te dikwels voor nie, maar is legendaries. Almal drom saam, en menings verskil. Een mompel iets van “So dwaas soos die Bybelse Nabal”, ’n ander reken hy verdien lof omdat hy ten minste een Uitlander goed opgeneuk het.

Wie het hulle in elk geval uitgenooi?

“En so lelik oor ons President praat,” stem Dik-Tys saam. “Hy is nou wel ’n verdomde verskriklike groot ou Dopper, maar …”

’n Nuwe rusie dreig. Stoffel gooi die skaapboud neer “… voor ek dalk aan ’n man slaat wat ouer as ek is. Maar as oom Tys aan my kerk vat, vat Oom aan my. Ek moes vanmiddag saam met my pa-hulle padgegee het.”

“Ek het nou nie so gemeen nie …” Dik-Tys is nie in wese ’n dwarstrekker nie. Hy raas maar net met sy seuns, ’n merendeels onwillige en wederstrewige bende wat met strengheid onder gebring en gehou moet word.

Dis Klein-Pieda Mooibaard, die veldkornet, wat die spul tot bedaring bring. Oor een saak is almal eenstemmig, en dis oor Olav. Hier is nou vir jou ’n Uitlander met ’n Boerehart! So voel almal, hoewel niemand dit naby hom waag nie.

Dit wil sê, niemand behalwe sy eie vrou nie.

Anna-Maria rem oorredend aan die enorme, rukkende liggaam. Sy praat sag met hom en vryf oor sy hare. Totdat Olav, totaal verbluf soos iemand wat ’n voorhamerhou oor die kop gekry het, regop kom en aan haar hand wegwaggel.

’n Rukkie lank heers daar doodse stilte.

Die Goudvelders het soos mis voor die son verdwyn, maar nie voordat Starrenberg in foutlose Hollands geroep het nie: “Dit sal julle berou, julle spul takhare!”

Toe begin Lammie wonderbaarlik, sonder dat sy gesoebat word, met ’n nuwe stuk. Die konsertina riffel soos ’n wurm op trek. Die jol hervat. Ietwat meer gedwee, sodat Lammie wonder of, haar spel ten spyt, die klomp ooit rooidag gaan haal.

Sy speel ’n liedjie uit die Trekkertyd. Sy voel tevrede toe ’n klomp die woorde begin sing:

Die nôi met die rooi polomp,

Die nôi met die vel-kamsool.

Sy is nog meer tevrede toe Jeroen Wewenaar vir Hermana vra. Die kind het vanaand so baie danse uitgesit. In haar bruidsmeisierok lyk sy altevol baie soos ’n bloeisel wat ryp gekry het. Jeroen is bekend as ’n goeie perdeman.

’n Man wat vir ’n perd goed is, is vir ’n vrou ook goed. So maak Lammie haar hoopvol wys en loer ongemerk of haar dogter tog nie ’n trekkie van plesier op haar gesig wil kry nie. Jeroen is glad nie lelik nie en g’n ouer as veertig nie. Hy is ’n skugter man wat sy oë meestal neergeslaan hou en met ’n wollerige baard wat tot by sy adamsappel kruip. Vir sy dogters sorg hy goed.

Maar ai, daardie gesig van Hermana vra na net één man, en dis Frans Viljoen.

Betta benut die moles om weg te glip en na Ingenaas te soek. Hoe durf hy haar net so los? Sy het al goed rondgekyk, maar gewaar hom nêrens nie. Dis Mmeme wat haar op die spoor sit, met ontevrede oogbanke onder die netjiese kopdoek: “Loop kyk innie wit kamer.”

In die vrykamer vind Betta inderdaad haar bruidegom. Op die hoë, wit bed lê hy soos ’n os wat ’n doodskoot gekry het, behalwe dat hy lewe en snork. ’n Wilde walm hang in die kamer. Meteens verstaan sy.

Sy sit die kers wat sy dra, op die wastafel neer. Onsag skud sy aan hom. “Ingenáás, jou skoene op die witte deken! Het jy saam met oom Ol gesuip?” Haar tone is vol blase gedans, en dit verbeter nie haar stemming nie. Dansvoete is soos kaiings, dit moenie afkoel nie, maar haar bruidegom was te gevrek om met haar te dans.

Ingenaas kyk haar aan, verdwaas knipperend voor die werklikheid van sy bruid se verskyning – sonder strooimeisies en strooijonkers en spotters na hulle groottes en soorte.

“Ek wag vir jóú, Meidjie.” Die nuwe liefdesnaam groei vanself uit die noodsaak van die benarde situasie. “Ek het twee doppies gedrink, dis al.”

“Uit wat?” vra Betta uitgeslape.

“Ag, ’n ou bekertjie.”

“Jy ruik soos ’n karba. Jou broer maak daar buitekant moleste, maar nee, jy lê salig en slaap.”

Wie? Stoffel? Moleste?

Betta grendel die deur. “Ek kom ook maar slaap, voor ek my oë uit my kop uit skaam.”

“Ja, gerus,” brom Naas gedwee. Môreaand het hy dalk meer koerasie.

Met haar rug na hom, begin sy uittrek. In die spreiende kerslig sien hy hoe sy met die knopies agter haar rug sukkel. Haar arms is bra kort, en hy durf nie help nie. Hy sal nie eers ’n wawiel kan raakvat nie. Netnou klap sy hom ook nog.

Eindelik het sy al die knopies los. In halwe bedwelming lê Naas deur sy ooghare en kyk hoedat sy die waterval blou-en-pienk valle en plooie oor haar kop trek. Die geborduurde onderrok se bande is los, sy klim daaruit. Op die bondel kom ook die kousbande te lê, en die kouse in twee wit bolletjies. Nou die borstrok. Toe die stuk moordtuig vol baleine, veters en gaatjies met ’n dowwe plof val, trek die mampoer in vlae en stote uit sy kop weg.

Sy hart smelt toe hy sien hoe die baleine haar sagte vlees geknyp het. Sy het dit vir hom verduur. Nou bly net die heel laaste, onnoemlike kledingstuk, pragtig met gehekelde kantjies tot op die kuiltjie-waaie van haar bene. Sy begin rondvoel na die nagroksak.

Stadig dring dit tot Naas deur: Betta gaan nie terug nie. Sy het die ander ontglip. Sy het die deur gegrendel. Sy het uitgetrek, al was dit met die rug na hom toe.

Toe sy nie die nagrok vind nie, draai sy wel om.

Naas se mond word droog soos horing. Die tekste wat hy maande lank in sinnelus aan Hooglied ontfutsel het, sluip sy kop binne: “Uwe twee borsten …” Vir hom maak dit nie saak dat die groot borste reeds soos traandruppels hang, al het sy nog geen kind gesoog nie. Hy vind hulle godgeskape mooi, gekroon met klein, bleekrooi tepeltjies soos dié van ’n wyfiekat.

“Meidjie, ek het ’n gemors van ons troue gemaak.”

“Dit kan jy weer sê.” Betta het die nagrok gevind en aangetrek. Sy trek die haarnaalde uit haar hare, dit tuimel oor haar skouers. Nie so welig soos haar suster s’n nie, maar vir hom genoeg om in te wil verdrink. Sy wikkel die intiemste kledingstuk nou onder die nagrok uit.

“Moet ek vir jou ’n plekkie maak, Meidjie?”

“Nee dánkie, ek slaap sommer op die voetvelletjie.”

“Slaap jy op die kooi, ék sal op die voetvelletjie.”

“Nee, aans kom klim jy langs my in die kooi.”

“En wat as ek?” vra Naas roekeloos. Hy kry ’n spesmaas dat sy ook bang is, en net so skaam soos hy. Hy kry ’n verdere spesmaas dat hulle verder sal kan gaan van waar hulle laas opgehou het, klam gevry in die ouboord.

“O jy darem, Ingenaas …”

Aan die manier waarop sy sy naam sê, kan hy hoor dat die punt van haar tong teen die poortjie tussen haar tande druk.

“En jy dan?” antwoord Naas geswind. Hy smoor ’n lag in sy safte moestas.

Judit was nog nooit so na daaraan om haar oogappel ’n oorveeg te gee nie. Terwyl sy ’n lantern uitsmokkel vir die nagtelike terugreis, en sommer ’n voorraad lekkernye in een van Soois se dooie vroue se platborde pak, sis sy woedend: “Suip en teen ou Kruger praat … nou kan jy die plaas maar op jou maag skryf.” Niemand het help inspan nie, sy moes haar verneder en Mmeme vra om haar seunskind te vra.

“Nou moet ek weer van voor af planne uitdink vir jou. Jy moet vir Gerrie in die hande probeer kry. Sy kan boer, jy kan skoolhou. En onthou, ’n geringde duif kan nog vlieg.”

Net so sê sy, en hy verag haar met al die krag van sy gekneusde gemoed en sy opgedonsde gal, maag en lewer. As kind was hy ongelukkig en so pas is hy deur ’n gaar skaapboud teen die rug getref.

Die pad na Johannesburg lyk ver en donker en gevaarlik. Maar gevaarliker sal dit wees om hier te bly. Die jong Boere-belhamels soek bloed. Hy kom dit agter aan die stille dreiging in die lug. Hulle dans, maar hulle oë soek rond. Hy was ook onnosel om Engels te gooi.

Dis net Bert se gesig, vol blou kolle, stuurs en sonder grinnik, wat hom genoeë gee. Maar wat nou van Stardust? Is dit neusie verby?

Al wapen wat teen Bert oorbly, is Memorie. Hy sal dit gebruik so goed hy kan. As Sister maar net sal saamspeel.

Middernag kom nader. Lammie trek die blaasbalk behoorlik oop vir ’n polka. Die vinnige, springende bewegings kan die jongklomp se aandag van die bruidspaar se verdwyning aftrek.

Daar is vir elke vrou maar een eerste keer, en sy onthou die ontsteltenis van met ’n man te wees. Hoe fors was Tys, hoe driftig, ’n man wat haar buik ná elke speentyd weer met seuns gevul het. Dit wil nou sê, ná die dogter Hermana.

En nou nog kan hulle mekaar soms verteer.

Lammie speel. Daar moet deurgedruk word rooidag toe. Haar deel sluit sy gewoonlik af met die Hanekraaiwals. Daarna is almal tevrede. Die minderes neem oor, en sy kan ’n lêplekkie langs Tys gaan soek.

Die eerste grou lig stoot skaars deur die venster, of Ingenaas word wakker.

Hy luister. Het Betta in haar slaap ’n suggie gegee? Of iets by die venster? ’n Kat? ’n Fris bries met die reuk van nag-aarde waai na binne. Hoe koel is sy wange. Deurnag was hy van die musiek en gedoef-doef van die dansery bewus, hoewel daar nou ’n verposing is. Stemme gesels laggerig loom, maar dit raak hom nie. Vas teen hom lê Betta, haar lyf warm en sag. Om te dink hy mag die res van sy lewe langs haar slaap. Hy buig oor en soen saggies haar mondhoek. Sy roer.

“Meidjie? Dink jy daar is vuur, of moet ek gaan maak?”

“Dis nog vróég, Ingenáás.”

Maar Naas is so lus vir boeretroos dat hy kan vrek. Sal die klomp hom uitlos as hy opstaan, of sal hulle wraak neem oor gisternag se ontvlugting? “Ek gaan soek vir ons ’n koffietjie,” kondig hy ferm sorgsaam aan.

“Sommer vir my ook ’seblief ’n bietjie, boetie Naas,” versoek ’n stem van onder die bed.

Betta maak ’n geluidjie soos ’n kriek wat sterwe.

“Daar was nêrens vir my ’n ander lêplekkie nie,” sê Wynand, terwyl hy te voorskyn kruip.

Ingenaas weet nie hoe hy op sy voete gekom het nie. Hy soek sy vertroude bromstem, maar daar kom iets oerbosagtigs uit. “Jou satang! Wat soek jy hier?” Hy gryp wildweg, laat die waskom van die wastafel af kletter.

“Toe maar, geen bene gebreek …” begin Wynand sy beproefde formule, maar kom gou agter dat dit in hierdie omstandigheid nikswerd is.

“Boetie Naas,” begin hy skaamteloos soebat, “op my erewoord …” Hy mik na die venster, sien hy gaan dit nie haal nie, swaai kortom en duik deur toe. Die grendel steek vas, maar nood kry dit oop. Hy trap met sy lang bene skots en skeef tussen kermisbeddens deur.

Lywe met gesigte – baarde, vlegsels, slaapmusse, penkoppe – rys op elke denkbare en ondenkbare slaapplek orent. Jonges wat in hoekies en om draaie gevry het, loer uit.

Hulle sien hoe Naas Wang in sy wit naghemp teen ’n vloekspoed vir Wynand om die huis jaag.

“Jou lae etterpluksel!” Die bloed donder in Naas se ore. Sy bene werk soos ystersuiers. Maar sy wange is ys-yskoud, asof die dood op hom is. “Jou varkeier! Ek skiet jou morsdood vrek as ek jou in die hande kry.” Maar sy skoonpa het al die gewere vir die kleintjies weggebêre. Naas buk en tel enige ding op waarmee hy kan gooi: ’n skoen, ’n speelding, ’n klip, ’n perdeskoen, grond.

Wynand hol slingerend soos ’n veldhaas. Hy besluit om Naas Wang af te skud deur een keer reg rondom die huis te hol en dan in te duik by Franna se buitekamertjie. Klint en die tweeling slaap daar. Hy self het nooit vannag geslaap nie, bang dat hy nie betyds vir sy plan sal wakker skrik nie.

Brandasem tuimel hy oor Klint se slapende liggaam. “Steek my weg,” hyg hy, “Ingenaas maak my vrék!” Só vryf hy sommer die feite by Willem en Tysman in.

“Vanmôre kraak jou akker,” kom ’n profesie eindelik uit die kooigoed los.

“Ou Splint, ’seblief! Ter wille van oorle’ ma.”

Die regte snaar is geraak. Sonder ’n woord smyt Klint die kombers skuinsweg oor Wynand, wat ongemaklik vasgevang lê tussen die muur en die ysterkateltjie.

Ingenaas vermoor nie sy nuwe swaertjie nie, hoofsaaklik omdat dié soos ’n groot speld verdwyn het. En ook omdat Betta, tjalie om die skouers en kaalvoet, agter hom aanhink en snerpend gil: “Ingenáás, ráák jy net vanmôre aan my boetie, dan lós ek jou.”

Naas kom tot stilstand soos ’n bokwa sonder remskoene. Lós? Ná verlede nag?

“Dis goed jy’t my gekeer,” brom Ingenaas hortend. “Vanmôre het ek amper kwaad geword.”

“Het julle nou mooi gehoor?” fluister Wynand hard toe alles weer stil is. “Naas Wang was so kwaad, hy wou my skiet. Ek het klaar die engeltjies gehoor sing.” Sy triomf wankel voor die groot stilte vanaf die vloerkooi. “Haai, julle twee, ek sê …”

“Sjjjt,” sis Klint. “Jy maak hulle wakker.”

Verbyster hoor Wynand die swaar asemhalings. “Ou Splint, sal jy hulle vertel hoe kwaad Naas Wang was? Ek het hulle gewed ek sal hom op sy troudag kwaad kry.”

“Dis nie vandag sy troudag nie. Gíster was,” sê Klint snydend. “En natuurlik sal ek nie. Want wie’s jou Splint?”

“Ek bedoel Klint. Ou Klinta?”

Stilte. Dan ’n verveelde sug: “Jááá tog, ek sal.”

“En nie vertel dat ek dit abuis het met die dag nie?”

“Nee. Ek het tog niks met julle lawwigheid te doen nie.”

Wynand vind dat hy bewe. Gelukkig vra Klint nie uit nie, want hy is nie lus om ooit daaroor te praat nie.

Dit het gevoel of hy in ’n tempel oortree toe hy flus deur daardie venster klim en onder die bruidsbed inskuif, versigtig om nie teen die koos te stamp nie. Hy sou graag weer wou uitsluip, as Naas nie te gou vir hom was nie.

Hy weet nie eers mooi hoekom ’n bruidspaar so geterg word nie, asof hulle skandelik handel deur te trou. Hy onthou net hoe hulle daar op die bed gelê het, styf teen mekaar.

Byna soos twee dodes, soetjies tesame in een graf.

Oom Ou-Willem spits sy ore onder die slaapmus. Hy het in die stoepkamer geslaap, met iemand wat hy nie weet wie dit is nie, op die ander kooitjie. Hy het vroeg wakker geword, presies soos die Prediker sê: “… en hij opstaat op de stem van het vogeltje …”

Dis ’n gawe bruilof, besluit Ou-Willem. Die jongklomp was heelnag aan die gang, en daar begin hulle alreeds weer. Maar as hy nie geweet het dis ’n gekorswel nie, sou hy kon dink dis ’n geskoor. By tye word die helse pret kompleet soos die krete by … Gods, waar nou weer? Dit weerklink deur sy kop soos sweepklappe uit die ou tyd.

Daardie voordagmôre het hy uitgevind dat droë bloed kan klou soos soetdoringgom. Sy ma se hand, stokstyf en koud, het in sy hals vasgesit.

Ou-Willem kreun soos ’n afgeleefde trekdier op die wintervlaktes. Hy voel na sy kierie. Dit staan reg by die koppenent, waar hy dit altyd neersit. Die kierie is veilig, die kierie met sy houtgeheim. Hy is altyd bang dat ’n kind of kwajong dit kan vaslê, almal vind die omgekeerde skoentjiekop so oulik.

Hy trek die deken oor sy baard op, maak sy oë vermoeid toe en wag dat die koffie, die son of die Heiland moet kom.

Vuur op die horison

Подняться наверх