Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 11

6

Оглавление

MEI 1898

Melktyd is Naas se grootste behae.

By die krale woel en wemel dit in die laaste sonlig wat rooi deur die misstof syfer. Die koeie bulk ongeduldig as hulle met vol uiers uit die veld kom, die honger kalwers antwoord uit die hok. Elke koei ken haar beurt, want hulle word in vaste volgorde gemelk. Elke kalf wat deur Kokka uitgelaat word, vat die draai fyn om sy ma sak te suip. Word hy weggedruk, suig hy met sy warm tongetjie sommer aan een van die kinders se gretige vingers. Want niks of niemand kan die kinders weghou wanneer Vadie saans melk nie. Hulle is die ene gretige gevreetjies.

Ignatius Prinsloo is ingenome met sy vyf kinders, sy liefkentjies. Hy verlustig hom daagliks in hulle warm gelag, hulle vuil handjies, die magies volgestop met kos. Soms speur hy onderlangs in Betta se gesig om te sien of sy dieselfde verwondering as hy voel omdat hulle soveel lewe en beweging in aansyn kon roep. Maar sy gaan so ongeërg haar gang asof hulle sommer uit die lug geval het.

Met elke geboorte sit Naas betyds die perde in die kleinkampie om haastig vir ta’ Lammie te gaan haal as dit nodig word. Die nag van die geboorte, want dis mos meestal snags, slaap Naas in die vrykamer. Dis sy enigste nagte weg van Betta in die byna nege jaar.

Nie dat hy juis slaap nie, hy waak maar en dwaal rond. Die oomblik dat die kleintjie skree, skiet hy ’n vreugdeskoot af wat in die lug weergalm. Hy gaan in geheimenis die vlieserige moederkoek begrawe. Eenkeer, voor hy hom kan besin, druk hy sy vinger daarin en proe die vrugwater. Souterig. Hy trap die grond vas, trap op die dood. Want die nuwe lewe lê in Betta se arm.

Klein, rooi wurms, almal volmaak geskape. Hy merk ’n verskalf en ’n ooilam, vir elke kind ’n eie oormerk. Kokka – hy heet na oupa Klaas, maar het homself Kokka van Gogga begin noem – se merk is halfmaantjie van voor, Jacobet halfmaantjie van agter. Zoetjie is swaelstert, Liefie stompoor, Fransie winkelhaak.

Die wriemelaars swel spoedig uit tot sterk, gesonde babas wat vir Betta skoon oor is. Sy soog maar moeilik, en binne die eerste week moet die pypkan bygesit word. Maar hulle kry vars, gesonde koeimelk. Met Fransie was dit ’n storie, weens die runderpes wat alle vee opeis. Maar ’n boer maak ’n plan. Naas het ’n donkiemerrie wat in die melk was, by die agterdeur vasgemaak gehou. En is Fransie nie gesond nie!

Die aandwind is geniepsig vir vroeg Mei. Kort-kort dwarrel dit so sterk dat die melk tussen uier en emmer wegwaai. Die kraalreuk hang skerp in die lug. Die dogters se wange is rooi. By hulle bottergeel vlegsels laat dit hulle soos lappoppe lyk.

Betta versorg hulle waarlik goed, dis eenderse voorskootrokkies en dis altyd kappies in die son en selfs ferweelhandskoentjies, partykeer te fyntjies na Naas se sin.

Kokka beman die kalwerhok. “Uitjaag!” roep Vadie, en Kokka beur die populierhek oop teen die gedruk van hongerige kalwerlywe. Die kuns is om die regte een deur te laat en die ander voor te keer. Sy voete word pimpel en pers getrap.

Hoe het hy dit gemis tydens die pes, toe al hulle geliefde diere gevrek het. Aasvoëls het oor die plaas gesirkel. Vadie het die dooie diere weggesleep en verbrand. Daardie aaklige skroeireuk is nooit te vergete. Vadie het die krale ontsmet en nuwe, gesoute vee en perde aangeskaf. Nou is daar weer ’n gebulk, en melk ruis in die emmers. Mmeme loop baie maal met die emmer op haar kop om vars mis vir die vloere te haal. Die weiveld het ook gerus. Die beeste is blinkvet in skof en boud. Kokka is lief vir vee, dis sy hele lewe.

Vanaand voel Kokka se keel ’n bietjie dik. Sy ooms, Klint en Wynand, is vroemôre weg om vir Franna in Afrika te gaan kuier. Tot Karools is saam. Kokka is lief vir sy ooms. Wynand veral kan jou terg tot jy huil, soos as hy sê jou melktande sal suur word, of dreig om jou naeltjie los te skroef dat jou boude uitmekaarval. Maar hoe meer Wynand jou terg, hoe minder kan jy van hom wegbly.

Kokka en Janke het probeer planne uitdink om saam Afrika toe te gaan, maar die grootmense sal uitvind en hulle swaar straf. Janke is Kokka se lekkerste maat. Hy is Moedie se kleinboetie en woon in Pretoria.

As Janke hier kuier, sien Moedie hulle nooit met ’n oog nie. Maar arme Janke moet deesdae skoolgaan, terwyl Kokka en Jacobet sommer by Moedie les kry. Eintlik is Janke se lewe op die dorp nie so sleg nie. Hy kan heeldag by oom Ol-hulle en grootouma Gertruida kom. En dan, lekkerste van alles, het oupa Soois ’n winkel met flesse vol lekkergoed. Janke mag help om pakkies suiker en meel af te weeg.

“Vadie!” gil Jacobet skielik dringend. “Kom góú!”

Naas storm nader met die hokstok, menende dat ’n snoep kalf haar omgestamp of ’n stertkwas deur haar oog geswiep het.

“Ek kan mélk!” jubel Jacobet, haar linte flappend in die wind, haasbekkie een wye lag.

Naas kyk verwonderd en trots. Sowaar, die klein vingertjies kry ’n paar druppels melk uit die dik, sponserige speen gedruk. Kokka is sommer vies oor die bohaai. Jacobet het vandag vir Moedie vertel dat hy die broeis hen met ’n uilveer gegooi het. Gelukkig het Moedie nie uitgevind dat hy ’n kluit aan die uilveer vasgemaak het nie.

Eindelik is die kalwerhok en die kraalhek stewig toegemaak. Naas is met sy kleine bende en die twee melkemmers op pad na die huis wat soos ’n dof verligte ark onder die akkerboom sit. Hy wonder hoe ver Klint-hulle vandag gevorder het. Hulle het lank gesukkel om ’n gesoute span osse bymekaar te kry. Een kleur is buite die kwessie, ná die runderpes is daar net bontspanne.

Nou gaan dit deur die genade met die land weer goed. Die veestapel het herstel, die verraderlike Jameson-inval is afgeweer, daar was genoeg reën en geen sprinkane nie. Behalwe in die Soutpansberge, is die land skoongemaak van stamoproer. Nuwe huise word gebou, daar loop verewaens en Landauers op die wapaaie, met Nagmaal is dit langtentwaens wat skitter in die son. Daar is selfs van die vooruitstrewendes wat goewernantes vir hulle kinders laat kom. Naas is tevrede dat Betta self hierdie taak verrig. Hy wil nie vreemdes by hom in die huis hê nie.

Stilweg is hy bly dat die swaertjies ’n slag weg is. Wanneer laas was hy alleen met Betta en die kinders? Modjaa wou nie saamgaan om pad te wys nie. Jy sal sweer hy het ’n spook daar in anderland gesien. Nou ja, hulle sal Frans wel vind. Hy is glo al ’n bekende jagter.

Deur die jare was daar af en toe tyding. Op ’n keer het hy Kootjie se wa, goed gerepareer, met ’n span gesoute donkies saam met ou Jan Muisnemer gestuur.

Die afgelope jaar was hy stil. Ouma Gertruida was bekommerd. Sy is ’n vrou wat te voet deur Afrika gereis het, sy gaan nie sommer op hol nie. Maar kort ná die Jameson-affêre het dit gegons oor ’n opstand in Matabeleland, waarin baie witmense glo vermoor is.

Toe Naas in bandelose vaderskap aankom, verskyn Betta op die stoep, haar voorskoot ’n wit vlek. Sy sal dit nooit erken nie, maar sy is saans so bly as sy Naas sien aankom. As dit skemer word, wil ’n vrou haar man hê.

En die sononder wás vanaand so rooi en godverlate. Die boeties ver weg, die eerste winterkoue op hande. Sy verlang so na haar mense. Op ’n tyd was hulle almal saam op Grootverlangen. Hoe kan dinge nie verander nie. Gerrie sit in Kimberley, haar pa op die dorp. Sy verkwalik vir Móvver wat ’n laatlam moes kry, wat gemaak het dat Kokka maar tweede viool by haar pa speel. Maar nou ja, Janke is ’n oulike kind.

Fransie, wat in ’n flenniekombersie op Mmeme se breë rug skommel, begin sy bene en arms soos ’n skilpadjie roei toe hy sy pa en die kinders gewaar.

Die drie dogtertjies, Liefie self nog op onvaste bene, bestorm vir Fransie.

“Wag nou, julle vertrap hom,” betig Mmeme toe sy die abbakombersie losknoop en Fransie grond toe laat sak. In sy wit rokkie waggel hy verby die grypende hande om by Vadie uit te kom. Naas swaai hom boontoe en hoor die vol pensie soos ’n waterkarretjie ghloek-ghloek.

“Nou kom ek was julle,” kloek Mmeme die klomp bymekaar. Sy het reeds ’n hopie skoon klere en die sinkbadjie met warm water voor die vuurherd reggesit.

“Dis skielik koud,” sê Betta toe Naas haar in die spens met die melk help, “dis goed ek het gister die verekomberse uitgehaal en gelug.” Sy laat dit so huislik klink. Naas onthou menige salige winternag onder die verekombers saam met sy vrou. Hy het met Betta getrou omdat hy haar liefhet, en nou het hy haar lief omdat hy met haar getroud is. So eenvoudig is die storie van sy lewe.

Betta druk die melkdoek met hande en voorarms om die skottels vas, terwyl Naas die melk ingooi. Sy is deeglik maar aan die stadige kant, Naas het al goedig gewonder hoe sy in die Groot Trek sou gevaar het waar die vrouens soms die gewere moes help laai. Maar alles in die spens is in die reinste orde, die boonste rakke belaai met flesse glaserige konfyt.

Betta vat die doek se punte bymekaar en lig dit op sodat die laaste melk kan deursyg. Sy tuur na die misstof wat agterbly.

“Die wind het so gewaai,” brom Naas.

“Toe maar, dis niks.”

Die blydskap giet deur Naas. Dis duidelik dat sy hom vanaand goedgesind is. Partykeer is sy ook maar vol verskonings, dan voel hy soos ’n hond wat te min kos kry.

By die vuurherd gaan sy die vetkoek in die ysterpot omkeer, witpens bo.

Daar is baie plek voor die herd, en die vuur bied vir almal warmte. Die skuimbolle staan soos Mmeme te kere gaan. Die kleintjies word deur die week staan-staan gewas, met hul onderhempies aan. Saterdag is baddag, dan word daar water in ’n lampolieblik warm gemaak en hulle sit plat.

“Maak reg om aan te sit, Ingenaas,” sê Betta.

Naas smag stilweg dat sy hom soms Pa moet noem, soos ander vroue maak. Dit sal die kroon op sy vaderskap wees. Hy syg op die punt van die riempiesbank neer. Noudat dit koud word, eet hulle saans sommer in die kombuis. Hy kyk hoe Betta alles opdra – vetkoek, vars melk, goudgeel botter, gestampte biltong en fyn waatlemoenkonfyt, wat die kinders vlooikombersies noem.

Jacobet in nagjurkie help vir Moedie – alte versigtig, so spanningsvol die reis tussen koskas en tafel. Dan kom sy op Vadie se skoot klouter. Wanneer sy ook al kan, druk Jacobet haar groot broer en die drie kleintjies uit. Sy neem vir Vadie in met armpies om sy nek, plukkies aan sy moestas, vuisies in sy oë. As hy kastig haar ogies uitsuig, gil sy van pret. Altyd as dit rooktyd is, bring sy vir hom die tabaksak van fluweel met die geborduurde haan op, wat hy net ná ete en vir beste gebruik.

Partykeer, as Vadie in die veld of op die lande is, ruik sy sommer aan sy ou baadjie wat aan die kapstok in die eetkamer hang.

“Antjie was laatmiddag hier om jou te sien,” vertel Betta toe die kleintjies ná die ete en Boekevat almal in die bed is. Sy dek af en gooi die krummels buite vir die hoenders en ander pluimvee wat smôrens vroeg kom rondskrop. Mmeme is met ’n slopie vetkoek reeds weg stroois toe.

Naas was hom sommer in die kinders se water. “Wat wou Antjie hê?” vra hy veilig uit die voue van die handdoek. Hy voel skoon lam as mense met probleme na hom toe kom. Gee hom liewers ’n gebreekte ploeg of ’n siek kalf.

“Sy kla oor Kootjie. Hy het nou die plan in sy kop gekry om ook met sy kinders te speel, soos jy. Toe het hy die kleintjie se arm laat seerkry. Ek het maar smeergoed gegee.”

“Nou is hy dan mal in sy kop?” weer Naas die verborge aanklag af. Hy’t mos nie gesê Kootjie moet die kind se arm seermaak nie. ’n Man moet soos ’n groot hond sy krag ken en reg aanwend.

“Antjie is nou bang die Goewerment deel vir hom ook ’n geweer uit. Sy sê hy sal hulle verongeluk.”

“Hy sal g’n ’n geweer kry nie, hy’s nie ’n burger se agterent nie. Kamp oppas, ja. Nie eers perde nie.”

“Nou ja, Antjie vra jy moet omsien.”

Hoe het hy hierin beland, om met die Goewerment oor Kootjie Bos te moet onderhandel? Naas kry ’n teisterende beeld van hoe hy die President in die Raadsaal voorstaan. Hoe noem mens hom? “U Edele” of sommer “Oom Paul”? Ouma Gertruida is mos huisvriende met hulle, maar hy is nou ongelukkig nie ’n Viljoen nie. Hy is mos áángetroud.

“Wat ís al hierdie oorlogstories, Naas?”

“Ek weet maar net so min of so veel soos jy.” Naas vermy dit om op die dorp te kom. Orals staan groepies mans en rook dat die bloue dampe so staan. Hulle praat dat die Regering sedert die Jameson-inval op groot skaal wapens opgaar. Dat Engeland ook klaarmaak vir oorlog en net ’n vonk in die kruitvat soek. Hulle soldate, en kanonne staan klaar op die grense.

Om in Pretoria oor te slaap krap mens net om. Die bonkige klipforte wat in die heuwels rondom gebou is, het soekligte wat snags wyd rondvee. Die pad na die Rand moet glo verlig word, vir geval daar weer invalle kom. Verdomp, hulle moes harder teruggeslaan het, die President was gans te genadig.

’n Bang haar het Ignatius Prinsloo nie op sy kop nie. En vat jy aan sy vaderland, dan vat jy aan hom. Hy was al etlike kere op kommando. Teen Modjadji, teen Malaboch. Teen Magoeba is hy kwytgeskeld weens huislike omstandighede, Fransie se geboorte. Teen Jameson en sy invalsbende het hy, soos elke burger, opgeruk soos ’n vetgesmeerde blits. Dit was begin ’96 en almal was bymekaar vir die Nuwejaar.

Dis net, hoe meer en hoe ouliker sy kinders word, hoe angstiger raak hy dat hy gedood kan word. Vyf klein wesies, en Betta ’n weduwee. Dan sal Willie Brown haar seker vat. En stief met die kinders werk.

Verdomp, hy gaan sorg dat hy by die Engelsman spook.

Kokka slinger tussen slaap en wakker op sy kateltjie. Hoe kon hy ooit oorweeg om saam met die ooms te gaan, diep in Afrika in? Die wind word al hoe sterker. Daardie gerasies op die solder … wat kan dit wees? “Vadie!” gil Kokka toe hy dit nie meer kan hou nie.

Daar kom kerslig deur die eetkamer aangewobbel. “Wat is dit dan, Kokka?” brom Vadie. Hy het sy naghemp aan en bring ’n warmte saam met hom.

“Daar’s iets op die solder, Vadie,” klaag Kokka.

“Dis muise,” sê Vadie.

“Ek kan glád nie slaap nie, Vadie.”

“Jy hoef nie te slaap nie. Maak net jou ogies toe dat hulle kan rus.”

“Ek en Janke wou ook saam weggeloop het Afrika toe,” bieg Kokka halsoorkop.

“Dis goed julle het nie, Moedie sou haar oë uit haar kop gehuil het oor haar grootseun.”

Vadie druk die verekombers wat ná die somer nog vreemd voel, styf om Kokka vas. “Kom, Vadie sit ’n bietjie hier by jou.”

Kokka word loom. Dit voel of daar lou geldstukke op sy oë gelê word. Die gerasies op die solder word stil.

Naas waag dit eindelik om op te staan. Terug in die kamer, klim hy behaaglik langs Betta in. “Kokka dog hy hoor iets op die solder …”

Betta antwoord nie. Solank hy weg was, het sy op haar ander sy gedraai, weg van hom af. Toe Naas die kers hoër lig en oor haar buig, sien hy dat sy slaap. Haar oë is toe en sy haal diep en rustig asem.

“Aggenee,” sug Naas verslae. Hy wil verydel op sy rug terugsak, toe hy haar sien loer deur halfgeslote wimpers soos gebreekte spinnerak.

“O, jy darem.” Hy lag in sy snor.

Net toe hy die kers doodblaas, begin die hond blaf. Dan hoor hulle ’n perd op harde galop die werf opkom. Naas vlieg op. Dis nie sommer ’n veldperd wat jolig die nag oopdraf nie, dis ’n ruiter wat met spoed aankom.

“Een van my boeties het iets oorgekom,” ys Betta. Dan tref die tweede moontlikheid haar met krag: “Ingenáás, of sê nou dis die kommandeerman?”

“Oorlog?” skrik Naas. Die hartstog het hom volkome verlaat. Hy kyk deur die venster. “Ouboet Retief,” eien hy die ruiter se sit. Hy vroetel en trek ’n vuurhoutjie. Die kerspit is nog warm en vlam gewillig op.

“Hy is hulpveldkornet.” Betta, bleek soos was.

“Ek gaan hoor.” Die woorde is skaars koud, of daar word hard aan die eetkamerdeur geklop. Naas pluk sy broek bo-oor die naghemp aan, slof velskoene aan sonder om vas te maak. Hy gryp die blaker.

Dis soos die Skrif sê, niemand ken die uur nie. Mens gaan aan met jou daaglikse werk, maar die gedagte aan oorlog wyk nooit rêrig uit jou kop nie.

Hy maak die deur oop en groet ewe ordentlik, maar Ouboet steek nie eers blad nie. “Waar is sy?” vra hy.

“Wie?” gaap Naas hom aan.

“Hermana. Waar steek julle haar weg?”

“Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.”

Ouboet moet sien dis die waarheid, want hy kom in en haal sy hoed af. Sy vaalswart kuif lê alkante toe. Vir Betta, wat met ’n tjalie om die skouers verskyn, soengroet hy darem, maar hy bly stuurs. Hy stop toe Naas sy tabaksak bied.

“Hy soek vir Hermana hier by ons,” sê Naas.

“Nou wat sal sy hier maak? Ek het haar wanneer laas gesien.”

“Sy’t gesê sy kom hier kuier. Gister. Sy sou vanmiddag terug gewees het.”

“Sy’t seker maar van plan verander. Het sy nie afgedraai Wolwepan toe nie? Sy en Dirktinia van Klein-Pieda kuier mos graag. Wat maak dit nou saak as sy nog ’n naggie oorslaap? Sy kom nooit uit nie. Kom ek skink eers.” Betta voel aan die koffieketel wat nog lou is.

Ouboet drink met groot slukke. Hy wil nie afsaal nie, het net die buikgord laat skiet. Hy dra nie groete oor, vra nie na hulle welstand nie. Kom dan eindelik uit met die mandjie patats: “Sy het geweet oom Pieda Mooibaard kom vanaand konsente vra. Hy en my pa het so ooreengekom. Toe sit oom Pieda daar soos Piet Snot. Sy’t aspris padgegee.”

Naas en Betta luister verbaas. Oom Pieda Mooibaard? Om en by sestig al. Sy stuurs ou vrou, ta’ Liesbet, is laas jaar oorlede. Hy is pas uit die rou.

“Dalk wíl sy nie met die ou man trou nie,” sê Betta reguit.

“Sy kan slegter doen,” weifel Naas. Hermana sit per slot van sake op die rak. Oom Pieda is fors gebou, mooi van aansien met die krulbaard, en sit goed daarin.

Ouboet se blik wil maar al huisin dwing, sodat Betta hom skerp aanspreek. “Dink jy dan nog ons lieg?”

“Dan weet ek nou nie. Sy het gesê sy kom hiernatoe. Sy en Janke is by die huis weg met my ma se bokkiekarretjie.”

“Janke?” vra Betta. “Wat het Jánke by júlle gesoek?”

“Wel, ek was op die dorp by oom Ol se plek, toe kom hy vra of ek hom sal oplaai, sy ma het gesê hy kan by julle kom kuier, en dis al halfpad.”

“Maar dis nie vakansie nie, my stiefma sal hom nie uit die skool vat nie.” Met onrus dwaal Betta se blik agter die swiepgang van ’n vlermuis aan, hoedat dit feilloos elke botsing met die houtbalke en die muur vermy. Gewoonlik gil sy op Naas as die goed in die huis kom.

“Behalwe as hy weggeloop het,” sê Naas. “Saam met Klint-hulle. Kokka het vanaand sy mond verbygepraat. Ek het dit nie ernstig opgevat nie.”

“Maar my magtig, Ingenaas! My pa slaan dood neer,” hyg Betta. Eintlik Judit, maar dié verlies sal nie so groot wees nie.

Hulle swyg al drie voor die verdere waarheid wat homself ontvou. As Janke weggeloop het, het Hermana dit ook gedoen.

“Dalk is dit ’n hele afgespreekte ding,” sê Naas verward. “Dit sal Wynand wees wat agter alles sit.” Sedert sy bruilofsnag vertrou hy sy swaertjie net sover hy hom kan sien.

Naas ys dat Betta van hom kan verwag om op te saal en in die nag die broers agterna te ry, iets wat dae kan duur. Hy weet nie eers watter pad hulle gevat het nie, hy was so bly toe hulle koers kry.

“Ek weet nie wat my te doen staan nie,” weifel Ouboet met ’n frons. “Moet ek hulle gaan soek, of moet ek huis toe, of wat? My pa en ma het sleg stry gekry oor die saak. My pa dink my ma sit daaragter.”

“Dalk nie te onmoontlik nie,” sê Betta, “as jou pa vir Hermana aan ’n óú man wou afsmeer.”

“Iémand sal iéts weet,” besluit Naas om ’n rusie af te weer. “Ons sal ’n boodskap of ’n tyding van ’n aard kry, hoor. Dis nou nag, ons kan niks doen nie.”

“Dis seker waar.” Ouboet lyk verlig. “Nou ja, dan ry ek maar. Ons sal van nou af sukkel met weiveld, dis klaar. Oom Pieda is goed beneuk daar weg.”

“Hoekom slaap jy nie maar oor en staan met hanekraai op om te ry nie?” vra Naas ter wille van gasvryheid. Maar is bly toe Ouboet bedank. Sowat van onrus kan hy nie veel nie. Ouboet Retief is drie en twintig, en het nog nie eers ’n nôi nie. Snaakse kêrel, niemand verstaan hom nie.

Naas se hele fut is uit toe hy die soveelste keer in die bed klim. Betta is omgekrap. “Hulle wou haar vir weiveld verpand,” sê sy. “Julle mansmense.”

“Wat het ek nou gedoen?” wil Naas veronreg weet. Hy het drie dogters, en hy sal nooit ooit munt uit hulle probeer slaan nie. Hy pas hulle nou al soos klontjies goud op.

Betta luister nie eers nie. “As dit waar is van Janke, kan dit maande vat voor hy terug is. Ons moet môre dorp toe en met my pa-hulle gaan praat. En vir Gerrie ook laat weet. Sy is so erg oor Janke, mens sou sweer hy’s haar eie kind.”

“En wie sê hy is nie?” Naas het jare lank geswyg, maar skielik kan hy nie meer nie.

“Wat?” vra Betta met ’n honende laggie.

“Ek sê, wie sê vir jou hy ís nie Gerrie se kind nie?”

Hy weet nie hoe Betta so vinnig uit die bed gekom het nie, maar hy sien die wit vlek van haar nagrok waar sy op die springbokmat staan. “Watse twak is dit? Het jy van Kareekraal af hier kom inkruip om ordentlike mense te beswadder?”

Haar stem is hard, Fransie knies. Sy haas soontoe en sus hom hewig. Sy bly onnodig lank oor die bedjie gebuk staan.

Naas weet ook nie hoe hy self op die kant van die bed beland het nie. Die ánder kant, verste van waar sy staan. In die middel is die wit, omgewoelde niemandsland. Seerder kon Betta hom nie gemaak het nie. Sy, die vrou van sy liefde en die moeder van sy kinders. Vroeër vanaand wou hy haar so graag gehad het, maar nou voel hy om tot in der ewigheid nie weer naby haar te kom nie.

Ná ’n tyd voel hy Betta soos ’n hanslam teen sy bene druk. “Ingenáás … mag die Here my slaan, ek is ’n gewitte muur. My eie pa is die een wat hier kom inkruip het, hy het niks gehad nie. Praat met my.”

Hy wil, maar hy kan nie, dis te swaar, hy weet nie hoe nie. Hy dink daaraan dat die Viljoens mense is wat nie maklik toegee nie. Daar is altyd een wat die wang hou, en een wat die wang soen. Die Viljoens is dié soort.

Maar vannag kniel Betta op haar knieë voor hom. Waar haar wang teen sy knie druk, dring ’n klam kol deur. “As dit so was, sou ék dit tog geweet het, Ingenaas. Ek, haar enigste suster. En wie sou altemit die pa kon gewees het? Gerrie het daardie tyd nie eers ’n kêrel gehad nie.”

“Jy is reg, jy is heeltemal reg.” Dis nie Naas se gesonde bromstem nie, dis die afgemete stem van ’n vreemde. “Ek vra askies, Betta. Ek het julle te na gekom.”

Hy is immers ’n man vir vrede. Maar het Betta nooit gewonder oor die skielike dorp-toe-trekkery van Soois en Judit nie? Gerrie wat moes saam, kastig om vir Móvver in haar toestand op te pas, terwyl sy die vroumens voor haar oë nie kan verdra nie?

Betta weet niks, níks. Sy het daardie tyd vir Kokka begin verwag en het nie onnodig rondgery nie.

Maar Naas het gereeld by Soois-hulle se dorpshuis aangegaan om vleis te vat en boerdery te praat. Hy het nogal in die gesig gevat gevoel omdat sy skoonpa hom selde huis toe nooi, sommer in die winkel te woord staan.

Sulke tye is Naas maar na die Ostfedts toe.

Op ’n dag, nou net mooi agt jaar terug, gaan hy heel eerste by Soois se huis aan, wil die skottel vleis afgee want die lug is bedompig. Hy hou sommer by die voordeur stil en draai die leisels vas. Sal tog nie kuier nie.

Die bediende is die stoep aan ’t vrywe en die voordeur staan wawyd oop. Gerrie verskyn in die gangdeur. Hy skrik half. Is sy dikkerig van lyf, of nie?

Toe hy weer op die dorp kom, is Gerrie en Judit weg. Johannesburg toe, verklaar sy skoonpa. Daar is ’n goeie dokter naby wie Judit moet bly, en Gerrie is saam om haar by te staan. Hy, Soois, sal partykeer maar daar vir hulle gaan kuier.

Jannart Viljoen en Kokka Prinsloo is met Nagmaal saam gedoop, vroeg in die lente toe die pruimbome blom.

Betta se wang teen sy knie druk harder, been teen been. Onverwags vou sy haar hand vol oor sy manlikheid.

Onder die naghemp word sy vlees soos raap.

Met ’n smartlike kreun gryp hy haar vas.

Naas luister na die wind wat vertel van allerlei dinge, te groot vir sy eenvoudige gemoed. Dinge van die hede, verlede en toekoms. Die geskiedenis van sy klein lewe en sy huwelik. Die ontsaglike nuwe wete dat dit die plek is waar die onvergeeflike vergewe kan word.

Hy het vanaand vir Betta verwagtend gemaak, hy weet. As dit ’n seun is, sal hy die naam Ignatius moet kry. Maar gesien in die lig van die huidige tyd, wil hy eerder die naam van die Staatspresident gee. Paul. Paultjie.

Die handgemaakte tjalie sal weer uit sy windsels in die bêrekas gehaal moet word. Die bosse by die wasklip langs die fonteindam sal elke dag vol wees van luiers en naelbandjies.

Sy liefkentjes sal ’n volle ses tel.

En hy, waar sal hy wees?

O, die duiwelse wind, hy wens hy kon iewers ’n sak instop om dit stil te kry.

Vuur op die horison

Подняться наверх