Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 7

2

Оглавление

Dis vuilskemer toe Grootverlangen se afdraaipad uit die aandrooi veld opdoem – kalerig in hierdie droogtejaar, net deur donker kolle doringboom gestippel.

’n Bokkie spring op en verdwyn in die gras. Sakaboelas vlieg met hul wiegende sterte soos sluiers uitgesprei. Spesiaal vir die dansvlugte van broeityd, die lang vere.

Die perde handhaaf ’n moeë drafstappie. Frans besef dat hy hulle harder gedryf het as waarvan hy bewus was. Hulle is donker besweet, salpeterig wit waar die nat tuie teen die borste, boude en flanke geskuur het. “Oppas nou,” het oom Ol heel laaste by die kar gegroet, “daar is drie dinge wat jy nooit moet doen as jy kwaad is nie: ’n vrou vry, ’n kind slaan of ’n dier drywe.”

“Ek is nie kwaad nie, Oom. En ek het nie vrou of kind nie.”

“Nou gedenk dan die perde.”

Hy is in die droë driffie waar oupa Fransoois glo eenkeer deur vloedwater oorval is toe hy met ’n swaarvol wa uit die skietveld terugkom. Hy het ontkom, om later ’n koorsdood te sterwe. ’n Mens gaan een keer in jou lewe dood, en dit maak nie seer nie. Dis die lewe wat seermaak. Hy het dit nooit voorheen geweet nie, en daarom weet hy ook nie of en wanneer dit sal oorgaan nie.

Slap lê die leisels in sy skrynerige hande. Die perde ken die pad verder so goed dat hulle self die kar huis toe vat.

Diep in sy hart was hy reeds met Memorie getroud, het hy saam met haar gelewe. Maar vandag was sy onvindbaar. Tog het sy haar boeglam geskrik toe sy hom sien. Die oopvlieg van haar liggroen oë, soos bedoude druiwekorrels. Hy kon haar sagte, wit keel sien roer soos sy sluk.

’n Paar myl van die huis af sien hy meteens vir Gerrie aangery kom, oop en toe op Prinses, haar ligvos merrie met vier wit pote. Sy moet die pad getrou dopgehou, in die veld getalm, die klop van draaghout teen disselboom gehoor het.

Dis met ’n soort oorbluftheid dat hy haar gewaar. Gerrie ry nog op Prinses, die perd wat haar pa vir haar op ’n veiling gekoop en wat sy self geleer het, stadig en versigtig, met genoeg tyd om te ontwikkel sodat sy minstens vyf en dertig jaar kan hou.

Met die inbreek van ander jongperde spaar sy nie die stang nie, solank die bek nie verniel en die gees gebreek word nie. Prinses is ’n eenruiterperd, wat meestal alle ander ruiters afgooi.

Dus sal die plaashuis onder die akkerboom ook nog daar wees, die diep verandastoep, die aandlampe wat in dowwe geel vierkante deur die vensters skyn. Boord en groentetuin, klipkraal en landmuur, die vlak groen kloof met Modjaa voor die holkrans. Die beeste en kleinvee wat uit die veld aangewei kom. Eers fonteindam toe om te suip, dan opdam voor die kraalhek waar die kalwers hongerig klae. Die statte waar kleingoed baljaar, hoenders skrop, honde rondsnuffel.

Grootverlangen, sy lus, sy lewe, dié is nog daar.

Gerrie se rok bol agter haar. Sy is sonder kappie, die enkele dik vlegsel kloppend oor haar blaaie. Sy ry op ’n mansaal, wydsbeen met opgeskuifde some wat die kuite wys, rond van orreltjie trap.

Hoe goed ken hy haar sit en haar hande, die gemak waarmee sy die perd neklangs beteuel. Hy het haar geleer, alles van perde en boerdery, hoewel sy ’n ding maklik snap en die leermeester dan wegsnou.

Frans fluit die willose perde tot stilstand, trek leisels in. Terwyl hy kyk hoe Gerrie op ’n stywe galop aangejaag kom, onthou hy met ’n flits die verhaal van Jefta wat belowe het dat die eerste een wat hom uit sy huis tegemoetkom, die offer vir sy oorwinning sal wees. Toe is dit sy enigste dogter, met koordans en tamboeryne.

Dit is ’n onpaslike gedagte. Gerrie is nie sy dogter nie, sy sal haar nie laat offer nie, en hy kom ook nie van ’n oorwinning af terug nie.

Vertonerig sak sy meteens vooroor, lê hakskene en plathand in. Die merrie skiet vorentoe met hoewe wat ’n stofstreep in die wapad oopruk. Oomblikke lank vrees hy dat sy in die stilstaande perdekar gaan vasjaag, herken dit dan as moedswil.

Net betyds ruk sy Prinses woes dog kundig in die bek, swaai uit en skiet met ’n tergende lag verby sodat die dryfsand in sy gesig spat. Ruim anderkant die driffie gaan sy draai om weer terug te kom. Sy bring Prinses aan die linkerkant van die kar tot stilstand.

“Sy het nie saamgekom nie. Wat het ek vir jou gesê?”

“Ja, jy was toe reg.”

Hy leun oor en bied haar sy hand. Byna nie nodig nie. Ook nie nodig om die halterriem te gryp nie. Prinses is geleer om stil te staan solank die teuels grond toe hang.

“En jy was so seker.”

“Ek het my wense aangesien vir sekerheid.”

“Wat storie sy?”

“Verloof. Aan ’n kêrel op die Goudvelde.”

“Oehóé. Wat sal Móvver dáárvan sê?”

“Móvver kry ’n brief, sy soek bruidskat.”

“En jy bring dit sowaar?”

“Natuurlik. Wat sou dit help as ek weier?”

“Ek hoop nie jy wil haar nog hê nie.”

“Ek wil natuurlik, maar ek gaan haar nou nooit vat nie.”

“Maar jy sal nog lekker treur,” waarsku sy.

“Hoe weet jy?”

“Ag, ek was altyd so verlief op Willie Brown as hy by Betta probeer kuier. Noudat hy by my begin aanlê, verdra ek hom nie.”

“Wie wil jy dan hê?”

“Ek weet nie, maar ek sal weet as ek hom sien.”

“Nou ja, dan moet ek en jy maar saam op die rak sit.”

“Nou kan jy vir Hermana vat.”

“Hou tog op, ek kan my lewe sonder ’n vrou slyt. Maar sy het die hekelpatroon gestuur. En Ouma het monsters van roksgoed gestuur. Is daar al gemelk?”

“Ja, met groot bohaai. Klint het Bontlies se kalf op die neus geslaan toe hy wil speen steel, toe skop die kalf ’n klomp misstof in die emmer. Ek en Betta het twee keer deurgesyg, maar Móvver wil nie die melk gebruik nie. Sy en Pa het stilstuipe.”

Verstaanbaar. Gisteraand se gebeure kan onmoontlik sonder gevolge wees. Maar dit voel ver en onbelangrik.

“Alles loop verkeerd as jy weg is, Franna.”

“Nou vir wat lyk jy dan so vrolik?”

“Ek gaan ’n vul kry.”

“Jy?”

“Prinses, man. Sultan was vandag by haar, in die fonteinkamp.”

“Ek dog Klint het vir Sultan flou gery.”

“Nie flou genoeg nie. Sien jy hoe lyk haar skof soos hy haar gebyt het? Sy wou kastig nie vir hom stilstaan nie. Ek het heeltyd gekyk.”

“Ek sou dink ’n fatsoenlike meisie loop weg as sy so iets gewaar.”

“Hoe sal ek leer as ek nie bietjie afkyk by Moeder Natuur nie?” Sy begin in die negosie en gawes krap. “Wat dink jy gaan daar uitkom?”

“Negosie. Heel kaneel en gemmer, soos julle gevra het.”

“Nee, man, ek bedoel by Sultan en Prinses.”

“O. Die vul? Donkerig vos, met wit iewers,” besluit hy afgetrokke. “Halfbloed.” Sultan is Arabier, ’n volbloed. Prinses is driekwartbloed, uit ’n geslote Afrika-bloedlyn, gehard, met ingevoerde bloed om haar te veredel.

“Een ding weet ek, hy gaan lewendig wees. Jy moes hulle gesien het!” Gerrie se oë gloei vreemdagtig. Dis ’n hele hitte wat van haar uitgaan. Hy voel dat hy iets moet doen of sê om dit te besweer. Iets weg van die perde af. “O ja, Ouma het vir jou ’n borsspeld gestuur om by jou strooimeisietabberd te dra. Dit sal glo by enige kleur pas.”

“Witwerk!” raai sy. “Sy moet my ook nog leer, voor sy dalk te oud word. Wys my, gou.”

By haar moet alles altyd gou geskied. Tog kan sy ook tydloos omgaan met ’n boek, borduurlappie, sonsondergang, die musiekie.

Hy draai die leisels vas en haal die klein silwer houertjie uit sy hempsak. “Ouma is nog besig met Betta s’n. Dan gaan sy glo ophou met witwerk, dit verniel haar oë.”

Haar mond gaan verras oop. “Franna, die houertjie wat van die Hugenote kom! Is Ouma nie bang dit raak weg nie?”

“Sy sê jy moet dit maar solank erwe. Oom Lewies het mos die snuifdoos.”

“Hoekom nou skielik? Sy het dit soos goud opgepas.”

Die houertjie is meer as ’n aandenking, dis ’n simbool van oorlewing. “Sy is seker bang Judit palm dit in,” reken hy eerlik.

Gerrie slaan die gegraveerde dekseltjie oop en haal die borsspeld uit. Dis van wit sy, met ragfyn witwerk wat klein blomknoppies en ’n rankie in reliëf wys. Sy kantel dit effens. “Die geheim is mos hoe die lig daarop val.”

“Ouma het draad uit ’n wit sykous geryg om mee te borduur. En oom Ol het die silwer raampie en speld gemaak.”

“So gedink. Help my om dit aan te steek.”

“Sommer by jou drarok?”

“Natuurlik, hoekom nie?”

Om te keer dat hy haar raak steek, moet hy vier vingers by haar rokhals inwikkel tot waar die sagte, warm swelling van haar bors begin.

Sy ril. “Hoe kry ek nou hoendervleis.”

“Dalk moet jy liewers self.” Hy het al gesien hoe beeste na veilige grond vlug net voor ’n haelstorm losbreek. Hy wil sy hand wegvat, maar sy druk dit met haar boarm vas.

“Toe nou, Gert.” Hy is soveel sterker as sy, maar nie in staat om die bedwelmende greep te verbreek nie.

“Ek speel mos maar net.” Maar sy dwing nou met albei hande sy arm laer af. “Steek jou hand ín,” por sy ongeduldig toe die linnelyfie belet dat vlees aan vlees raak. “Diéper, toe!”

“Gert, wag nou, jy soek moeilikheid.”

“Jy ook, stry?”

“Ek is ’n man, ek brand maar altyd van begeerte.” Eintlik is hy ’n gekweste jongbul, wild en weerloos.

“Ons sal nie te ver gaan nie.” Haar asem is warm op sy gesig.

Hy glo dwaas gewillig dat sy ’n omdraaipunt gestel het en daarby sal hou, laat hom meevoer grond toe. Die dryfsand van oupa Fransoois se driffie maak oop om hulle in sy oergroef te ontvang.

Prinses roer onrustig. Die wonde aan haar skof begin pyn noudat dit styf word en die aandwind daaroor gaan.

Die huis word vir Soois te klein. Buite verduur hy dit ook maar sleg. Die son gaan vanaand so rooi onder. Judit se bui het deur die dag versleg. Soos ’n meelmot boer sy in die kamer, hy hoor laaie heeltyd oop- en toegaan. Wat soek sy tog wat sy nie in godsnaam reeds uitgekrap het nie?

Sy gaan nie eers uit na die privaat toe nie. Kort-kort hoor jy maar die kamerpot op die vloer skraap. Sy drink potte tee wat die dogters instuur met die hoop om van haar ontslae te bly.

Soois staan in die eetkamer en kyk hoe Betta neurieënd in die kombuis werskaf. Jacobet se ewebeeld. Kort en plomperig, ietwat stadig maar vlytig en sorgsaam. Lulu weer was groterig, mooierig, skugter dog reguit en vol grappies. Sy kon hom selfs in die slaapkamer terg, wetende hoe skaam hy is. Sy was goed vir sy dogters. Soois leef so sterk terug dat ’n brandverdriet in sy oë prik.

“Wat dwaal Pa dan so rond?” vra Betta sonder om juis ’n antwoord te verwag. Daar is net een vraag en antwoord wat saak maak en wat sy gereeld in haar kop oefen, en dis: “Neemt u deze jonge man …” en “Ja, van ganzer harte.”

O, sy voel gedurig Naas se arms om haar, die gekielie van sy snor teen haar mondhoeke as hy haar eenkant in die waenhuis of ouboord afkeer en lekker druk en soen.

“Sommer maar, wag vir Frans-hulle.”

“Gerrie sê sy wil nog sien of die meisiekind saamkom.”

Soois wil nie te gou bly word nie. Daar is iets wat hy moet verstaan aangaande die koms van sy stiefdogter, maar wat vir hom duister bly. Hoekom is Judit nie bly nie? En hoekom was Frans so gewillig om haar te gaan haal?

Gewoonlik breek hy nie graag uit die werk nie.

“Waar is Gerrie?” Net as sy dogters naby is, kom sy hart tot rus. Hulle het saam met hom by die oop grafte gestaan. Hulle begryp hom die beste. Betta se huwelik druk swaar op hom. En by die Nagmale begin die kêrels na Gerrie loer. Willie Brown, die mak Engelsman van Mimosa, kom deesdae weer alte dikwels hier oor vee en wat nog, maar gelukkig is Gerrie meestal weg op Prinses se rug.

“Ek weet nie, sy’t vroeg tafel gedek en toe is sy hier uit. Seker gaan ry om te kyk as Frans kom.”

Die geil middagmaal – fyn rugstring, soetpatats met botterogies, groenkos (die groen groentetjies gekook en fyngedruk met botter, sout en peper), belet nie dat Betta melksnysels vir aandete maak nie. Slinger-om-die-smoel noem die boeties dit en kry gereeld raas omdat hulle met kos speel. Die huis ruik na kookmelk en kaneel. Betta loop op klein voete in sagte vrouevelskoene met die skotteltjie botter op haar heup na die vuurherd. Sy meet ’n ruim klont af, roer ligweg en sit die deksel van die swart ysterpot skeef terug teen oorkook.

“Ja,” sê Soois asof dit Frans is aan wie hy moet verduidelik, “die melkery het darem vanaand ook klaargekom.”

“Ja, Pa,” sê Betta uit goeie gewoonte. Sy loop spens toe om die meel te bêre. Soois kyk weeïg na die skemerende rakke vol flesse; konfyte en vrugte, vele nog Lulu se handewerk. Sakkies meel, suiker, amandels en droë vrugte. Dit wat nie hier ’n plek vind nie, gaan solder toe. ’n Lewe van oorvloed, maar Salomo sê liewer ’n stukkie kale brood as ’n huis vol onmin.

“Nou wat staan Pa so rond? Sit, dan gooi ek koffie.”

“Toe maar, ek wil die lamp opsteek.” Soois onthou dankbaar van hierdie taak wat uitsluitlik syne is. Frans kom in elk geval nooit vroeg genoeg in om dit te doen nie. Hy kyk tevrede hoe die gedempte liggloed van die hanglamp oor die wit gedekte tafel sprei. Werklik diepaand is dit nog nie buite nie, maar die veranda en die akkerboom hul die binnehuis in vroeë donker.

Hiermee is Soois se opsies gedaan. Hy kan buite gaan rook, maar dan moet hy Frans met sy aankoms te woord staan of, erger nog, ’n vaderrol vir die stiefdogter speel. Mog Gerrie se aanvoeling tog eg wees, dat die meisiekind liewers nie saamkom nie.

Die bose boeikrag van egtelike onmin trek hom ten slotte terug na die kamer waar Judit darem nou aan ’t was en aantrek is. Sy staan in haar onderklere, en hy kan nie anders as om steels te kyk nie. Dis dinge wat sy kinders nie verstaan nie, die lewe tussen man en vrou, die ewigdurende patroon van wegstoot en nader trek.

Judit keer. Vir iéts, hy weet nie wat nie, haar hande tulpsgewys voor haar bors gevou. Hy wonder of hy te veel na pyp ruik om nader te gaan. Maar sy draai self na hom toe en hy kan nie anders as om te sien nie – die smetterige swartblou kolle op die wit vel waar dit bo die borstrok uitpeul.

“My magtag, en dié?” vra Soois oorbluf.

“Ek wou nie hê jy moet sien nie,” sê Judit. “Ek was al spyt ek het vanmôre iets oor hom gesê.”

“Oor wie dan?” Hy voel magteloos en dom.

“Maar ek het jou tog te kenne gegee dat Frans my nie ag nie. As ek my nie teëgesit het nie …”

Eers verstaan hy nie.

Toe storm die bloed na sy kop toe.

Of nee, dis die gesuis van die kapkar se wiele buite. Soos ’n veldbrand wat wind kry, laai die woede in Soois Viljoen op. Frans van alle mense.

Sonder dat hy dit beplan het, haak hy sy geweer van die rak teen die muur af.

“Wat gaan jy nou doen?” Judit staan daar in haar onderklere soos ’n halfklaar lappop. Met die kolle.

“Sy harspan van sy lyf af skiet.”

“Moet liewers nie, op die ou end hang jy nog. Onthou vir Slagtersnek.”

“Wat van Slagtersnek?” vra hy woes. Hy sou graag wou weet hoe Frans se wandaad klop met dié van Bezuidenhout, wat baie lank terug ’n Hottentot in die Kaapkolonie gemoer het.

“Ek sê maar net,” wyk Judit weg van die geskiedkundige onsekerhede.

“Bedek jou liewers, vir wat moet jy half kaalgat hier staan?” order hy kru.

Toe hy met lang treë deur die eetkamer loop, kyk Betta verwonderd uit die kombuis. Die tweede keer in ’n kort tydjie, maar netnou was hy dwalend en verveeld, nou loop hy doelgerig soos selde.

“Pa,” toets sy hom onseker, “ek sien daar is net twee stukke vleis oor. Wanneer kan Pa slag?”

“Tog wonderlik dat die slagtery nog altyd my werk was,” sê hy kwasterig.

“Maar ek dog Pa wíl, ek dog Pa hou daarvan.”

“Omdat niemand anders dit doen nie, ja.” En, asof om die vae beskuldiging aan ’n naam te knoop: “Waar’s Frans?”

“Ek het hom kraal se koers toe sien loop, Pa.” En dan, as sy die geweer sien: “Wat gaan Pa dan hierdie tyd van die aand skiet?”

“Muishond,” mompel hy net. Dit moet genoeg sê.

Haar onskuldige verbasing bring hom tog ietwat tot sy sinne. Hy loop waenhuis om en haal ’n strop van die juk. Liewer neuk as skiet. Op die ou end hang hy rêrig, en hy wil nie weet hoe dit op sy begrafnis gaan lyk nie, die ene stiefgespuis wat kom aas.

In die uitgetrapte voetpaadjie krale toe kom hy niemand teë nie. Die skemer vou oop en oper. Hy het Frans nooit getug nie – maar as hy begin, sal hy weet waar om op te hou?

Dis eienaardig stil. Geen kiewiete, paddas, krieke, werfdiere, stemme van wit of swart nie. Of is sy ore toegeslaan?

In die aandgrou sien hy vir Frans van agter waar hy met sy arms op die sluitbalk van die beeskraal se houthek leun. Wagter lê by sy voete. Die lewendige werfhond het vandag met kop op die pote heeltyd die pad lê en dophou. Aan die eintlike baas van die plaas het hy niks, die swernoot.

Bo die gestawelde klipmuur sien Soois die rûe uitsteek van die beeste wat nog nie tot ruste gekom het nie. Die verstikkende reuk van kraalstof hang in die lug. Hy hoor die geskuur van harige lywe, die ligte geklap van ’n horing.

“Frans …” sê hy toe hy naby genoeg is. Waar is sy stem dan tog? Dit word moeilik om Judit se storie enduit te glo. Soos Frans daar staan, is hy sterk en apart. Hoekom sou hy wou …? Hy kan enige meisie onder die son kry as hy maar net sy ooglid roer.

“Oom Soois.” Frans draai nie om nie. Sy stem is gelyk.

“Is dit waar wat ek hoor? Het jy jou pote op haar gehad?”

Stadig draai Frans om. Hy lyk diep ongelukkig. Hy kyk na Soois, na die geweer oor sy skouer en die strop in sy hand.

“Dit was nie teen haar sin nie, Oom. Die ding het oor ons gekom.”

“Dan erken jy dit nog! Wragtig so skaamteloos!” Die amegtige gehyg uit sy bors.

“Wil Oom eerder hê ek moet lieg?”

“Ek wil jou eerder vrek sien, dis wat ek wil.” As dit waar moet wees, gaan hy ook die Koei van Basan daar in sy slaapkamer vrekskiet. Hy het lankal sy gedagte oor haar siekte daardie aand op Makouvlei, ná hulle troue. Sy’t hom met ’n slap riem gevang. Soois voel die aandlug teen sy tande.

“Skiet my dan, Oom, maar ek laat nie aan my slaan nie.” Frans se stem klim effens. “Nie om hiérdie rede nie. Dis nie iets vuils nie.”

“Dis nie vuil nie, dis morsig! En ek sál jou neuk, jy verdien nie ’n doodskoot nie!” Soois haal oor met ’n krag wat hy nooit vermoed het nie, wag die dowwe klapgeluid af wat Frans se wang tot op die been moet oopkloof. Maar daar verskyn net ’n skrams rooi haaltjie toe Frans sy kop betyds uit die pad ruk.

Rats soos ’n rinkhals gryp hy die voorpunt van die strop vas. Hy gee ’n geweldige pluk wat vir Soois verby hom laat steier; maar net voordat sy kop die kraalmuur tref, stamp Frans hom voor die bors en slinger hom terug.

Hy kom in die stof te lande op die naat van sy rug. Hy het seer en hy voel na braak. Maar diep in hom moet hy toegee dat Frans sy lewe gered het. Hy sou hom des moers teen die kraalmuur gestorm het.

Wagter tjankblaf, onseker of dit ’n soort spelerige geskoor is tussen twee mense wat eie is. Sy troue hondehart durf nie kant kies nie, sy stert kwispel pleitend.

“Jy trap vanaand nog van my grond af!” Dis soos met ’n ryperd of vooros. Jare lank kan jy nie sonder hom klaarkom nie, maar besluit jy eers om hom te verkwansel, vind jy oornag oorgenoeg rede teen hom.

“Oom se grond? Oom was so uitgeboer, Oom het nie eers ’n klou gehad toe Oom by my ma kom intrek nie.”

“En jy? Wat het jy? Niks, man, net ’n swingel!” Hy sien Frans enorm uitrys. Wat as Frans hom vermoor? Hy weet van die gebreide krag in daardie hande. Hard gemaak op die hawerland, met ploegstert en damskrop, klipmure stapel, met tuie en leisels en spantoue van balhorige diere.

“Ek sal trap, maar nie oor Oom so sê nie. Dis omdat ek niks langer saam met Oom op een werf wil wees nie. Vat alles van my. Tot my aanteelvee. Ek vat net my gewere en ryperd, dié kry ek van my pa en oom Ol.”

Frans swaai om en loop weg.

Soois sukkel tot op sy knieë en kry die geweer beet. Die kolf is reeds donker gevat, maar nog nooit in al die jare was die loop op ’n mens gerig nie. Gestut op sy een knie, lê hy op Frans se rugkant aan. Hy kies die bladknop. Sy vinger kramp om die sneller.

Toe begewe sy moed hom. Lulu lê in die kerkhof, sy sal weet. En wat sê hy vir ma Gertruida?

Toe die geel langhaarduiwel kwylbekkend op hom afskiet, ruk hy die geweerloop soontoe. Die dowwe plofslag laat die beeste in die kraal onrustig maal. Watervoëls wat reeds in die papkuil langs die fonteindam tot ruste gekom het, sketter opnuut. Kiewiete krys verskrik. Alles wat netnou so stil was, gaan te kere.

Wagter tjank; eers angswekkend, dan al hoe flouer. Eindelik lê hy stil, terwyl ’n donker vlek al groter om hom uitsprei. Ander honde blaf ontsteld saam. Party van die statte af, Modjaa s’n van die kloof se kant.

Soois het die dwase hoop dat die bloedstollende geluide Frans sal laat omdraai. Dalk kan hy dan redelik met hom praat. Frans was tog altyd nog verstandig.

En hy self, sy woede het vervloei, hy was nooit ’n woestaard nie. Hy voel baie eensaam. Hy hunker Frans as ’t ware agterna, maar die donkerige voetpad het hom ingesluk.

“Ek skiet self verdomp goed,” besluit Soois tussen trots en selfverwyt.

Soois verwag dat ’n horde hom sal inwag om rekenskap te eis. Maar hy vind dat Betta binne op die orreltjie sit en speel en dat dit alle geluide moet gedoof het.

Hy kry net vir Gerrie waar sy op die stoepmuurtjie sit, haar arms om haar opgetrekte knieë geslaan. Sy het ander klere aan as vroeër vanmiddag, en haar hare lyk vars geborsel.

Die seuns moet in die stal wees. En die stiefdogter het toe skynbaar nie opgedaag nie. Hoe ordelik is sy gedagtes, asof daar nooit die wildheid oor hom gekom het nie. Gerrie sê nie boe of ba nie, sit net daar in die breë balk lamplig wat deur die oop eetkamerdeur val.

Hy sien hoe sy na die geweer kyk.

“Ek was verplig om vir Wagter te skiet.”

“Hoekom, Pa?” Haar stem is anders. ’n Oomblik wou hy hom verbeel dis ma Gertruida wat uit ’n jong liggaam praat.

“As ’n hond een keer skaap gevang het, is dit verby.”

“Wagter vang nie skaap nie.”

Haar stem gaan nie op of af nie. Sy weet alles, vermoed hy. Anders sou sy opspring en oor die hond gal-af gaan.

“Die bloed en wol sit nog aan sy bek. Frans wou my ook nie glo nie. Ons het oor die saak verskil en toe loop hy.”

Gerrie laat haar bene sak sodat dit oor die muurtjie hang, toegevou in die ruim rok. “Loop? Waarheen?”

“Waarheen kan hy tog, met niks op sy naam nie?”

“Dorp toe,” sê of vra Gerrie.

“By Ol Osvet loop sit? Hy’s te lewendig van aard vir die dorp. Môre, oormôre sal hy wel terug wees.” Op sy knieë, hopelik, en meer gedienstig as voorheen. Hy kan Judit om verskoning vra vir die affront, en die lewe kan aangaan.

Want die veelkantigheid van ’n volle boerdery doem meteens skrikwekkend voor Soois op: mure wat inval, ploeg en saai en oes, natlei en skoffel, melk en vee versorg. Wat nog alles? Dit was nooit nodig om uit te vind nie, want Frans was daar. Frans het iets gepraat van die grondsuipdam met klippe uitstraat en nuwe lande en …

En wie sal met die volk werk? Orders gee … en wat as hulle dit nie uitvoer nie? Hy vind dat hy bevele oor en oor herhaal om sy selfvertroue te sterk. Op die ou end gaan hulle na Frans toe, wat dieselfde opdrag gee en hulle doen dit.

Soois kreun diep in sy bors. “Die hond sal begrawe moet kom, anders kry ’n jakkals of ding hom vannag beet.”

“Pa sal dit maar moet doen – as Frans nie hier is nie.”

“Ek dog maar, die seuns …”

Liewers vir Karools uit die saak hou, hy sal reguit na Mmeme toe hol met die storie. Mmeme se oordeel spreek nog altyd die hoogste woord.

“Dis nie billik nie, Pa. Dis net nie billik nie.” Gerrie swaai haar bene terug oor die muurtjie en verdwyn soos ’n skadu. Nie binnetoe nie, maar stoeplangs om die ver punt van die huis.

Soois vat dit op as verwerping.

“Hy het my tot vallens toe gestoot,” prewel hy duister agter haar aan.

Hoe sal hy vanaand kan Boekevat? Dalk oorslaan, met ’n verskoning dat hy ’n swakte in sy kop voel.

Modjaa hoor die geweerskoot weergalm, gepaard met die beangste geblaf van Wagter, wat ook sy eie twee jaghonde mal wil maak. Eindelik kom daar ’n groot stilte, en hy weet dat dit tyd geword het.

Hy raak nooit juis opgewonde nie, sy binnegoed word net klip. Al wat nog gedoen moet word, is om die sakkie met dolosse van die tak te haak en in sy bladsak te stop, teenaan sy lyf.

Hy vat ook die kalbas vol suurmelk.

Die swart driebeenpot gebruik hy om ’n bietjie kole in te dra. Dit kan wees dat Furana nie vuurhoutjies het nie, en dan is dit uit die staanspoor ’n gesukkel met vuurstokkies.

Modjaa vat die orige stukkie mieliepap tussen sy vingers, vryf dit teen die buitekant van die pot totdat dit swart is, en sluk dit in. Hy mompel ’n bede om voorspoed en ’n goeie reis.

Hy roep sy honde en begin solank loop, wetende dat hy Furana halfpad sal teenkom.

Nie een keer kyk hy om na die holkrans, waar hy soveel jare gebly het nie. Maar hy voel die swaar van afskeid aan sy gemoed rem soos die bondel aan die stok oor sy skouer.

Die maan kom rooi op en word stadig wit.

“Kootjie …” begin Antjie. In die kookskerm van takke sit sy langbeen en roosterkoek bak op die kantlangse kole. Haar rok is styf onder haar bene ingevou. Vuur lok allerhande goggas en gifgoed. Net die twee voete in verslete velskoene steek uit. Antjie loop nooit kaalvoet nie; dis ’n kwessie van klas. Haar familie was mense met grond en vee, al was dit nie groot of baie nie. “Ek sê, Kootjie …”

“Hou jou bek.” Kootjie wou net lekker op sy bekfluit begin speel. Die klomp kleintjies is kooi toe nadat hy hulle ’n slag goed met sy bokvelkruisbande uitgelooi het, Antjie se glurende blik ten spyt. Net Fienie en Ossie skoor nog. Vir hulle sal hy volgende keer met ’n beter slaanding bykom, as Antjie ver is.

Antjie beskou die afjak as genoegsame aanmoediging. “Ek wonder wie netnou geskiet het. Wagter het so getjank.”

“Slang,” verklaar Kootjie. “’n Slang het die hond gepik, toe skiet neef Frans die slang.”

Antjie mompel ’n verskil van mening.

Kootjie haak sy regterduim in sy oor en laat sy lippe in ’n spoegerige oefenblasie oor die bekfluit gly. Hy voel altyd om hartseerlike deuntjies te speel ná hy die kinders gefoeter het. Kootjie glo hy sal op ’n bruilof ook kan speel, as hy net gevra word. Dalk as Betta Viljoen trou. Hy weet van bywoners wat soos eie familie deur die boer behandel word.

Maar ou Soois …

Gegrief sit Kootjie sy vals note en uitbibber.

Die deuntjie verstil toe Frans uit die maanskyn aangestap kom. Kootjie voel soos ’n vlakhaas op wie ’n skerp lig skyn. Ligloop nou, dis tyd vir rekenskap.

“Is ek darem nou bly ek sien vir neef Frans!” sê hy toe die naandsêery verby is. “Ek wou juis oorstap om te sê my knieë het vanmôre weer uitgehaak, maar ek het natgelei soos ek neef Frans belowe het. Dis net daardie onderste paar akkers …” en Kootjie begin met ’n wilde armswaai beduie.

“Toe maar, dit maak nie saak nie, Kootjie.” Frans hurk net buite die vuurlig. Sy gesig word omskep tot vlakke en holtes wat vir Kootjie meteens eienaardig vreemd voorkom.

“Neef Frans?” Dis mos nie woorde wat Frans ooit gebruik nie. Een ding duld hy nie, en dis halwe werk.

“Ek sê dit maak nie saak nie. Jy moet maar aan oom Soois verslag doen. Ek boer nie meer hier nie, ek gaan weg.”

Kootjie se mond sak oop asof daar ’n skarnier uitgeval het. Hy het dinktyd nodig, en hy vind dit deurdat Fienie by die deur uitpeul.

“Naand, neef Frans, wie het dan netnou geskiet, neef Frans?”

“Dis oom Soois wat vir Wagter doodgeskiet het.”

“Jinning, hoekom? Hy’t altyd ons sere gesond gelek.” In die vuurlig lyk dit of Fienie se swart sproete ronddans. Frans vind die meisiekindjie nogal kostelik. Hy roskam gereeld vir Wynand wat haar so kan spot met Fienie-Bos-sonder-kos en wat nie nog alles nie.

Slegs agt, is sy altyd besig om met ’n gesis en gegryp die kleineres reg te sien. Haar ma se ywer en haar pa se voorbarigheid slaan by haar uit in vrypostige fluksheid. Sy kom soms met takies by die groothuis help, kry dit oulik reg om met die agterkant van ’n sleutel fatsoentjies op handtertjies af te druk.

“Oom Soois sal wel sy redes hê.”

“Waantoe?” kry Kootjie uit. Vir Frans om van Grootverlangen af weg te gaan, is soos vir die son om uit die hemel weg te skuif.

“Noordwaarts. Die wildernis in. Seker maar my oupa se trekbloed wat nou deurslaan. Ek vat vir Modjaa saam.”

Die wildernis intrek klink vir Kootjie na ’n goeie proposisie. Vir Antjie en die kinders agterlos. Hy sal opmaak wanneer hy terugkom as ’n man wat naam en geld gemaak het. Hy dink aan ou Jan Muisnemer, die grootwildjagter.

Maar net een blik na Frans se oë wat in die vuurlig streep, ontneem hom sy moed.

“Is neef Frans darem seker oestyd terug?”

“Moontlik nie. Kyk, ek laat oom Soois sleg in die steek, ek wil nie nog gunste van hom vra nie. Kan ek altemit jou wa en donkies te lene kry?”

Behalwe wat hy so met die tyd by Soois vasgelê het – ’n ketting, riem, ’n stuk gereedskap – besit Kootjie net die “wa’tjie”, sleg verbleik en sonder seil. Span hy dit die slag in, sleep die disselboom amper op die grond, want die donkies is floukoppe en die tuie is met draad reggemaak.

’n Ryk Viljoen met hóéveel rytuie in die waenhuis, wat ’n bywoner se vervoer kom leen? Die wa en vier steeks donkies wen onnoemlik in waarde. Kootjie se oë sit soos twee skuins kerfies in ’n gelooide vel.

“Daai donkies is my hart se punt, neef Frans. Slim ook. As daar net ’n voëltjie fluit, loop staan hulle. En weet jy, as daai Ouverdriet nie onder ’n draad kan deurkom nie, gaan hy plat op die sy lê en wikkel hom deur. Hulle praat ook nie terug nie. Ek meen nou, soos Bileam …” Soos die Prediker sê, begin Kootjie met dwaasheid en eindig met louter onsin.

“Jy sal die wa in ’n beter kondisie terugkry,” beloof Frans. “Dieselfde met die donkies. As hulle iets oorkom, gee ek vir jou ander diere van gelyke waarde, of beter.”

Om te dink hy het nie eers ’n paar pond kontant wat hy Kootjie kan aanbied nie. Niemand loop met kapitaal rond nie. Die plaas voorsien in jou behoeftes. Wat kortkom, ruil jy met produkte. Hy was tot dusver tevrede so. Dis ’n harmoniese sirkelbestaan. Hy besef nou hy moes al aangedring het dat oom Soois hom ’n eie bankrekening en inkomste laat kry.

Trots begin Kootjie sy verhaal van die behoud van sy wa’tjie vertel. Toe die disselboom bars, het hy die vel van ’n ospoot daaroor getrek. “Soos ’n mou, neef Frans weet. En anderdag sien ek mooitjies die houtwurms het gate gevreet in die speke, toe steek ek die blikslaers een-een met ’n pendoring dood. Daar sit Antjie, vra vir haar.”

“Vat die wa, neef Frans,” sê Antjie onverwags in ’n growwe stem. “Dis eintlik myne, dit was my bruidskat, en die hoenders bemors dit tog net.”

“Dis waar, neef Frans, dis al bruidskat wat sy gehad het. Dis swaar om onder sleg mense ingetroud te wees.”

“Vir jou om vir my …” mompel Antjie.

“Wanneer het neef Frans gedink om te gaan?”

“Vanaand nog.”

“Dan moet ons spring, die tyd staan nie stil nie.” Kootjie vind dit altyd goed om met ’n waarheid af te sluit, dit kan die res anker. Fienie moet ’n lig bring dat hulle die hoenders afjaag en die wa leegmaak. “Ossie,” beveel hy sy seun, “jy moet spring om die tuie en donkies nader te bring.”

Kootjie voel glads half opgeruimd, asof Frans se weggaan vir hom ’n voordeel of genoegdoening kan inhou.

Frans talm by Antjie langs die vuur. “Antjie, het jy dalk vir my ’n potlood en ’n velletjie skryfpapier?”

Nog nooit was Antjie so vas nie. Dit kos ’n lang gevroetel voordat sy te voorskyn kom met ’n stukkie stomp perspotlood en ’n halwe velletjie papier.

“Stamlijst,” lees Frans die gekrulde letters agterop die vergeelde stukkie papier met die ongelyk geskeurde rand. “Antjie, het jy dit tog nie uit die Bybel geskeur nie?”

“Ek kry tog nooit tyd vir inskryf nie, neef Frans.” Antjie kyk in die vuur.

Terwyl Frans die potlood natlek en op sy knie sit en skryf, bring sy ’n paar roosterkoeke in ’n slopie. “Vir die pad,” bied sy aan. Sy kan mos sien daar is moeilikheid. Nig Betta het dan glads ’n hele ronde tafeltjie vol skryfgoed.

“Jy het nie dalk vir my ’n stukkie boerseep ook nie?”

“Jinne, neef Frans. My eie kinders is so vuil dat jy aartappels in hulle ore kan plant,” bieg Antjie.

Toe Kootjie op sy vrou brul om lampolie te bring, kry Frans die kans om Fienie nader te roep. “Fienie, hierdie briefie is vir Gerrie. Jy moet dit ín haar twee hande gee, hoor.” En, om ’n gepeuter met die gevoude velletjie te voorkom: “Ek laat maar net vir haar weet sy moet Marico se poskantoor toe skryf as sy my nodig kry.”

Hy het seker alle rede om vir goed sy rug op haar te draai. Sy het na haar pa toe gehol so gou sy kon. Maar iets klop nie. Dis nie soos Gert is nie. Hulle is apart huis toe. “Ek moet eers in die kamer kom om my te was,” het sy gesê. Iemand moes haar voorgekeer het. Dalk sal hy nooit uitvind wat regtig gebeur het nie.

“Marokkie …?” sukkel Fienie agterna.

“Maríco. Toe maar, dit staan in die brief.” Die meeste jagters trek daar deur, hy sal sy pos wel kry. Dis die pad van die Agterland na die Diamantvelde. “Sal jy nou?”

“Ek sal, neef Frans. Herehoormy.” Plegtiger kan dit nie.

“Jy hoef nie te sweer nie, doen dit net. En kyk tog dat Klint en Wynand die graftes versorg.”

“Veral tant Lulu s’n, neef Frans.” Op die begrafnis het Fienie oopmond gehuil om agterna weg te lê aan die vleisfrikkadelle, sousboontjies en geelrys. “Watse bloedstrepie is daar op neef Frans se wang?”

“Sommer by die kraal gekry.”

“Seker weer daai orige Janbloed met sy suur gevreet en sy paar dik, growwe horings. Moet ek ’n bietjie kasterolie bring vir aansmeer?”

“Nee wat, jong, dis net ’n skrapie. Modjaa kan daarna kyk as ons op pad is.”

Op pad. ’n Pad wat hy nie ken nie. Eers het hy wildweg gewonder of hy dalk Vrystaat toe moet gaan, na ma Lulu se mense. Maar van hulle weet hy nie veel nie, het hulle uit enkele familiebriewe leer ken. Hulle kon nie eers by haar begrafnis wees nie, soos dit met groot afstande gaan.

Toe hy kloof toe mik om Modjaa te roep, kom Modjaa reeds op sy eie aangedwaal. Reisgereed, bondel aan ’n stok. Op sy hakke sy twee Nguni-honde wat rifrug uit die geharde Afrika-verbastering gekom het.

“Waantoe nou met jou, Ubaba?”

“Saam met jou, Furana. Een vinger vang nie luise nie.”

Totale verbystering. Hoe weet hy? Maar dit sal nie help om te vra nie. Daar is drempels waar jy nie kan oor nie.

“Waarmee reis ons, Furana?”

“Met Sultan, en ek gaan Kootjie se wa leen.”

Modjaa het in sy taal iets gemompel wat net ’n swetswoord kon wees.

“Ons sal nie heeltemal bly staan nie.”

“Ek weet. Jy staan nie, Furana. Jy loop die loop.”

“Ons sal ons tyd vat solank ons haastig maak.”

“As die maan breek, moet ons vuur baie ver van hier af brand. Waantoe gaan ons?”

“Na die land van jou vaders.” Die oomblik bring die antwoord voort.

“Na Go-Bulawayo. Daar by die groot rivier waar die waters diep inval en dreun en rook.” ’n Instemmende kreun.

“Dis soos jy sê. Ons vat die Krokodil se loop tot waar hy Limpopo word. Gaan kry my gewere en skietgoed by my slaapplek. As oom Soois jou voorstaan, maak of jy hom nie sien of hoor nie.”

Modjaa maak nooit of hy Soois Sinjan hoor of sien nie. Dis so maklik soos braai-’n-haas.

“En saal vir Sultan op, asseblief.” Slegte tyd vir tsetse in Afrika, dis goed die dier is gesout. Verder vat hy net die klere aan sy lyf. Al wat hy verder het om ’n nuwe toekoms mee te bou, is sy wil.

Dis hard om te loop as die koring in die aar kom, as met die geringste wind ’n silwer glinstering oor die lande gly, sag en weelderig soos fluweel.

Gelukkig was hierdie dag genoeg om sy gevoel weg te slaan. Rede bly oor, nogal skerp.

Langs Kootjie Bos se vuur ontvou sy instinktiewe plan volledig.

Olifante.

In Matabeleland agter die Limpopo. Die Agterland waaroor oom Jan Meisenheimer, die grootwildjagter wat soms hier oorstaan, so baie kan spog. Ou Jan Muisnemer wat gereeld vir water en weiveld probeer betaal met ’n verslete £20-noot, welwetende dat geen boer dit sommer sal kan kleinmaak nie.

Verder beroep hy hom op die tamaai adamsvy wat “oom Jan se boom” heet, omdat hy op een van sy vroeë oorstane die agterste punt van sy vyetaksweep in die klam grond gedruk het en dit begin groei het.

Die ou kon veel vertel van die land van die groot vors “Priester Jan”. Later het hy bygelas dat hy Priester Jan ontmoet het, nog later dat hy Priester Jan ís.

Almal spot met sy grootpratery, maar hy weet wat hy weet aangaande jag. “Op die jagveld kan jy maklik gedood word,” sê hy altyd. “Maar ’n jagter se dood dra nie ’n skandvlek nie.”

Ivoor is maklik om te vervoer, goed op prys, geen verwerking nie. Eintlik jammer dat uitroeiers die ambag se naam laat stink het. ’n Jagter kan wel met oorleg te werk gaan.

Word hy dus ook maar een van die rustelose Boerejagters wat swig voor die trekkrag van die Noorde? Ou Jan sê dis maklik genoeg, Afrika se grense lê oop. Wat maak dat ’n man nie altyd sy lewe seker is nie, maar wat ook maak dat jy as jagter by enige land se agterdeur kan in- en weer uitgaan.

Noudat Frans en Modjaa weg is en die werf in die maanskyn tot ruste gekom het, hurk Kootjie weer langs die vuur in die kookskerm. Hy dink aan die goeie slag wat hy geslaan het. Hy sien al die spoggerige rooiwielwa wat hy sal kry, want hierdie splint van hom gaat wragtag nie die Limpopo haal nie.

En ’n span gesoute donkies, spekvet en blink verhaar. Hierdies van hom is vreksleg, hoewel hy aan hulle meer geheg is as aan sy kinders.

Hy onthou nou wat hy nog alles kón gevra het. So jammer dat Frans glad nie rook nie, want twaksake is altyd beroerd. Op die oomblik het hy nog ’n paar kriesels, maar niks om dit in toe te rol nie. Sy pyp is dwarsdeur gebrand. Kan by die werksvolk een kwansel, maar hy rook mos nie saam met hulle nie.

Aldus kan Kootjie sy oë nie glo toe hy Steffina met ’n stukkie papier sien werskaf nie. Sy probeer in die vuurlig lees wat daarop geskrywe staan.

“Gee!” sê Kootjie, en gryp dit onverwags uit haar hand. Fienie skrou soos ’n maer vark en probeer dit teruggryp, maar sy kry net flenters afgeskeur. Tóé moet jy haar bek hoor.

Kootjie is lus en maak haar met ’n oorveeg stil. “Magtag, sal sy nou oor ’n stukkie pampier so staat en huil!”

“Maar dis nig Gerrie se brief, ek het neef Frans belówe!”

“Brief? Watse brief? Ek kom my lewe lank sonder briewe klaar,” sê Kootjie vies, en gooi die orige snippers in die vuur. Dis te klein om twak te kan hou.

“Dis oor Pa nie kán lees of skryf nie,” waag Fienie.

“Jou bek moet toegeklap word.” Kootjie mik, maar dan gewaar hy vir Antjie. Sy staan in die gapende deuropening met die kleinste soos ’n bleek vlermuisie aan haar bors vasgesuig.

Sy sê niks, maar dis genoeg ook.

“Dis reg, praat haar voor,” brom hy. “Maak haar vir die verderf groot.”

“Dis ’n vernaam brief,” kerm Fienie. “Van Marokkie.”

“Jou-ma-se-rokkie-se-maai.”

“Wat sal ek vir nig Gerrie sê?”

“Jy sê haar niks,” is Kootjie se advies. Hy wil nou stilte kry, want hy voel planne in hom woel.

Met Frans uit die pad, kan hy ou Soois dalk uitgewerk kry, hy is ’n hopelose boer. Hy, Kootjie, kan eers aandring op die helfte van die oes, dan die hele oes, dan die helfte van die plaas, dan die hele plaas.

Kootjie neem weer sy bekfluit op. Maar hy het, snaaks genoeg, glad nie meer lus vir speel nie.

Daar het ’n onverduurlike leegheid oor Grootverlangen neergesak.

Vuur op die horison

Подняться наверх