Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 6

1

Оглавление

TRANSVAAL, OKTOBER 1889

Die werfhaan van Grootverlangen is ’n pronkstuk met sy glansende veredos, swaaiende keelbel en rooi kam. Elke môre gooi hy sy brons nek agtertoe en kraai die plaasmense wakker met ’n rou gekrys van verligting.

Want naglank was daar ruisinge en sluipinge wat die teenwoordigheid van slang, muishond en wildekat verraai. In sy bloed loop die ervaring van voorgeslagte wat rondom uitgespande waens geskrop of in fuike onder die agterstel geskommel het sonder om ver te vorder op die pad wat deur die mens vir hulle bepaal is.

Toe die gekraai opklink, is Frans Viljoen reeds besig om die kapkar onder die akkerboom in te span. “Het ék jóú vanmôre wakker gemaak, ou kêrel?” lag hy saggies.

Sonder die gewone vroeë rookreuk is die werf byna maagdelik groengeurig. Hy self is te haastig. Iemand anders sal vanmôre vuurmaak. Hy was voor dagbreek al wakker, toe die rooi bo die berg wys. Hy kon nie langer lê nie. Vandag is gans anders. Ná meer as veertig jaar gaan ’n Viljoen van Grootverlangen weer ’n Bolandse bruid haal. Maar hierdie keer sommer vlakby in Pretoria. Hy hoef nie soos oupa Fransoois ’n maande lange trek aan te pak nie. Memorie, sy pragtige donkerkop, het per koets uit die Kaap gekom.

Hy het haar eers in Desember verwag. Het sy haar studie gelos om gouer by hom te wees? Brand sy ook van verlange?

Oom Dik-Tys Retief van Makouvlei het gister die telegram gebring. Volgens die datum op die rooikleurige koevert is dit ’n week gelede uit die Goudveld gestuur aan Viljoen C/O Ostfedt Pretoria.

“Jou ouma het laat weet sy het maar oopgemaak,” het oom Dik-Tys gesê. “Sy wis nie vir watter Viljoen dit presies is nie.”

Dis asof die twee sweetvosse weet hoe hy voel. Soet hawerasems stoot toegeneë in sy gesig, hitte straal uit die geroskamde lywe. Hulle is uitgevreet en metaalblink verhaar, lus vir die lang pad. Teen sonop kan hy deur die Magaliespoort wees.

Maar hy sal eers by Makouvlei moet aan. Bure gaan uit hul pad vir mekaar, soos oom Dik-Tys gister. Dis ook die regte kans om Hermana te laat agterkom hoe die wind waai. Dalk sien sy dan af van hom.

Dis nog donker, maar sy hande vat raak. Slegs ’n ligte gerinkel en gekraak verraai wat hy doen. Dit lyk darem of die huismense nog slaap; Klint en Wynand veral, wat alte graag help, maar soos jong honde gewoonlik met ’n gestoei eindig en dan meer in die pad is.

Oom Soois en Judit roer eers nadat hulle koffie in die bed gekry het. Judit is sweerlik ook beduiweld ná gisteraand. Hy het sleg geslaap en verkwalik haar daarvoor.

Die vroumens is twee keer sy ouderdom, op ’n manier sy stiefma, binnekort sy skoonma. Wat het sy vir oom Soois gaan vertel? Haar eie storie, natuurlik. En oom Soois glo altyd die laaste een na wie hy luister.

Hy wil nie eers nou verder daaraan dink nie. Hy wil nie die grootste gebeurtenis in sy agtienjarige bestaan bederf nie. Vanaand as Memorie by is, sal hy krag hê om Judit in die gesig te kyk.

Hy bly bekommerd die eetkamerdeur dophou. Die kans is groot dat Betta of Gerrie kan wakker word en die stoep afstorm met ’n laaste boodskap of ding. “Sê vir ta’ Anna-Maria … Gee vir Naomi … vir ouma Gertruida …” Die winkelnotisie is reeds ellelank. Die heel gemmer en kaneel staan heel bo-aan; hulle wil solank fyn stamp en bêre vir Betta se bruilof in Desember.

Betta is soet verlief. Sy bleik haar uit met ’n kappie en selfs ’n maskertjie van leer, dra handmoffies wat met fyn kralewerk versier is, neurie wyl sy werk, baai haar gesig in vars melk, borduur in die lamplig ’n hoenderhaan op ’n tabaksak van fluweel vir haar Ingenaas.

Die besondersheid van hierdie dag noop Frans om die geskiedenis van sy grootouers te herroep. Hiervan is die akkerboom die sprekende simbool.

Ouma Gertruida het destyds die boompie geplant waar die nuwe woning gebou sou word, terwyl hulle nog in die hartbeeshuis gewoon het. Sy het dit uit die fonteindam natgedra, totdat oupa Fransoois ’n vlak grondput gegrawe het. Dié put is met die jare verdiep en het nou ’n muurtjie, dakkie en katrol. Die geklink van die emmer teen die putwand vorm deel van die huislike lewe.

Hoewel die nuwe huis nooit deur Fransoois self gebou is nie, was die plasing van die boom perfek. Dit oordek die verandastoep en vorm die middelpunt van alles wat op die werf gebeur.

Dis nie ’n klimboom nie, daarvoor het die stam te dik geword. Maar kinders speel graag met die akkers, groot en mooi van kleur as dit ryp is. Met stokkies op die regte plekke word dit perde, osse en skape. Die doppies is hoedjies vir lappoppies of kleimannetjies.

Die akkerboom, stellig die enigste een hier noord van die Magaliesberg, getuig van ’n tikkie andersheid. Want die Viljoens ís ’n bietjie anders. Dit moet deur die Bolandse bloed kom.

Gertruida Omdraai. Die ontsag waarmee dit gesê word. Sy is die enigste vrou uit daardie tyd wat nie tot in die dood aan haar man se sy gebly het nie, maar omgedraai het op die koorspad. Te voet het sy haar orige kinders van watergat tot watergat gevat totdat sy hulp op die lyf geloop het. Tevergeefs het sy gehoop dat haar man haar sou agterhaal. Later sou sy maar hoor dat hy op die Afrika-pad bly lê het.

By een van die watergate het ’n jong swart vrou by haar aangesluit. Die vrou sou haar stamnaam vergeet en Mmeme word.

Gertruida het tuisgekom, haar wit lappies in die hartbeeshuis weer oor die tafeltjies gesit, en aangegaan sonder haar man, wat prooi geword het van die Boer se twee grootste vloeke: die treknuk Noorde toe, en die koors.

Frans het klaar ingespan en draai die leisels aan die mannetjie vas om verlaas te kyk of alles in orde is. Dan moet hy weg wees. Hy het gister reeds vir oom Soois gesê hy sal nie vuurmaak of by die vroeë Boekevat wees nie.

Dis ’n vae gevoel van leed. Dat hy nie self die goeie vuur op die herd sal maak nie. Dat hy nie sal hoor hoe Betta en Gerrie die traporreltjie speel en pragtig in stemme sing nie, hulle gesigte in die spieël weerkaats, die kerse aan weerskante gloeiend op die staanders.

Maar dis ’n seën om Judit mis te loop. Om haar in ma Lulu se plek te sien, is steurend. Ná gisteraand het hy geen respek vir haar oor nie. Wat ’n swak moeder is sy buitendien, so lusteloos oor die koms van haar eie dogter.

Weet sy werklik nie wat tussen hom en Memorie aan die gang is nie? Daardie Sondagmôre op die Wellingtonse plaas … hoe is dit moontlik dat sy nie kon sién hoe verlief hulle is nie?

Dis waar, hy het opgesien om haar as skoonmoeder te hê. Dikwels as hy saans moeg inkom, heeldag op die lande of te perd agter vee of jakkalse aan sodat sy voetboë van die stiebeuels pyn, het sy hom onder een of ander voorwendsel voorgestaan met ’n onnodige geselsie of lastige takie.

Gisteraand was haar toenadering openlik, en hy het haar afgejak. Hy kan hom klaarmaak vir tweedrag, en dit juis noudat Memorie kom.

Wat het oom Soois besiel om met die vroumens te trou? En so halsoorkop.

Oom Soois en pa Barend. Meer kan twee broers nie verskil nie. Frans was maar ses toe sy pa dood is. ’n Onbekende siekte wat hom bewusteloos gemaak en vinnig gevat het. Maar hy onthou die beslistheid, die forse ywer. Aan die gang vanaf ligdag tot die aandster wys.

Oom Soois, daarenteen, is ’n stoepsitter. Woon g’n wapenskouing by nie, en jagveld toe gaan hy net om van die boerdery weg te kom. Dis hoe ma Lulu verlede jaar haar dood ontmoet het. Die koorsseisoen was nog nie verby nie en sy het die prys betaal. Sy is sterwende huis toe gebring. Sy moes nooit met oom Soois getrou het toe sy weduwee word nie. Frans wou hom al die jare wysmaak: sy wou op dié manier iets van haar eerste liefde herwin. Soort-egte bloed.

Naby hom sit Wagter elke beweging droef en dophou. Snags slaap die geel langhaar op ’n stuk sak buite sy kamertjie, bedags trap hy soos ’n skaduwee in sy spoor.

Daarbo in die holkrans gloei Modjaa se vuurtjie reeds.

“Ek ry môre Pretoria toe,” het Frans hom gisternamiddag gaan meedeel. “Het jy ’n boodskap vir Isimbi?”

“Isimbi? Ek sien ’n vrou in jou oë, Furana.”

“Jy sien reg, Ubaba.”

Modjaa het nie verder uitgebrei nie. “Vat hiérdie vir Isimbi. Hy moet dit trek en drie maal op ’n dag drink.” ’n Veerligte velsakkie vol gedroogde kruie.

“Waarvoor is dit?”

“Sommer vir die hele Isimbi.”

Frans het die koudleistorie gesluk. Dit sal jammer wees as oom Ol ’n kwaal het. Olav Ostfedt in sy dorpse smidswinkel was nog altyd ’n bulderende swartbaardgod soos uit een van sy Noorse sprokies. “Jy sal weet, jy en Isimbi ken mekaar.”

“Ons was lank saam,” het Modjaa styf reggehelp. “Mense kan nie geken word nie, net die veld.”

Moes hy Modjaa se raad oor Memorie gevra het? Waag hy te veel om ’n fyn Bolandse dametjie na ’n Transvaalse plaas te bring? Hy sal nie van haar verwag om haar te verrinneweer in ’n wêreld waar die vroue dikwels nie oud word nie. Mmeme sal die kinders help grootmaak, die derde geslag Viljoens wat deur haar hande gaan. Hy sal Mmeme terug in die huis bring, al kry Judit die piep.

Sy kan die swart mense mos nie verdra nie. Is dan nie so skoon soos die Bolandse bruin vroue nie. Ruik na stroois. Sal mens rot en kaal steel, hoekom is hier g’n slotte nie? “En vir wat moet hulle altyd so hard in hulle taal praat?”

“Dis vir hulle maar net goeie maniere om van ver af te gesels.” In die begin was daar nog pogings om Judit in te lyf.

“Hulle kan konkel om ons te vermoor, en ons sal nie eers weet nie.”

“Ons sal weet, Móvver,” het Gerrie met ongeveinsde geringskatting gesê, “mens hoor as hulle die byle slyp.” Die “Mother” word opsetlik verwring om aanstoot te gee.

Judit is met asynlappe kamer toe.

En dit terwyl die vroue van Grootverlangen – Ouma, ma Lulu, Betta en Gerrie – van toeka af gedurig by die strooise was om met nood en siekte te help.

Hy sal toesien dat Mmeme weer die regterhand in die huis word. Hy sal die ander laste dra. Hy sal altyd voor Memorie staan en die slae vat. In die wete van sy eie krag lê groot sekerheid.

Hy begryp nou dat hy daardie reis Kaap toe móés meemaak. Wat vir ouma Gertruida ’n bedevaart was – ’n besoek aan die familie wat destyds so bitterlik gekant was teen haar huwelik met ’n Trekkerseun – was vir hom ’n afspraak met die toekoms.

Die stormnag in die Wellingtonse berge, Memorie se liggaam teen syne. Ente ver moes hy haar letterlik dra. Met daglig was hy half jammer om te sien hoe mooi sy is, ten spyte van die skrape en kneusings op haar gesig. Die bruinswart krulhare, melkgroen oë, die sagte pienk mond met diep hoekies. Tog het hy hom verder laat betower.

Hoe haastig is hy om haar syne te maak. Met die eerste Nagmaal moet hy aangeneem en voorgestel kom sodat die gebooie kan loop. Elke keer as hy moet katkiseer, val daar iets voor. Laas jaar was dit ma Lulu se dood, begin vanjaar die besoek aan die Kaap. Daarby sien oom Soois swarigheid om hom twee weke lank af te staan vir katkisasie.

Frans het nogal opgesien teen die Kaapse kuier. Dit was droog en hy wou, op hoop van reën, hawer op die droë lande saai. Ouma Gertruida het egter aangedring dat hy en Gerrie haar vergesel. “Die ander kant van julle herkoms sien.”

Hulle het per koets gegaan. Die Goudvelde het binne drie jaar ’n behoorlike koetsstelsel tot stand gebring. Dis vinnig, hoewel vermoeiend en nie sonder gevare nie. As hy die afgelope nagte moes weet dat Memorie op pad is, het hy g’n oog toegemaak nie. Maar nou is sy hier, dis al wat tel.

Van die statte se kant af kom ’n donker figuur, in kombers gewikkel teen die voordagknyp. Dis Mmeme, haar harde kaal voete skuifelend in die voetpaadjie. Wagter gewaar haar eerste en roer sy stert.

“Siejy!” erken Mmeme die toenadering.

“Vir wat is Mmeme dan so vroeg op?” vra Frans, beleef teen die wanhoop in. Welke grief of versoek? Dit kan ’n lang storie afgee. Geduld is die woord, en hy móét luister. Selfs noudat sy uit die huis geban is, bepaal sy nog die atmosfeer op die werf en by die statte.

Behalwe Temboe en sy familie, kom en gaan die werksmense. Baie van die kleihutte staan leeg tot oestyd. Party bly ’n jaar of twee, laat ’n troppie vee in ruil vir hulle dienste wei, kry een vers per jaar en ’n landjie waar hulle ’n paar sak mielies en kafferkoring oes.

“Môre, Franna.” Haar bolyf wieg altoos liggies, asof sy ’n kindjie sus. Langs haar plant sy die rede van haar koms neer: ’n splinternuwe besem, veekant ondertoe. As hy goed gemaak is, moet hy vanself regop kan staan. Sy maak al die besems, van werf- tot handbesem. Tussen die mielierye word daar elke jaar besemgoed vir die doel geplant.

“Vir daai werf in Petoorja,” verklaar sy met diepe veragting vir die dorpse diensmense.

Sy beduie met die kop kloof se kant toe: “Wat stuur die ou moloi vandag?” Sy voel aan haar netjiese kopdoek om haar posisie te bevestig. Teen Modjaa is dit nodig, hy wat altyd haar kragtige handvernuf met sy mistieke veldgees nietig wil verklaar.

Modjaa en die woonvolk sit nie langs een vuur nie. Dit gaan nie net oor stam nie, maar oor toor. Temboe sê hy verstaan nie ’n man wie se lyf nooit warm word, wat nooit ’n vrou gehad het om vir hom bier te maak of seuns wat sy beeste kraal toe aanjaag nie. Hoe sal hy sonder afstammelinge self eendag as ’n voorvadergees vereer kan word?

Hoewel daar bespiegel is of Modjaa die vader van Mmeme se laatlam Karools kan wees, is die moontlikheid verwerp. Hy en Mmeme is gans te hatig op mekaar, hy steur hom ook te min aan vroue. Mmeme, die enigste een wat weet, swyg soos die graf. Die kwessie het vervaag met, as enigste antwoord: mans is oral, soos die wind, en net so geswind. Dit moet maar een van die oesmanne wees. Hulle hou jaarliks ’n eie oesfees, met groot potte bier en ’n deurnagdans.

“Ag, ’n bietjie kruiegoed.” Frans voel erbarming. Sy, wat haar handpalms in hierdie huis wit gewerk het, mag nou nie oor die drumpel tree nie. Sy mag die growwe werk doen, maar buite. Die vuurherd, waar sy altyd in wintertyd op haar lae bankie gesit het, is verbode. Alles waaraan sy raak, moet afgespoel word, die geskraapte afval sommer ’n paar keer.

Betta en Gerrie moet die binnewerk verrig. Hulle doen dit ter wille van hulle pa.

Gelukkig is hulle voorslae. Betta, stadig dog deeglik, is ’n doring by die kospotte. Lekker kos loop in die familie. G’n wonder dat die stinkhouttafel in die eetkamer vol duike is van al die swaar skottels wat dit deur die jare moes dra nie. Vir Betta is daar net jong groente en ryp vleis.

Die groente kom uit die fyntuin, die winddroë vleis hang binne die oop spensvenster, beskut met ystertralies. En vars gestampte speserye. Die geur van gemmer, neutmuskaat en kaneel is al so deel van die houtstamper en -vysel dat die huisgenote soms net vir die lekkerte daaraan snuif.

Vir Gerrie se hande staan niks verkeerd nie, binne of buite. Van borduur, broodbak en lesgee, tot skiet, gerwe pak en jongosse inbreek, verlore vee soek op die rug van Prinses.

Die twee dogters vorm die warm en hartlike kern van die gesin, en daar kon Judit se koms niks aan verander nie. Hulle lewe welgesteld, goedversorg, eenvoudig, gasvry.

Mmeme raak kortasem om die eintlike vraag te vra. Hy kon dink dit gaan nie net om die besem nie. “Jy norig iemand by die perde.” Haar vaalswart vel is turferig in die vroeë lig, haar oë twee smekende vlakke langs die breë neusbrug.

O, dan doen sy voorspraak vir Karools om saam te ry. Hoe kan hy ja sê, as Klint en Wynand nie eers oorweeg is nie? Maar hoe weier hy ook die versoek van ’n moeder vir haar kind? Haar Krols is haar hele lewe. Sy het wel ander kinders, dogters wat sy lank gelede gelos het by die stat waaruit sy vir haar lewe moes vlug. Toe haar man se jaloerse grootvrou die lewe skenk aan ’n seuntjie met ’n krom voet, het sy die jongvrou van heksery beskuldig.

Die jongvrou het geweet daar sal goed na haar kinders gekyk word. ’n Dogter is handig by die stampblok en ander werke, en sy bring lobola-bees in. Sy het daarom die grootvrou se kind Temboe gegryp toe sy vlug, want hy sou ook doodgemaak word omdat enige gebreklikheid slegte geluk bring.

Hoe haar pad by ’n watergat naby die Krokodilrivier gekruis het met dié van die wit vrou met drie kleintjies, is ’n eie storie.

Mmeme voel die weiering aankom. Sy steek haar hande uit om Frans se arm, sterk soos die poot van ’n mandier, te omklem. Dan onthou sy haar plek. Net in sorg raak sy aan haar witmense, nooit in toorn, liefde of smeking nie.

“Nie vandag nie, Mmeme.” Hy het ’n sagte plekkie vir Karools. Hy weet wat dit is om vaderloos groot te word. Om maar jou eie pa te moet wees.

Hy draai die skroef op Karools nooit te sterk aan nie, laat hom genoeg speeltyd met Klint en Wynand. Hulle bring soms hele dae in die veld deur, slaap selfs uit. Maak vuur, braai hase en muise. Karools dra vir “Bettakie” vetplante aan, partykeer met dorings wat die rotstuin ’n gevaar vir spelende kinders maak.

Die blote waarheid kan versag. “Nie vandag nie, Mmeme. Ek gaan vir my ’n vrou haal.”

Mmeme verwerk die nuus totdat begrip haar gesig in afgryse laat vertrek: “Jy trou Judét se kind? Aikona.” Sy stamp die voortreflike besem sodat die reuk van stof opwalm.

Die perde sidder, Wagter spring op. Met ’n binnensmondse verwensing draai sy om. “Ek sal vir Bettakie werk soos hy trou, maar ek soek nie Judét se kind nie. Die kleur van die tarentaal word in die tarentaaltjie gesien. Kom, Krols.” Haar oogbanke hang laag, ’n seker teken dat sy ontevrede is.

Nou sien Frans eers vir Karools waar hy agter die kapkar geskuil het asof sy onsigbaarheid sy kanse kon versterk. Sy verbleikte klere is silwerskoon en genadeloos plat gestryk.

“Tot siens, Franna. Ry maar lekker,” sê die seun met oorlamse verwyt. Met Klint en Wynand as speelmaats, praat hy die Taal net so goed soos hulle.

Frans voel hy wil Mmeme terughou, maar weet nie hoe nie. Hy beskou haar nie as ’n swart ou gelukbringer wat toevallig met dienende hande geseën is nie. Hy was eenkeer half verskrik toe hy ’n boodskap statte toe moes vat en haar kaalkop met springerige hare in beswyming om die vuur sien dans het. Nadat sy daglank in die kombuis gemor het oor die rantsoene vir die oesmense. Daardie aand het hy met kinderlike wysheid begryp dat sy nie aan hulle behoort nie.

Mmeme se onwrikbare oordeel is ’n groot terugslag. Werk almal dan saam om Memorie se koms verdag te maak?

Sy gedagtes skiet terug na gisteraand, en Judit.

Hy was so niksvermoedend. Droomverlore, eintlik. Oom Dik-Tys se koms, die wonder van die telegram.

Hy wou skeer en regmaak om vroeg in die môre te ry. In die dik skemer het hy met kaal bolyf en gesig vol seep oor die waskom gebuig gestaan toe iemand die halfoop bodeur verder oopstoot. Daarna die geskuur van die onderdeur. Hy wis dadelik dis nie Betta of Gerrie nie. Elke vrou se rokke ritsel op ’n eie manier, en die meisies loop ook nooit sommer net in nie.

Hy wou hom ’n warm asem teen sy rug verbeel. Die swaar klip van onvermydelikheid was in sy binneste. “Hoe nou?” wou hy weet met seep wat in sy oë brand. Hy het rondgevoel na die handdoek. Sy het dit in sy hand gesit sonder om die punt te los. Hy moes liggies pluk. Toe hy weer kon sien, was sy eerste gedagte: Dankie tog, Memorie lyk nie na haar nie. Die perserige onderlip, die kort wimpers, die bol-oë. Sy kan seker as mooi deurgaan, altyd opgetooi. Maar hy het nog nooit getalm om te weet nie, hulle is nie portuurs nie. Sy is die vrou van sy stiefpa, hy hou nie van haar nie maar verduur haar. Dis die hele storie.

Hy het lig gemaak, die kersstompie ’n power bondgenoot. Hy wis nie hoe om die saak te hanteer nie. Hy is jonk. Die familie-vroumense in sy lewe het hom nog altyd aanbid.

“Wat môre se ryery betref. Dalk moet jy nie vir Memorie saambring nie. Dit was nie my bedoeling nie.”

“Maar dit is my bedoeling.” Sy stem was gelaai.

“Is julle twee danig?” Geveinsde verbasing. “Julle ken mekaar dan skaars. Julle het nie eers briewe geskryf nie.”

Hy onthou die ingegorde Mrs Meyer, ’n losieshuisvrou, wat met haar seun Zaverius daardie Sondag op Peerboomkloof aangekom het om Memorie te haal. Dié wou nie regtig gaan nie. Haar oë het in syne gepleit.

“Ons het afgespreek.” Hy kan nou insien hoekom Memorie briewe ontmoedig het. By die koshuis sou dit haar ’n naam gee, by die losieshuis sou haar ma dit in die hande kry.

“Ek weet heeltyd niks. Sy ag my mos nie. En ek het haar so mooi grootgemaak. So mooi aangetrek.”

“Mý vrou kan maar goiingsak dra.” Nou wis sy.

’n Oomblik se verwarring. Maar die dun nerfie word flink herstel: “Daar is nog seep in jou oor.” Haar hand reik uit, die skadu soos ’n vlermuis teen die growwe muur.

Hy deins terug, hoewel die plek min is. Met klere en gewere wat aan spykers en horings teen die mure hang, met trommel en katel en tafeltjie is die eertydse tuiekamertjie klaar oorvol.

Ingebore respek teenoor ’n vrou belet hom om haar opsy te stamp. Hy weet nou hoe Josef in Egipte moet gevoel het.

“Ek stuur vir haar ’n sommetjie geld. In goue ponde, om terug Kaap toe te gaan. Ek het dit vir haar as bruidskat gespaar, maar …”

Haar beheptheid met geld, in hierdie selfvoorsienende plaaslewe. Sy wil haar eie dogter uit haar lewe koop. En sy maak seker dat sy dit nie met swak Transvaalse papiergeld doen nie.

“Hou die bruidskat.” Hy sal vir hom en Memorie ’n eie plek bou. Stewig van bergklip; naby die groen, koel kloof. Een van sy manlike take sal wees om sy vrou teen haar eie ma te beskerm.

Toe sê Judit ronduit: “Dis onnodig dat ek en sy al twee hier moet wees. Ons is eenders, ek is net wat ouer as sy. Maar die voordeel is: wat ek ken, moet sy nog leer.”

“Julle is nie eenders nie,” het hy weerlê. “En wat sy te lere het, sal ek haar graag leer.”

“Maar wie sal jóú leer?” Listige bol-oë in kerslig.

“Die natuur het sy eie manier, Móvver.”

Die smalende naam wat haar stiefdogters graag gebruik, het haar laat padgee. Uitgestote onderlip, swaai van die rok, die toeklap van die onder- en bodeur soos sweepslae wat mekaar oortroef.

In die klein stoepkamer skrik Klint vervaard wakker. Sy tenger liggaam ruk inmekaar. Hy frons hewig. Is daar iets wat hy moet onthou uit die nag wat verby is? Hy haat die slaap wat jou soos ’n aap bekruip. Solank ’n man slaap, is hy niks werd nie. ’n Man, ja. In hom voel hy reeds die gees van ’n jong man, hoewel vasgevang in ’n tingerige tienjarige liggaam.

Hy loer vies na Wynand se bed. Wynand is agtien maande jonger as hy en ’n halwe kop langer. Dit sê min of meer alles van die ongewenste broederskap. Altyd as Wynand by ma Lulu gekla het oor pyne in sy bene, het sy gesê dis groeipyne. Dan het hy gewens Wynand se bene wil afval.

Met ’n skielike vermoede spring hy op en loer uit. Die opgestopte bokhorings teen die stoepmure koggel hom. Sowaar, Franna het hom geflous, hy span al in! Klint frons sodat hy die donker bondels van sy wenkbroue sien.

Hy pluk sy broek aan. Sy een been sit nog in die broekspyp vas terwyl hy reeds die kruisbande oor sy skouers haak. Hy los eers die skoene. Sy skoenriempies knoop maklik, wat maak dat hy sy voete van haastigheid indwing, wat sy pa laat kla oor die slap leeragterstes.

As hy tog maar soos Franna kon wees. So kalm en sekuur. Franna kan werk met ’n koei wat emmer omskop, ’n os wat stringe breek of met die dwars bywoner Kootjie Bos. En kan lekker gesels, met sy arms oor die stoel se rugleuning gehaak en sy een voet op die ander knie. Klint oefen dit, maar vind sy arms en bene te kort. Partykeer skuur hy ongemerk sy stowwerige kaalvoet teen Franna, net om naby genoeg te kom.

Die verskil moet by die pa’s lê, hulle het tog een en dieselfde ma.

“Haai, Franna, wag, ek help inspan, jy’t gesê …” ’n Ding is reg of verkeerd, en Franna het hom geflous.

“Ek het gesê ek sal sién, Broer. Toe sien ek jy slaap nog lekker. Maar dis goed jy is op, dan kan jy vuurmaak.”

Begin Franna nou ook? Hoekom sê hy nie wat hy bedoel nie? Dat ’n klein geboude outjie genoeg slaap nodig het om te groei?

Die ergste is dat hy net op een plek groei. Hy wil nie meer saam as Wynand en Karools kaal in die spruit se kuile swem nie. Later lyk hy dalk soos die tokkelos, wat sy ding oor sy skouer dra.

“Jy en Wynand moet ook vandag na die melkery omsien.”

“Ek sal liewers alleen, hy terg net die koeie, dan wil hulle nie sak nie.”

“Sal jy ook vandag vir Sultan ’n bietjie góéd oefen?”

Sultan, die swart bloedhings met die wit diamant voor die kop.

Hoe treffend lyk Franna as hy op Sultan verbygalop. Wanneer Sultan so kopspeel en aan die stang kou, lyk alle ander perde verspot langs hom, insluitende Klint se eie Blesbok met die lang lyf waarop mens glad nie lekker sit nie; daar is ook g’n plesier aan ’n perd waarmee jy nie in die kliprante kan ry nie. Kom sy pa nie agter dat hy ’n beter poon nodig het nie?

Hy wag dat Franna moet sê: “Stel net vir jou die stiebeuels korter.”

Maar Franna sê niks verder nie.

Klint storm terug stoepkamer toe. Waar Wynand op sy kateltjie teen die verste muur slaap, sy vaal kuif toegetrek onder die lappieskombers, dam Klint hom by met vuiste soos poniehoewe: “Jy moet dadelik opstaan, ons moet help melk, en dan moet ek vir Sultan ry, hoor jy? Franna het so gesê.”

Dom van slaap maar reeds met die tergende lagstem, weer Wynand hom af: “Wag nou, Splint.”

Die tergnaam ontketen ’n nuwe vuisreën.

Ten einde raad rol Wynand sy slap, littige lyf tussen katel en muur in. “Toe maar, geen bene gebreek nie!” Wynand glo as hy nog een oomblik langer kan slaap, sal die res van sy lewe sonder probleme verloop.

Klint se blinde woede eindig in gekweste stilte. Daar sit ’n knop in sy keel. Dit sit al daar vandat ma Lulu dood is. Hy weet nou wat hy sal doen. Hy sal homself in ouma Gertruida se akkerboom ophang. Aan een van die laagste takke, sodat almal hom móét sien … Ja, tot die ou stiefma.

Hy sal ’n kort, kragtige boodskap los: “Begrawe my in ’n grootmenskis.” As daardie deksel eers toegeskroef is, sal niemand kan sien hoe tingerig hy is nie.

Die kis sal van hom ’n man maak.

Oplaas voel Klint so eensaam en hartseer. Hy sit op die stoepie en wag dat Franna moet ry. Dis nie lekker as Franna weg is nie. Klint weet hy sal met Boekevat vanmôre weer aan die snuif gaan. Sy susters sing sy siel so sag. Hy kan nooit glo dis dieselfde Gerrie wat met die lesuur so op hom pik, en dieselfde Betta wat hom met die vadoek uit die kombuis jaag nie. So gou hy kan wegkom, gaan hy dan met sy groot stuk jongenseer na die fonteindam.

Die fontein laat hom glo in ’n God wat “die waters onder die aarde” gemaak het. Want dit borrel daarbo in die kloof sedert heugenis uit. Vandat oupa Fransoois baie-baie jare gelede die sypeling met ’n houtpik oopgekap het, loop daar ’n helder stroom water uit die berg, al met die sloot langs dam toe. Dit sorg vir die lande en groentetuin, vir boord en blomtuin. Die oorloop voed selfs die kuile wanneer die spruit gaan staan.

Hy gaan nie vanmôre fonteindam toe nie.

As Franna ry, sal hy maar gaan vuurmaak. Hy voel in hom die ou-ou verlange na ontroosbaarheid.

Die lig blink soos dowwe lood op die fonteindam toe Frans op die kar klim. Hy sien uit na die rit. Die vosse wat hul nekke eenders knak, hulle voorpote hoog en netjies oplig. Om die dou op die lang gras van die pad se maanhaar te sien blink. ’n Nagvoël wat opvlieg, ’n bokkie of haas wat in een van die spore slinger.

“Haai, Franna, wag!”

Hoe het hy dan gedink dat hy Gerrie kan ontglip? Sy fladder die stoep af in haar vol wit nagrok. Twee dik vlegsels hang teen haar wange verby.

Hy moet die sweetvosse sommer sterk inhou, hulle sidder weens die roering van die leisels. “Wat nou nog, Gert? Ek het al duisend slopies en boodskappe.”

Met een voet op die trappie hys sy haar halfpad op, druk op sy skouer om haar balans te hou. Hy sien die vlakke van haar voorkop, wangbene en ken. Haar vel blink van gesondheid. Sy ruik na die dons van slaap. “Toe maar, die Bolandse merrie sal nie weghol as jy laat kom nie.”

“Moenie so van haar praat nie. Jy dink sy is soos haar ma, maar sy is nie.”

“Dan is ek bly, want Móvver is katools.”

“Wat sê jy daar?” Weet sy dalk van gisteraand? Kom sy juis skinder? Hulle twee het nie bra geheime vir mekaar nie. Mense sê hulle kon eerder broer en suster gewees het as neef en niggie.

So het hulle ook maar grootgeword. Ná die dood van haar ma het oom Soois vir haar en Betta na Grootverlangen gestuur. Hy kon op sy destydse huurplasie nie vir hulle sorg nie.

“Ek wil maar net vra as jy op Makouvlei aangaan, moet jy vir Hermana die patroon van die gehekelde kussingsloop vra.”

“Weer net ’n plan om ons aan mekaar af te smeer. Vergeet nou eers van Hermana. Wat is dit van Judit?”

Sy leun oor en fluister swaar: “Ná my pa en Móvver in Pretoria getroud is, het hulle mos op Makouvlei oorgeslaap. Nou ja, Hermana vertel Móvver was daardie nag siek, ta’ Lammie moes bontstaan.”

“Hoe bedoel jy siek?”

“Man, moet jy nou rêrig weet? Dit was vroumenssake. Bloeding en so.”

“Dankie, nou weet ek presies.” Hy lig die leisels.

“Aag, nou ja, dan vertel ek jou maar. Dit was iets soos … as ’n ooi lam afgooi, jy weet?”

Dit ruk hom. As dit waar is, beteken dit Judit was in die moeilikheid toe sy Transvaal toe gekom het. Sy moes vinnig man kry, en oom Soois het hom laat vang.

“Nou juis die nag op Makouvlei,” peins hy.

Dis nie ’n vraag nie, maar Gerrie haal haar skouers op. Goeie skouers op ’n sterk lyf. Sy is op vyftien reeds volgroei, hoog op die been en vol van bors. As sy iets dra, is dit linnelyfies met knopies van voor, uitgewerk in ouma Gertruida se gesogte witwerk en op wasdag deur Mmeme op bleik gegooi. Dis van huismense, hulle ken tot mekaar se ondergoed.

Sy sal aan die man wat haar kry, baie plesier kan gee. Maar daardie man sal eers by oom Soois verby moet kom.

“Die gestamp van die koets uit die Kaap, wie weet? Hermana sê haar ma reken so.”

“Jy weet hoe ta’ Lammie kan skinder.”

“Sy skinder, maar het jy haar al ooit hoor lieg?”

“Los my nou liewers, ek kon al ver getrek het.”

“Ek hou jou nie vas nie.” Gerrie spring van die trappie af. “Kry gerus jou ry. Maar ek glo nie Mémorie gaan saam met jou kom nie.” Sy spreek die naam opsetlik Engels uit.

“Natuurlik gaan sy.” Hy lig die peits.

“Ek het die karlampe vir jou skoongemaak en nuwe kerse ingesit.”

“Dankie, maar ons is voor donker terug.” En daarmee ry hy.

Die ysterwiele vat knarsend die werfpad. Sy bly agter, ’n wit vlek. Beskadu sit die vaal huis. Net ingewydes weet van die warm huislikheid daarbinne. Die yslike vuurherd onder die groot, oop skoorsteen, met vlammelig teen die dakbalke; die wit gedekte eetkamertafel, die gevulde spens, die portrette van gestorwenes en geliefdes. Hy kry die gevoel dat hy die huis moet groet.

Die huis … en Gerrie dan?

Die huis is sonder gang. Soos heuningkoekselle lê die vertrekke teen mekaar. Die eetkamer is die plek waar gelewe word. Links uit die eetkamer loop die meisies se slaapkamer, na regs die kombuis. Die middeldeur lei na die sitkamer, met weerskante die hoofkamer en die vrykamer.

Soois Viljoen vlek die hele huis in sy kop oop terwyl hy aantrek en met velskoene in die hand probeer uitsluip om te rook. Hy het sleg geslaap. Toe Judit gisteraand langs hom in die bed klim, sê sy: “Slaap maar lekker, daar is iets wat jy môre vroeg moet hoor.”

Wat tog nou weer? het hy deur die nag gewonder. Iets wat sy in ’n kas ontdek het? Kan mos nie uit die laaie bly nie. Soek die stil, soet geheimenisse wat sy kan uitgrou en verdelg. Eenkeer gooi sy dan glad die begrafnislys van oorle’ Lulu in die houtkas “omdat mens nie saam met die dode kan lewe nie”.

Hy moes verdomp liewers weer ’n vlytige en goedgeaarde Transvaalse weduwee getrou het. Hy verkwalik half vir ma Gertruida. Met haar kuier in die Boland vroeër vanjaar het sy Judit so te sê opgetel. Skaars terug in Pretoria, of Judit kom agterna om kamtig haar nuwe vriendin te besoek.

Ma Gertruida se vriendskap is duur. En ás hulle bevriend is, hoekom het Judit die verlowingsportret van ma Gertruida van die eetkamermuur gehaal en agter die kombuisdeur gehang? Betta was briesend, maar Gerrie weet hoe om met Judit te werk. Net daarna stof sy kastig af en laat val die portret van Judit se kinders, die glas flenters. “O, ’skuus tog, ek hoop nie ek breek nog ál Móvver se goedjies nie!” Gou-gou was ma Gertruida se portret terug waar dit hoort.

Frans gaan vandag die dogter haal. Hoe lank voor die seun ook volg? Wil Judit die plaas vir hom inpalm? Sy probeer Frans hier uitwerk, sy soek net ’n rede. Sy sal lank soek. Frans is ’n voorslag.

Soos Frans ouer word, het die boerdery vanself in sy hande gegaan. Dit bly Soois kwel: Grootverlangen kom eintlik vir Frans toe. Die Skrif sê: “Kom op de akkers der weezen niet.” Maar wat van sy ander kinders?

“Jy wou my iets vertel het,” herinner hy bedug toe hy hoor dat Judit tog wakker geword het.

“Later, as ek beter voel. My senuwees lol weer.” Sy wag dat hy aandring, maar hy benut die gaping.

“As jy sleg voel, lê dan nog ’n bietjie,” pleit hy byna. “Ek gaan solank kyk of Frans al weg is.” Hy weet Frans is weg, hy soek net rede.

“O, hy!” Judit lê haar hande soos asynlappe teen haar slape. “Dalk moet ek jou maar vertel, hoewel ek tog nie tweedrag wil saai nie.” Sy verwag nie ’n antwoord nie, jaag net die gemoedshitte op. “Jy moet met hom praat, hy het geen respek vir my nie.”

“Ek sal vanaand,” kom hy los. Dis te skielik op hom. Hoe práát hy ook met Frans? Frans het nooit eers leer Pa sê nie. Altyd nog: “Ja’m Soois, nee’m Soois.” Lulu het gereken hy moet hom dit nie aantrek nie: “Hy ag jou tóg wel.”

Soois trek sy skoene aan, maak dubbel seker dat sy rookgoed in sy sak is. ’n Man se lot darem. Jy kan maar sê ’n vrou het hom aan sy gereedskap beet, en daarmee stuur sy hom. Die gedagte aan Lulu stem hom bewoë.

Judit slaan munt uit die tydelike knop in sy keel. “As ek jy was, los ek hom g’n oomblik alleen by Gerrie nie.”

Soois skrik. “Maar hulle is soos broer en suster!”

“Weet jy dan nie van Amnon en Tamar nie?”

Dis op die punt van sy tong om te sê dat die Bolandse skinderstories hom nie aangaan nie, toe hy gelukkig snap. “Ek sal vir Gerrie vra om ná die Boekevat vir jou lekker waswater te bring,” soek hy uitstel.

“En my sommer help aantrek en die pot uitvat.” Judit kan nie verstaan waarom die dogters haar nie van kop tot tone wil bedien nie. “Ek sal later verplig wees en laat maar vir my Kaapse mense kom. Dalk ’n Maleise kokbediende.”

’n Maleierkok hiér, net duskant duisend myl van die Kaap af. Vir klein Fienie Bos wil sy oplei as “witmeisie” om haar te help aantrek.

Jacobet het vir hom twee dogters gegee en Lulu twee seuns, behalwe Frans as pasella. O, hy onthou die diep gesigte van sy vorige vroue. Judit gee vir hom net moeilikheid en haar gesig is vlak.

Soois stryk radeloos oor sy netjies geknipte baard. Kyk, doodsdroefheid gaan oor, maar onmin slinger aan en aan soos ’n pad oor die bulte.

In die eetkamer kyk hy verlangend na die riempiestoele, hol van die sit van geslagte. Maar nee, die pyprook sal kamer toe drywe.

“Is jy tog nie al op nie, my kind?” vra hy toe Gerrie in haar nagrok verby hom vee. Hy plooi sy voorkop in die dik, vaderlike rimpels wat altyd die dogters gunstig stem.

“Ja, môre-Pa. Ek het net gekyk of Franna alles het.” Soos altyd wanneer dit voel of hy faal, ondervind Soois die drang om te gee. “Is daar nie nog iets wat jy vir Ouma-hulle wil stuur nie?”

“Gisteraand het Pa dan oor die garingbiltong gekla.”

Soois bly liewer stil en loop saf oor gebreide voetvelle buitentoe. Dis waar, die familie word vandag goed ingestop. Die karkis loop oor. Vir sy ma en suster gee hy nie om nie. Maar daardie Ol Osvet! Breek gereeld uit en suip hom des moers, sy huis tot skande. Die duiwel weet wat Anna-Maria in hom gesien het. En om te dink dat ma Gertruida liewer by hom inwoon as hier waar sy hoort. “Anna-Maria het my ’n slag nodig,” was die verweer toe sy dorp toe trek.

Hy sal die waswater nou maar self moet invat. Hoop Frans het een van die seuns aangesê om vuur te maak.

Waarom moes Judit nou onrus in sy hart saai? Hy kan Gerrie tog nie soos ’n blomtuin afkamp nie. Moet eerder maar op Frans se fatsoenlikheid hoop. Gerrie kan nogal speels raak. Soms moet Frans haar deur die dorings of poele reënwater abba, haar rok tot waar opgeskuif.

Soois vind ’n ver hoekie van die stoep naby die soldertrap. Hy rook met oorgawe terwyl hy staar na die kloof waarbo dit lig word. ’n Malse vars môregeur vul sy neusgate. Dit salf hom. Wat ’n plek, met baie grond wat onder die ploeg kan kom, en die res natuurlike weiding. Nooit nodig om met die vee te trek of weiveld te bedel nie. Ná elke lamtyd moet daar hamels verkoop word, die troppe word te groot.

Ma Gertruida sê mos Grootverlangen voed die lewendes en omhels die dodes. Sy behoort te weet. Op ’n dag, maande nadat sy met haar orige drie kinders terug was uit Afrika, het Syster aangekom. Op die gehawende wa was twee toegesoldeerde blikkiste. ’n Handelaar het hom met dié takie gehelp, het Syster vertel. Maar hy het gesukkel om drywers en touleiers te kry, vanweë die aard van die vrag. In die een kis was die oorskot van pa Fransoois, in die ander dié van die twee kindertjies.

Ná die herbegrafnis in die kerkhof onder die rantjie het Syster gesê: “Nôientjie, ek kry nou maar koers terug Kaap toe. Hierdie land gaan my doodmaak.”

En die land hét.

Syster, oftewel Caesar, die Kaapse jonge wat die bruidstrek Transvaal toe help bring het, het eindelik meer as vyftien jaar gebly. Die vrygemaakte slaaf het verslaaf geraak aan Fransoois Viljoen, die Trekkerseun.

Soois onthou hoe Syster kon sing, ’n droewe slawelied uit die Suide waar die slawe hul op Sondagaande self vermaak het. Dan het ma Gertruida altyd gesê: “Sug, o my siel.” Besadigde outa Syster met die geslyte oophangonderbaadjie, die grys wolkop en die wyse sêgoed.

Op pad terug Kaap toe slaan die bliksem hom morsdood sodat die emmertjie, ketot soos hy dit Kaaps genoem het, in sy hand smelt. Hy was onder ’n ligte herfsbui op pad om water by ’n gorê te skep, het die transportryer wat hom vervoer het, agterna vertel.

“Ai, Ma,” prewel Soois. ’n Verslete verdriet laat die pyprook in sy keel opdam. Hoekom het Gertruida du Toit nie saf naby die kus bly woon en hom alleen voortgebring by ’n geswore Bolander nie? Hierdie diep Noorde tap jou genadeloos, veral as jy nie graag vuur op jou trek nie.

Aan geen van die veldtogte teen swart stamme het hy nog deelgeneem nie, maar hy kom sy burgerlike plig na deur rygoed en proviand te gee. Nou is daar sterk sprake van ’n nuwe oorlog, weer teen Engeland, dié keer oor goud. Hopelik waai dit oor of woed net so vinnig uit soos in ’81. Met ’n vrou soos Judit het hy nie nog ’n oorlog van buite nodig nie.

In die vervalle hartbeeshuis word Antjie Bos wakker. “Kootjie, ek sê, sta’ op. Jy’t vir neef Frans gebelowe jy sal vandag natlei, en jy beter vroeg begin …” Antjie gaan nog ’n wyle aan. Dis veilig. Kootjie is nikswerd as hy deur die slaap is. Hy lê daar soos ’n gifding met gekoekte hare en skurwe voete. Die flenterkombers kom nie oral by nie.

“Kootjie, ek sê …”

“Dit gaan kom reën.”

“Dit gaan nie kom reën nie. Dis droog.”

“Hou op neuk.” As Frans tog vandag weg is, besluit Kootjie, kan hy net sowel laat slaap. Maar Frans sal sommer weet. As Frans so half wegdraai van jou af en dan skielik terugdraai om jou vol aan te kyk, droog jou storie sommer in jou mond op.

Dit het so maklik gelyk toe hy Frans gisteraand belowe dat hy vandag al die lande sal natlei, koring en hawer. Dit terwyl hy op sy eie landjie skaars gesaai het. “My eie lande lê braak …” Staan dit nie iewers in die Skrif nie? Dit kan hom ’n wapen in die hand gee. Onsag stoot hy vir Antjie aan. “Bring vir my die Bybel en die kers en maak gou.”

Antjie was eerder haar dood te wagte. Kootjie is nie godvresend nie, en kan nie eers lees nie. Sy kan ’n bietjie lees, maar net met vinger bysit en lippe roer. Die Bybel, haar enigste erfstuk, toegedraai in ’n doek, steek sy goed weg, ingeval Kootjie ’n blaai uitskeur om twak in toe te rol.

“Om te wat?” wil sy weet.

“Soek of daar iets van braaklande staan.”

“Nou waar dink jy moet ek dit altemit soek?”

“Begin by die begin.” Hoe minder feite, hoe beter argument.

“Dan maak jy solank vuur,” toets Antjie die egtheid van die duistere versoek.

“Ossie word groot genoeg, hy kan.” Kootjie se knieë voel uitgehaak. En waarvoor maak mens kinders groot? Hy gluur na die vloerkooi waar Ossie en Fienie en nog ’n paartjies slaap, opgekrul van koue. Eintlik ís daar geen vloer nie. Die misvloere van Fransoois Viljoen se hartbeeshuis het lankal tot grond vergaan. “En Steffina kan solank die water in die eerste akker loop sit.”

“Fienie moet in die groothuis gaan help, miesies Viljoen se dogter kom vandag.”

“Nou laat sy sommer ’n paar borde meel leen. Maar sy moet vir nig Betta vra, nie vir die kropduif nie.” Hy kan haar nie veel nie. Groet hom nie, en hy moet soos volk by die agterdeur wag.

“Los jy maar oom Soois se vrou uit. En Ossie moet in die lammerhok gaan help.” Oor die meel sal sy nog dink. Sy bedel nie so maklik nie. Mens het darem jou eer. Daar is nog genoeg in die sak om vanaand roosterkoek mee te bak, hoewel daar ook genoeg kalanders in is dat die meel kan wegloop.

“Ek sal ’n plan met hierdie ewige natleiery maak, ek sal julle wys.” Daar moet ’n manier wees om die water vanself oor die akkers te laat loop. Of om die reën te maak kom.

’n Arm man lewe van sy planne, en Kootjie het baie. Dis hoekom hy nog nie in die pad gesteek is nie. Selfs Frans kom soms vra: “Kootjie, jy’t mos ’n kop vir planmaak. Kyk dan bietjie vir ons na die put se katrol.” Of iets dergeliks.

Hoewel Kootjie nog nooit ’n plan gemaak het met die reste van die deur wat aan ’n vrot velrepie hang, of die venstergate waarvoor hy op koue nagte velle span, of die verbrokkelde haard of gaterige rietdak nie, wil dit nie sê hy hét nie planne daarvoor nie.

Gevra waar hy al sy planne kry, sal Kootjie antwoord: “My ma het my geleer.” Gevra hoe sy ma lyk, sal Kootjie sê: “Sy’t twee oë hier,” en met sy vingers in ’n mik na sy eie oë wys.

“Wat gaan jy maak as jou planne opraak en oom Soois jaag jou weg?” vra Antjie.

“Met ’n weduwee met ’n goeie plaas trou.” As Soois Viljoen dit kon regkry, kan hy ook.

“Wat gaan jy met my aanvang?” Antjie sou graag wou weet.

“Vir jou poep ek sommer om.” Kootjie het nog sy ligter oomblikke met sy vrou.

Antjie mompel iets van “Vir jou om vir my …” en beur orent. Die kleintjie wat tussen haar en Kootjie op ’n piepiekombersie slaap, soek instinktief na die tepel waaruit hy heelnag iets probeer suig het.

Kootjie kyk na haar vol bors wat nog halfpad uit die oopgeknoopte rok hang. Maar nee, daar op die grond roer Fienie se bossiekop al. Regte klein snip, hierdie dogter van hom. Behoort reggeneuk te word, maar Antjie praat haar voor, en hy is souerig vir sy vrou. Hy het net een keer aan Antjie probeer slaan en hy weet nou nog nie wat sy gedoen het nie, maar hy was so uit soos ’n kers en dit sonder ’n merkie.

Maar hy sal haar nog wys, neem Kootjie hom voor, gevoed deur vae voornemens wat sy vermoëns ver te bowe gaan. Hy sukkel uit die kooi en steek sy dik gelapte hemp in sy broek. Dit spaar ’n man sommer baie moeite as hy met sy klere slaap.

Dis die uur van die beeshorings. Dit beteken dat as ’n man laag buk, hy die horings van sy beeste teen die groeiende lig kan onderskei. Dis waar, daar bulk nie beeste by Modjaa se plek nie, maar die kennis van die gehoringdes kom met sy bloed langs.

Die psikwembu, die geeste van die voorouers, het vannag so hard geroep dat hy nie kon slaap nie. Hulle was knaend aanwesig in die roering van die bergwind, die tranerige gefluit van ’n naguil, die kiaau van ’n jakkals.

Maar hy huiwer om die bene te bevraag, al hang hulle in ’n geslyte velsakkie aan ’n lae boomtak langs hom. Die bene is vol krag, en krag hou groot kanse in, maar ook groot gevaar.

Hy woon jare al tevrede hier. Hy sorg vir homself met kleinjag. Voëls, hase, kleiner roofdiere. Verder bewerk hy vir Soois Sinjan velle in ruil vir melk en mielies. Sinjankobo, dis hoe hy en Isimbi vir Soois noem omdat daar in die Laeveld so ’n staan-agter-die-bos buffelbul was.

Modjaa se looikuip ruik sleg. Dis sy eie muishondstelsel teen indringing. Furana weet al om bo die wind te sit, ook Isimbi as hy af en toe hier kom. Iemand wat medisyne dra, moenie baie praat nie. Dit kan die medisyne beskadig.

Voor die holkrans gloei Modjaa se misvuurtjie. In die lug tussen die ander verflouende sterre sien hy vir Ngongomela nog helder blink. Dis sy leidsman wat sê hoe vroeg hy moet veld toe om met sy honde te jag en kruie te versamel.

Hy is ’n ware njanga. Dit maak hom kwaad as mense sy medisyne minag omdat hy nie mensdele gebruik nie. Of hom ’n gomela noem, ’n towenaar wat bose geeste gebruik om andere te teister. As hy ’n gomela was, het hy lankal ’n klompie mense op hierdie plaas getoor, en dan dink hy nie net aan die seunskinders wat in sy goeterse krap as hy weg is nie.

Daar is ook Mmeme, wat rondvertel hy blêr nie. Eendag gaan hy en sy nog harde prate praat.

Dis waar dat hy as seun tussen witmense ’n siekte gekry het wat hom onder sy deurtrekker blink laat swel het. Dit het sy spies min of meer stomp laat bly, as man en as impi. Die kere wat hy by ’n vrou was, het nie sy ore laat sing nie.

Maar die voorvaders het hom vergoed deur vir hom ’n broer te stuur, ook ’n soort weggooibeen. Modjaa noem hom Isimbi, vanweë sy bylhand. Hy het tydens hul swerftyd in die Laeveld gesien hoe Isimbi ’n byl in ’n stormende leeu se skedel gooi dat dit agterna met ’n gesukkel uitkom. In die bos word krag en oorwinning soos hierdie hoog geag.

Daardie goeie tyd het tot ’n einde gekom toe Olav Ostfedt, sy Isimbi, vrou vat. Die suster van Soois Sinjan. Modjaa is uit die Laeveld saam Pretoria toe, maar kon nie in die dorp uithou nie. Hy sien nie vir lapklere kans nie en die wiele raas.

Gewoond aan die Laeveld, het die winters ook sy lyf koud gemaak. Toe stuur Isimbi hom plaas toe, hierdie kant van die Magalies. “Kyk sommer dat Soois Sinjan nie stief met Furana werk nie,” het Isimbi gesê. Isimbi en Furana is eenders, wys van hart en sterk van krag, goed en eenvoudig soos die veld.

Modjaa treur wel nog lank en diep oor die Laeveldse nagte vol maanlig, met die oproerige lawaai van wilde diere. Die leeu wat sy brul meet teen die bastromme wat die ritme van die domba-dans slaan. Die vuurstippels wat die nag saam met die oë van die diere laat lewe.

In die hitte en stilte van die Laeveld-middag dwarrel rustelose winde. Dis dan wanneer die spoke van Afrika dwaal, die isikathi somoyo.

Nie almal aard in die Laeveld nie. Vreemdelinge sien net skaduwees wat van vorm verander. Vir die boorling is alles duidelik, van die roofdier wat tussen die riet verdwyn tot die tokkelos wat agter ’n miershoop skuil. En die inoji, die nagspook met sy wit geraamtekop, wat sy liggaam in die vorm van ’n wolf agterlos en met sy vlermuisvlerke wegvlieg om mense se bloed te drink.

In die ver land waar hy vandaan kom, het Isimbi vertel, is ook weerwolwe wat in die nag swerwe en bloed suip. Dis hoe hy Isimbi as broer leer uitken het.

Die Laeveld is die land van sy moeder. Die land van sy vadere is anderkant die Limpopo. Lank gelede, toe Tsjaka se dapper helde se spiese dik gevreet was van bloed, het die afvallige indoena Mzilikazi van hom weggebreek.

Tsjaka was die wreedste koning wat ooit geleef het – maar sterk, en sy naam leef voort. Met sy kort steekassegaai het hy die aangesig van oorlog en die loop van die geskiedenis verander. Mzilikazi het so ver en vinnig moontlik van sy wraak weggevlug.

Hy het sy eie bloedspoor deur die swakker stamme getrap. Hy het vlugtende mense met troppe wilde honde gejag. Die velde rondom sy koningskraal hier naby aan die oewers van die Apies was besaai met lyke en geraamtes. Dié wat ontkom het, het hul hutte in groot bome gebou omdat die leeus so snoep geraak het dat hulle niks anders as mensvleis wou vreet nie. Mens het mens geëet. In die kookskerms het hope ronde koppe gelê, groot en klein, reg vir die pot.

Die magtige Mzilikazi het die manne vermoor en die seuns gevat om krygsmanne te word. Ook die begeerlike vroue is meegevoer, onder wie Modjaa se ma, ’n jong meisie. Toe haar vader en broers haar gaan terugsteel, het sy reeds besoek van die abbavel verwag.

Die kind is deur haar mense uitgewerp. Sy het met hom rondgeswerf, dan in die veld, dan tussen wittes. Sy naam was Modjaa, omdat hy vinnig kon hol en van baie waarde vir die witmense was. Maar soos hy in die medisyne begin ingaan het, het hy geleer om die veld stadig te deurkruis.

So het hy elke spoor van toe en nou leer ken. Want die gesig van die land, sy wye vlaktes en wyse berge, is van spore gerimpel soos ’n ou aartappel. Hier in die Magaliesberge lê die spore veral baie dik op mekaar.

Die storie van hierdie berg is die storie van Afrika. Van dwalende veewagters, onstuitbare impies, geeste van die voorvaders.

Niemand weet wie die eerste spore hier getrap het nie. Maar daar bo-oor het troppe wild kom loop. Toe volg die San met pyl en boog; hy kry hulle rotsprente in die Laeveld en hy kom kry dit ook hier in die holkrans.

Daarna kom die swart jagters en die handelaars met bondels op die kop, kruiemense en toordokters: Tswana, Karanga, Ndebele, Venda, Tembe, Sjangaan. Van hulle vind hy stukke kleimaskers en potskerwe.

Al hoe meer swart voete uit die Noorde, gedruk deur honger of oorlog of wat ook al, kom die klein, geel mensies uitdryf na die verder wildernisse.

Eindelik het daar ’n snaakse rilling van groot onrus deur Afrika geloop, en kort daarna het die witman se wiele uit die Suide aangerol gekom om die oeroue paadjies tot wapaaie oop te trap. Soos hulle ry, het duisende kopbene onder die ystervellings van hulle wawiele gekraak.

Hulle was op soek na grond om hulle nasie te bou. Hulle is bleek soos maanlig, maar hulle kon nie misgekyk word nie. Hulle het die Difaqane kom omswaai. Die swakker stamme het uit hulle skuiltes gekom en hulle verkneg vir veiligheid en vleis. Die sterkes het voor sy donderbusse en stormende perde gevlug. Hy het die swart jagters se vanggate toegegooi en sy eie jagtogte begin. Hy het die grond wat dik gedrink is van stambloed, nog meer bloed laat drink met sy eie oorloë vanaf Dingane se Umgungundlovu tot by Mzilikazi vir wie hy oor die Limpopo gedruk het, en tot by Sekoekoenie.

Dit was nou nie meer net swart teen swart nie, maar ook swart teen wit. Die wittes eet graag grond, sonder om te vra of daar heilige plekke op is. Die swartes eet vee, sonder om te vra of daar merke op is. Dan is dit spies en geweer.

Die groot wit teen wit moet nog kom, want Afrika se kring het nie oop plekke nie. En die dooies word nie getel nie, solank die stam bly voortbestaan. Alles gaan om stam, die gemeenskap van lewendes en oorledenes waarby die oorledenes nie die geringer rol speel nie.

Modjaa se oë water van misvuurrook en onthou.

Hy voel gerus om te weet dat wat in die verlede was, altyd weer sal wees. So hoort dit. Maar as iets verander, moet hy betyds weet.

Aan min mense het hy hom ooit geheg. Isimbi was een, maar hy het hom verloor. Gaan hy Furana ook verloor?

Eindelik swig hy en haak die velsakkie af. Hy maak seker dat daar genoeg rook dwarrel. Dan sprei hy sy dolosmat, die vel van ’n ongebore kameelperdkalfie, op die grond oop en begin kou aan ’n stukkie sjiroengoeloe-wortel. Hy spoeg dit op die dolosse om hulle wakker te maak. “Mamoe,” spreek hy die woord en met een gladde beweging skommel hy en gooi.

Sy oë skuil dieper weg terwyl hy tuur na die beentjies van bok, skaap en leeu. Daar is stukkies skilpaddop, ’n klip uit die maag van ’n krokodil, ’n kristal van die diamantveld.

Hy kyk goed, en hy moet glo dat hy nie vandag gaan jag nie. Sy honde moet alleen. Hy het hulle geleer. Hulle bring gereeld duiwe, hase en tarentale uit die veld en klowe.

Die Magalies is nie ’n groot berg nie, maar plek-plek is die klowe diep genoeg dat lank gelede die Tswana-kaptein Mogali daarin kon wegkruip vir die wraak van Mzilikazi. So het die Kashan-berge, genoem na die opperhoof van die Kwena, ’n nuwe naam gekry, die naam van Mogali.

Modjaa is net ’n mens. Hy wens hy kon self in die klowe wegkruip vir die verandering wat hom voor die deur staan. Maar hy moet sy plig doen. Klaarmaak vir ’n lang reis. Medisynes inpak, veral dié teen die koors. Hoewel die kosbare wildeknoffel van die Laeveld hier ontbreek, kry hy in die veld die regte soort aalwyn met die spikkel op die blaar, nie die gewone soort wat Karools altyd vir Bettakie aandra nie.

Hy sal sy karos uitskud, alles saam met kalbas en pappot en beker in ’n bondel aan ’n stok bind. En dan wag. As daar niks gebeur nie, gaan daar nie tyd verlore nie. Furana sal nie voor vanaand terug wees nie. Hulle twee sal nuwe spore maak op die nimmerleegpad.

Of hulle ooit terug sal keer, het die bene nie gesê nie. Modjaa weet net hy kan nie anders nie. Geen oomblik maak homself nie. Die gevolge van gister word die oorsake van vandag.

Elke oomblik is die som van vorige oomblikke wat deur jou hande en deur jou siel gegaan het.

Die Magaliesberge wat sowat honderd myl ver tussen Pretoria en Rustenburg in ’n wye strook granietheuwels strek, vorm die natuurlike grens tussen Hoëveld en Bosveld.

Hier in die sogenaamde Middelveld trou grasvlakte met rant-en-bos sonder dat die mens dit juis agterkom. Maar daar is ander geskapenhede wat agterkom. Die swartwitpens, daardie skaars bok met sy grasieuse kromswaardhoring en blinkswart harekleed, steek nie die berg na die suide toe oor nie. So ook die witborsspreeu, die swartmamba en die maroela.

Makouvlei, geleë in die wye vallei wat na die vaalpers bergketting lei, het juis ’n yslike maroela op die agterwerf, stil getuie van die werkinge van ’n bestaansboerdery. Al wat ’n taak is, geskied onder die donkergroen blaredak. Die growwe stam is vol littekens van draad en osriem. Snags slaap die hoenders in sy takke teen die kleiner roofdiere; bedags skuil die pluimvee, varke en hansdiere in sy skaduwee.

In dratyd is dit ’n morserige boom. Maar van die wildruikende liggeel vruggies wat in plate afval, kook Lammie Retief emmers vol jellie; dis handig as die soeter konfyte opraak, en Ouboet hou daarvan by sy vleis. Vir haar oudste seunskind doen ’n ma maar altyd ’n ekstra moeitetjie.

Dis ’n yslike werk om die gekookte vruggies deur te syg, maar Lammie maak ’n plan. Sy keer ’n kombuisstoel om, bind ’n gaasdoek aan die vier pote vas met ’n opvangbak onder, en die sap sypel rustig deur terwyl sy met haar ander werk aangaan.

Dis bakdag. Lammie bak elke Vrydag twee dosyn boerbrode voor brekfis. Met soveel monde wat gevoed moet word, kan dit nie anders nie. In die spens staan ’n kis wat ’n hele paar sak meel kan vat. Raak die brood tussenin op, bak sy ’n paar ekstra sommer in die klein bakoond langs die grote, spesiaal gebou vir nood en soetgebak.

Maar die groot, ronderige rousteen-bakoond is haar tempel. Sy het afgebreek en oorgebou tot dit perfek was. Hoog genoeg gelig sodat ’n ventilasiegat nie nodig is nie, die klipvloer dik genoeg dat die brood ook van onder bruin kan bak.

Lammie en Hermana het voordag in twee yslike skottels geknie. Daarvan getuig die hardgeworde deegkriesels op Lammie se voorskoot. Panne is daar nie so baie nie, sy maak van party deeg sommer vloerbrode wat links van die oond op die werksplatform van leiklip rys. Twee-twee word die panne met hoog geryste deeg op die plat houtskop in die oond gesteek. Dis nou as die temperatuur reg is. Al die roet moet tot witgrys weggebrand wees en nadat die kole uitgekrap is, moet Lammie haar hand in die oond kan hou tot sy tien getel het.

Die sewejarige Corrus is die een wat help en wat indringende vrae vra oor Daniël en sy vriende, toe die hittige gloed hom in die gesig slaan. Sy kon nie haar lag hou nie toe hy praat van Saalsak, Meelsak en Appeleenoog. Mens moet seker ook versigtiger wees met die kind se gevoelens. Ouboet en die tweeling werk rof met hom. Sy het tog so ’n sagte plekkie vir hierdie middelseun van haar. Sy dromerige oë en ligbruin kuifie steel haar hart.

Lammie stut die plaat voor die oonddeur en plak nat klei rondom. As die klei droog is, is die brode gewoonlik ook net mooi gaar en kan Corrus dit met die kruiwa kombuis toe aanry.

Sy roep op hom om ’n bietjie water te bring sodat sy die klei van haar hande kan spoel om weer haar velmoffies aan te trek, maar hy is skoonveld.

“Altyd twee fluite en drie vloeke ver as mens hulle soek,” brom sy teenoor Hermana wat flink die water bring en op haar ma se hande giet.

“Ek het gesê hy kan bietjie met my mak tarentaal speel, Ma. Ek hoop nie hulle maak hom seer nie.”

“Ai, jy met jou hansdiere, pleks vir jou ’n man kry.” Dis uit voor Lammie dink, maar dis die heilige waarheid. Dis enigiets van bokkies en hase tot jakkalse, meerkat en witborskraai; gewoonlik kom die hansies iets oor, en dan is dit ’n treurmare.

“Wat ek miskien waar kry?” vra Hermana, nogal opstandig vir haar wat altyd so gedwee is.

“Pas jou beter op, en jy sal sien.” Lammie self dra behalwe die moffies wat net haar vingerpunte laat uitsteek, ook ’n diep platkappie met ’n breë nekval. En die son is nog skaars behoorlik op.

Hoekom moet Hermana tog so kaalkop en kaalhande wees? Asof sy g’n hoop meer het nie. Sy is al twintig. Dit kwel Lammie dat sy en Tys dalk onwetend meer as een vryer afgesit het. Mens wil tog die beste vir jou dogter hê, veral as sy so baie in die huis werd is.

“Vir wie sal ek my tog oppas?” Hermana laai ’n klompie houtspaanders in haar voorskoot om kombuis toe te vat. Dan, meteens, asof haar moed haar kan begewe: “Ma, watse telegram het Pa gister uitgevat na die Viljoens toe?”

“Maar die telegram was mos nie vir óns nie, my lam.”

“Dis darem ons familie, Ma.”

Lammie is ’n niggie van Jacobet, Soois se eerste vrou.

“Nou ja, die telegram is van Soois se stiefdogter,” swig Lammie. “Sy’s in Pretoria by Ol Osvet-hulle. Tys sê dit klink of Franna haar vandag gaan haal.”

“Ek hoop Gerrie kom saam,” prewel Hermana. Haar hart skop soos ’n gekweste ding. Gerrie het vertel hoe mooi die stiefsuster is en hoe sy vir Frans uitgekyk het. Hermana het gehoop dis ’n geval van uit die oog uit die hart.

“Soos ek vir Franna ken, sal hy vroeg ry. Ek wonder …” Lammie kom orent en stoot haar kappie effens agtertoe terwyl sy na ’n stoffie in die verte tuur.

“Minskeel is dit nou hy,” bevind sy toe sy wel seker is dat dit ’n kapkar is wat aankom.

En staan toe verbaas, want Hermana het weggeskarrel.

In die kombuis laat Hermana die houtkrummels in die houtkas val. Kyk hoe lyk alles, bekers vol koffiemoer, broodkrummels op die kaal tafel. En moet Oupa ewiglik langs die vuur sit?

Op Grootverlangen is alles so fatsoenlik. Die Viljoens is eersteklas mense. Hier is nie eers ’n aparte eetkamer nie. En hoekom het haar pa en ma so baie kinders?

Seuns – dis oor die seuns. Toe hulle oudste ’n dogter is, het hul haar ’n seunsnaam gegee in die geloof dat dit seuns sal aanbring. En dit hét. Sewe tot op datum. Daar was nogal ’n hele spasie tussen haar en Ouboet. Toe hy kom, was hy die godjie. Die ergste is dat hy ook Herman gedoop is, asof háár bestaan daarmee doodgevee word.

Maar hy is nors en donker en sy het nie veel aan hom nie. Sy verstáán hom nie. Die woede in hom, wat ook selfwoede is … Toe hy eenkeer ’n skaap die derde keer misvang, het hy sy hand moedswillig teen die kraalmuur geslaan dat die nerwe staan.

“Waantoe is sy nou so haastig?” vra oom Ou-Willem homself af. Sy stem is krakerig soos perkament. Hy sit op sy Boerestoel naby die vuurherd, van voordag reeds. Dis by sy opvoeding ingeweef dat vroomheid saamhang met vroeg opstaan.

Danig oud is Ou-Willem nie, iets in die sestig, maar hy het as seun binne een nag oud geword, die skriknag langs die Tugela. Hy moes sien hoe sy familie en selfs die troue bediendes te midde van wilde krete met assegaaie gelem word, hoe babatjies se harsings teen wawiele spat.

Wat te erg is om te verduur, groei vanself ’n pêrel. Wasig binne sy oogkaste herroep die grysaard slegs flarde van wat gebeur het. Die geskrou, die skote, die vlammende waens, die gerammel van die laaistokke in die geweerlope.

Toe die dag breek, was daar porseleinoë en stywe haarslierte soos bloedspeke. Hy het sy hand op ’n koue lemoen gesit, en daarna eers besef dis die koppie van ’n baba. Hy dog hy hoor die vlerke van die doodsengel ruis, maar dit was die eerste aasvoëls. En die brommers het ’n blou plaat gemaak. Hy het onder die hoop lyke uitgesukkel.

Ou-Willem het getrou en kinders grootgemaak. Sy vrou afgegee. Op sy oudag by sy dogter Lammie kom woon. Hy geniet nog sy koffie, die kommetjie gestut op vyf vingerpunte. Hy pruim swaar, want ’n pruimpie is ’n kameraad. Maar soms in die nagte wens hy dat die Heiland hom tog maar voor die daeraad wil kom haal.

Hy vat sy kierie vaster. Met hierdie sterke kierie het hy … Gods, wat hét hy nou weer met hierdie kierie gemaak? As hy net kan onthou.

Aaneen wink die gestaltes van doer ver op die oorkantste oewer. Die hande van vroue en die handjies van kinders, klein en wit soos eendagsvliegies.

Corrus hol om die huis dat sy bruin kuifie wip. Hy het Grootverlangen se kapkar sien aankom. Dalk is dit Franna. Corrus is eintlik ’n liewe seuntjie, saggeaard en behulpsaam. Maar hy is die middelste van sewe broers, klein genoeg om die skuld vir alles te kry en groot genoeg om deur almal gestuur te word.

Franna Viljoen praat egter altyd met hom of hulle portuurs is. Daarom is Corrus dadelik byderhand om die perde aan die trense te vat.

In haar kamertjie wat min privaatheid het omdat daar net ’n gordyndeur is, knoop Hermana die voorskoot se bande in haar haas om dit af te kry. Sy sukkel om dit los te kry en voel aan haar hare. Dis in twee wielvormige vlegsels bo haar ore vasgesteek. In haar kop staan dit klaar wat sy moet doen: tafel dek, beskuite uit die trommel haal, twee dosyn eiers oopslaan in die pannekoekpan op die drievoet, die koffiekan eenkant op die konfoor sit. Hoe jammer die vars brood is nog nie uit die oond nie.

Maar haar voete is vasgegroei aan die misvloer.

Sy loer deur die oop plankvenster. Daar klim hy nou af. Hy groet vir Corrus met die hand en laat hom die perde vashou. Sy kan elke woord hoor. “En toe, leer jou ma jou al konsertina speel?”

“Ma kry nie eintlik tyd nie, Franna.”

“En sê nou jou ma kom iets oor, wie sal dan speel?”

Lammie lag luid. “Wat sal ek dan oorkom, Franna?” Haar hande, rooi en hard ten spyte van alle voorsorg, kan pragtig konsertina speel. Sy begin nooit voor middernag nie, en dan net as sy gesoebat word. Dis tradisie, en dit vorm die hart van elke behoorlike bokjol. Hermana het al so gedroom dat sy die speler is, maar haar ma het nooit daaraan gedink om haar te probeer leer nie. Corrus is skynbaar as opvolger bestem.

“En wanneer sien ek jou op die wapenskouing?”

“Die geweer is nog vir my te swaar om op te lig,” bieg Corrus in ’n helder, eerlike stem.

“Jy moet uitkom Grootverlangen toe, dan leer ek jou dooierus vat. My oorle’ pa het my geleer. Toe ek op my eerste bok aanlê, het ek so gebewe dat ek oor sy skouers moes dooierus neem. En ek was maar vyf, hoor.”

Frans haal sy hoed af toe Lammie hom groet met ’n klapsoen wat ’n tingeriger man sou laat steier. Hermana sien sy digte hare en minlike gesig. Die vrye kyk asof hy ver en helder kan sien. Hy is skoon geskeer, maar met donker skadu’s op sy ken, bolip en wange. ’n Lieflike wilde hansdier. Hy het draklere aan. Sal seker sy kisklere by die laaste uitspanning aantrek. Hy sal nie só dorp toe gaan nie. Hy is ’n Viljoen. Van waar sy soos ’n jakkals uit ’n gat loer, dink Hermana: dis godsonmoontlik om so sterk vir iemand te voel sonder dat hy terugvoel. Die natuur sal dit nie toelaat nie. Liefde móét liefde wek, as dit dan “sterk als de dood en hard als het graf” is.

Sy was al meermale verlief, meestal in die geheim. Sy het nog nooit regtig opgesit nie. Die paar keer wat daar kêrels gekom het, het haar pa die gesels oorgevat.

Haar verwondering oor die geheimenis wat mans is, het al hoe dieper geword. Hulle is so groot en swaar. Hulle lippe se sagtheid weggesteek onder moestasse. Hul bene soos jong boomstamme, die growwe stemme en dik nekke. Die plat gulpe wat so onskadelik lyk.

Op Doopsondae is sy te skaam om op te kyk. Die manier wat die paartjies daar voor staan. Niks aan hul skugter ordentlikheid verraai iets van die warm geheimenisse wat tussen man en vrou afspeel en wat skynbaar lei tot alle lief en leed in die lewe nie.

“Wil jy uitspan, my lam?” Lammie slaan haar kappierand op terwyl sy honde, varkies en pluimvee verwilder.

“Dankie, ta’ Lammie, ek is maar haastig. Die perde kan sommer in die tuig staan en blaas. O, ek sien dis bakdag. Die brood is vroeg in die oond. Ek ruik dit al.”

“Ja-nee, kyk, as die mansmense terugkom, moet daar brood wees, anders eet hulle ’n gat in die tafel.”

“Waar ís hulle dan?”

“Tys en Ouboet en die tweeling is veepos toe. Toe hy gister van julle af kom, kry hy tyding van die ou veewagter daar’s ’n luiperd wat onder die vee vang. Dis ook al wat ’n vrou iets gedoen kry, as die mans onder haar voete uit is.” Lammie praat met die milde veragting wat deur ’n oormaat toewyding meegebring word.

“Askies, Franna, ek vergeet jy’s ook ’n man.” Met luide lag loop sy hom vooruit huis toe. Die eerste son val op haar donsige maangesig. Sy’s net agt en dertig, maar van kinders en arbeid het sy vroeg dik geword. “Kom in, ons maak ’n klarigheidjie.”

“Ta’ Lammie moet tog nie moeite doen nie, Gerrie het padkos ingesit.”

“Dis g’n moeite nie, hoor, Hermana is mos hier.”

Dan tref die waarheid haar soos ’n skoot koue water. Dis hoekom Hermana so vinnig padgegee het. Dis oor Frans. Dis oor hóm wat Sussie nie kan eet nie, oor hom wat haar rokke soos sakke aan haar lyf sit.

“Nou ja,” prewel sy verbysterd, “ek hoor jy gaan die Bolandse stiefsuster haal. Vir hoe lank dan?”

“Vir altyd, as ek my sin kan kry, ta’ Lammie.”

“Sal sy dan aard?” opper Lammie. “Die Skrif sê die vrou moet als hulp vir die man dien.”

“Is dit nie die trouformulier nie?”

Lammie is koudgesit. En hy’s nie eers gekatkiseer nie. Wat ’n vernuftige jongetjie. Mooi geaard daarby. Sy dink aan ’n manier om die skade in te haal. Hom waarsku teen die Kolonialers, Engeland se brakkies. En dit ’n dogter van die aanstellerige Judit. Sy kan hom daarop wys dat net taai vroue hier kan oorlewe. Die huwelik begin altyd soet en saf, maar alte gou is die mooi praatjies uit en die liefde maak baie werk en baie kinders. Partykeer is sy vir Tys so kwaad dat sy dink: Tot hiertoe en nie verder nie. Maar wat, ’n vrou het g’n eie lewe nie, haar lewe is haar man.

“Ek dog ek sê maar net. Jy weet, my lam, ek is ’n óú oolfantwyfie.” Maar wat, hy het daardie trek in sy oë. ’n Verliefde jong man het géén gedagte nie.

“Ek het net kom hoor of ta’ Lammie-hulle iets van die dorp af nodig het.” Veilig om te vra, oom Dik-Tys was gister in Pretoria. “En dan het Gerrie gepraat van ’n hekelpatroon vir ’n kussingsloop wat ek by Hermana moet kry, ek dink sy wil dit vir Betta se troubed maak.”

“Nou ja, ek sal by Hermana loop hoor. Ons kom wel nog op ’n dag oor om te hoor van die bruilof. Ek sal ’n paar dae voor die tyd kom om te help met die vleise en terte.”

“Ta’ Lammie moet liewers die konsertina regkry.” Hy wil haar verslaenheid salwe. Hy is nie blind nie.

“Ag, my lam, ek weet nie of ek ooit weer sal speel nie.”

“As almal baie mooi vra? Teen middernag, op die troue?”

“Nou ja, wie weet, altemit.” Lammie voel die lewe in haar terugkeer. Daar is net een manier om met teenspoed te werk. Jy loop daar oor. Dit sal Hermana ook maar moet leer. Sy sal wel nog goed trou.

Sou Jeroen Wewenaar nog nie weer aan vrouvat dink nie? Dis nou die vierde keer dat hy wewenaar is. Hy sit goed genoeg daarin en sal kan doen met ’n moeder vir sy vier weesdogters.

“Toe maar, Ma, ek bring die patroon,” roep Hermana toe sy haar ma hoor inkom.

Haar bene swik vanself toe sy op die voetvel voor haar trousseaukis kniel. “Here,” prewelbid sy plegtig, “gee vir my Frans Viljoen, of ek sterwe. Ek belowe ek sal …” Sy byt die dikvleis van haar wang en probeer dink aan ’n offer wat groot en duur genoeg sal wees, aangesien Golgota reeds gevat is. “Ek sal elke jaar vir hom ’n seun gee.”

Toe maak sy die geelhoutdeksel oop en haal die patroon uit. Sy vat dit kombuis toe. Frans staan by haar oupa ’n paar woordjies en gesels, hoed in die hand.

“As die Ingelse weer oorlog wil maak,” bewe die grysaard se stem, “my ou sanna werk nog en hy vat groot patrone.”

“Môre, Frans. Verskoon tog maar, ek is besig met aan kant maak,” onderbreek Hermana haar oupa se nikswerd storie. Sy voel maer en bleek voor sy forsheid.

“Môre, Hermana.”

Hy soengroet haar, soos dit hoort met verlangse familie. “Gaan gerus aan, ek ry ook nou. Ek sê vir jou ma, ek gaan vir Memorie op die dorp haal. Ek wou juis alleen gaan, want ek en sy het sake om te praat. Maar kyk, jou tarentaal het hondmak geword.”

“Ja,” sê sy, en buk om die spikkelbont verenekkie te krap. Nou kan Frans nie sien hoe hewig sy sluk nie. Die manier wat hy die meisie se naam sê, vertel alles: “Memórie.” Dit getuig van toegeneentheid en manlike besitreg. En sake praat. Daar is net een saak wat man en meisie kan praat.

Dit was moeilik, maar nodig, besluit Frans buite op die werf. Hermana sal haar deel wel ontmoet. Sy is ’n deurgoeie meisie en nie lelik nie. Duifblou oë wat lyk of dit smelt en oor die rande loop. Maar sy is sonder natuur. Hy soek die vonk wat ’n man aanvuur, wat sy emosies aanroer en sy lewe rig.

Hy wil net groet en ry, toe die tweeling in ’n bol stof aangejaag kom, bloots op een perd. Tysman sit agter met sy arms om Willem se lyf, terwyl bloeddruppels soos granaatpitte uit sy kaal linkervoet spat.

As die klomp Retief-seuns in die veld is, gaan dit rof. Die storie loop dat Ouboet met lewendige patrone aan weerskante van die tweeling skiet as hulle hom vertoorn.

Tysman het kleintyd verdwaal en is na drie dae eers gevind. Sy ma het hom met flou skilpadsop aan die lewe gehou. Sedertdien is Willem hom altyd ’n halwe tree voor, en Tysman is tevrede met ’n plekkie links agter sy elmboog. Dis hoe mense weet wie is wie, want die twee lyk op ’n druppel water eenders.

Dis duidelik dat die besering nie doodsake is nie, hoewel Tysman yslik kruppel loop toe hulle afspring om Frans te groet. Slap hoedjies, byltande waarop die son blink, wit hare, en natuurlik eenders aangetrek met kortbroeke waarteen hulle boude beur. Vir Lammie is daar geen hoër wet as dat haar tweeling eenders aantrek nie.

“Waar’s Wynand?” vra Willem en blik hoopvol rond. Wynand is hulle beste vriend en grootste mededinger wat vingertrek, kleilat gooi en dies meer betref.

“Nie saamgekom nie. Wat het die voet oorgekom?” vra Frans pligshalwe.

“Ek het per ongeluk Vlieg se voet raakgeskiet, Franna,” bieg Willem. Tysman wikkel sy groottoon om te bevestig. Hy is nie stom nie, net spraaktraag. Hoekom sal hy ook praat, as Willem daar is om die woord te doen?

“Met wat?” vra Lammie. “As julle pa moet hoor julle mors koeëls, trek hy julle gatvelle af.”

“Nee, Ma, dit was hael.”

“Met lood wat julle waar kry?”

“Sommer stukkies maroelapit en so, Ma.”

“Met julle pa se haelgeweer?”

“Eintlik Oupa se ou sanna, ek wou op ’n slang skiet maar ek weet nie hoe dit gekom het dat ek gemis het nie.”

“My goeiste, dis dan ’n linkerhand,” herinner Frans hom. Oom Ou-Willem is links, en almal weet van sy sanna, die 1835-Flintlock uit die Groot Trek, ’n 12-boor van stinkhout en met gladde loop vir ’n linkerhandskut.

“As julle oupa uitvind julle vat sy geweer!” Lammie weet self nie wat haar pa sal kan doen nie, en los die saak daar. “Waar’s dit nou?”

“Veilig in die veld weggesteek, Ma.”

“O, julle twee,” dreig Lammie onheilspellend.

Frans bekyk die voet. Gelukkig is dit hoefhard, anders kon die skade erger gewees het. “Kompleet soos bloeiende pitsweertjies,” bevind hy. “Dis seker seer, maar jy is mos taai, ou Tysman. Sal ta’ Lammie regkom?”

“Ja wat, Franna, Hermana kan skoonmaak en ’n trekpleister opsit.”

“En wat toe nou van die luiperd, kêrels?”

“Nee, neef Frans, Pa en Ouboet lê hom nog bietjie voor, maar Pa het gesê ons twee maak te veel geraas, ons moet huis toe en vir Ma kom help.”

’n Bietjie voorlê en ’n bietjie leeglê terwyl ta’ Lammie tuis die fort hou. Oom Dik-Tys kan dit doen, hy het ’n raakvatvrou.

Tant Lammie se twyfelende gesig bly Frans by terwyl hy die wemelende werf uitry. Ook sy het bedenkinge oor Memorie. Hy het liewers nie probeer oortuig nie. Sy vorm haar eie menings en sy hou dit. Dit kan wel lyk of oom Dik-Tys oor haar baasspeel; maar hy is nie regtig sleggehumeurd nie, brul maar net op die kinders en werksvolk.

Sy is eintlik die een by wie almal verby moet kom, die óú olifantwyfie.

Frans hou nie by die gebruiklike uitspanning stil nie. Langs ’n sytak van die Apies ry hy effens uit sy koers om die perde te laat blaas en suip en sy kisklere aan te trek. Dis sy eie stilhouplek hierdie, tussen witstinkhout en wag-’n-bietjie, soetdoring, rosyntjiebos, wilde mispel en kiepersol. ’n Kol boomvarings spruit uit die sagbruin, vermolmde grond en filtreer die sonlig tot goue vlekke. Die wortels van ’n rotsvy bondel soos kragtige boarmspiere al langs die skeure.

Teen die skuins sandsteenhellings sit plate vol dassiepis en wit blertse aasvoëlmis. Sypelwater trek skoon vore daardeur. Hy sien ook die tekens van uile, jakkals en rietbok, die droë wit mis van hiëna.

In dié ademing van stilte en vrede skep hy nuwe moed. Vanaf gisteraand het almal en alles wou saamwerk om sy vooruitsig te belemmer. Nou is hy hopelik deur elke moontlike drif. As hy deur hierdie poort ry, kyk hy op die dorp uit, en dis waar sy bestemming vandag lê.

Hy raak nie aan die kos wat Gerrie ingesit het nie, drink net van die koel karringmelk met stippies botter wat teen sy verhemelte smelt. Hoe kan hy eet, met die afwagting soos ’n sugwaterkussing in hom?

Op die terugreis sal hy weer hier vertoef om Memorie te laat sien hoe dit kán lyk. Anders skrik die Transvaal haar dalk af. Dis ’n droë jaar en bra vaal teen die Kaap gereken.

Dit was herfs toe hy en Gerrie saam met ouma Gertruida op die Wellingtonse plaas Peerboomkloof van haar broer Lewies du Toit aankom. Duidelik familie van oom Soois, net heelwat ouer en met ’n anderster manier van praat.

Self kinderloos, omring hy hom met familie- en buurkinders, hou selfs ’n plaasskooltjie in stand. Daar was ook ’n weeskind uit die Kaap, Addie Williams, wat met klein handjies plegtig haar messegoed aan die stylvol gedekte grootmenstafel hanteer. Die skoolkinders eet in die kombuis.

Die vergulde spieël in die eetkamer dateer uit ’n tyd toe gedienstige slawe hulself te nederig geag het om hulle meesters aan te blik, en in die spieël gekyk het om te weet wat verlang word. Die ou slaweklok word nog gebruik vir skool of om die werksmense op te roep.

In ’n soort verbystering van sinne het Frans deur die dae gedwaal. Die vreemdheid het hom met rare krag getref. Die persdonker klowe van die tamaai berge, wat hom na die vriendelike Magalies laat verlang. Die gewoontes, die sag bryende spraak, volgens die gehuurde skoolmeester ’n erfenis van die Franse Hugenote. Die mebos, kalbasse en boegoe, die moskonfyt wat soos sout en peper pal op tafel verskyn.

Selfs die vure ruik anders, gestook met dennebolle en wingerdstompies. Perdepote klop dowwer op die stil, geel paaie waarin ’n bruin blarekleed lê. Die plase so naby mekaar, byna roepafstand. Maniere stywerig, dit word verkies dat ’n besoek aangekondig word. Hoe anders op die afgeleë plase in Transvaal, waar almal op die werf vergader as die klop van ’n disselboom of die geklap van ’n sweep uit die verte opklink.

Die adellike vernaamheid van wit gewelopstalle agter die groen van akkerbome. Die slingerende wit werfmure, die welluidende name: Versailles, Plessis-Marle, La Concordia. Stroompies wat oor bruin klippe in helder poele vloei.

Die opstal self, waar ouma Gertruida die eerste lewenslig aanskou het. Groot vertrekke, hoë plafonne, diep vensterbanke, breë gange met die portrette van voorgeslagte wie se lewe en strewe nou agter bolglas verewig is.

Uit ’n gesin van vier is net Ouma en oom Lewies oor. Ook haar ouers het vroeg gesterwe … aan gebroke harte, het oom Lewies bitter teenoor Frans verklaar terwyl hy op die hoë voorstoep aan sy brandewyn proe. Hulle enigste dogter verloor aan die verre Noorde van die koppige Trekkers.

“Oom kla nou by die verkeerde man, ek is self een,” het Frans met ’n lag gesê. Sy brandewyn het stadiger in die glas gesak, hy moes die smaak eers aanleer.

Koekmakranka.

Oom Lewies vertel hom. ’n Kaaps-Hollandse lojalis, beduie hy by die oop dubbeldeur in na die portret van Queen Victoria. Op haar verjaardag in Mei gaan mense piekniek hou om dié legendariese veldvrug in te samel. Maanligaande werk die beste, dan verklap die geur waar die peulvrug tussen die ranke wegkruip. Die meisies bêre die leë doppe in hul klerelaaie.

Op Peerboomkloof was die wingerdoes reeds ingehaal, die parstyd verby. Die wyn lê in eikehoutvate in die kelder en stel swaar, bedwelmende walms vry. Na gewoonte wil Frans by die werk inval, help snoei in die roeserige wingerde.

“Ek het vir jou ’n beter aanbod, Franna. Kom boer vir my, ek maak jou my erfgenaam.” Danig ongeërg – maar die hand wat die glas vashou, bewe liggies. Die ander hand omknel die rand van die onderbaadjie. Rustende parlementslid, het in die sewentigerjare gedien nadat die koloniale Kaap selfbestuur gekry het.

“Nou slaan Oom my dronk. Wat van die naby familiekinders?”

“Nie een soos jy nie. Jy het ’n sin vir proporsie. Jy weet wat eerste moet kom. Die maniér waarop jy my uitvra – na die druifsoorte en hulle tye, na die soorte vate en alles.”

“Ek het nie geweet Oom kyk my so uit nie.” Hy is gewoond om sonder lof te boer.

“O, maar ek het! Tot jou blyplek is vir jou bepaal. Jy kan in die jonkershuis intrek, ek het nooit seuns gehad om dit te bewoon nie. Die skoolkinders wat daar tuisgaan, kan oortrek groothuis toe.”

“Oom doen my eer aan. Maar ek hoort in Transvaal.” Nie hier in Klein Engeland, waar hy Afrika nie kan voel nie. Hy hunker na die strawwe son, die warm grasveld en plat rante, die doringbome met hul soetruikende geel klossies, die donderweer wat ver oor die Magaliesberge dreun, die blitse wat soos troppe rooibokke in die lug speel, die reuk van somerreën op dor grond, die wemelende wildtroppe.

“Wat jy bedank, is jy kwyt. Ek meen, ’n erfporsie soos hierdie. Die grond van jou herkoms.” Toe begin die beheerste man openlik smeek: “Gee vir Peerboomkloof ’n kans. Hier het jy álles.”

Behalwe vryheid. Maar dit sê hy nie. Dit sou kru wees om die óú Trekkervete weer aan te roer nadat daar versoening gekom het. Maar het hierdie mense dan glad nie kennis geneem van ’n Vryheidsoorlog om weer eens onder die Engelse juk uit te kom nie? Van Majuba? En van nuwe oorlogsgerugte met die Goudvelde as smeltpot?

“Ek weet ons is in Transvaal arm aan sekere dinge, Oom. Ons is net sestig jaar daar. Maar …” Hoe om dit uit te lê? Hierdie wêreld by die kus is te saf. Die mense is onbesorg, verdraagsaam, dink en voel eenders volgens gevestigde tradisies. Die andersdenkendes het lankal weggebreek na die harde, ongetemde binneland, daar waar jy tot die uiterste perke beproef word deur die harder wette van Afrika, maar waar jou siel op ’n eie manier versadig word.

“Ai, Franna, ek wil jou so graag hier hê. Ek word ouer, en ek moet my van huurlinge afhanklik stel.” Lewies du Toit snuif keurig uit die geslyte silwer houertjie, sy enigste erfstuk van Hugenote-voorouers wat in hulle vlug nie groot stukke kon meebring nie. Ouma Gertruida het die juwelehouertjie gekry.

“Ek is jammer, Oom. Maar so is dit nou maar.”

Lewies se troefkaart is die see self. In die vorm van ’n piekniek met rytuie en bediendes kompleet, vat hy die ver familie een hele dag Kaap toe. Op die strand jaag Gerrie met vasgegrypte romp die kinders rond en speel moedertjie vir die weeskind Addie.

Frans hou eenkant. Hy raak stadigaan raadop met die knaende heimwee. Die verstommende Tafelberg, Kaapstad so vreedsaam wit gevestig, die see waarlangs sy voorouers gekom het, Geus en Hugenoot.

Die weer verander, en oom Lewies gelas betyds die terugtog. Nou wys die Kaap sy ware kleure, besef Frans met ’n soort verligting.

“Sal Ouma ooit vir goed hiernatoe terug wil kom?” Dis die vraag waarmee hy haar die aand afkeer. In ’n ougoud rok sit sy op die ereplek voor die kaggel. Selfs hier waar sy nie die septer swaai nie, gee sy toon en stemming.

Hy gesels graag met haar. Sy het nie ’n afsonderlike taal of stembuiging vir kinders of jongmense nie.

“So het ek gedink, Franna. Maar nou voel ek hier ook nie meer tuis nie. Ek verlang huis toe.”

“Oom Lewies wil hê ek moet hier kom boer.”

“So hoor ek. En dat jy nee sê.”

“Is ek dom? Ouma het die wysheid van jare, sê vir my.” Die aanbod van oom Lewies, so gul, so ruim, spook by hom.

Sy glimlag meewarig: “Wat mense aansien as die wysheid van die ouderdom, is baiemaal net gebreekte jeug.”

“Hoe praat Ouma dan, en ek is nog jonk.”

Die krakende vlamme is die enigste geluid tussen hulle, tot Ouma gewoonweg verder gesels: “Die Kaap kan ’n juweel wees, maar dis net as die grysheid kom. Ek onthou nou. Ná die oes kom die storms. Luister hoe die wind in die skoorsteen dreun.”

Sy ril effens, hy gooi nog dennebolle op die vuur. Die milde sonskyn het totaal gewyk voor ’n grys skimmel wat teen die groot ruite saamdring.

Gertruida staar oënskynlik in die vlamme, maar hy vermoed sy kyk verder, deur die dik mure van die gewelhuis in die rigting van Kaapstad waar hulle vroeër vandag was: die hawe, die berg, die woelige Adderleystraat, voorheen die Heerengracht. Die Kasteel waar die Union Jack op een van die bastionne in ’n swellende wind wapper. En die Parade, waar sy peinsend getalm het by ’n uitspanplek van veertig jaar terug.

“Hier het ons die akkerboompie ingelaai,” is al wat sy gesê het toe sy Frans langs haar gewaar. “Die dominee wat ons getrou het, het dit vir my gegee. Sy vrou, eintlik.” Toe voeg sy by, skynbaar sonder verband: “Mens dink partykeer hoe baie maklik baie dinge baie anders kon verloop het.”

Hy kry die gevoel dat sy groot dinge ongesê laat. Hy sou hierdie oomblikke tussen hulle wou bewaar, dig soos in ’n loket. “Sou Ouma graag die verlede wou verander?” Hy móét weet, want dit kom hom voor alles gaan om besluite.

“Ek weet nie. Die skaduwee val mos elke keer anders soos die son aanskuif.”

Hy het vergeet: sy is nie een wat wyshede rondstrooi nie. Berisping, troos en raad uit haar mond is skaars. Gerrie kom ’n tjalie om haar skouers hang, neem op ’n voetstoeltjie plaas en leun teen haar bene. So sit hulle drie, stamgenote, afgeseël in die warm harsreuk van ’n Europese verlede.

Die skimmel verdig tot ’n geniepsige reën wat soos graankorrels teen die ruite spat en die ver bergtoppe in mis hul. ’n Bediende kom die koperhanglamp aansteek terwyl Frans die luike toemaak.

Die oueres onder hulle onthou vir Syster, praat met paslike náskrik van sy weerligdood op pad hierheen.

Hier weerlig dit mos nooit, sê hulle.

En dit, besluit hy ten slotte, is die rede hoekom hy nie hier kan bly nie. Hy moet kopstamp teen die natuur, dis al hoe hy sinvol kan lewe en oorlewe.

Hy slaap soos ’n man moet slaap, maklik maar lig soos die oerjagter wat gereed is om pyl en boog te gryp. Is dadelik wakker toe die honde teen middernag blaf. Hy pluk klere aan en gaan uit, verby die hoofkamer waar kerslig en kreune te kenne gee dat oom Lewies en Aunt Dieneke ook uit die diep dons van bulsak deur die steurnis gewek is.

Dit is ’n soekgeselskap, kloppend en roepend by die swaar houtvoordeur, stewels skurend op die klam stoep, hulle gestaltes spookagtig in die lig van stormlanterns.

’n Onderwyseres en ’n klompie meisies van die Seminarium het vanweë die stormweer met gids en al in die berge vermis geraak.

In die nat, donker nag lui die slaweklok met hol geluid om diensmense te roep wat solank die kaggelvure kan opstook. Oom Lewies is dankbaar toe Frans in sy plek gaan.

Toe hy die laaste kleinplase verbysteek voor hy Pretoria binnery, kry Frans die balsemagtige reuk van bloekom. Teen die dik, vaalbruin stamme sit die rooierige bas in repe opgekrul.

Waar die dorpstuine begin, neem die reuk van rose oor, swaar in die lou môrelug. Elke muur, heining en veranda is met rose begroei. Nie verniet heet hierdie pioniersdorp langs die Apies die stad van rose nie.

Sou Memorie dit as welkomsreuk eien?

Behalwe die stof wat deur perdekarre en knokkende waens opgejaag word om op elke voorstoep en uitgeboude vensterbank neer te sif, wys Pretoria nie maklik die droogte nie.

Aan weerskante van die strate spoel die leiwater in die vore. Elke huis staan op sy eie groot erf. Nie so lank gelede nie het kwaggas nog wild deur die strate gehol. Nou glip daar snags nog bokkies en hase soos skaduwees uit die omringende veld en rante om in die tuine te kom knabbel.

’n Rustige soort lewe. Die Volksraadsitting jaarliks en die landdroshof daagliks verwek die meeste opspraak. Dat ’n hoenderdief tronk toe gesleep word, is groter nuus as dat daar ’n paar uur te perd hiervandaan ’n wond van twee en dertig myl in die aarde oopgeruk is om die goud van die Witwatersrand bloot te lê. ’n Gruwel vir die óú Boere met hulle veragting vir geld en goud.

Die dorp lewe eintlik net as dit Nagmaal is. Vir plattelanders is dit ’n verbreking van die eenselwige plaaslewe. Dan vlam die ou-ou vete tussen die dorpies en die japies op. Vroeër het klein Engelsmannetjies die Boertjies getakel oor die besetting en vertrapping van Kerkplein, hul krieketveld.

Dalk het hierdie vete die Vryheidsoorlog se loop help bepaal. Seuns het mans geword en onthou van ongewreekte bloedneuse. En Boer en Engelsman het mos maar hoeka ’n aksie teen mekaar. Soos ’n kwasterige Pretorianer eendag in Olav se smidswinkel gesê het: “Osvet, hulle sê ons Boere trek so graag. Maar wat kan ons anders doen? Die Engelse skop ons van agter en die vryheid wink van voor.”

Olav Ostfedt se groot dubbelerf is aan die agterkant met ’n hoë braamheining omgroei. Die voorkant met hoë stoep en swaar luike kyk onbelemmerd op die straat uit. Olav het die huis Walhalla gedoop toe hy en Anna-Maria hier intrek. Deel van die tuiste van die gode, wou hy onthou. Later sou die ironie daarvan hom tref.

Vir sy smidswerk gebruik Olav die afdak teen die waenhuis. Hier is sy blaasbalk, aambeeld, ysters en gereedskap. Olav hoef nie regtig grofsmidwerk te doen nie. Daar is genoeg herstelwerk van ligter aard. Hy vind dit maar net heilsaam om met growwe goed te werk: kragtige perde, hittige vure, knersharde wiele, vasvattange, swaar hamers.

As hy nie werk het nie, máák hy werk. Skoen- of hoefspykers, ’n poot vir ’n pot, ’n kookvurk of -lepel met versierde stele.

’n Groot peperboom vul die ruimte tussen werkplek en woonhuis. Olav bring die meeste van sy tyd maar hier deur. Soms gaan hy in die huis eet, anders stuur Anna-Maria sy kos saam met Naomi uit. Hy was en slaap in die waenhuis agter ’n afskorting van sak, al die jare sedert Naomi se geboorte. En sy is reeds twaalf, hierdie enigste dogtermensie met die beseerde verstand, die stadige kweelstemmetjie, die oop driehoekige mond soos ’n verwonderde voëltjie.

Die kinders van die buurt kom graag met die peperbessies speel, terwyl hulle Olav se werkery betowerd dophou. Soms vertel hy hulle ’n storie. ’n Leeustorie uit die Laeveld, of ’n Noorse sage wat sy ma hom voor haar ontydige dood geleer het.

Dorpenaars bring dikwels ’n werkie en soek geselskap. Of swyg net. Die Boere is ewe groot swyers as geselsers.

Op die oomblik staan ou Delport die meulenaar en twak praat. Af en toe doof Olav die temerige stem met ’n getieng van sy smidshamer of ’n gepomp van die blaasbalk. Delport is getroud met ’n jong vrou, wat sy eerste vrou tydens haar siekte versorg het. Die dogtertjie, net so mislik soos die ma, het saamgekom. Sy is die ene rokkietjies en lokkietjies. “Wil jy nie ’n bietjie ingaan na Naomi toe nie?” vra Olav om van die snip ontslae te raak.

“Ag, ’n mens kan tog nie met haar speel nie,” sê Koekie en haar mondjie trek skeef.

“Sy’s ook glad nie jou portuur nie.” Al steur Olav hom self bloedmin aan Naomi, mag niemand haar beskimp nie.

“Maar is dit waar dat hier ’n meisie uit die Kaap kuier? Is sy rêrig so mooi?”

“Ek het nou nie so opgelet nie.”

“Kan ek haar sien?”

“Nee, die museum is nog nie oop nie,” sê hy grof.

Deur haar koms het Memorie Meyer net ou wonde oopgekrap. En sy gaan nuwes maak. Want hy weet hoe Frans oor haar voel. Terug uit die Kaap, het Frans vir hom onder hierdie einste afdak gesê: “Ek het my vrou ontmoet, oom Ol.”

“Dis baster vinnig.”

“Ek sê maar soos Sigurd in Oom se sprokie: Sy is die vrou na my hart.”

“Het julle planne?”

“End van die jaar kom sy op Transvaal toe.”

Toe Judit haar dogter voorspring deur hier tussen die Viljoens te kom inwurm, het Olav ’n teensin in die spulletjie gekry.

Nou is hy die een wat Frans moet inwag om hom mee te deel dat die merrie verloof is aan ’n Randse goudkewer. Sy is nie hier om Frans se ontwil nie, maar om ’n bruidskat uit haar ma te kry.

Dit skryn in Olav. As die meisiekind net nie so baie gelyk het soos Anna-Maria op daardie ouderdom nie! Lyfie soos ’n sandloper, die ongedeerde blik. Nou is Anna-Maria wel nog mooi, maar veel ryper. Vir haar eie man ’n verbode vrug. Naomi se geboorte het byna haar lewe gekos. Maar ’n mens buig as jy nie wil breek nie, dit besef Olav gereeld wanneer hy die hittige yster smee.

“Ek reken nou so,” sê ou Delport met sy druipsnor wat lyk of daar koringmeel op gekom het, “hierdie oorlogstories is pure bog. Engeland sal ons nie weer aanvat ná Majuba nie. Sê jy as Uitlander nou vir my of ek reg is.”

“Oom maak ’n fout, ek reken my nie as Uitlander nie. Ek het in ’81 saam met die Boere geveg. En Oom maak nog ’n moerse fout: Engeland was nog nooit van plan om die Boere uit te los nie. Hulle wil Majuba wreek en die goud vat. En dié kan hulle maar met plesier vat, sover dit my aangaan.”

“Jy dra darem self goud om jou nek, Ol Osvet.”

Olav se hemp – Anna-Maria maak vir hom moulose hemde of haal die moue van winkelhemde uit omdat sy boarms so dik is – is oopgeknoop bo die leervoorskoot. Op sy harige bors hang die goue hangertjie van sy ma. Dis aangepak en geslyt, maar dis al wat hy van haar het.

“Nou praat Oom mos stront, hierdie is ’n gedagtenis.”

Die hangertjie het wonderbaarlik op dek bly lê, vasgehaak aan die poot van ’n ruwe houtstoel, nadat sy ma deur ’n fratsgolf oorboord gespoel is tussen St. Helena en Kaapstad, waarheen sy pa met ’n skeepsvrag hout op pad was. Sy het van die kombuis na die agterstewe beweeg om haar man by die stuur met tee en rum te bedien.

In Kaapstad het die vader sy seilskip verkoop, die seuntjie aan die hand gevat en koers gekies Transvaal toe. Hier het hy ’n swerwende bestaan gemaak. ’n Seeman kan enigiets doen, van gewere herstel en byle maak tot by horlosies en juweliersware repareer.

Hy het sy seun ook geleer. “Ek sal nie altyd daar wees nie,” het hy gesê. En hy was ook nie.

Olav se lewensfilosofie is geskool tussen Boere en Laeveldse Sjangaans; jagters en toordokters, die oertradisies van die priesterkonings van Monomotapa. Mense wil hê dat hy oor ’n soort instinktiewe kennis moet beskik wat hulle nie het nie; hulle vra hom graag sy mening. Hy lyk vir hulle sterk van krag, maar eintlik is hy swak van onskuld.

“Vra my agterna,” sê hy dan. Maar vind tot sy verbasing, wanneer hy af en toe ’n koerant lees met growwe vingernael onder elke woord, dat hy wel vooraf die inhoud van die berig geweet het. Maar wie sal hom tog glo? Hulle ken hom as die smid, die Noor, of die suiper. Hy is net Ol Osvet.

“Hoekom géé ons hulle nie maar die goud nie?” wil ou Delport weet met voorkop swaar van kommer. ’n Ou man met ’n jong vrou maak duisend angste deur waar ander sterflinge niks van weet nie.

“Dis nie so eenvoudig nie, my oompie. Hoekom trek jy nie ook maar Noorde toe nie? Ek hoor daar gaan allerhande trekke oor die Limpopo. Jy weet mos: Suid-Afrika is ’n derduiwel, en Transvaal is die horing op sy kop. Vlug liewer betyds.”

“My vrou sal nie toelaat …” begin Delport onbesuis.

Olav lag. “Toe maar, Oom. Engeland sal ook nie. Hulle wil die Noorde óók vir hulleself hê. Maar hoor wat ek vir Oom sê, met hierdie hamer in my hand: As daar nie sommer gou ’n goudoorlog kom nie, is my naam nie Olav Ostfedt nie.”

“Jy is vandag ook maar suurgat,” sê Delport bedremmeld.

“Hoekom kry Oom dan nie maar Oom se loop nie? Los die saag hier, ek sal vir hom ’n nuwe tand insit.”

So raak hy darem van ou Delport ontslae.Hy bly alleen agter met sy gedagtes.

Miss Meyer het gister uit Johannesburg gekom met ’n koets van Dow en Colquhon. Op die eerste een was die juffertjie nie. Dit kos Olav en gaan ’n tweede keer wag. Eindelik kom sy, yslike valies en nog ysliker hoededoos, haar fraai rok met ’n stofring om die soom. Van rondhol op die Goudvelde om ’n man te vang, het Olav gedink toe hy hoor hoe die wind waai. Nou sit sy op die agterstoep onder die prieel, sierlik opgetooi, wagtend op Frans om hom in sy hart te kwes. Want dis seker dat Frans vanmôre sal kom. Gister was Dik-Tys hier en sou die telegram terstond uitvat.

Olav kyk op toe hy sy skoonma sien nader kom. En kyk weer, hoogs verbaas. Gertruida dra haar beste: duifgrys rok, hoed, handskoene.

“En nou, Ma? Ons wag dan vir Frans. Ma laat my nie alleen met hom nie!” verwyt hy in ’n bas klaagstem.

“Dis ’n saak tussen hulle twee jongmense.”

“Iemand moet hom darem net voorberei.”

“Hoekom?” En dis al bystand wat hy kry. “Ons vroumense gaan materiaalmonsters soek om vir Gerrie te stuur. Sy en Hermana is die bruidsmeisies, hulle rokke moet gemaak kom.”

“Ma laat my verdomp in die steek.” Dis nie dat hy nie respek vir haar het nie. Dis maar net dat hy vir haar enigiets kan sê, sy is nie op regdoenery gesteld nie. Hy waardeer ook haar hulp met Naomi se opvoeding. Dit moes vir haar ’n groot stap gewees het om dorp toe te kom.

“Nee, Olav. Ek wil eintlik vir Naomi hier wegkry. Sy sal op Frans afstorm en hom vertel van die groot diamantring.”

“O,” sê Olav, die wind uit sy seile.

Dit sal wel waar wees. Naomi beïndruk Frans graag met haar jongste vioolstukkie of borduurwerkie. Hy het die slag om haar doen en late bo geringheid te verhef, ’n slag wat haar eie pa nie het nie.

Minute later kyk Olav hulle agterna, die vroue in sy lewe, drie geslagte, die stof waarvan legendes gemaak word. Sy skoonma soos verouderende beenporselein. Anna-Maria met haar Franse trekke, fyn en donker, waar ander Boervroue weer die breër gesig van die Hollanders het. Dan, sy dogter met die dowwe verstand.

Met die geboorte het Naomi dae lank soos ’n stomp in Anna-Maria vasgesteek. Hy sou behoorlik die sweet uit sy vrou se hare kon druk. Toe sy eindelik naastenby dood met die kind in die arm lê, het die ouvrou hom in die kombuis voorgestaan, besmeerde wit voorskoot: “Ol Osvet, vrouens met klein mondjies gee swaar geboorte, onthou dit maar. As jy jou vrou dood wil hê, sit haar weer in die ander tyd.”

In sy versuftheid was hy half verbaas. Sy vrou se mond klein? In liefdeslus kon dit so wyd om syne vou.

Die ouvrou was praterig van verligting. Sy het die holte bo haar duim vol fyn twak gegooi en diep gesnuif voor sy ’n paar nat niese gee. “As jy nog by haar slaap, moet jy maar die kerk laat uitkom voor die predikant amen sê. Maar ás daar ’n glips kom, laat jou vrou die water drink waarin jy jou smidstang afgekoel het. Dit sal dit afbring. Jy moet vir jou ook ’n stywe onderbroek van leer maak. Die hitte is sleg vir die saad. Anderster moet jy maar ’n los gelukkie loop soek.”

“Tante, vlieg tog hel toe,” het Olav gesê, “en vat jou doos saam. Jou snúifdoos,” toe sy hyg van skok.

“Ek was darem goed om jou vrou en kind se lewe te red.”

“Tante kon ook beter werk gedoen het.” Hy kon toe al weet die kindjie sal nie wel wees nie. “Maar dankie darem.” Dieselfde aand nog het Olav in die waenhuis begin slaap. Die jare kom en gaan, hy vind ’n man kan aan enigiets gewoond raak. Alles in die lewe is soos seewater. Hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Drink dan liewer glad nie. Die natuur maak sy make, en beheersing bring ’n soort vryheid.

Hy noem Anna-Maria nog Amme, en sy noem hom op die troetelnaam Olief. Hulle kom goed oor die weg. Die los gelukkie het hy nooit loop soek nie. Hy het te veel respek vir Anna-Maria.

Hoewel daar dae kom dat hy skaars in die huis durf eet. Dis asof hulle reuke na mekaar toe uitstuur. Dan laat hy nagdeur die smidshamer op die rooiwarm yster dawer, gaan woes met die blaasbalk te kere sodat die vuur soos ver weerlig opslaan. Sy leervoorskoot kry nuwe spikkels van spattende vonke. Tot die bure oor die geraas kla. Dan grendel hy hom binne die sinkdeure toe en begin met mening suip.

Vandat die Kaapse meisiekind gister gekom het, voel hy weer die druk opbou. As hy net weer die ou dae in die Laeveld kon terugkry, ’n byl in die skedel van ’n maanhaar gooi.

Vandag is die gawe Pretoria van Oom Paul vir hom te klein. Soms wonder Olav hoe hy in hierdie lot beland het. Hierdie lewe, hierdie mense, hierdie dorp en land. Hy, met sy Viking-voorsate. Berserkers, seerowers, hekse.

Is die mens net prooi van die noodlot, soos die ou sages reken? Hoekom anders moes hy vir Anna-Maria ontmoet, daar op die kleistoep van die Laeveldse handelspossie? Sy en haar familie was daar vir die winterjag. Met die geweld van sy eenvoud het hy haar liefgekry en getrou, sy velklere uitgetrek, ’n dorpenaar geword, sy lot by die Boere ingewerp.

Nie dat hy altyd met hulle klaarkom nie. Hulle het ook maar hulle soorte en klasse. Baie maal wederstrewig, hulle rusies en twiste en selfs burgeroorloë rol soos donderweer oor die veld. Hulle koppige krag lei hulle dikwels verkeerd, en dan wil hulle skiet óf trek. Hulle wil eenkant wees.

Iemand anders se vuur sal altyd hulle oë brand en sy stem hulle rus verstoor.

Van Tafelberg tot die Limpopo, van Namakwaland tot Natal lê hulle spore en grafte. Gedurig die uitbarstings van trekgees, soms sonder enige verklaring behalwe ’n vae ontevredenheid. Dis óf vir hulle godsdiens, óf dis nog oor Slagtersnek. Deesdae oor die Uitlanders.

Meermale was die trekke rampspoedig. Koors, dors, tsetsevlieg en assegaai. Die Dorslandtrek was ’n massaselfmoord.

Maar hulle bly noord foeter, immer noord. Asof hulle oorland wil terug na Europa, van waar hulle voorouers seelangs met seilskepies gekom het.

Hulle is sterk en taai. In Afrika kan niemand ’n fout bekostig nie. Wat vir die prooi geld, geld vir die jagter. Binne veertig jaar het hulle die wildernis getem. Om van die suidelike wittes weg te kom, het hulle hul hier kom boei aan die swartes, met oorlog of onderwerping. Baas kan hulle goed speel, oor hulle volk of vrou en kinders.

Maar hulle is ook gasvry, het klein harte en is sorgsaam van aard. Hulle kan huil, lag en jol. Hy hou van hul stoere eenvoud.

Olav vat hier en los daar. Meteens verstyf hy. Hy hoor ’n perdekar van die straat af indraai, en eien meteens die kapkar en sweetvosse. Perde lyk nie eers moeg nie. So is dit as ’n man met perde kan werk. En ’n man wat goed met perde werk, werk ook goed met ’n vrou. Die meisiekind is dwaas.

“Hier’s Franna hoeka,” kom Hekkie aangegrinnik.

“Ja, jong, ek is nie blind nie. Kom vat sy perde.”

“Maar ek ken mos my werk, Ol Osvet.”

“Jy raak hans. Vir jou is ek báás.”

Hekkie lag. Ol Osvet is meer bek as binnegoed, en min mense weet dit so goed soos sy handlanger wat die meeste tyd saam met hom slyt.

Olav loop die kar tegemoet. So moet dit voel om ’n niksvermoedende persoon reg van voor in die kop te moet skiet. Hoe ewe klim Frans af, hoe voluit kom hy nader, treffend aanvallig, glimlaggend, oop hand uitgesteek. Olav voel sy voorkop kruis en dwars kreukel, dit vang sweet op, hy vee met sy harige handrug daaroor. Sweet ’n smid dubbel swaar?

En hoe kom dit dat ’n mens keer op keer, en dit net deur lief te hê, die prooi van aanspreeklikheid word?

Olav vat die groethand, probeer met forse greep die komende tyding versag. Maar sy hande word soos lappers.

“Hoe is almal dan so stil?” vra Frans toe die pligpleginge van groet en welstandnavraag afgehandel is.

“Die vroumense is winkels toe. Miss Meyer sit op die agterstoep.”

“Wag sy darem vir my?”

“Dit kan jy wel vra.”

“Hoe dan so, Oom.”

“Laat ek jou maar reguit sê, sy dra ’n ander man se ring aan haar vinger.” En, toe hy sien hoe die nuus die jong gesig voor hom tref: “As ek jy is, stuur ek haar hel toe.”

“Maar Oom ís nie ek nie. Laat ek self met haar gaan praat.”

“Maar is jy bliksems doof? Hoor jy nie wat ek sê nie?”

“Ek hoor, Oom,” sê Frans met al die kalmte van die wêreld. “Maar los dit nou vir my.”

Olav bly agter, en hy gluur Hekkie aan. “Ek het sommer lus en skop jou onder jou gat,” dreig hy magteloos.

Hekkie grinnik. Hy weet dis eintlik ’n vorm van prys omdat hy so mooi werk met die twee uithalersweetvosse.

Die agterstoep is met ’n druiweprieel oorgroei, dig van blare waaruit nuwe trosse met korreltjies soos piepklein smaraggies hang. Een van die lote het in ’n dik lus gegroei, half soos ’n Bentwood-stoel sonder mat. Versigtig maak Memorie Meyer haar hierin tuis. Sy moes vanmôre kies tussen romantiese wasigheid en rype ervarenheid ter wille van die verstandige Frans Viljoen. Het toe op laasgenoemde besluit – die bruinswart tafsy, wat ook by haar donker hare pas. En ook maar beter, die fyngeweefde wit voile sou haakplekke opdoen.

Die familie reken hy gaan vandag hier opdaag. Hierdie mense grond hulle afsprake skynbaar op hulle kennis van mekaar se manier van dink en doen.

Die haas om hom te sien, spruit soos ’n vurige varing in haar. Hopelik kom Mother nie saam nie. Sy hou ’n brief gereed wat Frans terug moet vat. Watter tyding gaan Mother se oë die grootste laat rek: dat Zaverius sy studie in Stellenbosch laat vaar het en op hierdie oomblik in die Goudstad sit, of dat haar dogter met ’n Johannesburger gaan trou en bruidskat verlang?

Waar Judit dit uitkrap, is háár saak. As sy niks oorhet van die losieshuis nie, kan sy Stiefpa melk. Maar dat sy sal gee, is doodseker. Deur die jare het sy agtergekom dat Mother vir haar bang is. Dat sy ’n wapen teen Mother het, al weet sy self nie wat dit is nie.

Maar Mother het ook die slag om alles te bederf.

Sy en Zaverius kom goed oor die weg tot Mother instap, dan begin hy die mislike ouer broer speel. Vir haar dogter se aansien in die Ladies’ Seminary kon Mother ook nie veel doen nie. ’n Losieshuisvrou, met iewers in haar verlede boonop die klad van verpleging. En die fluisteringe toe Judit oornag padgee en in die Transvaal loop trou. Wellington is ’n klein plekkie.

Memorie het ná Judit se telegram haar koshuiskussing nat gehuil. Mrs Viljoen se seun … Frans se stiefpa! Dis ’n gemene set. Sy gaan nie met Mother saamkoek nie. Frans moet ’n ander plan maak as hy haar so graag wil hê.

Toe het sy nog geglo dat sy en Frans sal trou. Nou is hy nie meer deel van haar planne nie.

Sy vou haar hande in haar skoot, ringvinger bo. Tussen druiweblare en half geslote wimpers deur val die son op die blouwit diamant, toor vonke uit.

Dit wil nie na behore troos nie. Daar is ander dinge wat haar teister vandat sy gister hier aangekom het. Soos die ontsteltenis met die kat. Die simpel dogter Naomi wou haar alles wys. So moes sy, ná die grillige bêrekelder in die kombuisvloer, ook na “Vader” se blaasbalk gaan kyk.

Die oop sinkdeure van die waenhuis het Memorie botstil laat vassteek. Sy het angstig gewag dat dit stadig moet toeskuur. Net daar gooi Naomi die kat op haar. Sy skrik en gil: “Is jy mal, meisiekind?”

’n Geweldige flater. Die ander peul te voorskyn. Ostfedt se oë wys wit, sy vrou se lippe pers alle pienk weg. Dis Mrs Viljoen wat verduidelik: “Ons gebruik nie die woord ‘mal’ nie, Miss Meyer. Sy het met geboorte seergekry.” Tot eer van die ou dame moet sy sê dat dit nie teregwysend was nie, eerder simpatiek. Maar die “Miss”? Is sy nie ’n stiefkleindogter nie?

Naomi het geen aanstoot geneem nie en uitgelê dat Kietsie nie sal byt of krap nie.

“Dit maak nie saak nie, ek hou nie van die manier waarop ’n kat so heen en weer sit en kyk nie.” Rilling op rilling, die knelling van haar korset sodat sy nie asem kry nie.

“Maar Kietsie kyk stip.”

“Wel, ek hou nog steeds nie van katte nie.”

Ook die roostuin wou Naomi haar wys.

“Ek hou nie van rose nie.” Die versmorende reuk gee haar ’n dik pyn hoog in haar neus, reg tussen haar oë.

“Waarvan hou jy dan?” Leë, dog verwonderde blik.

Van Frans Viljoen, o los my tog uit!

Loomheid sak oor haar toe. Die laat Johannesburgnagte eis hulle tol. En gisternag het sy tot laat wakker gelê. Alles hier is so vreemd anders. Dis waar die beskawing ophou. Verder noord is net wildernis en waspore. Naomi het tot gekwordens op haar viool gespeel, eenvoudige stukkies op vertoon gerig, maar op ’n manier angswekkend weemoedig.

Verder het Ostfedt tot diepnag gewerk. In haar verwarde drome het hy grof en gesigloos geword. Vanmôre was sy verbaas toe hy die fyn goue halssnoer wat Eddie haar gegee het en waarvan ’n skakeltjie gebreek het, kundig kon regmaak met daardie twee pote van hom.

Hy kom dit langs haar brekfisbord neersmyt.

Sy vra fatsoenlik: “Wat skuld ek, Mr Ostfedt?”

Waarop hy bars antwoord: “Niks, Miss Meyer. Geniet maar die goud solank dit hou.”

Natuurlik is hulle vies oor wat sy aan hulle godjie “Franna” doen. Hulle kan nie anders as om oor hom te praat nie, hoewel oor haar kop. Dis nou wanneer hulle nie oor stiefsus Betta se bekveldse bruilof praat nie.

As hulle so vinnig met mekaar gesels, kan sy hulle kwalik volg. Teenoor Kaapse Afrikaans klink hulle uitspraak soos uit ’n ander land. Nogal sangerig as dit uit geoefende monde rol.

Eddie stel ook graag sy kennis van die Taal ten toon. Hy dink seker sy verwag dit van hom, en sy help hom nie reg nie. Sy wil absoluut niks doen wat hulle snelle verhouding kan verongeluk nie.

“Franna sit ook graag in daardie wingerdstoel.”

Memorie skrik gesteurd op. Dis sowaar weer die lastige Naomi. Volgens die sagte vorm van haar voorskoot is die kat daarin toegedraai.

Maar sy spits tog haar ore. Om te dink dat die lyne van sy lyf ook in hierdie lus gerus het. Die skouers wat hy daardie nag so geduldig tot beskikking van haar angsvallige greep gestel het. Ware skouers, nie aangehelp deur die stopsels van ’n tuniek nie.

Sy kon met haar volle, deurweekte gewig aan hom hang, haar koue wang in sy nekholte druk, waar sy ’n kragtige pols kon voel klop. Later wóú sy nie meer op haar eie bene staan nie.

Totdat hulle voordag aangekom het by die plaashuis waar lampe en kerse op die lae, diep vensterbanke brand, vure in die kaggels knetter, helpende vrouehande hulle meevoer na stomende baddens, sagte handdoeke en droë klere.

“Ons gaan netnou winkels toe, ek en Mamma en Ouma. Gaan Miss Meyer saam?” Naomi streel sagkens oor die tafsy wat glans met golfmerke soos van water.

“Nee wat, Johannesburg het groter winkels.” Sy hoop tog Frans kom solank hulle weg is. Sy was vanmôre vroeg wakker van die stoele wat in die eetkamer geskuif word, die gevryf van borsels oor die donkerblink plankvloere. Dit alles vir Frans, terwyl sy ’n buiteling is.

O ja, hulle het haar ordentlik ontvang. Ostfedt het haar Ladies Travelling Case en hoededoos na die vrykamer gedra. Die bed, hoog opgeskud, was oorgetrek met handgeborduurde bêrelakens en kussingslope. Daar was warm water in die wasbeker. Die bak rose het sy in die silwerskoon slopemmer laat sak en die versierde emalje deksel sagkens teruggeplaas.

“Is dit waar dat Miss Meyer se kêrel die ring gekoop het?”

“Wel, die diamant kom van Kimberley.” New Rush, waar hy sy eerste fortuin gemaak het. Cecil Rhodes het die mode vir diamantverloofringe geskep. Maar sulke inligting sal op die kind vermors wees. Ook dat Eddie die steen in Amsterdam laat slyp en solitêr in goud laat set het.

Vir wie, oorspronklik? Die ring is effe groot aan haar vinger. Daar heers ’n stille ooreenkoms dat hulle mekaar nie oor die verlede uitvra, of oor motiewe nie. Hy vermoed tog seker dat dit nie sy voorkoms is wat ’n beeldskone meisie sal aantrek nie, eerder sy vooruitsigte. Hy weer soek ’n metgesel wat hom met grasie kan bystaan as hy binnekort ’n bekende Randlord word, een van die Upper Ten.

“Mrs M.” Sy hóór dit al. Dit sal gons oor waar sy woon, wat sy aantrek, watter winkel en watter liefdadigheid sy ondersteun, wie se name op haar gastelys pryk.

Tot dusver was ’n Britse offisiersbal by die Kasteel in Kaapstad vir haar die toppunt van plesier. Militêre of Kaapse bruin orkeste. Die fraai jong dames wat die hart van menige offisier breek, hetsy die gesogte vlootoffisiere in hul blou of die militêre in hul rooi tunieks.

In die twee jaar sedert haar Coming of Age het sy dit reggekry om enkele van die gesogte geleenthede in die Cape Season by te woon. Stilletjies. Naweke en vakansies. Sy het dan in die Kaap oorgebly. As dit uitlek, sou sy by die Seminary gemerk word as ’n wilde meisie. Deur ’n vriendskap met Victoria Ingleby, die dogter van ’n Britse Lord, ’n Parlementslid, is sy voorgestel aan The Government House Set.

Deur dop te hou en alles noukeurig na te doen, het sy veel geleer van die fyner kunsies van koketterie. ’n Bietjie vlei, ’n bietjie lonk, ’n waaierspel. Misterie afgewissel met ’n tikkie histerie. ’n Paar trane onder haar wimpers uitgepers, ’n floute selfs.

Steek ’n warm gloed in hom aan, lok en ontwyk. Lyk dan seergemaak of kwaad as hy jou afkeer en probeer soen. Hy vra om vergifnis. Jy vergewe hom, so liefies dat hy weer sal probeer.

Die weelde daarvan om begeer te word, om beeldskoon te wees. Die opwinding, die plesier, die gelag wat elke spoor van skadu verdring. Dikwels het sy haar duur verworwe kunde voor die spieël geoefen.

Hierdie afgelope winter, die tweede, het sy verder probeer. Dit was pas nadat sy Frans ontmoet het. Sy het hewig oor hom gedroom, hom in haar gedagtes in ’n offisiersuniform geklee en met hom gedans tot waar hy haar doelgerig na die tuin stuur en hartstogtelik omhels.

Victoria Ingleby moet haar verraai het, Victoria wie se ma, Lady Ingleby, glo die Kaapse Hollanders nie kan verdra nie. Die skrobbering wat sy moes deurmaak, was alleraakligs. Sy is tot in haar siel verneder. Die lewe in die koshuis het hel geword. Die stof het in elk geval nooit gaan lê ná die bergklimkrisis nie, want die betrokke onderwyseres het longontsteking opgedoen en by die dood omgedraai.

Die bose reënwinter, muf en grys slepend tot in September, was haar oor. Die stormwinde het tot in haar hart gewaai. Soms het sy op haar bed opgekrul gelê. Die seer van verlange het ’n soort eie troos. Dit het immers die geliefde as onderwerp. Maar die muwwe grysheid sou haar kon toegroei. Iewers ver noord skyn daar son, die hele winter deur. En Frans Viljoen is deel van daardie warmte.

Tot sy Zaverius per telegram laat weet het om haar die Sondagmiddag te besoek.

Sy was rooi gehuil toe hy van Stellenbosch af aankom, met groot opskudding onder die loerende meisies. Sy het ’n mooi broer, fyn en donker.

“Watse moeilikheid is jy nou weer in?” wou hy weet.

“Almal is jaloers op my. Ek wens ek kon op die daad wegkom.” Weg van die onverbiddelike Rising Bells, die musiek waar sy nie vorder nie, die handwerk, die Arithmetic, Bible History en Grammar. Sy was moeg vir die Seminary, soms spottend die Engels-Amerikaanse Nonneklooster genoem.

Haar heil lê nie in die Kaap nie. Dit wis sy teen hierdie tyd. Ken sy nie die stywe kilheid van die hovaardige Hollandse families in hul sierlike gewelhuise nie? Wat die Kaapse Engelse menere betref, veral die offisiere: feitlik almal is uit die adel en gaan op ’n stadium terug Home toe. As die skeidslyne aan die Kaap skerp is, in Engeland is dit glo onwrikbaar. Sy sal altyd die verstoteling uit die veragte kolonie in Afrika bly.

“Nou kom ons gaan weg.” Sy fynbesnede gesig met die ontevrede trek, frons tussen die oë asof sy wenkbroue klaarmaak om weg te vlieg.

“Waarheen?”

“Ek weet nie. Kimberley. Johannesburg. Ons sit hier en rot terwyl die hele wêreld daar bo pret maak en ryk word.”

Dit sou ’n manier wees om by Frans uit te kom. Sy het nie twee keer gedink nie. Maar hoe anders het dinge verloop! Johannesburg het uit die lug gekom soos ’n reddende hand wat haar opskep en bo haar dilemma verhef. Dis haar eie El Dorado.

Niks later as vanmiddag nie, vat sy die koets terug. Hier in Pretoria sal sy in elk geval sterwe van verveling. Die enigste ontspanning behalwe perdry is skynbaar ’n dag se piekniek by die Fontein of Wonderboom, afgesluit met ’n dansparty. Hoe saai!

In Johannesburg wag Eddie Macdonald dat sy hom môre vergesel na die renbaan by Turffontein. Dis die plek waar die mooiste vroue mekaar glo op die groot pawiljoen verdring. Eddie se mynvennoot, Bert Starrenberg, sal ook daar wees. Dan ontmoet sy hom eindelik. Dit was of Eddie haar jaloers wegsteek totdat hy seker van haar is.

Wel, hy het niks te vrese nie! Sy weet presies wat sy wil hê. Sy het altyd geweet, hoewel Frans Viljoen en die miserabele Kaapse winter haar byna van stryk gebring het.

Die gedragsreëls op die Goudvelde is nie so streng as in die Kaap nie. Die meeste van die elite is pasrykes. ’n Ou wat vandag in ’n sinkkaia bly, kan môre ’n magnaat wees. Toegang tot ’n spoggerige bal is selfs vir ’n kroegmeisie nie net moontlik nie, maar selfs maklik.

Om te dink sy het amper op ’n afgeleë boereplaas gesit! Op die Goudvelde word daar ligweg die draak gesteek met die sogenaamde Afrikanders. Die verweerde, bebaarde klomp met hul kruiende waens is ’n las in die woelige strate. Vragte kinders en huisraad, pikke en grawe. Vir hulle beteken die Goudvelde net ’n mark vir hul produkte. Hulle is te onkundig om die waarde van goud te ken. Party verkoop turksvye of vroeëperskes, met ’n monster wat op die sweepstok pryk.

Hulle velskoene en ferweel, hul beswete hoede. So sal Frans ook maar eendag wees. Dis onmoontlik dat sy soveel van hom kan hou as wat sy haar wysmaak. Die omstandighede was maar net gunstig vir romanse. Daardie nag was hy die held. Maar sit hom in ’n balsaal waar almal glinster, en hy sal afsteek soos ’n veldklip tussen gouderts. Sy moet vergeet van daardie nag. Haar toekoms lê by Eddie.

Die eerste paar dae het Zaverius haar oral heen vergesel, maar sy het gou uitgevind dat chaperones nie eers nodig is nie. Wat ’n vryheid, wat ’n lewe, wat ’n plek! Dit kan wel ’n wolk stof wees wat hang oor ’n sameraapsel tente en krotte en gate – onbeskut, winderig, lelik en dor, ’n vuilgoedhoop en koorskatel, maar vir haar was Moeder Fortuin uit die staanspoor met ’n toorstaf daar.

Dus was die moordende koetsreis, ses dae en ses nagte lank, in verstikkende stofwolke en met vonke wat nagdeur onder die perde se hoewe uitspat, die moeite werd.

Net op Kimberley het hulle oorgebly. Vir Zaverius om vas te stel dat almal moeg geword het vir diamante en nou na goud dors. Dit is die nuwe hoop van Afrika.

Nie verniet ook die ongerief in Johannesburg self nie. Want saans word dit ’n towerland met die lampe wat deur herberge en kantiene uitgehang word, die musiek en gelag wat op straat uitspoel. Dan vervaag die waternood, die vullis en geraas, die krotte, die droë winde wat rooi stof in die strate opjaag.

Sy het haar wel ongewild gemaak deur ’n emmer water in die hotelgang vir haar toe te eien, om later vas te stel dat dit vir die kombuis bedoel was. Aaklige plek, wou sy toe afgehaal dink. Maar toe sy by die bal aankom en die koppe sien draai, het sy gevoel dat sy eindelik is waar sy hoort.

Die volgepakte sinksaal, die geur van sachets en pommades en cologne, van brandende kerse en opgejaagde stof. Sy was deel van die roesemoes wat by tye selfs die orkes oorheers. ’n Vars dansmaat elke keer, nuwe passies, flambojante klere. Mans vanoor die aardbol; sjarmante, wêreldwyse avonturiers. Hier, eindelik, was die flaire van die Suide gepaar met die drif van die Noorde, sonder die styfheid van die Kaap wat haar uitsluit, of die onopgevoedheid van die grammadoelas wat haar afskrik.

En toe: Eddie Macdonald. Komende van Natal, waar sy mense uitgebreide belange het – ’n stoetplaas, ’n winkel op Ladysmith – is hy gewoond aan ’n grasieuse koloniale lewe. Nie dat sy familie ’n groot oorweging is nie. Sy toekoms lê in Johannesburg.

So ook hare. Eerlank trou sy en Eddie voor die magistraat.

Net soms, soos laas nag in hierdie huis waar Frans se naam so aanbiddend weerklink, haal sy die herinnering aan daardie stormnag uit soos ’n ou juweel wat gepoets word.

Dit was Meimaand vanjaar, in Wellington.

Met die aanvang van die vrolike, langsame klimtog in die Bainskloofberge die Saterdagmôre, was die Witrivier ’n kabbelende stroompie. Teen twaalfuur het die weer begin verander. Die onderwyseres het gevoel hulle moet omdraai. Memorie het eerste teëgestribbel, geprikkel deur die vars lug en avontuur, en gevlei deurdat die aantreklike gids juis vir háár ekstra steun by die moeilike plekke bied.

Nog ’n paar huiwerige stemme is by hare gevoeg. Die onderwyseres het geswig. Dalk wou sy, soos die meisies, ’n bietjie langer in die geselskap van ’n man wees. In die Seminary kan jy ’n speld hoor val as daar ’n manstem opklink.

Toe hulle teen twee-uur die kruin van die onderste Sneeukop bereik, begin wolke en misrafels mekaar in ’n triestige sifreën ontmoet. Erger as die nat koue is die kilheid van die groep wat nou in haar ’n handige sondebok vind. Selfs die gids word stug en bekommerd, sy oordeel in gedrang. Sy steunende arm val betekenisvol van haar af weg. Deurnat en bibberend, met seer geskaafde voete, bereik hulle weer die Witrvier – net om te vind dat dit intussen in ’n kolkende bruin stroom verander het. Die gids, nou oorversigtig, wil dit nie oorkant toe waag nie. Hulle stommel op die klipperige oewer rond om nie te verkluim nie.

Skuins ná middernag galm ’n beuel flouweg deur die mis. Hulle kragtelose roepe tower gestaltes op die oorkantste oewer te voorskyn. Daar is lanternlig, en daar kom ’n vuur, groot en rooi, maar so onbereikbaar.

’n Jong man swem met lewensgevaar deur en maak ’n tou om ’n rots vas. Nou kan ander daaraan vashou om komberse, kos en brandewyn deur te bring. Die jong man – hulle noem hom Frans – help haar om te drink, omdat haar hande te verkluim is.

Hy is duidelik die leier van die trop, al is hy jonk en ’n vreemdeling in die geweste. Sy spraak verraai dit.

“Sien jy kans om eerste deur te gaan?” vra hy haar. Hy is net ’n vae gestalte in die donker, maar sy stem boesem vertroue by haar in.

“As jy my help.” Sy praat met geklemde kake.

“Natuurlik. Hou net aan my vas.”

In die ysige stroom begelei hy haar pynlik stadig al met die tou langs. Halfpad kan sy nie verder nie, hy moet haar teen ’n klip uithys om te rus. Dis toe dat die donker bos aangetol kom en hulle van mekaar losruk.

Sy wonder wie so gil, vind dan dis sy self. Sy is op haar eie in die malende stroom. Of nee, tog nie. Die trekkrag van sy greep is weer daar, die skouers waarin haar vingers angsvol knyp. “Toe maar, ek hét jou.”

Sy warm beskutting dring dwarsdeur die nat en koue. Eindelik aan wal, masseer hy haar dooie hande, klap haar wange, sit sy nat mond oor hare en blaas. ’n Asem vars en skoon, nie die ewige stank van drank en tabak van die andersins verfynde jong here nie.

Stadig word haar lippe warm. Totdat sy vind dat haar mond aan syne gelak is, nie net deur modder nie maar ook deur begeerte. Sy wil meer van hom hê, al weet sy nie hoe nie. Anders as wat die kwaadpraters glo, weet sy bitter min van die uiteinde van die koketspel tussen man en vrou. Net maar soveel as wat onervare meisietjies kan versin, verdraai en oor fluister.

“Darling …” Sy is besig om haarself te versmoor.

Die frustrasie toe hy van haar af losbreek. “Kom vuur toe, ek moet eers met die ander meisies help.”

Daar was ’n belofte in die “eers”.

Op Peerboomkloof vertrek die soekgeselskap ná warm kakao met die adresse van familie, onder wie Judit.

Die meisies word versorg en in warm beddens gestop. Mrs Du Toit, met behulp van bediendes en Frans se ouma en niggie, berei in die kombuis ’n vroeë ontbyt voor.

Die natuur is uitgewoed, met ’n nuwe dag wat roosgrys teen die ruite opdam. Sondagmôre, onthou sy skrams. Sy sal nie nodig hê om in die gehate ry te loop nie, hoewel die kerkgalery ’n goeie sitplek bied om waarderende blikke te lok. Sy weer die uitputting af en bly op die been. Sy glo dat hy by die kaggel langs die staanhorlosie wat so swaar tik, op haar sal wag, elmboog gestut, sy lyne met vuur afgeteken.

Op die ou end is dit sy wat by die kaggel wag. Hy kom van buite af in, stormlantern in die hand, droog aangetrek in ’n ferweelbaadjie wat al sag gedra is. Sy hunker om haar arms onder die baadjie in te druk, sy lyf te voel. Daar is ’n donker stuwing op sy ken en wange. Sy besef dat deel van die skrynerigheid van haar vel te wyte is aan die wrywing van haar gesig teen syne. Dit was nie net die opdrifsels, tollende bosse en skerp rotse nie.

“Ek het net gehelp dat hulle op pad kom,” sê hy terwyl hy die stormlantern doodmaak. En toe, met die grootste vanselfsprekendheid: “Dankie dat jy gewag het.”

Volgens alle spelreëls moet sy dit weerlê, aflag, sonder om hom finaal af te skrik. Maar sy is so slap verlief, kan geen woord uitkry nie.

“Memorie … jou naam ís mos Memorie?”

Dit was die regte tyd om hom op die verkeerde uitspraak te wys. Sy is Mémorie, nie Memórie nie. Of is sy Memórie? Het haar pa haar nie so genoem nie? Van waar die skielike flits, waar het dit al die jare verskuil gelê en wat het dit losgemaak? Sy was maar vyf toe hy dood is.

“Ja …” Haar stem is gruiserig. Van ontbering, al die gille. Sy wou hê dat dit fluweel moet wees.

“Jy weet ek is Frans? Frans Viljoen, van die plaas Grootverlangen anderkant die Magaliesberg in Transvaal.”

Hoe bewe sy. Kan hy haar darem sien knik?

“So, ek wil maar net sê, Memorie, dis waar jy ook sal bly – op Grootverlangen – as ons trou.”

“Trou?” ’n Giggeltjie. “Jy’t my nog nie eers gevra nie.”

“Ek vra jou nou.”

“En sê nou ek sê ja?” Roekeloosheid vaar deur haar.

“Dan kom haal ek jou end van die jaar.” Hy is kalm en ongehaas, maar koop die tyd uit. Hulle privaatheid kan elke oomblik versteur word.

“En sê nou ek kom sommer self, met die koets?”

“Ek laat jou nie so ver alleen ry nie.” Hy het ’n manier om effens weg te draai en dan voluit terug.

“En sê nou my broer gaan saam?”

Hy lag saggies, tevrede: “Dan sê ek: Goed so, wag by my ouma in Pretoria. Ek kry jou daar. Maar ek sal skryf.”

“Nee, moenie.” Hardnekkig in haar agterkop dink sy: as dit blyk ek het ’n vaste kêrel, bederf dit al my kanse.

“Hoekom nie?” Dis duidelik dat hy gewoond is om sy pad sonder teenstand te loop.

“Ons mag nie briewe van kêrels ontvang nie.” Sy begin veilig voel, seker van sy versotheid. Die halwe belofte kan haar pad alkante toe oophou. As sy so reddeloos verlief bly, kan sy daarby hou. As die gevoel oorgaan, wat nou onmoontlik lyk, kan sy dit vorentoe aflag, weglonk. Iemand hier in die Kaap vind, ’n beter proposisie, die regte een.

Maar hy ís die regte een …!

“Dan is dit afgespreek,” sê hy gedemp. Sy wag dat hy die vae dog gevoelvolle ooreenkoms moet verseël met ’n omhelsing, ’n warm soen van sy mooi mond.

Maar toe kyk hy by haar verby, en haar oë volg sy blik. Dis ’n dogtertjie wat hulle met slaapgroot oë aanstaar, die weeskind uit die Kaap.

“Addie …” Hy steek sy hand na haar toe uit. “Het al die geraas jou wakker gemaak?”

Van toe af was dit asof almal op hom beslag lê, saamsweer om hulle van mekaar weg te hou. Oom Lewies, Mrs Viljoen, sy cousin Gerrie. Noudat die natuur in die voordagure tot rus gekom het, het die huis en werf met sy skepsele, menslik en dierlik, begin maal.

Die ander meisies wou ’n floute kry toe hulle in daglig sien hoe hulle held en redder lyk. Sy het haar in sy ongeërgdheid verlustig. Sy is die uitverkore een, en hulle weet dit nie! Sy sal hulle wys.

Die rok wat sy aanhad, was Gerrie s’n. Dit was te ruim en het onmodieus haar voete bedek. ’n Eenvoudige rok en ligpers, sy moes hoor dis ligte rou vir Gerrie se stiefma, Frans se ma. Ingewikkelde spul.

Gerrie was soos ’n vroulike weergawe van Frans. Sy het dit gehaat dat hulle so gemaklik met mekaar is. Die familieskap is geen gerusstelling nie. Dis tradisie dat cousins op mekaar verlief raak. Sy wou Gerrie graag veilig afmaak as onskadelik, maar die te groot rok het haar herinner aan die meisie se lengte, die kragtiger bou, sterker skouers.

Dit was ’n groot gespook vir die Du Toits om by die kerk uit te kom. Die Viljoens het tuisgebly om die besorgde familie te ontvang. Nou sal Frans my probeer eenkant kry, het sy geglo. Sy was nie eers vaak of moeg nie. Maar haar ma en Zaverius is toe die eerste familie wat opdaag. Met vars klere vir haar.

Noudat tyd en afstand alles helder maak, kan sy onthou dat Mother baie danig was. Sy het op die hoë stoep saam met Mrs Viljoen tee gedrink en verneem dat die grys-met-swart rouklere ter wille van haar skoondogter Lulu is, laas jaar gesterf aan die koors. Met geveinsde mymering het sy uitgestaar na die berge en gesug: “Ja, Transvaal is glo hard, maar dit moet ’n mooi wêreld wees. Ek wil tog nog gaan kyk hoe dit lyk.” Hoe het sy uitgevra … oor die name Ostfedt en Walhalla. Oor die weer en selfs oor die kerk.

Die verskil tussen die twee vroue was so opsigtelik. Mrs Viljoen met trots sonder hoogmoed, Judit met hoogmoed sonder trots.

Memorie wieg heftiger in die wingerdstoel. Die dag warm op, die rose walm swaar. Vaag kom die herkenning, soos ’n newel wat oplig voor dit weer verdig. Die begrafnis van haar pa, enkele dae ná die skadu teen die muur, die skrapende sinkdeur. Trane steek in haar geslote oë. Die tweede keer dat sy iets van haar pa onthou, elke keer as sy naby Frans is.

Desperaat voel-voel sy weer aan die diamantring.

Eddie aanbid haar. Hy kan nie glo dat sy nog losloop nie. Dis vir hom alte wonderlik dat hy haar ingegorde middeltjie met sy hande kan omvat – die bleek, besproete hande.

Op hulle eerste alleenafspraak, ’n roei-uitstappie op een van die myndamme, het hy haar reeds gevra. Sy het geen oomblik getwyfel nie. Binnekort word hy lid van die Rand Club 33. Sy en Starrenberg se Stardust Company is reeds lid van die Exchange, wat dit ook al beteken. Die delwers met verstand vorm sindikate en maatskappye en verkoop aandele, sê Eddie. Dis nie soos op Kimberley nie. Een man kan nie die goudriwwe met pik en graaf oopbreek nie. Behalwe ’n kleim, het jy nog ten minste £10 000 nodig vir ’n stampbattery, timmerhout, waterregte, sement, dinamiet, lone.

“Waar gaan ons woon?” Die tyd was ryp om te pols. Sy het gou vasgestel dat Randjieslaagte uitgedien raak; die rykes begin na Doornfontein trek.

Toe slaan Eddie haar voete skoon onder haar uit: “Parktown Ridge. Ek hoor Sir Lionel Phillips en Lady Florence gaan ’n uittog soontoe begin.”

Hy het haar gaan wys, die ongeskonde rant noord van die dorp en myne, begroei met suikerbos en stamvrug. Skoon lug en wondermooi uitsig, met ver agter jou die stof en vuil en die irriterende gebons van stampmeulens, die kampongs en agterbuurte. Aan die voet van die skerp heuwelrand lê die Sachsenwald met sy miljoen geurige bloekoms uit prins Bismarck se landgoed in die Swartwoud.

Maar, wonderlikste van alles: agter die wye, golwende Hoëveld kon sy die pers ketting van die Magaliesberge sien lê. Sy hoor Frans dit nog sê, met talmende liefkosing: “Die Magálies.”

“O, dis pragtig,” het sy Eddie opreg verseker. Die enkele reeds voltooide of halfklaar huise het haar asem weggeslaan. Van waar dan die rilling? Was dit die skraal, verlate windjie wat deur die verdroogde grashalms waai?

Sy het dit weggedruk: die óú gevoel van uitgeslotenheid. Sy kon haar huis al sien troon te midde van somerhuisie en marmerpagodes, rotstuine en fonteintjies, swanemeer. Balkonne met siertralies. Uitgeboude vensters, toringspitse. Kiaattrap en beskilderde plafonne, skuifdeure wat die ruim vertrekke in ’n danssaal omskep. ’n Grasieuse, deftige huis. En sy, die meesteres, wat aan die bopunt van die trap haar verskyning maak.

Sy het warm by Eddie ingehaak. Sy sal aan hom geheg kan raak. Graag sou sy wou trou met ’n man wat haar van haar voete vee, omdat sy ’n voorsmaak gehad het van hoe dit kan wees. Maar ’n mens kan nie alles in hierdie lewe kry nie.

Dis toe dat Eddie die ring uit sy sak gehaal het.

Die swewende droomgevoel. Het sy karwiele gehoor, dowwe manstemme? Die volgende oomblik skrik sy wawyd wakker. ’n Gestalte spring rats die hoë agterstoep op. Hy is hier vlak by haar, en aan die behoedsaamheid in sy geskreefde oë weet sy dat Ostfedt hom voorgestaan en vertel het.

“Het ek jou laat skrik?” Hy haal sy hoed af en stoot sy vingers deur sy ruie hare.

“Julle velskoene loop ook so sag!”

“Júlle?”

“Julle Boere, ja.” Verkeerd, sy het verkeerd begin. Hy het haar betrap, en nou is hy in beheer. Daar is ’n spel om te speel, onthou sy wanhopig. Sit hom af met onbeslistheid, lag as hy frons, wees koel as hy pleit.

Maar hy ontlok niks hiervan nie. Hy staan daar, blakend gesond, bruingebrand, volkome seker van homself.

“Oom Olav sê jy is verloof. Is dit waar?”

Waar sy met die ring wou praal, rem dit nou hinderlik aan haar vinger. “Jy kan darem eers groet.”

Hy draai effens weg van haar, dan voluit terug, presies soos daardie môre by die kaggel. “Ek vra of dit waar is.”

“Julle het my lekker beskinder.”

“Moenie draaie gooi nie, Memorie.” Mémorie. “As ek my reg herinner, het ek en jy ’n afspraak gehad.”

Nou kom haar kans: “Praat jy van ons lawwigheid daardie môre by die kaggel? Jy’t mos geweet ek is nie ernstig nie.”

“O ja, jy was. En jy is nog steeds. Dit staan op jou gesig geskryf.”

Sy dwing haar om te glo hy is nie so fors nie, dit lyk net so omdat sy laag sit. Sy skouers is nie so breed nie, dis net omdat Eddie se smal, afdraand skouers so vars in haar geheue is. Hy is nie so bruin nie, dis die witterige hemp wat dit so laat lyk.

Hoe kan sy ernstig oor hom wees? Eddie pas in ’n spoghuis teen die Parktownse hoogtes. Frans nie, hy is boers. Die gedagte wil nie na wense ontstel nie. Twee weke op die Goudvelde het haar gewoond gemaak aan klere en aksente van alle soorte. Stowwerige delwers sonder baadjie, met rystewels en slap hoede, rewolwers in hulle gordels.

“Nou wel, dan het ek tot ander insigte gekom. Dis ’n meisie se reg, en dit sal nie help jy soebat nie.”

“Askies, maar dis jý wat soebat.”

“Jy sal jou wat verbeel.” As sy net kan regop kom sonder om te moet rondgryp. En as sy net haar asem een keer diep genoeg kan intrek. Die knellende rygbande waarmee Naomi gretig gehelp het, vergeefse moeite. Hy laat nie eers sy blik oor haar lyf dwaal nie. Dalk moes sy tog die wit rok … ’n wasiger voorkoms …

“Kom, dat ons praat.” Hy steek sy hand uit om haar op te help, maar sy ignoreer dit.

“O, nou wil jy nie aan my raak nie. Mens sal nie sê jy’t my daardie nag so vasgeklou nie.”

“Hoe ridderlik van jou om my daaraan te herinner.” Maar sy het dit self herleef, nag na nag, sewe maande lank.

“Vertel my van jou delwer.” Die dodelike stilte in sy stem.

“Hy het ’n myn, as dit is wat jy bedoel. Soos jy ’n plaas het. Jy boer bo die grond, hy onder die grond.”

“Ons Transvalers het ten minste ingesit. Hulle wil net uithaal.”

“Julle Transvalers – kastig temmers, maar die een helfte is uitgemoor, die ander helfte het wild geword. Dit het julle nou van jul danige trekkery.”

“Koloniale swartsmeerdery. En jy’s ’n swak naprater. Bly maar liewers by jou muisneste.”

“Muisneste? Ek is verloof aan ’n man van drie en twintig.”

“Wat sê dit? Sal hy vir jou ’n mán kan wees? Sal hy voor kan loop en die slae vat?”

“Watter slae? Die Goudvelde behandel my soos ’n prinses.”

“Jy was na my toe op pad. Jy wou nie eers tot end van die jaar wag nie. Hoekom is jy nie eerlik met jouself nie?”

“Ek het ’n bietjie met jou geflirt. Alle mans en meisies doen dit. In die Kaap, in elk geval.”

“Dit het niks met die Kaap te doen nie, en jy weet dit. Dit het alles met ons twee te doen. Hoekom is daar trane in jou oë?”

“Dis hierdie vreeslike helder lig van Transvaal.”

“Dié lig is om beter te kan sien … dárling.”

“Jy spot met my!” Hoe moeiteloos vlek hy daardie nag oop.

“Hoe anders? Jy gaan vat ’n ring van die eerste die beste rokjagter op die Rand.”

“Jy moet tog dat my verloofde jou hoor.” ’n Flits van Eddie se skraal gestalte vaar deur haar. Goddank, dat Frans nie in haar kop kan sien nie. “Frans, Eddie Macdonald gaan vir my ’n paleis in Parktown bou. Hy bederf my tot in die afgrond. Wat wil ek meer hê?”

“Alles wat flikker, is nie vuur nie, en alles wat skitter, is nie goud nie, Mémorie.”

“Hoekom is ek nou Mémorie?” Sy slaag daarin om ’n tikkie tergerigheid te voorskyn te toor, maar dis verlore op hom.

“Dis my skeibrief aan jou. Tensy jy klaarmaak en saam met my uitgaan na Grootverlangen.”

“Jy kan vergeet.” Grootverlangen. Hoe sing die naam uit sy mond.

“Dan vergéét ek.” Hy pas sy hoed mooi netjies op sy kop. “Ek gaan nou winkels toe, maar ek kom weer terug, ingeval jy van plan verander.”

“Jy hoef nie na my toe terug te kom nie.”

“Dis nie wat ek gesê het nie. Ek kom na my familie toe.” Hy maak gereed om te loop. Daar moet ’n plan te make wees. Niks in hierdie lewe kan só finaal wees dat sy Frans Viljoen nie kan kry, saam met al die ander dinge wat sy begeer nie.

As sy Eddie kan dwing tot troubreuk, ’n fortuin van hom eis, ook die huis in Parktown. Sy kan Frans oorhaal om daar te woon. “As dit dalk nie uitwerk tussen my en Eddie nie …”

“Ek jag, maar ek aas nie.”

“Ek dog jy wil my hê!” Sy worstel uit die wingerdstoel, hy bied hierdie keer geen hulp aan nie.

“Ek wil. Maar ek kan sonder jou klaarkom, en dis twee verskillende dinge.”

“Sal jy nog aan my dink?” Sy móét weet, vir die kere as sy op die balkon van haar praghuis op Parktown Ridge staan en na die Magaliesberge staar.

“Ek sal dit afleer.”

“Kan ons nog vriende wees?”

Hulle paaie sal weer kruis. Hulle ouers is getroud, sy kan die verhouding met Mother verbeter. Zaverius hou van Gerrie, daar kan iets van kom. Hy kon die môre op Wellington sy oë nie van haar afhou nie.

“My liefde kon jy verniet kry, my vriendskap is duur. Duurder as goud. Tot siens, hoor.”

Hy loop deur die huis, sy hoor hom vriendelik praat met Marta wat so gedienstig die vloere vir sy koms gepoets het.

Die brief …! Goeie genade, die brief aan Mother. Sy sal vra die huismense moet dit aan hom gee. Sy gaan haar die res van die dag in die vrykamer toesluit, hy kan haar daar kom haal as hy haar wil hê.

Sy ruik naeltjiehoender wat in ’n ysterpot braai. Dit laat haar onthou dat sy die afgelope dae skaars aan haar kos geproe het.

Iets in hierdie huis en familie ontroer haar tot siekwordens toe. Dis ’n heel eie atmosfeer, geweef uit onsigbare drade; iets tussen geluk en leed, gesmoor in die vousels van die tyd, geheimenisse wat nog nie ontdek of verwagtinge wat nooit voltrek is nie.

Sy voel eenkant, verstote. Die óú gevoel. Sy staan op ’n kaal rant, met ’n kil wind wat deur haar waai, terwyl sy afkyk in ’n warm vallei waar ’n vrolike fees aan die gang is.

As Frans net mooi met haar gepraat het, het sy dalk kopgegee. As so ’n onwrikbare man in teerheid swig, moet dit ’n magtige daad wees.

O, sy móés haar wit voilerok aangetrek het!

Maar toe maar, iéts sal gebeur om alles reg te stel, om alle foute uit te wis en haar weer te plaas waar sy met hom begin het.

Al gebeur dit nie nou dadelik nie, dit sál. Intussen kan sy net hoop dat genoeg tyd vinnig genoeg verbygaan om alles draagliker te maak.

Vuur op die horison

Подняться наверх