Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 8

3

Оглавление

ENGELAND,OKTOBER 1889

Op sewentien, goed ontwikkel en gesond, is Michael Dalmain nietemin te jonk om te weet dat die slegte Oktoberweer nie teen hom gemik is nie, dat almal daaronder ly. Hy weet net dat hy vir twee kosbare dae vanaf Eton tuis is, op Banthorp by sy perde en honde. Dat hy en Granpa vandag sou gaan jag, maar dat die weer oornag guur geword het. Lord Henry is bejaard en sy brose, gekoesterde gestel kan maklik ’n knou kry. Mama en Granma waak nougeset.

Teen sonop het ’n paar flou strale nog aarde toe gesyfer, maar in ’n verbete resies is dit ingehaal en verplaas deur drywende wolke en ’n klam, koue wind.

“Dear me, is it raining, Simpson? I had no idea.” Granma teenoor die Butler wat toekyk hoe ’n Footman die damasgordyne voor die dubbele glasdeur van die brekfiskamer ooptrek.

“Indeed, Madam,” antwoord Simpson op waardige, afgemete toon. Kop effens na vore, ’n standbeeld wat asemhaal.

“We can even look for a storm.” Dis Granpa wat die gesprek met ’n onderhorige subtiel kortsny. Natuurlik gesels hy ook met die personeel; maar hy het die korrekte slag, nie neerbuigend óf familiêr nie.

Hy gesels veral graag met Amod, sy lyfkneg, ’n relikwie uit sy Brits-Oos-Indiese dae. Amod, in karmosyn geklee met gestreepte tulband en serp, so vertroud met Granpa se gevoelens en behoeftes dat hy so te sê deel van hom is. Soms gebruik hulle ’n paar woorde onbegryplike Hindustani, Amod se tong soos weerlig. Sy Engels is vlot hoewel nasaal.

“Thank you, Amod.”

“Very good, Sir.”

Dalk die mees gehoorde frases in Banthorp Hall. En die strelendste, omdat dit van goeie orde en gevestigde hiërargie getuig, ook van knus versorging deur ’n vertroude bediendekorps.

“The cat is turning its back to the fire,” motiveer Granpa sy voorspelling. “St. Luke’s Summer has finally passed.” So noem hy die gebruiklik goeie weer van middel Oktober. Afgesaag, net soos sy: Red sky at night, shepherd’s delight; Red sky in the morning, shepherd’s warning. Granpa is ’n onvermoeide weerprofeet. Kon hy dan nie betyds die ommeswaai voorsien het nie? Hoekom het hy vandag se jag belowe? Of sien hy nie meer kans vir ry en jag nie? Sal hy darem nog ’n paar jaar die Estate kan bestuur?

Hy, Michael, aangewese erfgenaam, wil eers die wêreld sien. Dit wag soos ’n oester om oopgebreek te word. Maar dis iets vir later. Sy onmiddellike probleem is om hierdie miserabele dag om te kry. ’n Verdeling van drie etes saam met twee oumense. Hy sal ’n tydjie by die stalle deurbring, maar hy is sat vir siellose ritte op hondmak perde.

Vir ’n volle jaar ná Papa se dood het Mama hom alle jag en ruitersport verbied. Nie betaamlik in die routyd nie, en te gevaarlik. Hy kon vir ontspanning ry, maar beslis nie op die moordmerrie Tess nie. Christine Dalmain sou nie toelaat dat haar seun haar op dieselfde wyse as haar man ontval nie.

Tans is Mama, in ligte rou – mauve rok met swart borduursel – in Londen op ’n liefdadigheidsmissie. Emily is saam. Anne, oudste van die dogters, is by ’n afrondingskool in Switserland. Dorothy is by Nanny in die nursery. Hy gee kwalik om wat hulle doen. Susters bied nie geselskap nie. Philip Russell van die buurlandgoed is jonger as hy, en te kinderagtig na sy smaak. Hou van hol en tuimel, traprelings afgly, ou klere uit die kasteelsolder aantrek.

Skoolvriende bring hy nooit huis toe nie. Dis nie deel van Banthorp se lewenstyl nie. ’n Broer sou hy graag wou hê. Hulle sou vandag snippe gaan skiet het, die weer ten spyt. Dalmain Maximus en Dalmain Minimus sou hulle op Eton heet, mekaar beskut teen die aanslae van strawwe dissipline, boelies en molesteerders, koue, honger, ongerief en verveling, die ewige kompetisie-sport met kleedkamers wat ruik na sweet en skoenswartsel.

Hy haat skool. Dis aaklig om op ’n Sondagmiddag die trein in die Village te haal, terug te gaan om gelykgeskakel te word deur keil, swart baadjie en streepbroek.

Niks wat hy in die skoolkamer tuis of die redelik aangename Preparatory School beleef het, kon hom waarsku teen die ellende van ’n Public School nie. Dis in orde vir seuns wat uitblink in spele, wat nie honde en perde het of ’n Granpa wat jag nie.

Hy mors tyd op skool, laat dit soos sand deur sy vingers glip, wagtende dat dit verby moet gaan. Tuis gaan hy roekeloos daarmee om, smyt dit met albei hande in die lug. Op skool vat een kwartaal ’n jaar om verby te gaan, tuis vlieg selfs die lang somervakansie verby.

Dis dan wat hy dit swaar vat as die weer sy pret kom bederwe. Hy voel koud. Deure en vensters kletter en hou kwalik die stormwind buite. Dit huil om die hoeke, sleep deur die togtige gange, gange so breed dat hy en die sussies soms in mandjies getrek is om, skoon versorg en soet, ’n afgemete tydjie by hul ouers deur te bring. Hoe onthou hy dié kleintydse gebruik, die glytog onder die geskilderde portrette van voorgeslagte met pruike en pêrels deur.

Hoe gemaklik sit hulle in die rame, die weer kan hulle nie deer nie. Hy vermy hulle en klim die trappe, een stel ná die ander. Dis kil en skemer, soos ook die saalagtige vertrekke. Noudat Mama met ’n deel van die staf weg is, staan vele kaggels koud. Anders word die vure al om die uur gestook. Hy hunker na ’n vuur wat hom tot gloeiens sal verwarm. Hy is alleen, koud en verveeld.

Hy oorweeg planne, roekeloos dog nikswerd. Granma sal ná ontbyt na haar boudoir onttrek, Granpa sal in die biblioteek, diep in sy gekraakte leerstoel, die netjies gestrykte koerant oopvou. ’n Paar uur sal hy aandagtig lees en stilletjies dut, omring deur muurrakke vol boeke met leerrûe waarop geëmbosseerde vergulde letters pryk.

Michael probeer uitwerk hoeveel ure hy sal kan deurbring by die honde en stalle, verder met lees en kaartspeel in sy klein ontspankamer wat hy Solitaire gedoop het. Te jonk vir die dineetafel, word “Mast’ Michael” saans hier bedien deur ’n jong Footman in die duifgrys livrei van Banthorp. Wat daarná ongemerk padgee om met die giggelende diensmeisies te flirt.

Met stalle, kaartspeel en lees haal hy die noenmaal.

Nou gaan die twee oues rus tot teetyd, daarná die laaste skof omluier totdat die aantrekklok vir aandete lui. Dis goed en wel vir afgeleefdes. Maar vir jong bloed is hierdie laaste skof van ’n triestige dag die ergste. Die slepende ure totdat die luike toegetrek en die kerse aangesteek word. Lord Henry verkies steeds kerse, hoewel hy self destyds koolgasligte laat insit het. As dit brand, laat hy dit laag stel sodat die grieselig groenerige lig in die gloeikousies tot ’n dowwe oranje verflou.

Hoe anders was dit voorheen, die enorme herehuis ’n byenes wat van kelders tot solders roer. Al die deurlugtige gaste, die glinster- en kostuumballe, tuin- en jagpartye, brugaande en huiskonserte, musiek, noenmale en dinees.

Toe sterf Papa, met ’n jaar van rou en afsondering tot gevolg.

’n Eindelose jaar, wat pas verby is. Van stilte hou hy wel, maar nie van ledigheid nie.

Opeens is die briljante plan daar. Dit popel in hom. Net wag totdat die Hall in middagrus verstil. Hy dwaal met ongeduldige opwinding van die een verdieping na die ander, kyk op horlosies, talm voor uitgeboude vensters. Op mooi dae geniet hy die uitsig op bekende landmerke; die breë terras met kliptrappe, sonnewyser, roostuin, grasperke, parke en lanings, tot by die Cottage Village en plaasopstalle tussen lappieslande waar arbeiders gebuk swoeg – toneeltjies asof uit hout gekerf.

Vandag is die kerktoring ’n mistige wysvinger; die slag van die klok dof, asof die klepel in watte gehul is. Die swanemeer is ’n stuk matglas onder stuiwende reënmis. Dof is die wye woud, bewoon deur die slinkse vosse, die groot, geheimsinnige hase en die sku bruin takbokke wat Granpa veertig jaar gelede uit Skotland laat kom het.

Hoe hou hy van die herte: Naby die ingang van Great Park het hy ’n trop herte die pad sien oorsteek in die swaar mis van die laagliggende Teems. Hy sal dié gesig nooit vergeet nie.

As gevolg van die jagban in die routyd, is die takbokke laas winter nie uitgedun nie, het met lamtyd geil aangewas. In die weelde van somer en vroeë najaar kan jy hulle teen dagbreek en skemeraand tussen die jong denne sien wei. Met paartyd annekseer die ramme die gebied en baklei blaffend, met klappende gewei. Die ram lok die ooi deur haar te volg … met voetpaaie, deur ruigtes en oor heinings, eindeloos. Regsom, linksom elke boomstam, myle op ’n keer.

Die duisende voëls, wat vóór Papa se ongeluk onder hoenderhenne uitgebroei is vir die jagseisoen, kreet en sirkel die lug vol bo meer, moeras en grasland. Die vosse raak so hans dat hulle met swaaiende borselsterte deur die ou, donker bome van die tuispark kom glip.

Fyn spinnerak woeker in die geweerkamer.

Sedert die dag toe die blindings toegetrek, die koperklopper in sagte doek gehul en die gruisterras met kaf bedek is om die klank van perdepote en rytuie te demp; die dag toe The Honourable John Dalmain (Dal vir sy vriende) in sy kis in ’n ongebruikte slaapkamer op die lykbesorger gewag het; die dag toe die familiekapel van binne met lanfer behang is – van toe af is Banthorp Estate dood vir Society.

Die sussies het nie hul jaarlikse seevakansie saam met Nanny en die goewernante onderneem nie. Die skouspelagtige uittog vir die London Season het ontbreek. Die huis in Arlingtonstraat het toe gebly. So was daar niemand uit die familie by die seiljagvaart in Isle of Wight, by die korhoenderjag in Skotland, by die plattelandse patrys-, vosse- en hertejagte nie.

Hoewel sy jeug hom nog daarvan uitsluit, weet Michael dat hy dit alles sal moet voortsit. Hy is die laaste een om die titel te dra. Faal hy, moet een van die susters trou met ’n man wat moontlik kans sien om sy eie naam prys te gee en hare aan te neem.

Dit was wel goed om Mama een hele jaar tuis te vind. Voorheen was Granpa die stut as die sosiale siklus Papa en Mama opeis. Met slegs ’n kernstaf tuis is die program dan rustig, die atmosfeer intiem, die uitgebreide familiedinees afgeskaal na soepees wat deur hom en selfs Anne en Emily bygewoon mag word in die klein eetkamer wat tydens balle as ’n ekstra vertrek vir kaartspeel dien.

Saans lees Granpa hardop voor, terwyl Granma kruissteek doen en kamferpille suig, wat sy glo kalmerend vind.

Toe Henry Dalmain ná jare lange wewenaarskap weer trou, het hy vrywillig ’n sosiale balling geword. Dames van stand was doodgewoon nie tuis as Kate op visite kom nie. Sy is ’n geskeide vrou en buitendien een uit die middelklas. Nog minder ontvang sy visite. Die fout wat Lord Banthorp gemaak het, was om te tróú met sy minnares, ’n vrou wat haar man in ’n koloniale uithoek laat staan en haar in Londen kom vestig het ter wille van haar minnaar. Hy het haar verstandiglik nie betitel nie. Dit was die voorreg van Lady Claire Devenish, sy eerste vrou, moeder van sy seun.

Tot op sewe het Michael van hierdie dinge niks geweet nie. Toe kom die aand wat hy uit die nursery wegsluip. Hy wis hoe die bediendes bedags lyk en wat hulle doen. Die geritsel van gestyfde uniforms. Die diensmeisies wat ruik na sweet en melk soos jong verskalwers. Soggens skarrel hulle rond met slopemmers en brons bekers vol warm water. Een was op ’n dag besig om ’n kaggel met swartsel te poets, toe hy swig voor die versoeking om haar onder haar ronde boudjies te skop. Sy het natuurlik gehol na Nanny, wat hom goed geroskam het.

Maar saans laat het hulle eenvoudig verdwyn na die benedekwartiere. Hy sou kyk wat daar aangaan. Dit was veilig. As Nanny kla oor “me corns” wat pyn en onweer voorspel, lig sy haar nie maklik uit haar skommelstoel op nie.

Met ’n flikkerende kers in die hand stoot hy die deur wat met growwe groen baai bedek is, oop. Skuifel kaalvoet die trap af na ’n kil, klam skemerwêreld. Vreemde ruimte, vae vorme, bedompige reuke. In die halflig staar hy na genommerde klokkies wat hang aan halfronde staalvere, vasgeheg aan ’n harwar drade wat deur die mure loop. Is dít wat die geskarrel ontketen as daar ’n bevelende pluk aan ’n koord gegee word?

Mompelstemme lok hom na ’n kamertjie wat uit die kombuis loop. Hy sit die kers buite sig neer, bang om betrap te word. Dis Mrs Wakefield die huishoudster en Mrs Berry die kok wat in die lig van lamp en kaggelvuur diep in gesprek is. Eersgenoemde is die skrik van die minderes, wat op die vlug slaan sodra hulle die ontsagwekkende geritsel van “that crool ole dragon” se gestyfde klere hoor, of die gerinkel van die sleutels aan ’n kettinkie om haar dik middel. Mrs Berry, weer, is so swaarmoedig dat Old Nanny altyd gewonder het of sy nie dalk in die kospotte huil nie.

“Lots of gen’men of the upper class set up a mistress. They get tired of just huntin’ an’ hoss-ridin’.” Mrs Berry in haar gedweë stem. “But marryin’ is a hoss of another colour.”

“Yes, and let me tell you summink: fine feathers do not make fine birds. An orniry woman can’t change her voice to that of a woman of birth and breedin’. One has ears to ’ear that she’s ill-bred. She still talks to ’er personal maid of taking a bath in stead of ’avin’ ’er bath.”

“Gawd alone knows how our pore Lord mannidge, not ’avin’ a lady with a proper God-fearin’ title at ’is side,” seur Mrs Berry instemmend. “Never receivin’ an’ not even going to Lunnon for the Season. If e’d ever ’uv knowed …”

“If you arst me, ’e would still ’uv married her. These kept women first bleed the gen’men, then soften ’em up. She can tell ’im any tale and ’e’ll swaller it like it was Bible.” Mrs Wakefield teug aan haar kakao, die reuk trek tot waar hy skuil. “The ’orror of ’er allus wantin’ to buy things an’ all that sayin’ please and thank you too much.”

“She allus overdoes things.”

“It’s in the restraint. There’s our ’onrubble Mistress Christine, allus preservin’ ’er dignity. But shé …! Leavin’ ’er first ’usband as ’tis, an’ steppin’ into the shoes of the late Lady Claire, God rest ’er sweet soul. It’s no easy task an’ she allus seems restless like ter me an’ methink she’s never been ’appy under this roof.”

“Oo is? There ain’t no ’appiness in this world, so we must just be ’appy without it.” ’n Klam snuifgeluid.

“Look, I’ve got nothin’ agaist ’er, may Gawd forgive ’er, but …”

“She” word ’n mag wat sy beskutting bedreig. “She” is besig om Granpa, tot nou groter as lewensgroot, te verdwerg. Hy soek nie ’n naam vir “She” nie. Nie toe reeds nie. Dit sou wees om bestaansreg aan haar te verleen. Hy moet weg.

Ongeërg agteruit beweeg, soos die debutantemeisies aan die hof glo doen. Hulle doen dit net om die Queen te beïndruk, hy doen dit om sy aftog te dek. Hy is reeds weer in die veilige sirkeltjie kerslig, toe hy dit sien: die kakkerlakke, swart wemelend teen die kombuismure. ’n Knewel probeer onder sy voete invlug. Hy skree. Die twee vroue is in ’n oogwenk langs hom, deureen hygende: “Omigawd it’s the little master! Oh dear me wot ever will Nanny say!”

Nanny word ontruk aan haar skommelstoel en rustige koppie laataandtee. Toe sy, vreemd sonder grys mus en uniform, in flennienagrok en pantoffels teen die trap afkom, skud sy hom dat sy tande klap. Met die gebruiklike appeltakkie jaag sy hom terug en kners woedend: “Where have you been, you bad, wicked, naughty boy? You will live to regret this …” En, terwyl die verskrikte Nursery-maid haar met vlugsout lawe: “I’ll pack me bags, I’ll not endure it!”

Natuurlik sou Nanny nie haar tasse pak nie. Sy sou nog etlike jare uithou voor sy gerieflik aftree in ’n cottage in Banthorp Village om Old Nanny te word. Maar al was sy so streng, al kon sy Hér Babies selfs later in die skoolkamer nie uitlos nie, sal hy darem nooit vergeet hoe sy altyd ’n bietjie melk by die laaste jam in die potjie geroer en hom dit met ’n teelepel laat eet het nie.

Nooit weer sou sy egter nalaat om die sleutel van die nursery onder haar kopkussing te bêre nie. Daar was geen manier om aan haar heerskappy te ontkom nie. Mama se ingehoue dog gedrae stem: “Do as Nanny says, dear. Nanny knows best. It is her duty to bring you up correctly.”

Die naggesprek bly in sy kop náklink. Dit laat hom, toe hy tot die besef kom van wie “She” is, met nuwe oë na Granma kyk. Onvergenoegde trek om die mond, beringde vingers wat altyd aan iets vroetel, dun arms in vliesige swart teetabberd. Met snoeiskêr en tuinhandskoene genadeloos op jag na ’n bestaande of gewaande insek.

Hy begin die opsetlike versprekings van hoofbediendes vertolk: “My Lady … Madam I mean …” Tog noem Granpa haar half afwesig “Dearest girl” en “Darling sweetheart”. Het Granpa iewers in sy lewe ’n groot fout begaan? Hy met die besadigde blou vuur in sy oë, kersregop in rybroek aan die brekfistafel. Met jas en pet en stok in die laning, wandelend met “She” aan sy arm, besig om die swart swane by die meer te voer. Nougesette landheer wat die vrugte in die kweekkamer ondersoek, wat ná die Sondagdiens met die pagters buite die kerk onderhandel.

Granpa met sy pyp voor ’n robyn kaggelvuur van verouderde stompe, sy dineebaadjie verruil vir ’n gemaklike ou huisbaadjie, voete in geborduurde ferweelpantoffels onder die lessenaar op die tiervel uit sy Indiese dae. Teen die mure die kaarte van die Estate, op die lessenaar die massa inligting waaraan hy jaarin en jaaruit werk; sy memoirs, verlewendig deur lynsketse uit sy nogal tekenvaardige hand.

Dis hier dat hy soms genaakbaar begin vertel. In halwe sinne, met pouses en ’n “puff-puff” aan sy pyp. Selde oor homself, eerder interessanthede oor Indië en Afrika. Die tierjag. Die maharadjas wat vanaf ’n balkon skaak speel met die vroue van hulle harems as skaakstukke op die grasperk. Die een wat wen, kry die harem van die verloorder.

So baie vroue, dink Michael; soos Salomo.

Toe hy uitvind van Haggard se King Solomon’s Mines, lees hy dit asof sy lewe daarvan afhang. Hy was nie bewus daarvan dat die Sondag waarop hy die bladsye koorsig laat ritsel, twee jaar tevore, later as Bloody Sunday bekend sou staan nie, met ’n optog van werkloses, met ruitglas wat in Pall Mall flenters geslaan word, polisiestormlope met knuppels. Granpa mompel oor “miserable Irish peasantry” met hulle Fenian-terroriste en hulle ongewenste immigrante wat krotbuurte skep in Londen en Liverpool. Maar wat verwag jy anders van ’n land waarvan die ekonomie op aartappels gebou is, en wat verhonger as die oes misluk?

Maar hy as seun wil eerder meer oor misterieuse Afrika weet, vra vir Granpa met nuwe mening uit, teleurgesteld as dit blyk dat Granpa net die suidpunt ken. Kaapstad. Die berg soos ’n tafel, wat soms in mis gehul is, ander kere brand sodat sterk winde die vonke oor Government House laat reën. Die Kasteel, gebou deur die Hollanders toe hulle ’n verversingspos stig. Maar nie ’n régte kasteel soos Shinwell, of elders hier in Norfolk nie. Plat, met vyf punte, van bergklip gebou, en met ’n donker kelder waar prisoniers aangehou is.

Oor die winde, die storms, die skeepswrakke.

Sulke tye sou Lord Banthorp toelaat dat sy kleinseun versigtig krap tussen die knipsels, memento’s, notas. Hy wonder al hoe meer oor die kroonkolonies, véraf en verag, maar soos winkende ligte.

“And who may this woman be, Gramps?” ’n Vergeelde koerantknipsel met die beeltenis van ’n jong vrou. Nie regtig ’n portret nie, maar van ’n houtsnee, goed sigbaar.

“Oh, that one? Some Cape Dutch lady.”

“But she isn’t uncivilized, is she?” Dit verwar hom. Sy kon net sowel uit een van die rame teen die gangmure van Banthorp gestap het.

“The Cape Dutch are … ummm … civilized though. Most of them remained loyal to the Crown.”

“And the pioneers in the outback? The frontiersmen? Did they become extinct?” Granpa het al vertel van die opstandige onderdane wat die wildernis ingetrek het.

“Some survived and … umm … turned savage I believe.”

“In darkest Africa?”

’n Avontuurlustige versugting. Elke April as die swaels terugkeer, wens hy dat hy in hul klein, geveerde koppies kon klim en spikkies herinnering oppik. Ook die ooievaars. Skielik op ’n dag in die lente is hulle uit Afrika terug op die skoorstene, misterieus swyend aangaande die vastelande en oseane wat deur hulle vleuels oorspan is. “Africa must be the land with the most light though. Sunlight that is.”

Hy het nie van werklike lig gepraat nie, maar hy bewaar die gesprekslyn. “If I may be so bold, Sir, why did you keep this?”

“Oh, just because. ’Twas written by a Cape Town journalist. Fellow I was with at Eton.” Granpa vat die knipsel weg, dog die naam “Cockburn” sink betyds in.

“A friend of yours?” Boeiende gedagte, om ’n vriend te hê wat vir geld werk. By ’n koerant. In Afrika.

“Well, you know how it is with friendship, dear boy.”

“No, I don’t, Sir.”

“It’s not worth a bean.”

“Pray why d’you say so, Sir?”

“Well that’s how ’tis. Now promise me not to mention this talk to your grandmother.”

Waarom op aarde nie? Maar Granpa se byna somber erns laat hom die kans raaksien: “Isn’t it a long time since we’ve been out for snipe in the marshes, your Lordship?”

“Why you little devil, taking advantage of a poor old peer.” Waterige blou oë waarsku hom toegeneë. “Now run along, there’s a good chap.”

Soms het hy skuldig gedink: met Granpa het ek vir Papa nie nodig nie. Hoewel Papa hom leer ry het. Hom die eerste keer op die wit leiponie getel en die teuels in sy hande gesit het. Ure lank met ’n dwarslat geoefen. Lesse wat hy nooit sal vergeet nie, wat deel van sy denke en gestalte geword het. Kop hoog, hande laag, elmboë vas teen sy lyf, knieë styf teen die perd se sye.

Daardie jare het hy Papa bewonder.

Dit het oorgegaan in ontsag, later vrese. Nadat hy sy seun die beginsels van ruiterkuns geleer het, het John Dalmain hom ná ’n val met die karwats terug perd toe gejaag. Met sy ongeduld het hy baie dinge bederf. Na buite het hy egter ’n ander beeld voorgehou.

Die meeste van sy tyd het hy by die stalle deurgebring. Deur en deur jagter en sportman; robuus, energiek, ’n liefhebber van goeie kos, goeie wyn, goeie sigare. Sy lewenstyl was vir hom ’n roeping. Hy neem nie net ’n leërskare minderbevoorregtes in diens nie, hy dien ook as voorbeeld vir die laer klasse. ’n Geval van Noblesse oblige.

Om saal-, ren- of skietperde te teel en af te rig, was sy groot liefhebbery; met as voortsetting die winterse vossejag op die manjifieke skietperde wat hy vir homself uitgehou het. Hy het hom hiervoor uit die militêre lewe losgemaak. Granpa was steeds in beheer van die Estate; anders sou Papa, ondenkbaar, sy lewe as Gentleman of Leisure moes inkort.

Sy dood was onverwags, dog paslik. Op sy veertigste verjaardag het hy, luisterryk in skarlakenrooi jaguitrusting, die onfeilbare Tess na ’n onmoontlike heining voortgedryf met ’n uitbundige: “Gee-up! C’mon me beauty!”

Soos Gillings, of kortweg Gill, die ou stalmeester, agterna met droewige trots verklaar het: “Them was the larst words as ’ee ever spoke.”

“Throw your heart over first,” het John Dalmain altyd sy seun onderrig. Maar op hierdie dag het hy tevergeefs sy eie hart gegooi. Tess het geweier en haar ruiter het oor die heining getrek om in ’n koolraapbedding op sy kop te land.

Die skielike einde van Papa se vurige, rojale lewe was soos die val van ’n ster wat ’n kol lewe op aarde doodmaak. Maar tyd het die skok laat afslyt. Tydens die routyd het Mama se verpligtinge opgehoop. Sy beleef nou ’n dol tyd. Anne moet debuteer tydens die volgende Season. Daarna ’n paar jaar grasie voor Emily aan die beurt kom. Emily is twaalf, so oud soos Mary Russell, hul kleinniggie.

Hy en Mary is bestem om te trou. Dit kan verhoudinge tussen Banthorp en Shinwell veral op jaggebied herbevestig. Daar het wel vereniging plaasgevind met Granpa en Claire Devenish se huwelik, maar sedert haar dood het sake vertroebel.

Hy hou van Mary. ’n Bietjie klaerig, maar sy is oulik. Ook nie ’n groot jagter soos Granma Claire skynbaar was nie, maar lief genoeg vir perde en honde. Sy is die enigste meisie met wie hy al gedans het. Hy was vyftien, sy tien. ’n Informele dans by Shinwell Castle, waarheen hy per rytuig geneem is. Stywe boordjie, dansskoene, wit handskoene. Sy het in kolle gebloos toe hy haar die eerste keer vra, maar dit het goed genoeg gegaan.

Sy kan nog ’n skoonheid word. Golwende donkerblonde hare, grys oë, ’n klein mond, fyn vel. Hoewel sy hom intussen ’n medaljon met ’n lokkie van haar hare gegee en hom in haar Autograph-boekie laat skryf het, wek sy nie hewige begeerte by hom soos die ouer meisies wat hy op straat in Eton-dorp sien nie. Maar dit kan kom. Sy is uiters jonk en beskut.

’n Man van stand hoef in elk geval nie vroeg te trou nie. Daar is genoeg bediendes om hom te versorg en genoeg vroue vir sy ander behoeftes. So praat die senior skoolseuns, van wie hy nou een is. Net meer as ’n jaar, en hy’s klaar.

Daarna, Sandhurst. Wanneer hy mondig word in ’93, kan hy reeds offisier wees. Die militêre lewe voltooi jou opvoeding net so goed soos universiteit. Met ’n oorlog die bekroning daarvan. In haar vyftig troonjare was daar vir Her Majesty omtrent net soveel oorloë en veldtogte. Geen rede waarom dit nou sal afneem nie. Haar leër is oppermagtig en haar kolonies immer onrustig.

Daarna sal hy kom oorneem. Granpa kla oor droë somers, depressie, die indringing van finansiers en industrialiste, vallende pryse as gevolg van treine en stoomskepe, die ontvolking van die Country waardeur cottages in Banthorp Village leeg staan. Maar dit sal nie die wese van landheerskap raak nie. Die lewe hier sal steeds voortreflik en geborge wees. Deel van die heersersklas, die boonste tienduisend. Mikrokosmos van die Empire self.

Dis net dat hy soms vasgespin voel in dik lae van beskawing, kultuur, selfbeheersing. ’n Gevoel wat sterker word as hy die bediendes en dorpenaars se skril stemme hoor. Of die Gipsies sien by hulle kamp in die dennebos; kleurryke swerfvoëls, ongebonde, lawaaierig, vry soos die wind. Hy neem verlangs kennis van markdae, vendusies, volkse oesfeeste.

Maar dis nie dat hy na so ’n soort bestaanslewe hunker nie. Hy het nie probleme met sy bestemming nie. Hy wil net nie nou al vas wees nie. Die Estate sowel as Mary kan wag. ’n Meisie neem af in waarde as sy ná haar eerste seisoen nie getroud kom nie, maar Granma Claire het ook maar vir Granpa gewag tot hy klaar was met sy koloniale omswerwinge. Papa is wel vroeg getroud, maar hy was altyd in die tuisregiment.

Wat sal hy in sy vrye jare doen? Europa kan ook maar grys wees. Afrika? Die Ooste? Sy eie plantasie: tee, koffie, rubber. ’n Beesplaas in Australië. ’n Plek waar son so vanselfsprekend is dat elke gesprek nie oor die weer hoef te handel nie.

Dis hierdie ontydige koues wat hom vang. Diepwinter het sy eie bekoring. Die natuur doodstil, die bome donker. Bevrore blaarhope, vallende dennebolle. Ysskaats op die meer. Die eerste sneeu. Die donkerte van vroeë Desember tot Kersfees, daardie kort dae met ysgevulde reën en knus kaggelvure. Granpa se Kersvierings, ’n vaste familierite.

Maar iets in hom verlang altyd na somer. Soms kry hy by Mrs Berry ’n piekniekmandjie en bly heeldag uit. Visvang, swem, met sy honde draf, uitry deur die golwende groen van die graanlande wat in goud verander, daarna in gryswit.

Oestyd self is ’n spesiale stukkie wat elke jaar uit die tyd gesny word. Maar so gou is die oesdrukte verby en bly daar net die leeurikke wat soos vereklossies oor die stoppels van die kaal lande fladder. Tot die wind hulle vat en die lug invoer, met hul lied se note wat soos druppels aarde toe val.

Die oesfees van die pagters en arbeiders is nie deur Papa se dood geraak nie. Hy kon afloer, soos vorige jare, na die tafels vol kos en die ongebreidelde plesier. Die grootste deel van die skuur is leeggemaak en met loof versier. In die verste deel is die hawer tot by die balke gepak en met seil afgeskort. Deur die wyd oop deure die roesemoes van jolyt, viool en tamboeryn, die ritmiese gedonder van hakke en tone op die swartverkleurde eikehoutvloer.

Hy sluip huis toe met sy kop vol klanke, sy lyf vol vuur, ’n vreemde heimwee in sy binneste. Die kortstondigheid van dinge. Van somer, veral. Te gou, elke jaar, begin die herfstige reuk van vuurrook meng met dié van die laaste somerstof wat oor die hegge en in die lanings lê.

Blare wat groen en dig was, verkleur en val af. Vlamme van ywerige tuiniers verteer die saamgeharkte piramides goud, roes, saffraan, karmosyn.

Michael sit sy ryklere en waterdigte Burberry solank reg. Om seker te maak dat Granpa en Granma hulle vir hul middagrus onttrek het, luister hy aan die bopunt van die trap. Dis stil, maar hy moet liewer nog talm. Granpa het ’n manier om weer te ontpop en hom kamma iets te sê of te vra.

Hy dool na Mama se boudoir in die linkervleuel. In sy verbeelding kan hy haar sien sit, besig om met ’n versorgde vinger rond te soek in die juweledoos wat deur haar kamermeisie oopgehou word. Sy is soos ’n blom of skildery, volkome op haar plek, suiwer en uitgesoek. Haar familie het uit hulle fortuin geraak, maar sy is deur en deur ’n Lady. Papa het uit liefde met haar getrou, niks anders nie. Hy sou dieselfde gedoen het as hy Papa was.

Hy vind slegs haar geur. Die subtiele appelbloeisel wat hy onthou uit ’n kindertydse siekbed, toe sy haar sosiale pligte ingekort het om die gehuurde verpleegster te help waak. Hoe sag het sy oor hom gebuig. Hy onthou ook dieselfde geur en die sagtheid van haar boarm onder die roksmou as sy kop in die kerk skuins sak van vaak. Onthou hoe sy hom in die Hymn Book help opsoek. Haar suiwer, trillende sangstem:

As pants the hart for cooling streams,

When heated in the chase,

So longs my soul, O God, for Thee,

And thy refreshing grace.

Een Sondag moes hy sy loom kop skielik oplig: ’n muis is proewend besig by die opgestapelde dankoffer van vrugte. Eers by die brame, totdat hy onder die appeltoring inglip. ’n Appel raak los en rol oor die vloer. Die muis skarrel verskrik weg.

Hy proes, met ’n kwaai gluring van Papa tot gevolg. Mama druk sy kop gerustellend terug teen haar arm.

In haar vergulde spieël soek hy die trekke van Papa, met gelaatskleur hoog van adel en sjampanje. Hy vind wel die lengte van postuur en die vlak gleuf in die ken. Maar die gelaatskleur is dié van Mama. Bruin hare. Bruiner oë, wat net effens roer as hy opkyk.

Hy raak aan die Belleek-beeldjie op die kaggelrak. The Prisoner of Love. Boeie van rose, ’n duif by haar voete. Neergeslane blik, kleed om die heupe, ontblote bolyf. Hy streel oor die borste. Met sy naaspinkie, wat die gevoeligste kussinkie het. Die kraakporselein is glad soos perlemoer.

Hy vlug as ’t ware uit die boudoir. Tess … Sal hy Mama verraai as hy sy plan uitvoer? Die jaar van rou en verbod is tog verby. Mama het nie gesê hy mag nóóit op Tess ry nie.

Hy sal net ry tot op Saddle Hill, die hoogtetjie duskant die rivier, ’n bekende uitkykpunt. Op ’n mooi dag kan jy daarvandaan selfs die torinkies van Shinwell Castle sien. Hy weet dat Gill en die stalknegte hom sal steun. Volgens hulle is Tess te na gekom. Sy is ’n uitmuntende perd, hoog gebou en goedgemanierd. Binne die grense van die huisterrein gedra sy haar volmaak fatsoenlik. Sodra sy die vryheid van die jagveld betree, word sy egter ’n demoon, spring sy met berekende veragting oor enige versperring wat in haar pad kom. Dis nie haar skuld dat sy voor die onmoontlike te staan gekom het nie. Papa wou met sy ruiterkuns spog. Hy het háár nie geag nie.

Dit sal ’n behae wees om haar te beheer, met ’n sagte dog ferm teuel. Die ruiter se wense lê opgesluit in die stang in die bek, die perd reageer op die rukkies en plukkies wat daar gevoel word.

Gill kom hom uit die tuiekamer tegemoet. Om, toe hy Mast’ Michael se voorneme hoor, paslik te skrik en orders en waarskuwings uit te ryg. Totdat Michael lag: “Dear Gill, pray stop lecturing me. I’m only taking her for a stretcher, I’m not going to set the Thames on fire with her.”

“Nor I shouldn’t imagin’. Nah, jest you listen ter a word of advice, Mast’ Michael, becorse the weather is foul an’ this ’ere fine hanimal …”

Tess snork ligweg, gooi haar kop agteroor asof sy weet wat wag. Glimmend fyn is die versorgde maanhaar en stert wat in die koue reënwind omgewoel word. Haar geroskamde vel stoom in die klam koue. Sy is uitgevars, ’n jaar lank net vir oefening gery deur die stalmeester self.

Michael streel haar nek. Sy draai een oor agtertoe en boog haar nek. Wat ’n edel dier. Wat ’n skreiende onreg.

Hande agter die rug gevou, staan Henry Dalmain by die venster van sy kamer en uitkyk. Deur die grys reënmis sien hy hoe sy kleinseun vir Tess uit die stalle lei, bygestaan deur Gill met die ruiter-bakbene.

“Flamin’ hell …” adem Milord. Ook maar goed sy skoondogter Christine sit eerder in Londen.

Hy maak een van die kniprame oop om die dowwe getrappel van Tess se gretige hoewe op die nat keistene te hoor. Henry wat normaalweg nie danig gemoedelik is nie, glimlag fynweg. Hy bly kyk totdat Michael anderkant die tuiskamp opklim. Man word een met perd, ’n grys sentour.

Sal wel gou genoeg omdraai. Die wolke begin al laer hang soos die dak van ’n grot wat wil insak. En wat daarvan as die storm hom vaskeer? Dit kan net sy ruggraat versterk. Hy sal wel skuiling vind of Gill sal hom laat soek, skuldig deur sy aandadigheid. Die verlies van ’n enigste seun op wie hy nie versot was nie, laat Henry Dalmain glo dat die noodlot nie nog ’n keer op dieselfde wyse sal toeslaan nie. Michael is ook te flink.

“A clear mind in a capable body,” besluit Lord Banthorp, nou net ’n gewone oupa, met onverbloemde trots. Streng en paslik opgevoed, maar nie te gedwee om sy eie kop te volg nie. Son of the blood. Goeie, koppige óú Engelse bloed. ’n Mooi jongman, skugter dog vasberade.

Milord kyk op sy sakhorlosie. Hy sal tog nie vanmiddag kan rus nie. Nie voor die seun veilig terug is vir tee en crumpets nie. Hy kan net sowel biblioteek toe gaan en die tyd daar verwyl. Daar, anders as in sy studeerkamer, kan hy voorkant toe uitkyk.

En soms is hy sat vir sy memoirs, ewiglik halfklaar. Die kaal, haarlose kol op die tiervel onder sy voete is getuie daarvan. Hoe kan dit ooit klaarkom, as dit in sy gemoed nie voltooi kan word nie?

Hy klop liggies aan sy vrou se deur om sy voorneme aan te kondig. As ’n gebaar van hoflikheid. Hy is nie blind vir haar eensaamheid nie, vir die manier waarop haar onblusbare lewensdrif verstil het in die aangesig van ongeskrewe, onwrikbare konvensie. As Society sy deure vir jou toemaak, het jy geen kans in die hel om daar in te kom nie.

Noudat daar geen fisieke verhouding meer tussen hulle is nie, is dit moeilik om te glo dat hulle ooit voortgedryf is, soos papiersnippers in die wind, deur natuurdrifte wat hulle albei sovéél oorboord laat gooi het.

Dink sy ooit nog daaraan?

Toe daar geen antwoord kom nie, roep Henry gedemp: “My dear?”

Stilte.

“Kate?”

Hy wag ’n tydjie voordat hy oor die sagte tapyt wegloop. Hy het immers probeer.

Die rit wat oplugting moes bring, ontaard heel gou in ’n geploeter. Die reën wat daglank slordig uit die hemel gelek het, verdig tot ’n verswelgende stroom.

Michael vind dat hy meteens nie sy koers kan eien nie. Reusedruppels word teen sy gesig vasgedrywe, lak sy wimpers toe, trek yskoue voortjies oor sy wange tot in sy serp.

Boomreuse waaronder hy deurry, kreun diep in hul stamme, takke swaai en vleg. Hy word met afgryse vervul toe hy vind dat ’n boom wat deur die storm geknak is, ’n takbok doodgeval het. Vra hom nie af hoe dit sin maak dat hy ’n hert bejammer wat hy andersins sou jag nie.

Die lang, skraal wintermaande wanneer ’n ysige kleed die plante bedek, skakel die swakkes uit en sorg dat die spesie kragtig bly. Maar hierdie een is nie swak nie, hy is doodgewoon oorrompel soos ’n soldaat in ’n hinderlaag.

Die storm verhinder hom om langer by die takbok te vertoef. Die koue wind verskuif om vanuit nuwe hoeke te waai. Dis asof hy die Noordsee ruik, die teertoue van ou-ou skepe, die geil skole vis, die dik laag klei op die siltige bodem, die rietmoerasse van die Broads waar sy voorvaders veensooie uitgespit het vir vuurmaak in hul hutte voordat hulle met die bou van hul klipvestings begin het.

Maar dis nie dat hy weet watter kant noord is nie. Om die waarheid te sê, hy sou nie meer weet hoe om terug te keer nie. Hy probeer die uitgestrekte Estate voor hom oproep volgens vorige ritte en jagtogte en die kaarte teen die mure van Granpa se studeerkamer. Maar die siedende elemente en vretende koue wis sy gedagtes uit.

Waar hy die dennebos met die Gipsy-kamp verwag het, bevind hy hom langs ’n swaarnat heining. Na regs is landerye, die geploegde herfsvore omskep in klein riviere. ’n Paar skape se nat vag rem so swaar dat hulle tevergeefs uit die modder probeer opkom.

Hy kan ’n soort pad slegs nog bepaal deur die gidslyne van die donkergroen hegge wat uitsteek. Hy moet na hoër grond beweeg, dan skuiling vind. Hoewel sy eie vel hard praat, kommer hy hom oor Tess. As dit ophou reën, kan dit ys. Sy kan gly en ’n been breek. Met aangepakte hoewe gly sy in die modder rond.

Dan gebeur die onvermydelike. Sy struikel, beland byna op haar knieë in ’n ongesiene slaggat. Hy pluk hard aan die teuels om te voorkom dat hy oor haar kop tuimel. Op ’n manier bly hy bo, voel geruster toe hy vind dat sy in staat is om vasvoet verder te beweeg. Sy ruk en tril egter hewig. Haar porseleinige oë vol rooi aartjies rol onophoudelik.

As Banthorp Village lê waar hy dink dit lê, is dit die beste om soontoe te mik. Daar is ’n laagwaterbrug wat hy sal moet oorsteek voor dit oorspoel raak. By Old Nanny kan hy skuil, vir Tess in haar skuur sit. Old Nanny sal hom lawe met ’n kaggelvuur en stomende kakao, terwyl sy dophou of sy elmboë nie op die teetafel rus nie. En hom fyn uitvra oor moontlike verleenthede, rampe en misstappe in sy lewe, wat sy met ingenome afkeuring sal toeskryf aan die verderflike invloed van Preparatory en Public Schools op haar “babies”. ’n Goeie verskoning ook wat hy tuis kan opdis: Hy wou net ’n besoek aan Old Nanny bring. Sy is immers dié relikwie van Banthorp, met haar fyn beplooide gesig soos ’n rosige ou appel.

Dis nie die Village nie maar ’n plaas-cottage wat voor hom opdoem. Die waterswaar grasdak hang laag oor begroeide mure. Die venster, ’n verligte glimwurm in die voortydige skemer, verraai dat daar mense tuis is. So ook die blou rook wat uit die skoorsteen grondwaarts dwarrel.

’n Vuur. ’n Warm, goddelike haardvuur.

Hy beur sonder meer die staldeur oop om Tess binne te lei. Toestemming kan hy agterna vra, en in elk geval behoort elke stok en steen hier rond tog aan die Dalmains. Daar is ’n reuk van perd en daar is voer in die krip, maar die stal is leeg. Die huisbaas moet weg wees, mark of vendusie toe. Vasgereën. Dit stel hom ietwat op sy gemak. Teenoor ’n vrou sal hy minder hoef te sê. Háár die praatwerk laat doen. Die volkse vroue ly meestal nie aan skroom nie.

Toe hy die steeks deur weer agter hom toebeur, vou ’n stil, primitiewe warmte om hom. Hy ril onkeerbaar, haal sy deurweekte rypet af, stryk sy hare plat om water uit te druk. Wring die deurweekte serp af, dan die reënjas.

Hoewel ’n deel van sy klere droog gebly het, is sy broekspype sopnat en het dit sy vel rou geskuur. Water slobber in die reënstewels waarvan hy met moeite ontslae raak. Sy hande is vol blase. Hy moes heeltyd teuels intrek en laat skiet, tot Tess ophou veg en kop omlaag voortgetob het.

Hy lig die saal af, ook die saalkleedjie met sy voorletters daarop. Met hande vol droë strooi vryf hy haar, vind ’n verslete dog droë saalkleedjie om oor haar te gooi, praat aldeur saggies en paaiend; ook luisterend. Wat hom laat besef dat hy besig is met uitstel soek. In sy ganse opvoeding is daar geen voorsiening vir so ’n situasie gemaak nie.

Maar hy kan nie anders as aanmeld nie. Hy kan homself en Tess beter versorg met behulp van die huismense. Daar is ’n ruwe houtdeur wat die stal met die huis verbind. Moet hy klop? Hulle sal nie hoor nie. Die reën raas alle ander geluide tot stilte. Uiteindelik maak hy die deur stadig oop en waag dit tot op die uitgetrapte drumpel. Die armoedige hut gloei warm, maar is dynserig van die rook wat deur die sterk wind in die skoorsteen teruggewaai word.

Die meisie wat voor die knetterende haardvuur doenig is, vlesig vol in haar voorskootrok, kom vervaard regop. Sy skrik met boertige oorgawe, hande om haar keel geklem. Rooierige hande, wit keel. Sy herstel gou, behalwe dat ’n tweede skrik die eerste een inhaal. Sy hyg en knieknik: “You are Master Michael, are you not? And you were caught by the storm, and frozen to death, I suppose.” Haar uitspraak is bestudeerd korrek, hoewel onverfynd.

Hy weet nie hoe om haar aan te spreek nie, beroep hom op die instinktiewe kode van swye tydens verleentheid. Soos ’n vrolike, vlak stroompie babbel sy oor sy stilte heen. Hy hoef niks van sy kant af te doen behalwe erkentlike stameling nie.

Sy praat hom vuur toe, haal ’n handdoek te voorskyn, help hom droog vrywe, wat hy as ’n growwe skending van sy privaatheid ervaar maar teenstrydiglik geniet. Tuis sou hy ’n sterk, stomende mosterdbad gekry het, Amod sou hom invryf met eau de cologne. Granpa sou hom dalk selfs ’n stywe dop whisky injaag. Die growwe handdoek en sterk meisiehande laat sy vel tintel. Hy word ’n kombers omgehang en op ’n stoel voor die vuur neergedruk. Die weldadige gloed bestraal hom sodat hy onkeerbaar ril en sy yskoue hande byna in die vlamme hou.

Sy skep iets in ’n kommetjie wat sy teen sy lippe druk: “Now drink … see if ’tis warm.” Hy dog dis kakao, maar dis dik groentesop. Hy hou nie van sop nie, maar neem ’n beleefde mondvol. Dit maak hom bewus van ’n oerhonger, erger as ooit in die koshuis. Met brekfis vandag was hy te miserabel om te eet, met middagete te opgewonde oor sy geheime plan.

Sy blik dwaal na die brood, kaas en ham op die geskropte kombuistafel. Sy onderskep gedienstig sy blik. Hy sou haar kon vra om die maan vir hom te gaan haal, en sy sou die lug invaar, storm ten spyt. “Left-overs,” verheug sy haar en sit daarvan op ’n bord. Hy werk dit na binne saam met die sop, die growwe brood, die dik snye ham en markkaas. Laat selfs toe dat sy hom die sop met ’n lepel voer.

Hy hou hom meer hulpeloos en verkluim as wat hy is. Die gerieflikste só. Hy is immers gewoond om bedien te word, maar nie om te klets nie. Dis bowendien haar terrein, en dus haar plig om die las van samesyn te dra.

Nie dat sy dit skynbaar ’n las vind nie. Dit moet die grootste gebeurtenis van haar lewe tot dusver wees: dat The Honourable Master Michael letterlik hier uitgespoel het.

Sonder om opsetlik te kyk, neem hy met herlewende sintuie haar voorkoms waar. Vir die skoonheid wat miskien ontbreek, word vergoed deur die hoë gelaatskleur op ’n oppervlak van aanvallige rondheid. Ook die hut begin hy noukeuriger bestudeer. Die bars in die klipvloer. Die houtstoele. Die sak wat teen die buitedeur lê om die trek te keer. Die smal leertjie wat na die valluik van die solder lei. Die gereedskap en gerei wat in hoeke of op rakke staan of teen die ongelyke mure hang.

Hy voel erbarming toe hy aan sy eie tuiste dink. Die damas en porselein, die silwer en kristal, handbeskilderde muurpapier, ryk tapisserieë, skilderye, verbleekte sytapyte, kandelare en vergulde spieëls, die rosige gloed wat uit ’n gepoetste kaggel oor die beleë weelde sprei.

Toe hy deur die agtervenster kyk en die werkswinkel in die vorm van ’n oop afdak sien, weet hy meteens waar hy is. Hier was hy eenkeer saam met Papa om te kyk na die waentjie wat deur Crocket, die hoofskrynwerker, gemaak is vir die sussies om in goeie weer buite deur ’n lakei rondgetrek te word.

Dit moet, reguit gemeet, sowat tien, twaalf myl vanaf die Hall wees. Ondenkbaar dat hy so ver kon dwaal. En hy dog dat hy die Estate, sy erfenis, soos die palm van sy hand ken.

’n Fluks man, Crocket, wie se saag jy steeds kon hoor sing waar hy besig is met herstelwerk of toevoegings. ’n Paar jaar gelede het hy egter van ’n leer geval en sy rug beseer, waarna hy as kroegman vir die Village opgelei is. Sy werk sluit ook die bestuur van die koetsherberg en stalgeriewe in, dinge wat hy volgens Granpa suksesvol bedryf.

Mrs Crocket is ’n lywige, luidrugtige volkswyf wat soms in druk tye by die Hall kom help skrop, gewapen met seep en skuursteen, knielende op ’n stuk sak. Hoewel die meisie minder grof as Mrs Crocket is, is haar oorsprong duidelik te hore in die platterige vokale. Maar haar stem is soet en singend, sodat dit die rowwe randjies van haar uitspraak demp. Was sy een van die vrolik dansendes by die oesfees?

Meteens skiet haar naam en omstandighede hom te binne. Suzy. Suzy Crocket. Nie hulle dogter nie, maar Crocket se broerskind, wees gelaat, die afgelope jare deur hulle versorg. Hy hoor ’n diensmeisie sê, met smaak: “That Suzy Crocket … she’s been courted by sixes and sevens … allus a feller ’anging abart ’er …”

Dit stem hom versigtig. Sy is redelik vrypostig. Hy is ook nie onbewus van die romantiese droom van menige dorpsmeisie in ’n Estate Village nie: dat die adellike erfgenaam haar sal raaksien en sy hart verloor.

Haar geklets is ewenwel onskuldig genoeg. Oor haar oom-hulle wat na die naaste markdorpie is, en die produkte wat haar tante saamgevat het om te verkoop. Sy vertel van ’n ander wêreld. Van mense wat werk van dagbreek tot skemer, wat koop en verkoop. Van haar werk by die meulenaar, net langs haar oom se kantien, en hoedat sy vandag vroeg afgekry het om voor die storm tuis te wees. Hoe die meulenaar van haar verwag om te alle tye haar bes te doen en te lyk, ingeval inwoners of gaste van die Hall binnestap. Of hoë besoekers uit Londen. Die meulenaar skyn te weet van gevalle waar sulke here goeie klein dorpsbakkerye raakgesien, onder hul beskerming geneem en tot groot besighede laat uitgroei het.

Michael hoor dat sy ’n goeie skolier was en ’n goewernante in Norwich of Londen wou word, maar haar oom reken daar is ’n te groot ompad voor nodig.

Hy dink aan die goewernantes wat hy ken, weet van hulle lot. Te hoog om saam met die staf te eet en te minderwaardig om saam met die familie te dineer. Hulle word onsegbaar eensaam, hulle horisonne so eng en vergoeding so klein dat hulle maar bloot bestaan. Hulle is gedoem as hulle nie trou nie, land eindelik sonder toelaag in ’n armehuis of kelderkamer waar hulle op die dood wag.

Vir die eerste keer in die eensydige gesprek kry hy dit reg om iets oortuigends te sê: “I would rather say you are better off where you are working now … Miss Suzy.”

Sy is oorstelp. Haar vrymoedigheid ontval haar. “Master Michael,” stamel sy, “you know who I am!”

Sy staan so naby hom dat hy geen aks kan beweeg sonder om aan haar te raak nie. Besef vir die eerste keer sy mag as man van vlees en bloed om ’n meisie in sy arms te hou en in ’n vrou te omskep. Of was dit reeds die voorreg van iemand anders? Die “fellers”, die “sixes and sevens”?

’n Kloof van klas en opvoeding perk hom af. Sy moet effens ouer wees as hy, maar hy voel hom onbetwis haar meerdere. As sy ooit iets vir hom beteken, sal dit nie as sy gelyke wees soos Mary Russell nie, maar bloot vir sy eie behoeftes. Met die nodige diskresie, bygesê.

“Yes I do … and I want to thank you … Suzy.”

“Would you perhaps like to thank me some other time or place, Master Michael?” Is sy onskuldig, of behendig?

“Of course. Anything you wish.” Haar heup druk teen sy arm. Hy voel bedwelm deur ’n begeerte om haar net hier voor die vuur te gryp. As dit nie reeds namiddag was en haar mense se tyd van aankoms onseker nie … En tuis sal daar beroering wees. Gill sou reeds iemand uitgestuur het om na hom te soek.

Sy koester skynbaar dieselfde gedagtes. “When one walks across the top orchard, there’s a timbered barn. It’s been empty for a long time. Do you know where it is … Master Michael?” Die “Master” is nou aanhalend, liefkosend, anders as netnou toe dit louter aanbidding was. Sy wil daarmee eintlik sê: “Oh, you men!”

“Yes I do,” bevestig hy, al is die herinnering wat hy daaraan het maar baie vaag. Maar hy begryp meteens dat die verlate houtskuur háár welbekend is. Pleks dat dit hom grief, vuur dit hom aan. Dat sy ervare kan wees, verlaag die risiko en verhoog die drang. “I’m leaving tomorrow afternoon,” wanhoop hy. Ná tee sal hy deur Gill stasie toe geneem word.

“The hours after Sunday midday dinner can be so endless though, don’t you find?”

“An eternity indeed.”

Was hy ooit koud, yskoud? Hy gloei nou van kop tot toon. Dit druis teen sy ore, sodat hy vir ’n wyle dog die stormreën het hervat. Maar eintlik het dit afgebreek, dit word ligter in die hut, die vuur verloor sy intense belang.

“My horse …” sê hy hees. Hoe kon hy van Tess vergeet? Dis ondenkbaar.

Hoeveel méér wat ondenkbaar is, lê vir hom voor?

Vuur op die horison

Подняться наверх