Читать книгу Vuur op die horison - Engela van Rooyen - Страница 5

Оглавление

PROLOOG

KAAPSTAD, APRIL 1846

Toe die driemaster uit Madras in Tafelbaai anker uitgooi, staan majoor Henry Dalmain met sy gesonde hand om die dekreling geklem. Sy kneukels slaan wit deur; deels uit spanning, deels vanweë die pyn in sy linkerskouer. Hy het van die slingerverband ontslae geraak om ten minste sy arm in die baadjiemou te kry.

Vanmôre toe ’n kaalvoetmatroos met eerste lig oor die nat dek slof om die bakboord- en stuurboordlanterns uit te doof, was Henry onder die eerstes op dek. Die ligpers massa van Tafelberg, ’n landmerk vir see-moeë oë, het pas op die dynserige horison sigbaar geword.

Destyds op die Hollands-Oos-Indiese skepe is daar tien gulden en ses bottel wyn gegee aan die eerste matroos wat die berg kan sien. En brandewyn vir almal aan boord. Is dit Cockburn wat dit vertel het? Dit sal wel wees. Hy is die ewig vorsende joernalis.

Hy móét vandag vir Cockburn sien. Hy wou hom tydens die seereis onlogies verbeel dat hier ’n boodskap op hom sal wag, een of ander verborge teken. Iets wat Robert Cockburn kwytraak, asof hy met sy middelklas-mentaliteit profetiese vermoëns sou kon hê. Hy lewe op voetsoolvlak; weet, afgesien van skeepsrampe, ook van die gewone lewe se katastrofes, van skandes en herstel.

Cockburn kan doodgewoon sê: “Why not, if you’re in love with her?” Of: “Are you quite out of your mind? Casting your title and fortune to the winds?”

Die laer hellings van Tafelberg is gestippel met glanswit en bottergeel huise. Leeukop se silwerbome vlam wit. Tafelberg self sit soos ’n reuseprop hier aan die suidpunt van Afrika om Kaapstad van die binneland te skei. “The Grand Old Man” is nie altyd so idillies nie. Menigmaal is die plat top met ’n wolkkleed bedek; dis dan dat onervare klimmers en skuilende misdadigers hul dood binne sig van die stad ontmoet, om later as geraamtes gevind te word.

Hy ken Kaapstad. Wel, bolangs. Vóór Indië was hy hier gestasioneer. ’n Lewe van parades en afleiding. Government Balls. Green Point Races. Vossejag op die Kaapse Vlakte, wilde-eende by Zeekoevlei, kwartels in die westeliker koringlande. Op ’n Cape Dutch plaas het hy eendag hemelse kwartelborsies geëet, gehul en gebak in repe spekvleis en jong druiweblare.

Die Kaapse lewe is ’n floue afskynsel van dié in Engeland, maar dis beter as niks. Die landskap is sekere tye van die jaar mooi, die berge altyd. Die plase het pragtige gewelhuise waar welgestelde wynboere, afstammelinge van Hollanders en Franse Hugenote, vergenoeg in die ryk valleie boer.

Oor die afgeleë wêreld agter die berg het hy nooit veel gewonder nie. ’n Donker kontinent met vele geheimenisse en edele barbare, oftewel wilde volkstamme, wat weerstand bied teen geharde wit indringers – vroue met fladderende rokke en wye kappies, mans te perd met geweer soos ’n groeisel oor die skouer. Ou-Testamentiese karakters op pad na die beloofde land. Kruit uitgesmokkel, alles agtergelaat in ruil vir ’n ongetemde binneland. Die druk van swart grensoorloë en slawe-emansipasie het vir hulle te groot geraak. En dat die slawe in die middel van die oestyd vrygestel is …

Cockburn-taal, waarna Henry afsydig geluister het.

Die groot emigrasie en die massamoorde in die Noorde was die laaste groot nuus wat ’n koerant op hierdie afgeleë buitepos regverdig. Die deure van die Cape Town Observer kan net sowel sluit, kon Cockburn altoos lamenteer.

Wat bly oor? Vloot- en militêre nuus. Geboortes, huwelike, sterftes, reise, triviale skandale. “The Hatched, Matched and Dispatched.”

Cockburn het aldus aan die Laaste Groot Nuus bly knaag, soseer behep met dié vryheidsideaal dat dit hom in onguns gebring het by die Goewerment en sy koerant, ook by lesers. En hy wou so graag redakteur word …

Die aspirasie van die Kaapse koloniale samelewing het ook aan Cockburn geroer soos ’n warm bergwind. Waarom is daar ooit vir persvryheid geveg, as daar steeds ’n bekrompe vrees vir rewolusionêre idees is? En wat soek hy hoegenaamd nog hier? Wat hét hierdie Tavern of the Seas wat mens so vashou?

Henry oorpeins dié desperate vraag terwyl hy na die toneel voor hom kyk. Altyd as hy dit nie meer aan die Kaap kon uithou nie, het hy die ryk Hollanders vervloek wat in hul Goue Eeu om handelsredes dié halfwegstasie gestig het, naby die suidelikste punt waar twee groot en onstuimige oseane ontmoet.

Vandag seën hy hulle, asook die Empire wat dit twee keer van hulle verower het. Hy kan ’n paar dae lank hier vertoef, balsem vind vir ’n seer gemoed.

En dit terwyl hy altyd geglo het dat liefdesleed by die burgerstand hoort.

Die baai is windstil, ’n vleklose blou glasplaat waarop die son vonke uitslaan. In Roggebaai lê die vissersbote met seile soos gevoude vlindervlerke.

Die oop ankerplek is minder aanskoulik; dis oorlaai met talle skepe, hoofsaaklik vloot- en handelsvaartuie van Haar bloedjong Majesteit. Leë takelwerk staan teen die lug geteken, terwyl matrose rats soos ape in die nokke van die ra’s rondklouter.

Die Oriental sal pos en handelsware ontskeep, brandhout inlaai. Dalk is daar herstelwerk aan die ketel of seile. As dit klaar is, moet ook sy besluit geneem wees. Vir die eerste keer is dit nie bloed en herkoms wat vir hom besluit nie, nóg opvoeders of militêre owerhede.

Moet hy aan die Kaap agterbly en Rosemary uit Indië laat kom? Haar man, hoë offisier in die Bengaalse artillerie, luisterryk in tiervel en skarlaken helm, kan niks aan die mindere majoor Dalmain doen wat hy nie reeds gedoen het nie. Om die man se vrou werklik af te vat, sal so maklik wees soos om crumpets by kaggelvuur te eet, en ewe behaaglik.

Hy sal ook nie die eerste adellike erfgenaam wees wat in ’n kolonie van die Empire eindig nie. Kaapstad was altyd nog ’n oord nie net vir sendelinge, miljoenêrs en avonturiers nie, maar ook vir swartskape.

In Indië sou hy en Rosemary uitgeworpenes wees. Maar die Kaap is ’n ordelose hawestad en afgeleë buitepos wat met sy lui koloniale tempo en laissez-faire die fyner klasse-onderskeid deur die vingers sien.

Dan dink hy weer: moet hy werklik alles oorboord werp vir ’n geskeide vrou benede sy stand? Dit druis in teen sy opvoeding, opvattinge, teen sy diepste bloed. ’n Offisier het boonop veel te verklaar wanneer hy benede sy stand trou. Haar pa is wel ryk, maar nuwe geld kan nie ou bloed koop nie. Rosemary het hom self vertel van die kruisverhoor waaraan haar man voor hul troue onderwerp was. Dat haar ouma aan die hof gepresenteer was, het die deurslag gegee.

Is hy besig om vir homself ’n lang berou te beplan? Moet hy van Rosemary en sy versotting vergeet? Die tweede keuse uitoefen en Engeland toe vaar om beheer oor Banthorp Estate te neem? Met Claire Devenish trou, ’n erfgenaam verwek? Society is wel onsimpatiek teenoor ’n indiskrete minnaar, maar veel word vergeef wanneer twee buurlandgoedere deur ’n paslike huwelik verenig word.

Hy en Claire hoort saam. Van hul voorouers het tien eeue gelede saam uit Normandië gekom. Hulle leef eenders, dink eenders. Is versot op jag en perde, vertroud met gevestigde hiërargieë en die onversierde tradisies van landedelskap. Hy sal by Claire ’n erfgenaam hê en dié volgens die reëls grootmaak. Die kind sal sy eerste jare in die nursery slyt, waar ’n gedugte Nanny hom goeie maniere en die vroeë beginsels van sang-froid Anglais sal leer.

Hy sal op ’n wit ponie leer ry, opgejaagde fisante jag op uitgetrapte paaie met afgerigte honde, forelle vang in versorgde waters. Hy sal ná die voorbereidende skooljare Eton toe gestuur word, sy opvoeding afrond met ’n Grand Tour in Europa. Oplaas ’n militêre loopbaan volg, bekroon met ’n oorlog in een van die kolonies.

“What are you going to do … about us?” wou Rosemary met dik gehuilde stem tydens hul geheime afskeid weet.

Hul ontmoetings het al hoe moeiliker geword. Hy was nooit sonder onrus nie. Die heilige koeie wat so herkouend in die niet staar, is hulle dalk as spioene aangestel? Kan ’n mak pou verraad uitkrys? Is daar iemand gehuur om hom uit die weg te ruim? Iemand met baie geduld, volgens die Oosterse wette van geleidelikheid?

In ’n land waar prinse vermoor, weduwees verbrand en ongewenste dogtertjies uit die weg geruim word, sal die onverklaarde dood van ’n Britse offisier geen wenkbrou laat lig nie. Die besering van ’n krieketheld op Lord’s veroorsaak inderdaad groter beroering as die sluipmoordaanval op ’n garnisoendorp in Brits-Oos-Indië waarin Britse vroue en kinders omkom.

“Pray give me some time, darling.”

Dit was letterlik die nodigste: tyd. Hy kon die kortpad En

geland toe kies; Bombaai tot Suez, oorland via Alexandrië, dan per seilskip deur Gibraltar. Maar die Kaap as moontlike nuwe tuiste was toe reeds in sy kop. Dus het hy die lang pad om die suidpunt van Afrika gekies, met Kaapstad as die gebruiklike Port of Call.

Dat sy aankoms saamval met ’n wonderskone herfsdag, moet hom nie voortydig laat besluit nie. Hy moet hom dwing om te onthou dat die Kaap ook ’n beroerde plek kan wees. Somers te min water, winters te veel. Soms selfs ’n donderstorm wat die duiwe verskrik rondom die hoogste toppe van boom en gebou laat fladder.

En die winde. Behalwe die dor, warm winde uit die binneland, is daar die berugte suidooster. Wanneer hierdie Scavenger-General dae lank woed, dakke afruk, vensters breek en stukkies dennebas deur die lug laat vlieg, berei die menasie geil, siltige spek en eiers om die verlore sout in swetende soldateliggame aan te vul.

Eers wanneer die lewegewende koue fronte vanaf die oseaan begin insypel en die Groenpuntse mishoring spookagtig loei in ’n misbank van driehonderd voet hoog, kan jy jou laat verlei om te glo dat jy in Londen is.

Maar dan is dit ook tyd vir die winterse noordwester met sy rampspoedige krag. Teen die Kaap van Storms se ruwe kuste met hul ongekaarte rotse het menige skip hom al te pletter geloop. Daarvan getuig tallose uitgespoelde wrakstukke en geroeste ankers. Soms vergaan ’n vaartuig binne sig van Tafelbaai, sonder breekwater die mees onbeskutte hawe ter wêreld.

Tydens werklik stormagtige nagte is die vuurtorings van Groenpunt, Mouillepunt en Robbeneiland blote ligwaaiers in die omringende duister.

Hierdie keer was hy uiters ongerus op die oseaan. Hoewel die eintlike gevaartyd tussen Mei en Augustus lê, is ’n vroeë winterstorm nie uitgesluit nie. Vir die eerste keer dink hy aan die dood, intenser as in die bloedige slag van Sobraon. Om Rosemary nog te hê, moet hy die lewe behou.

Die seereis het nietemin kalm verloop. Dwarsdeur die nagte het die suierstoomenjin geswoeg. Daar was nie eers genoeg wind om die seile te hys vir groter spoed en minder brandstof nie. En jammer nogal. ’n Skip onder volle seil is ’n koningin van die see, die mens se kreatiewe meesterstuk.

“Shall I get you a boat, Sir?” Die nasale Engels van Amod, mooi jong lyfkneg, sierlik getulband, sy vel glad en olyfkleurig, wat gekies het om sy vaderland vir goed te verlaat. Vir hom is die Britse Gentleman nog ’n ideaal om na te volg. Ander gee voor dat hulle ontnugter is, dat hulle liewer deur geboorte in hul ras veranker wil wees as na-apers van die veroweraar. Sal Amod die prys kan bekostig?

Henry huiwer, kyk na die bootjies wat heen en weer beweeg om passasiers en bagasie vanuit die groot ankerplek na die kaai te neem, knik dan. Amod verdwyn met sy aangebore vermoë om in damp te verander.

Die bekende ambivalensie. Op bloot menslike vlak wil hy ongesiens deel van die skare word. Maar hy is per slot van sake The Honourable Henry, aangewese elfde Graaf Banthorp. Daarbenewens ’n offisier, gewoond om uitgesonder te word, saluut te ontvang.

Hy het geveg in die afgelope Sikh-oorlog in die Punjab, waar hy by Sobraon gewond is. ’n Blighty was nog altyd ’n medalje waardig. Selfs en veral as daar meer as tweeduisend dooies en gewondes is, en as tienduisend Sikhs aan die ander kant geval het. Die Sutlejrivier was rooi van die bloed. As dit nie groot nuus is nie, wat ís dan?

Waar is Cockburn?

Dalk wag hy onder die menigte op die kaai. ’n Berede koerier kon nuus aangaande die passasierslyste vanaf Algoabaai gebring het, nuus wat deur ’n gesoute koerantman opgeraap sou word. Hy sou sy kantoor in die Keizersgracht verlaat en hawe toe kom.

Ter wille van óú vriendskap kan hy ’n berig skryf wat die held van Sobraon besing en die liefdeskandaal verswyg. Dinge het sleg skeefgeloop. Dit was nie die bedoeling dat hy verlief raak nie. Die affaire moes net dien om die dodelike verveling tussen polo en parades te verbreek. Wat anders was daar te doen in die afgeleë garnisoendorpies?

Sekunderabad, Ootakamund, Lahore, Darjeeling in die Himalaja. Name wat herinner aan ’n uitmergelende klimaat, dor vlaktes met die kleur van ou leeuvel. Die irritasie met armoede, ellende en wanorde. Die hordes onaanraakbares, die fakirs met hulle bedelbakkies. Straatkinders, malende osse, kamele, buffels, asende honde, koeie, blougeverfde bokke.

Toe kom Rosemary. Hul oë vind mekaar by die swierige menasie-aand, waar sy verveeld stralend aan haar man se sy staan en rondblik. Die tafelplan – hoe het dit gekom dat hy langs haar sit? Dat hulle enkels teen mekaar druk asof daar geen kledy – haar roksoom, sy broekspyp, tussenin is nie?

Saam met Rosemary, haar onblusbare geesdrif, die avontuur van verbode vrugte, het hy die ander sy van Indië leer raaksien. Die gesofistikeerde. Die adel. Tempels en gesluierde prinsesse. Lotusvywers en pronkende wit poue in paleistuine; die woude, berge, gletsers. Eksotiese skoenlappers wat die blomme soen. Die klaende dissonante musiek. Die versierde olifante, die massiewe indigo bulle wat roerloos soos idole teen die karmosyn aandlug staan. Rysvelde soos klam sy, Travancore se palms soos geelgroen rook. Die boothuise van Cochin, koel klappermelk op ’n warm reis.

Dan, die twee onvergeetlike hoogtepunte: Die Taj Mahal in maanlig, swewend in die mis wat opstyg uit die Jumna. En die Kumb Mela, grootse pelgrimstog waartydens die Ganges in ’n vuurpoel omskep word deur die duisende papierbootjies vol blomme, lampies en wierook.

Hy het onversigtig geword. Hy het net homself te blameer dat hy op die mat geroep is. Pleks van ’n medalje, kry hy die trekpas na sy tuisregiment. Sy wond was trouens ’n handige voorwendsel. Ná die onderwerping van die Punjab moes die leër gesnoei word.

Met sy voete op vaste grond, kyk Henry ongemerk rond. Hy kan met veiligheid talm tussen die stapels handelsware. Katoen, sy, indigo, salpeter, tee, suiker, koffie, speserye wat hul geur uit die sakke laat opstuif. Al die kleure, geure en klanke van handelsrykdom, die geroep van stuwadore, die eindelose panorama van skeepvaart.

Op die uitkyk vir Cockburn se donker hare en die uitgediende digterskraag wat hom soos ’n Shelley laat lyk, fynkam Henry se blik die skare op die kaai. Matrose en dokwerkers, agente, doeane-amptenare, smouse met bamboesjukke, getulbande imams, koetsiers, leeglêers. Verteenwoordigers van elke land en nasie op die aardbol.

Maar geen Cockburn nie.

Hy verlaat die hawegebied, vermy die huurkoetsiers. Om self te stap kan ’n soort laaste vryheid wees voordat hy vir goed omring word deur ’n horde lyfeienes wat gedienstig sy privaatheid skend. Of … ’n eerste stap om aan te pas by ’n burgerlike lewe in ’n vreemde land?

Hy het dit aan Amod opgedra om ’n valies te pak en land toe te bring. Het Cockburn se koerantadres gegee. Dalk nooi Cockburn hom selfs om by hom en sy Kate tuis te gaan. Dalk aanvaar en verduur hy dit, al is dit net om te sien hoe gewone mense aan die Kaap lewe.

Sweet prik onder sy halsdoek en in die oksel van sy trae linkerarm. “A gentleman never perspires”, onthou hy een van die vele ongeskrewe kodes. Het hy koloniaal vergrof? Mense kyk skrams. Die soort siviele klere wat hy aanhet, stempel hom stellig as ’n Anglo-Indiër.

Die Imhoff-battery kondig met dowwe slag die middaguur aan; vir die winkels die aanvang van die lang, loom siësta. Maar ’n koerantman rus mos nooit, spog Cockburn graag. Die mense wil elke week hulle nuus hê, vars soos hulle vis.

Hoe sou dit met die jong huwelik gaan? Laas jaar toe Cockburn in Indië gekuier het, was hy so verlief soos ’n patryshaan as die sneeu smelt. Het geswymel oor sy uitbundige Kate wat nooit in besadigde, ingetoë Engeland sal aanpas nie, al was haar ouers Britse Setlaars.

En oor hoe hy uitsien na sy eerste getroude winter; wilde Kaapse nagte met reën wat in die geute gorrel. Was Cockburn se bloed bloot opgehits deur die seldsame avontuur in die swoel, Indiese nag? Henry wou hom verbeel dat hy dié bloed wellustig hoor pols, maar dit was dierehoewe uit die verte.

Hulle twee was saam op ’n hoë machaan langs die oopgekapte dryfroete, besig om ’n mensvretertier voor te lê. Oerwoudbewoners, oordag sku met hul skraal bessiebruin lywe en wilde swart hare, drywe met huilende krete en ’n geroffel van tromme die diere voor hulle uit.

’n Verwilderde gestorm verby die geligte plankplatform: bokke, herte, ’n lomp hiëna, bosvarke, ’n beer, luislang. Poue swerm met klaende gekrys oor die blaredak. In dié vreemde atmosfeer word kodes verbreek. Hulle gesels oor die gesluierde, beeldskone, gekoesterde Indiese vroue.

“Have you ever …” Cockburn se woorde ry op sy asem.

“No,” sny Henry die vraag vererg af. “You know damn well that they’re sanctuaries of purdah. But aah … I …” Hy bieg plotseling en onbeplan oor sy verhouding met Rosemary.

“What about Lady Claire then?”

Tydens Cockburn se enigste besoek aan Banthorp het hy Claire Devenish van Shinwell ontmoet. Sy was ’n subdebutante, gereed om met die London Season aan die hof gepresenteer te word. Cockburn was egter meer beïndruk deur die feit dat sy met vossejag pal by die honde hou, die afmaak aanskou, en in ’n regte outydse klipkasteel woon, met ronde en vierkantige torings, poortkamers en ’n houtbrug wat aan die beskermende grag van vroeër eeue herinner.

Voordat Henry kon antwoord, was die Bengaalse tier in die smal oopte onder hulle; ’n enorme dier, manjifiek gestreep. Op sag gekussingde pote draal hy verby die machaan, ongeërg, wreed behaaglik, versadig van mensvleis – want ’n vrou is die vorige nag in ’n nabygeleë dorpie verslind.

Cockburn lig sy geweer, maar Henry hou hom teë. Die kans sou gegun word aan hulle gasheer, die sierlike maharadja op die volgende machaan, wat net een tier kort om sy vyftigtal vol te maak.

Henry sou as hoflikheidsgebaar die vel kry.

Ná die enkele plofslag sê hy kalm aan Cockburn: “I’m going to marry her, of course.” Sonder om ’n naam te noem. En goed ook maar dat Cockburn nie gevra het nie, want daar was geen uitgemaakte antwoord nie.

Niks, maar niks, kan die tweeledigheid van die Kaap beter demonstreer as die Grand Parade nie. Die groot publieke plein, eens die spasie tussen Van Riebeeck se kleifort en die Kasteel, waar snags luiperds gesluip het. Hierdie area herberg tans beide oorwinnaar en oorwonnene, bied die geskiedenis van die kolonie in ’n neutedop aan.

Op die verste deel staan die Kasteel, die klipgebou wat die hart van Kaapstad is, ironies genoeg deur die Hollanders gebou om ’n Britse inval af te weer. Nou wapper die Union Jack seëvierend op een van die bastionne. Daglank is daar die getrappel van hoewe op keisteen, blafbevele, marsjerende voete, vaandelparades onder begeleiding van die regimentsorkes.

Die klein Britse garnisoen het ten doel om die onrustige koloniste aan die status quo te herinner. Andersyds baat dit ironies by die vrywillige en gratis kommandostelsel van dieselfde koloniste, veral nuttig om die swart stamme in bedwang te hou en veediefstal te straf.

Met ’n poortmuur word die militêre deel geskei van die eintlike Parade, naaste aan die Heerengracht. ’n Fontein herinner aan een of ander held wat ’n aantal skipbreukelinge met sy perd uitgeswem het. Die grond word deur die Kaapse boere gebruik vir markte en vendusies, maar veral as uitspanning. Hier wemel dit van rytuie, trekdiere en plattelandse mense. In die lug damp die wilderige mengelreuk van beesmis, rookvuur, tabak, leer, perdesweet en velle.

Naby Henry is ’n bebaarde jong man besig om ’n tentwa te laai met sakke en kaste negosie, terwyl ’n bruin kneg die osse nader bring. Die jong man se blik onder die breërandhoed is turend dog onverbaas. Hy is fors, gehard, leertaai, breedgeskouer in halfbeste klere. Die kneg is, om die waarheid te sê, deftiger as hy gekleed.

Die wa getuig van ruwe paaie en strawwe elemente, met die kap sonverweer en op talle plekke gelap. Die groot voorraad lewensmiddele vertel op hulle beurt van tekorte en huishoudelike ontberinge, van lang tye ver weg van ’n handelspos.

Die storie van elke kolonie.

’n Laaste vuurtjie troetel ’n swartgebrande ketel. Die rokie drywe langsaam weg. Henry wag op die reuk, asof dit hom iets meer kan vertel. Maar die ligte wind stoot verkeeerd. Hy vind dit moeilik om weg te kyk. Iets krap aan hom. Iets meer as sy persoonlike krisis. Hy skryf dit toe aan die stof en lawaai van die Heerengracht. Die hoë, logge stoepe waarop handelaars en huisbewoners in pyp- en sigaarrook gehul sit, blok die straatkante op. Dit behoort gesloop te word vir sypaadjies. En die swaar ossewaens met hul rammelende ysterwiele moet na die buitestrate verban word.

Gelukkig is die kanaal, waarmee die Hollanders hul tuisland probeer naboots het, opgevul sedert hy laas hier was. Dit was tog net ’n broeiplek vir muskiete, ’n gevaar vir dronk matrose en ’n stortplek vir vuilgoed. Maar daar kort ’n goeie laag gruis. Tans ’n stofgemors, is dit maklik om te raai dat dit in die winter ’n moeras sal wees.

Hy dwing hom tot landheergedagtes. Want dalk gaan hy tog huis toe.

Hoewel hy die ander voetgangers instinktief ontwyk, bots hy byna teen ’n gestalte. ’n Vrou. Onwillig om te glo dat dit met hom kon gebeur, verklaar sy brein dit ook vlug. Sy dra ’n boompie, waarvan die verkleurende blare haar uitsig tot ’n mate moet versper. Die worteldeel is in sak gehul.

’n Sekonde lank, terwyl hy geëmbarrasseerd oorweeg na watter kant toe om uit te wyk, blik hulle mekaar onverhoeds aan.

Haar geelbruin oë smelt saam tot een pelserige vlak.

In die gedrang is hulle kortstondig saam afgeseël. Hulle deel ’n lot, onbekend maar herkenbaar.

So kort duur dit, kwalik ’n veeg. Maar ook ’n ewigheid. Dis of hy haar moes herken.

Iets van Claire? Van Rosemary? Of ’n seldsame oertipe, wat die vroulike geslag volledig gestalte gee?

Hy raak in groet en apologie die rand van sy keil voordat hulle mekaar verbysteek. Hy wil hom verbeel dat haar knie onder die donker romp effens knikbuig, maar dit kon verbeelding wees. Haar romp is donker, bloes en hoed wit.

Is sy nie bang dat die bloes vuil kan word nie?

Hy verkeer in ’n eienaardige waas van onwerklikheid. Die verwisseling van kontinente? Of dalk was hy doodgewoon te lank in Indië, waar alles vervloei of saamsmelt met iets anders. Om die betekenis van iets te ontrafel is soos om na die enkele draadjie in ’n tapisserie van petit point te soek.

Sy gesig voel warmer as flus (sy skoot Franse bloed, die damnosa hereditas wat immer beur teen die Angel-Saksiese selfbeheersing). En dit terwyl háár gesig koel room gebly het. Sy moet Kaaps-Hollands wees. Goed opgepas, opgevoed, verfynd, haar eenvoudige kledy ten spyt.

Maar sy behoort nie ’n boom te dra nie, al is dit nog so klein. Dan snap hy, sonder dat iemand hom dit hoef te sê: hierdie boompie is bestem vir daardie wa, soos hierdie vrou vir daardie man.

Hulle bestemming lê ver, en hulle is reeds op pad.

Het sy die boompie iewers gaan haal om as laaste halm mee te voer? Dalk teen die man se wil in? Waarom anders dra sy dit self? Hoekom het hy nie die kneg gestuur nie? Is die inspan belangriker, die wegkom uit die knellende stad?

Meteens weet hy wat flus aan hom gekrap het. Dis die verkeerde uur vir inspan en vertrek. Vir mens en dier is ’n heel vroeë oggendskof beter, en eintlik die reël.

En as sy Kaaps is, soos hy vermoed, waar is haar mense wat kom afskeid neem? Gaan sy vanaand by hulle oorslaap, iewers in die omgewing? Waar is dan die liggeveerde rytuig om haar soontoe te neem? Hoe ver is die reis, en sal sy dit deurstaan? Net om die berge na die binneland oor te kom, is ’n onmenslike taak. Die naaste bergpas is by die dorp Tulbagh, as hy reg onthou.

En die boompie, ewe broos? Sal dié oorleef?

Dalk het sy maar net die man kom wegsien. Dalk is hy haar broer, of ’n neef. Maar waar is haar chaperone?

Dalk was sy glad nie na die Parade op pad nie. Dalk draai sy by ’n winkeldeur in, of by haar eie huis.

Hy weerhou hom van omkyk toe hy die Heerengracht verlaat en links in die Keizersgracht draai. Nuuskierigheid was nie deel van sy opvoeding nie.

Tog voel sy litte lam van verydeling.

Hulle aanblik was herkenning en afskeid in een.

Hy glo dat hy hierdie vrou nooit op aarde weer sal sien nie. En al gebeur dit wel – so ’n intuïtiewe wedersydse binnekyk, so ’n totale herkenning, is nie herhaalbaar nie. Onder ander omstandighede, ’n ander land, ’n ander tyd, wie weet?

Vir ’n instansie wat sogenaamd geen siësta kan bekostig nie, is die kantore van die Observer bra verlate.

Mr Cockburn is ’n paar uur lank huis toe, vertel ’n pienkgesig kantoorjonge. Mrs Cockburn het vanmôre geboorte aan hul eersteling gegee. John, sal hy heet. Johnny.

Dus het Cockburn goeie gebruik van sy eerste “wedded winter” met sy uitbundige Kate gemaak. Dis net mooi nege maande. Hy sal ’n besoekie by die Cockburns gaan aflê sodra dit betaamlik is. Met ’n geskenk deur Amod gekoop. Môre, dalk. Afhangende van hoe die skip se sake vorder. ’n Besoek aan ’n nuwe, stralende ouerpaar. Hy sal dit wel oorlewe.

Ywerige ou Cockburn! By Eton moes hy ingekoop word. Hy was berug vir die vulgêre som sakgeld wat hy kry. Wat ’n katastrofe was sy eerste en enigste besoek aan Banthorp. Hy het die een faux pas ná die ander begaan. Het ingeloer by die harnas van ’n voorvaderlike Normandiese kryger, was behep met die pagters, met die Gipsies in die dennewoud, het die jaghonde “dogs” genoem, gesels oor geld en profyt, en knaend vergeet om agter die Butler te hou. Dis net die daaglikse jag wat die besoek kon red. Ná Eton het hul paaie uiteengeloop, om hier aan die Kaap weer te kruis.

Hegte vriende sou hulle nooit kon word nie. Soos die spreekwoord lui: “Love and Lordship like no fellowship.”

Henry kondig aan dat hy ’n wyle sal wag. Eintlik het hy nêrens anders om te gaan nie. Hy sou eerder in die pragtige tuine van Government Avenue wou vertoef, maar dis te na aan Government House. Hy wil nie op straat of in die militêre kwartiere herken word nie.

“Would you perhaps need something, Sir?”

“Aah … why no, thank you.” Hy wil tog ’n glas water vra, maar die sku kantoorjonge het hom reeds uit die voete gemaak. Op Cockburn se lessenaar staan in elk geval ’n kraffie en ’n gebruikte glas. Henry haal die sysakdoek uit sy mou en vee die rand van die glas skoon voor hy skink.

Half geskrewe artikels lê oor die houtblad gesaai. Daar is, te verwagte so kort voor die winterstorms, een oor die Hollander Vanderdecken, “still sailing the ghostly Flying Dutchman”; beenwit, stil in die storms, met ’n bebaarde ou man wat alleen op die agterstewe staan. Outydse seilskip, vreemd gloeiend met ’n spookagtige rooi lig in die mis.

Henry skuif die papier hoër om die immer boeiende verhaal beter te kan lees. Dan verstaan hy. Reg voor hom lê ’n studio-daguerreotipe, die soort wat in houtsneë verwerk en op papier afgedruk word.

Dis van ’n vrou. ’n Mooi jong vrou, modieus geklee.

Dis sy – die een van die Heerengracht, die onverskrokke boomdraagster. Met ’n rof geskrewe artikel in Cockburn se skrif, vol deurhalings en invoegings. Henry se oë skeer so vinnig moontlik oor die hooffeite, ingeval iemand hom onderbreek. “Joined in matrimony … Most notable marriage,” lui die opskrif. “The marriage of Miss Gertruida du Toit, youngest daughter … to Mr Francois Viljoen … up North … across the Vaal … Boer territory … solemnised last week at …”

Dan was hy reg, waarlik reg. Wie het ooit gesê dat instink onderskat moet word?

In digterlike taal skets Cockburn kortliks die verhaal van ’n jeugvriendskap wat onderbreek is deur die wegbreek van die Viljoens in 1838; eers na die Oos-Kaap, daarna Natal. Toe Engeland oorgaan tot die anneksasie van Natal, trek hulle oor die Vaalrivier op soek na grondgebied vir ’n eie republiek.

Francois Viljoen het nie sy jong vriendin vergeet nie, het vir haar begin skryf en haar eindelik kom haal.

Swierig neutraal herroep Cockburn die massa-emigrasie wat sowat tien jaar gelede begin het en steeds voortgaan. Vir die Goewerment ’n skok en verleentheid, veral aangesien vele van hierdie families welaf en invloedryk was.

Cockburn berig hoe hy twee jaar gelede op die stoep van die Commercial Exchange gestaan het waar die Oos-Kaapse eiendom van ’n Trekkerleier, ene Retief wat in Natal deur die Zoeloes vermoor is, opgeveil is. Dit eis tog ’n sekere drif, taaiheid en veerkrag om alles agter te laat behalwe jou eie gesin, jou wa, ’n klompie vee, jou Bybel en geweer. So spekuleer die koerantman. Om ongetemde Afrika binne te trek, die geweldige land, wild en pragtig met sy fel sonlig en kleure, sy onmeetlike afstande, diep stiltes, skielike dood.

Cockburn speel veilig in sy bespiegeling oor agterhaalde geskiedenisfeite. “That the Emigrants in times past have suffered grievances, no reasonable person can deny; that they in their turn have committed many unjustifiable acts, is equally certain.” Die vrystelling van die slawe is wel lomp gehanteer deur Sir Benjamin D’urban. Daar was griewe oor die sogenaamde onderdrukking van Hollands, oor ’n gebrek aan beskerming op die grense, oor die moontlikheid van gelykheid tussen wit en swart.

Maar was dit genoeg rede vir ’n soort omgekeerde rebellie? Onder hul eie Hollandse bewind was hulle ook maar vol griewe. Geen juk pas skynbaar op hul skouers nie. Te verstane ook; hul voorouers was landverlaters wat elk met ’n grief teen Europa na Afrika gekom het.

Vir die Boer is die verlies van sy vryheid erger as die dood. Is hulle nou tevrede daarbo in hulle nuwe, eie gebied? wonder Cockburn. En swenk veilig na ’n romantiese antwoord: “Most probably yes, as far as the hunting grounds are concerned. But hunting grounds can be interpreted in more than one sense. As the poet said …”

Henry slaan sy blik plafonwaarts. Altyd dít, of: “Was not that Shakespeare …?”

Kan hierdie huwelik heling bring waar daar wrywing en misverstand oor die Trek was? “Alas not …”

Want die romantiese berig oor die afgelope huwelik het sy skadukant. Die paartjie het verkies om stil in die pastorie te trou, aangesien die bruid se familie teen die huwelik gekant is. Hulle wou wel vir haar ’n bruilof gee, maar die bruidegom het geweier.

Hoekom hy dan nie maar die huwelik in Transvaal laat voltrek het nie? Hy sou wel ’n behoorlike chaperone kon kry om hulle op die reis te vergesel. Maar: “A Transvaal marriage certificate would not have been recognized in British territory …”

Lank staan Henry oor die berig en die beeltenis gebuig. Hy dink oor die jong vrou. Nou reeds word haar lot deur haar man bepaal. En sy lot sal deur die wette van Afrika bepaal word. Die harde wette van ’n pionierslewe.

Oplaas moet Henry erken dat Cockburn iets van ’n goëlaar met woorde is. Vanwaar anders hierdie bewoënheid, asof die berig, die ode aan vryheid, in hom as totale buitestander weerklank vind?

Om van begin tot einde jou eie saak te moet veg. Om nie deur die Empire beskut te word nie. Om beweeg te word deur eie hoop en wanhoop. Om volgens jou eie reëls te lewe, jou eie ideale na te jaag. Om die tydloosheid van ’n ruwe dog maagdelike land volgens jou eie patroon te omvorm. Om deel van die pols van die aarde te word; van die grond, lug, riviere, berge, son en maan. Met geen aanspraak op gevestigde ordes, beskawing, geriewe nie.

Liggies skud Henry Dalmain sy kop. Hy drink die glas dorstig leeg. Hy het eintlik iets sterkers as lou bergwater nodig. Wat gaan met hom aan?

Hy dwing hom om te dink aan sy koel, aangename erfenis in Oos-Anglia. Normandiese kastele tussen Middeleeuse markdorpies vol kerktorings. Kultuurryke Norfolk, met die skynsel van die son teen die hange van die woude van Thetford Chase. Die drie riviere met hulle valleie. Die Broads, waar die reieragtige roerdomp snags hard in die rietmoeras skree.

En Banthorp Estate self – die Village, die vleie en weilande, mere, die parke en lanings, die stalle vol perde, die pagplase met hul rustige koeistalle. Banthorp Hall, die eeue oue herewoning, gebou van die gemmerkleur sandsteen van die omgewing, die mure versag en verfraai deur groeisels van klimop, magnolia en wisteria.

Hy hoor die jagters se “View halloo!” en “Foradaway!”, die horings in die mis, die mal geblaf van die honde.

Sy erfenis, ja. Maar suf gebruik, sat gejag, op geniet. Hy erf ’n oorgroeide landgoed en verwaarloosde herehuis met swak verwarming en togtige gange. Baie opknapwerk, maar geen nuwe uitdaging nie. Dalk gasligte. Goue fisante uit die Ooste. Takbokke uit Skotland. En dan?

Die vrees vir verveling was nog altyd sy grootste vyand. Ondenkbaar dat hy die helfte van sy lewe te perd sal moet slyt, die ander helfte aan tafel. Gasheer, landheer, jagmeester. Voorspelbare gesprekke: oor perde, resies, klere, teater, ballet, skinder sonder name noem, jagvooruitsigte volgens seisoen – korhoenders, patryse, fisante.

Eindelose pligte, almal se oë op hom: familie, pagters, bediendes, gaste. Af en toe ’n regimentsdinee in Londen, sommer sy kleremaker en skoenmaker besoek, daarná by sy maitresse oorslaap. Dalk is dit Rosemary, haar man terug verplaas. Hierdie keer sal hy meer diskreet wees.

Claire sal as gebore Lady weet hoe om onkunde te veins.

Henry dwaal na die gedroogde seevarkie wat in ’n hoek van die redaksiekantoor hang, weg uit die trek. Dis die geloof van die vissermanne dat hierdie eienaardige vissie ’n verandering in die weer ’n etmaal vooruit kan voorspel deur sy snoet in ’n sekere rigting te draai. Binnekort sal die varkie hard moet werk. Daar sal nogtans ’n aantal skepe vergaan, terwyl van elkeen gehoop is dat hy veilig sal aankom.

Henry Dalmain word prooi van ’n sonderlinge weemoed. Om te dink dat so baie dinge vir goed verby moet gaan. Ander, weer, kom nooit tot volle wasdom nie.

Hy staan by die venster en uitkyk op die Kasteel en Parade. Die wa is weg. Die wiele het noordwaarts begin draai. ’n Gevoel van verlatenheid oorval hom, asof sy gees saam is en sy liggaam hier gelos het.

Hy onthou nou dat die Kaap dit altyd aan hom doen. Hierdie Kaap met sy moskees en musikante, die “praa-praa” van die vishorings, die geklots van watervore, die gebabbel van aarbeiverkoopsters, die bonte gewemel van nasies tussen Berg en Baai.

Of hy hier bly saam met Rosemary, en of hy teruggaan na Claire …

Eindelik sal dit alles nog net in sy kop weerklink soos die note van onsterflike trompette uit ou, vergete tye.

Vuur op die horison

Подняться наверх